MYNVELD VAN WETTE VIR ARME REDAKTEURS

Arme redakteurs en ander bekleders van warm stoele in die media word van vele onheilighede verdink.  Een is dat hulle daar in hul verhewe ivoortorings sit en hulleself telkens aanmatig om beslissings te vel oor watter wetsoortreders se name geplaas moet word en watter nie.

Hou die redakteur van iemand, beskerm hy hom / haar en verswyg die naam geredelik.  Kan hy iemand nie verdra nie, boeta, dan is die naam voorbladnuus. By ‘n plasing van my oor die moord op die Overbergse skoolmeisie Deveney Nel en die naamloosheid van haar moordenaar weens sy jeugdigheid  dui verskeie kommentare op die bestaan van hierdie wanpersepsie.

Synde iemand wat al in die vorige eeu sy kantoordeur finaal agter hom toegetrek het, sal die uwe hom nie uitgee as kenner van die heersende mediareg nie.  Hy weet darem dat hedendaagse kollegas o.m. met wette soos die Strafproseswet, die Kinderwet en die Skeiwet rekening moet hou. Allerlei moets en moenies bestaan ook rakende plegers en slagoffers van seksuele misdrywe.

Uit eie ervaring kan hy met die kollegas simpatie betuig. Mense wat my ken, weet ek is nie onder die voorstes wat gister se dinge eenvoudig voor die voet afkraak nie. Maar dat daar hope wetsvoorskrifte – en ook allerlei koddighede – was, daarvan kan ek nie wegskram nie.

Vat nou maar die slagysters wat die uitgebreide arsenaal veiligheidswette van destyds vir koerante gestel het – van die Wet op Amptelike Geheime tot die Verdedigingswet. Dit was ‘n klas mynveld waarin ‘n koerant volgens bestaande veiligheidswetgewing byvoorbeeld ‘n foto van Oliver Tambo kon publiseer (omdat hy nie in die tronk was nie), maar hom nie kon aanhaal nie (omdat hy gelys was), terwyl hy van Nelson Mandela nie ‘n foto kon publiseer nie (omdat hy in die tronk was), maar hom kon aanhaal (omdat hy nie gelys was nie). Sulke kompleksiteite het die arme joernalis se verstand laat duisel!

Dave Dalling, Prog-LV vir Sandton, het in ‘n stadium in die Volksraad beweer dat daar agt redakteurs met vonnisse of aanklagte teen hulle is (HvD was een). “Die moeras van wetgewing wat die publikasie van koerante aan bande lê , maak misdadigers van Suid-Afrika se redakteurs!” het hy uitgeroep. Daardie telling kon maklik hoër gewees het. Trouens, dat nie meer en erger “misdrywe” gereeld deur verwarde redakteurs gepleeg is nie, is nogal ‘n wonder.

‘n Geval wat ek in my boek Wag-‘n-bietjie  (Naledi, 2025) noem raak die Boererebel Jopie Fourie en my kollega Ton Vosloo (foto’s).

Op die voorblad van Albert Blake se biografie oor Fourie pryk ‘n mooi foto van hom. Ek wonder of Blake weet van die tyd toe dit onwettig sou wees en vir hom ‘n boete op die hals kon haal, soos Ton aan sy bas moes voel. .

Rondom 1980 is hy in die Johannesburgse landdroshof met R1 000 beboet omdat Beeld in die bylae BY ‘n foto geplaas het van Fourie wat in 1914 tereggestel is deur Louis Botha se regering. Die foto is sonder Vosloo se medewete geplaas. Hy is egter as redakteur van Beeld gedagvaar – dalk was Jimmy Kruger nog minister van justisie wat sy mes ingehad het teen koerante !

Ton het nie R1000 kontant by hom gehad nie en kredietkaarte was nie aanvaarbaar nie. Hy is selle toe geneem en  vingerafdrukke is geneem, maar hy kon darem Beeld se bestuurder, Eric Wiese bel wat duisend rand dringend van Doornfontein stad toe oorgestuur het om hom by die selle af te los.

Die boete van R1000 was die drumpel – indien dit meer was, sou my kollega ‘n permanente misdaadrekord gehad het wat hom dalk in sy latere loopbaan as direkteur van maatskappye kon benadeel het!

Ekself moes in 1983 – 17 jaar ná die moord op dr. HF Verwoerd – by Die Volksblad ‘n boete van R100 opdok oor ‘n foto wat die nimlike By, ook sonder my medewete, van Dmetrio Tsafendas, sy moordenaar, geplaas het.  Dit mag nie gebeur het nie, omdat hy in die tronk was, en ek is beboet, al het ek geen regstreekse rol in die oortreding gespeel nie.

Gelukkig het tye darem in die opsig verander. Blake hoef nie ‘n boete – of, erger, die tronk – te vrees nie!

LEES LIEWER BEELD – DIT WAS ORAL

Plus-minus ‘n spanfoto van Saterdag se Beeldparty, hoewel onvolledig. Foto: Tobie Wiese. .

Vra Beeldmense wat hul koerant in sy te kort lewensloop van 50 jaar onderskei het. Die meeste sal sonder aarseling antwoord: sy magiese raakvat-manier om ‘n groot storie hard te slaan.

Legendaries is hierdie reputasie vir skouers oopmaak, wel; al uitskieter-eienskap is dit egter nie.

Saterdag by Welgemeend in Kaapstad het kollegas soos Barnard Beukman, laaste redakteur, Michelle van Breda, Jan-Jan Joubert en Arlene Prinsloo met passie ook ‘n hele rits ander eienskappe opgenoem – van sy klem op kwaliteit en sy altyd vernuwende politieke denke tot ‘n sekere hardekwasheid.  Hy het hom deur niemand laat rondstamp nie.

Een dimensie het by Welgemeend sterk na vore gekom: sy kreatiwiteit. Opvallend vir haar was die stories oor hoe kreatief en mal letterlik almal in die redaksie gedink het oor hoe om hulle koerant te bemark –  en almal dit gedoen het, van verslaggewers tot die redakteur. So het Elmari Rautench agterna opgemerk.

Elmari het presies die gedagte uitgespreek wat stilletjies ook by my opgekom het terwyl ons gasheer, Ton Vosloo, derde redakteur, aan die woord was.

Hy het op die tema voortborduur na aanleiding van ‘n foto van hom met ‘n bottel sjerrie voor die mond wat saam met dosyne ander ou foto’s aan ’n ”wasgoedlyn”  was waarvoor Anet – altyd een vir verrassings – gesorg het.  Dit is in 1980 geneem toe Beeld die feit gevier het dat hy Die Transvaler in die sirkulasie-wedloop verbygesteek het.

Die bottel mampoer.

Van een bottel na ‘n ander. Ton het daarop na ‘n bottel in sy hand verwys.  Dit is iets kosbaar, het hy verklaar: ’n bottel mampoer van 1982. Dit is deur David Moolman namens die redaksie aan hom geskenk toe dit bekend geraak het dat hy Beeld moes verlaat om na Naspers in die Kaap te gaan. Beeld het toe al vier die Perskor-dagblaaie in Transvaal begrawe, of liewer, ”hulle het hulself met syferfontein in n mynskag verondeluk”.

Spotprenttekienaar Orin Scott het die etiket gemaak. Ton se gesiggie is daarop, Beeld se logo en die leuse: “Mampoer in sy moer”. Onderaan in n kringetjie is geskryf: “Baai-Baai Beeld – Hello Moonshine”.

Ton het die aanwesiges genooi om die bottel oop te maak en n slukkie te neem.  Niemand was dapper genoeg nie.

David Moolman het Ton onthou.  Hy was redaksielid (aanvanklik assistent-nuusredakteur) maar het gou die koerant se reklamemens geword. Hy het  bv strokies met byderwetse slagspreuke laat druk en dit op motors se agternommerplaat laat plak.  Dit het Beeld as nuwe koerant bewegend geadverteer.

Barnard, Ton en Tim – die drie redakteurs op die party. Foto: Tobie Wiese.

‘n Ander veteraan, Theuns Kruger, wat teenwoordig sou wees, maar toe uiteindelik nie kon kom nie, het in die eerste somervakansie aan die Natalse kus in 1974 in ‘n helikopter gevlieg en ballonne  met slagspreuke afgegooi op die strande om Transvalers nie van die nuwe koerant te laat vergeet nie.

Theuns het ook die gevaarlike ding gedoen om met toue teen die Ponti-toring-gebou tot bo te klouter en n groot banier vas te aak met die woorde “Beeld soggens”. Sy hoop was dat TV in 1976 die banier sou oppik as hulle Ellispark daarnaby asfneem tydens n rugbytoets.   Dit was hoe Beeld se span reklame bedryf het.

‘n Groot “oorstootdrie” was toe hyself op die gedagte kom van wat bekend geword het as die Minipot. Dit was ‘n kort blokkiesraaisel met vyf dae se vrae en en dan moes die lesers dit instuur, dws uit koerante knip. Beeld  het yslike sakke vol inskrywings gekry, want elke week se wenner van R10 000 is Maandae aangekondig.

Die’ wedstryd het vlamgevat en verkope het reusagtig gespring. Hy het Vrydagaande met vol sakke inskrywings huis toe gery en Saterdae het sy dogter, Nissa, en haar Hoërskool Lindenmaats in sy studeerkamer die wenners uit die derduisende inskrywings uitgesoek.

Dit het Wimpie de Klerk en Die Transvaler omtrent vyf weke gevat om te besef hier is iets aan die gang by Beeld en toe begin hulle n soortgelyke spel.  Dit het beteken die bestuurder, Eric Wiese, moes by hoofkantoor meer kontant vra. Dit het te erg geword, want die twee persgroepe het nou elke week duisende rande in die spel geplaas. Hulle het toe tot n vergelyk gekom en die spel gestop.

Maar die ware boodskap was: Beeld se sirkulasie het met meer as 30 000 in paar weke gegroei en Die Transvaler s’n nie.  Na’ die spel het Beeld sy verkope-styging behou en die eerste Afrikaanse dagblad geword om 100 000 verkope oor ‘n sesmaande-gemiddelde te handhaaf.

Daardie jare kan nou onthou en gevier word as die goue jare van Afrikaanse dagblaie se groei en vestiging by die leserspubliek, het Ton verklaar.  Daar was algemene instemming.

  • Tim du Plessis, een van Ton se opvolgers as redakteur, het later ‘n paar van die vernuftige slagspreuke genoem: “Breek weg, lees Beeld”, “Lees liewer Beeld”, “Beeld is oral” en “Beeld – die koerant vir die nuwe geslag”.

UNIEKE BETONING VAN LIEFDE VIR BEELD

Groot stories word gesels.

‘n Vorige woord uit my hart oor die koerant Beeld wil ek graag vandag herhaal: dat ek nie weet van enige ander koerant waarin soveel mense soveel liefde gestort het nie. Daardie liefde vir hul koerant is gister by ‘n unieke totsiens-geleentheid in Kaapstad deur nagenoeg vyftig van hulle innig betoon.

Beeldmense van in hul 80’s; party kromgetrek en met kieries, en Beeldmense in hul fleur het in die Welgemeend-onthaalsentrum van die Hoërskool Jan van Riebeeck in die Tuine oor die begin – en einddae van Beeld van 1974 tot 2024 gekuier.

In die span wat aan die voet van Tafelberg met fyn happies en keurwyne, vertel en gesels hul geliefde blad gedenk het, was begeesterde bouers uit al vyf dekades van Beeld se bestaan. Elf pioniers van die stigting in 1974 was, was gister teenwoordig. Ook een bittereinder wat op die dek van die goeie skip Beeld was toe die laaste, droewige fluit op 20 Desember 2024 gegee is.

Tom (Dwarslat),  Max en Julia

Van die pioniers.

Die elf pioniers was (in chronoliese volgorde): Johan Binneman (rekenmeester), René Bosch (kafeteria), George Boshoff, Johan Bruwer, Renéé Conradie , Ebbe Dommisse, Max du Preex, Harry Hill, Hennie van Deventer, Hannes van Zyl en Ton Vosloo (almal redaksie).

Ton, derde redakteur , en sy vrou, Anet, was die gulle gasheer en gasvrou. Anet, altyd kreatief, het die teenwoordiges verras met ‘n “wasgoedlyn” met foto’s uit hul Beeld-dae.

Die bittereinder was Barnard Beukman, laaste redakteur. Deur sy teenwoordigheid is dus ‘n voltooide kringloop van 50 jaar weerspieël – ‘n merkwaardigheid.

Barnard was een van drie oud-redakteurs by die byeekoms, saam met Ton Vosloo en Tim du Plessis. ‘n Vierde, Willie Kühn, sou kom. ‘n Mediese rede het voorgeval. Een hoofbestuurder was daar: Jan Malherbe.

Van redakteurs (en uitgewers) van ander publikasies was daar ‘n menigte – onder meer van Die Burger, Rapport, Volksblad, The Citizen, Vrye Weekblad, Sondag, Sarie, Huisgenoot, De Kat, Woman’s Value, Idees en Insig.

As redakteursfabriek het Beeld die joernalistiek inderdaad met briljante uitvoerprodukte verryk.

Drie veteraan-rubriekskrywers het saamgekuier: Wilhelm Jordaan (hy skryf Mens tot Mens wat later Deurloop geword het en nog later Van Alle Kante, reeds vir 38 jaar ononderbroke), Tom Ferreira (Dwarslat vir 13 jaar) en Johan van Wyk (Potjiekos vir 10 jaar). Wilhelm het iets soos 1 800 rubrieke agter die blad. Niemand het ‘n langer werkverhouding met Beeld nie.

’n Hele biblioteek van teenwoordige Beeld-skrywers/uitgewers/redigeerders se boeke kan ’n mens jou ook verbeel,

Egpaar Van Breda en Elsa Godden (Kruger).

Te midde van die harde werk het die liefde wel kans gekry om te blom. Minstens vyf egpare was teenwoordig: Dewald / Michelle van Breda, Fanie / Lisel Krige, Peter Masher / Laetitia Pople en Jan de Lange / Carolien Saayman /Tienie en Elkafrien Fourie.

Van die kollegas wat Suid migreer het, is verskeie al heen, onder andere Schalk Pienaar, Johannes Grosskopf en Salie de Swardt (eerste, tweede en vierde redakteurs), Jack Viviers, Ben van Rensburg en Piet Gouws, en redelik onlangs Martie Retief, Thys Odendaal en Jan Morgenrood.

Onder genooides wat nie kon kom nie – altesaam 29 – was Johan Holzapfel, Kerneels Breytenbach, Lisa de Swardt, Arrie Rossouw, Chris Karsten, Adriaan Basson, Waldimar Pelser en Joan van Zyl. Van drie kon geen spoor gevind word nie. Een is Orin Scott, eerste spotprenttekenaar.

Wat het die afwesige kollegas nie gemis nie! Soos Arlene Prinsloo, een van die later generasies, dit op Facebook stel: “Dit was ‘n lieflike kuier van oud-Beeldmense. Ons het gesels. Staaltjies uitgeruil. Na toesprake geluister en meegedoen nes ons kan en vreeslik oor die warm weer gekla! Wonderlike herinneringe. Wonderlike mense.”

(Hierdie is ‘n eerste aflewering van my kant. n Tweede volg eerlank. Foto’s hierby is deur Rene Bosch.)

MET SPIOENBAAS IN DIE BRANDERS

Dat spioenbaas Niël Barnard op Gansbaai – Gansbaai! – te ruste gaan, wek herinneringe aan my eerste besoek aan daardie wyke.
In Januarie 1983 bring die nuwe besturende direkteur van Naspers, Ton Vosloo, sy vier koeranteredakteurs en die politieke redakteur van die groep ‘n naweek op Franskraal deur.
Die redakteurs is Wiets Beukes (Die Burger), Willem Wepener (Beeld), Hennie van Deventer (Die Volksblad) en Chris Moolman (Oosterlig). Die politieke redakteur is Alf Ries, alombekend as doyen van die persgalery van die Volksraad. Beukes en Ries is mede- eienaars van ‘n strandhuis teenaan die see en hulle is die gashere.
Vrydagaand word vis gebraai en heelwat wyn gebruik. Vroegoggend die Saterdag soek die spannetjie met seer harte na die verfrissing van branders en koue seewater.
Hulle verkas na Uilenskraalmond. Die meeste van die manne stroop hul hemde, duik in die branders, plas en jil.
Meteens kom ‘n ander gedaante uit die branders te voorskyn met water wat uit sy hare drup. Dit groet oor en weer. Later stap die Naspersmanne en die onbekende nuweling gesels-gesels uit die branders. Op die strand gryp elkeen sy handdoek om af te droog, maar die gesels duur voort. Lyk soos ‘n lang agenda …
Wie die onbekende nuweling was? Niemand minder nie as die nimlike Niël Barnard, wat kort tevore deur P.W. Botha met die hand uitgesoek en by Kovsies gaan haal is om die Nasionale Intelligensiediens te lei.
Daardie oggend het Alf Ries foto’s geneem soos die een hierbo: Moolman, Wepener, Vosloo, Van Deventer, Beukes in hul baaiklere. Hoekom Barnard nie saam met ons afgeneem is nie, kan ek nie onthou nie. Dalk wou hy nie. So ‘n foto sou verleentheid kon wek, het hy dalk geredeneer: NI se topman met die leiergroep van die Afrikaanse koerante op ‘n verlate strand op ‘n Saterdagoggend!
Daardie verleentheidspotensiaal is ook deur ons persmanne later besef. Ons het oor ‘n bier of twee om die vuur daaroor saamgelag, en in ons verbeelding die foto plus prominente berig oor ons “secret meeting” op die “Sunday Times” se voorblad gesien.
Die ontmoeting was inderdaad absoluut ongeskeduleer. Die Barnards het toe al n vakansiehuis by Gansbaai gehad – dalk die een waarin hy tot die einde gewoon het. Ons het bloot op dieselfde tyd op dieselfde dag op dieselfde strand behoefte aan son en seewater op ons lywe gehad.
Gehreime ontmoetings met Barnard was daar later tog wel. Die ene by Vosloo se destydse woning in Wynberg met die interessante naam “Spyglass Hill” het ek elders vermeld.
Ebbe Dommisse het toe al by Die Burger by Wiets Beukes oorgeneem, as ek reg onthou. Daardie dag het ons by ‘n vuurtjie groot dinge gesels, soos oor die gesukkel om Suid-Afrika op die pad van groter geregtigheid vir almal te kry. Barnard het ons ingelig oor klandestiene inisiatiewe rondom Nelson Mandela.
Hy was toe nog nie kwaad vir die pers nie

PERDEKRAG TOT WARE KRAG

Sestien maande gelede, op 18 Mei 2023, het ek op hierdie blad ‘n kans betreur wat ek laat glip het. Waarskynlik is die geleentheid vir altyd verlore, het ek my lot bekla.
Maar vir woorde soos “vir altyd” of “nooit” moet ‘n mens maar lugtig wees.
Op Vrydag, 27 September, kom die kans toe weer. ’n Verbluffende siklus word daardie dag in my lewe voltooi: van ‘n treppie (perdekarretjie) tot ‘n ten volle elektriese spogmotor het ek nou in my 83 (amper 84) jaar op aarde gery.
Met die treppie het my Oom Danie du Plessis my as vyfjarige en my weduweema op Kaallaagte kom haal as ons met die Oranje-Snel van Kimberley kom om by hulle op hul plaas in die distrk Paul Roux te kuier. Die seuntjie het hom van die agterste bankie verwonder aan die spogperde wat ons so ligvoet en kopspelend op die plaaspad karwei (en aan die groot speekwiele).
Vrydag het Johannes Moses my in Kusweg, Melkbosstrand, vir ’n kort plesierrit met ‘n Volvo XC40 geneem. Die ou man het hom verwonder aan al die knoppies en nuwerwetsighede, die afwesigheid van ‘n enjin en die blitsige versnelling toe Johannes so effens vetgee.
In Mei was dieselfde Johannes met dieselfde Volvo by my huis. Hy het ‘n pakkie vir een van die grootbase kom haal. Eers toe die Volvo geluidloos oor die bultjie verdwyn, besef ek: ek kon ten minste gevra het om tot op die hoek saam te ry het ter wille van ‘n historiese ervaring.
Vrydag het Johannes vir Ton Vosloo Melkbos toe gebring vir ’n ete. Ek sou nie weer met ‘n mond vol tande staan nie. Trouens, Johannes het my en die oud-voorsitter van Naspers saam voor die Volvo afgeneem – as iemand dalk dink dat ek lieg.
Die spesiale ervaring skep die geleentheid om oor die wiele in my lewe na te dink.
Los die babawaentjie en die driewiel maar daar. Van die perdekar (1946) tot die ossewa (in 1948 op ‘n plaas buite Kimberley) tot haas elke denkbare voertuig van die volgende sewe dekades plus is op my lys.
Praat van motorfietse dan onthou ek veral my oom Willie Smith. ‘n diamantspeurder, se forse syspan-model. As hy die pad vat, het die wind deur jou hare gespeel.
Vragmotors het ek elke dag gery toe ek in 50’s ‘n jaar in die skooltjie op die myndorpie Enyati in Noord-Natal was. Soggens het ek en my niggies Lina en Elsa Maritz op Boshoek langs die pad gaan staan. ‘n Steenkoolvragmotor laai ons dan op. Smiddae was dit dieselfde storie terug. Die Studebakers was my gunsteling.
Vir openbare vervoer het, buiten die trein, regte, egte outydse trems, trolliebusse, stedelike dubbeldekkers en moderne My City’s gesorg – ook een van die 50’s se ou half-bus-half-vragmotor-gevaartes van die SA Spoorweë. Die verskeidenheid luukse-toerbusse en minder-luukse-toerbusse in verskei lande was enorm.
Motors? Onmoontlik om almal te probeer onthou. Die eerste was my pa se 1938-Plymouth. Nou ry ek ‘n redelik resente BMW X1. Tussenin was daar stasiewaens, SUV’s, sportmotors (‘n Tukkievriend se Karmann-Ghia), sedans, limousines, kombi’s, allerlei bussies, kewers, jeeps, Londense taxi’s – selfs ‘n Goggomobiel. Daar was V8’s, sessilinders, 4 x 4’s, wankelenjins en wat nog.
In ‘n renmotor was ek darem nie. Aan ‘n tydren het ek wel in die 60’s deelgeneem in ‘n Ford Zephyr. Minder suksesvol – ek, nie die Zephyr nie.
Amper vergeet ek my oom Marthinus Maritz se Chevvie met sy “dickey seat” (weet nie wat dit in Afrikaans genoem word nie). Vir oningeligtes: dit was ‘n oopslaan-sitplek waar jy nou die kattebak vind. Gewoonlik plek vir twee mense.
Van hom lees ek op Google: Dickey seats in early motor cars – sometimes called ‘mother-in-law seats’ – were inherited from horse-drawn carriages, where they were customarily occupied by servants or by guards on mail coaches. Originally they were called simply ‘dickeys’; the Oxford English Dictionary traces the first use of the term back to 1801.
Skoonma se sitplek! Die bynaam het ek nooit gehoor nie. En my skoonma was buitendien ‘n engel. Sy was welkom binne die motor.
Maar ek dwaal. Eintlik wou ek maar net sê: In watter era was ek nie bevoorreg om te leef nie en watter revolusionêre veranderings het ek nie alles in my leeftyd beleef nie. ‘n Ten volle elektriese motor – dit het nie te lank gelede nie geklink soos ‘n verbeeldingsvlug van ‘n wetenskapfiksie-skrywer. En nou maak hulle al karre wat hulleself bestuur. Keer voor!