TWEE ETES, TWEE MANDELAS
Aan die een kant die gulle glimlag, die gemoedelikheid en charisma. Aan die ander kant die kilheid en die skerp tong van kritiek en veroordeling.Hierdie ambivalensie in die komplekse geaardheid van Nelson Mandela verkies van sy bewonderaars om onder die mat te vee en te maak of dit nie bestaan nie. Tony Leon gee dit lug in sy nuwe boek “Being There” waarvan ‘n uittreksel vandag in By in Die Burger verskyn.
Met die lees daarvan herroep ek twee ontmoetings met die oud-president wat die Leon–profiel van hom sterk ondersteun. Albei was in Nasionale Pers-verband. Die atmosfeer van die een het soos dag en nag van die ander verskil.
In Maart 1993 is aangesit om ‘n bord spek en eiers ‒ maar darem nie vir Mandela nie, omdat hy bra Spartaans ge-eet het. ‘n Naspers-delegasie van sewe het vir Mandela, Thabo Mbeki, Pallo Jordan en Carl Niehaus (as “token” Afrikaner!) ‘n ontbyt in die kantore van Nasionale Tydskrifte in Sandton aangebied.
Die Pers se span was onder leiding van Ton Vosloo en het naas die uwe van Koerante ook die hoof van Tydskrifte, Salie de Swardt, die redakteurs van Beeld, City Press en Finansies & Tegniek, Willie Kühn, Khulu Sibiya en Gert Marais, asook Barney Cohen, uitvoerende redakteur van swart tydskrifte, ingesluit.
Die gees was gemoedelik. Mandela se toesprakie sonder enige dorings. Toe geskenkies uitgedeel is, was dit die ene glimlagte, soos die foto van die geleentheid getuig.
Nadat Mandela President geword het, het sy program natuulik al hoe voller geword. Die Pers het weer probeer, en hard probeer, om hom as eregas by ‘n spesiale geleentheid te kry. Een keer, in Pretoria, het ‘n reëling op die tippie deur die mat geval. ‘n Ander keer, in Kaapstad, ditto.
Die Pers moes maar geduldig sy beurt afwag ‒ tot ‘n direksie-ete in sy eetkamer in Kaapstad op 9 Oktober 1997. Dit was ‘n dag wat die direksie en die topbestuur nie lig sal vergeet nie.
Om mee te begin, is die eetkamer op die 18de verdieping die vorige nag oorstroom nadat ‘n warmwatertoestel gebars het. Die matte was deurweek. Daar is koorsagtig gewerk sodat die ete kon voortgaan.
Ten tweede was daar ‘n helde-ontvangs in die straat en in die voorportaal soos nog nie by die Naspers-sentrum gesien is nie.
Ten derde was daar Die Toespraak. Dit was ‘n driftige een, wat in trant en gesindheid heelwat anders was by die ontbyt. ‘n Verharding teen die pers in die algemeen was teenwoordig – in die geval van die Afrikaanse pers duidelik nog ‘n paar kerfies hoër.
Kritiek, veral uit die oord van ‘n Afrikanerdom wat, volgens die President, “baie gehad het om oor nederig te wees”, was nie juis welkom nie. Dit het gou duidelik geword. Ons koerante is ook gekap oor wat hy genoem het “’n onrealistiese terughunkering na ‘n verlede wat nooit weer kan wees nie” ‒ ‘n tema wat hom so meegevoer het dat die voorbereide teks maar selde geraadpleeg is. Die horlosie het ver verbygeloop by wat die gewone duur van so ‘n etenstafel-toespraak is.
Vosloo het verbaas, maar waardig, geantwoord. Verskeie Naspersers was gesteurd, nie om gekritiseer te word nie, maar om by ‘n welwillendheidsgeleentheid so slae te kry. Ek het gedink Mandela was onbillik en het hom aan veralgemenings besondig. Hy kon ten minste na City Press ‘n buiging gemaak het. Die het hom altyd net op die hande gedra.
Om sout in die wonde te vryf, het die geskenk waarmee baie moeite gedoen is, met die vertrek eers vergete gebly. En dit was nie ‘n klein pakkie nie! Wat Naspers vir Pres. Mandela present gegee het, was ‘n collage van vier historiese koerante wat die verhaal van die ANC se magsverowering stap vir stap uitbeeld ‒ ‘n replika van een wat ek vroeër vir my kantoor laat maak het. Wonder nogal of dit ooit iewers opgehang is.