VROEDVROUE EN JOERNALISTE

In Joan Kruger se boek ”Wieg” laat sy o.m. die lig val op ‘n kranige dr. Hendrik van Deventer, een van Nederland se voorste geneeshere in die 17de eeu.  Verloskunde is een van sy vele kundighede, en hy skryf in 1701 ‘n lywige werk waarin hy “een nieuwe ligt” vir aspirant-moeders en vroedvroue laat opgaan oor regte en verkeerde maniere van doen by kraamgevalle.

Dr. Van Deventer stel ‘n lys met allerlei vereistes vir vroedvroue saam. Van sy insigte is byvoorbeeld dat hulle nie “ligsinnig, driftig of praatsiek”moet wees nie.

Van sy ander vereistes (soos die uiterste  higiëne) sal ongetwyfeld vir vroue relevant of ten minste interessant kan wees, maar synde ‘n leek grawe ek nou nie te diep aan my genant se skrywes nie.  Lees daarvoor liefs Joan Kruger se boek of sy magnum opus self, as jy dit iewers kan vind.

My belang in die saak is n boodskap wat ek óor die onderwerp van wakker oud-kollega Tobie Wiese ontvang het

Ek lei af hy lees op die oomblik “Wieg”. Met prysenswaardige bedagsaamheid lig hy hierdie HvD oor die bestaan van daardie onbekende een in.  In die skryfstyl bemerk hy selfs ‘n (vleiende) ooreenkoms wat hom laat dink dat laasgenoemde ‘n voorsaat moet wees.

My eerste reaksie was dat ek met toenemende bewondering van die genant lees.  Sy terrein van kundigheid laat my egter twyfel oor enige gemeenskaplikheid, al sal ek my nie teen die suggestie verset nie. Dit is wat ek vir Tobie terug laat weet.

By besinning is dit egter juis die goeie arts se terrein van kundigheid wat by my kom spook en selfs ‘n onderlangse glimlag (geen bybedoeling met die gebruik van die woord “onderlangs” nie) uitlok.  Daartoe dra die woorde  van die Duitse skrywer  Karl Gutzkow by. Joernaliste is die vroedvroue en grafgrawers van hulle tyd, het hy gemeen. Dit is woorde wat ek in my “Flaters en kraters” uit die 90’s goedkeurend aanhaal. Ek behoort dit te onthou het.

Soos vroedvroue is joernaliste immers by die geboorte van nuwe geskiedenis betrokke, nes hulle soos grafgrawes by die einde van eras ‘n kritieke bydrae lewer.

Klaarblyklik het ek te onnadenkend en te gou die bestaan van “enige gemeenskaplikheid” tussen daardie HvD se terrein van kundigheid en my eie ontken. Dit was ‘n slordige en oppervlakkige redenasie.

‘n Tweede gemeenskaplikheid is in die proses van koerantmaak te bespeur: ‘n dinamiese akiwiteit wat met ‘n daaglikse konsepsie begin. Al hoe swangerder en swangerder raak dit deur die dag terwyl die volume van die baba groei en visuele waarnemings toenemend moontlik raak.  In ‘n stadium raak die geslag (karakter van die dag se koerant) duidelik. Leemtes kan geïdentiseer raak  en reddende ingrepe  is soms moontlik.

Ook in die idioom van die joernalistieke vaktaal is ooreenkomste te vind. Veral in skeppende skryfwerk soos hoofartikels en rubrieke  kom die kraam-begrip dikwels te berde. Dat iemand nog vinnig ‘n geskrif moet gaan “kraam” het ek dikwels gehoor, ook dat iemand aan ‘n bepaalde stuk werk swaar “gekraam” het.

Van moeilike “bevallings” word ook gepraat – veral as op nommer 99 iets onverwags gebeur wat die proses dramaties op sy kop keer.

By hoeveel sulke “bevallings” – heuglik en minder heuglik – was ek nie persoonlik die “vroedvrou” nie.  Maar genoeg hiervan.

Ek sal tog vir Tobie ‘n vervangende boodskap moet stuur, lyk dit.

OOM EN SY RYPERD

More uit Melkbos

‘n Koerantman behoort te weet as ‘n storie roep vir ‘n foto om dit net daardie ontbrekende ekstra dimensie te gee.

Om oor Johan van Wyk en sy Gold Wing te skryf sonder ‘n foto van die dramatis personae (man en fiets) was ergerlik onbevredigend. Maar, soos ek verskoning gesoek het, die Strand is nie net anderkant die bult nie.

Boonop had ek die vrees dat dit heelwat oortuigingswerk sou verg om die nodige foto uit die “Oom”” te wurg. Die manne van Kafferrivier se kontrei (boonop ‘n Calvinianer van geboorte) kan koppig wees as hulle wil.

Toe kom Tobie Wiese, reisgenoot op vele avontuurlike tweewiel-togte, tot my redding. Hy stuur stilletjies ‘n paar foto’s aan.

Bo is ‘n foto van Johan van Wyk en sy Honda by ‘n rusplek langs die pad in die Robinsonpas naby Oudsthoorn. Die sigaretjie in sy hand is ‘n periodieke verleiding. Hoop nie dit verskaf vir hom komplikasies by Zandra of sy artse nie.

Betekenisvoller is daardie ruim pakplek vir padkos agter op. As Johan van Wyk oor padkos begin vertel, boeta, dan water jou mond eers …. (hvd)