ONTHOU TOG, LIEWE MENSE, DIS ‘N NUWE JAAR!

In my jare as nuusredakteur in die 60’s en 70’s was een van die eerste inskrywings in die dik dagboek op my lessenaar elke jaar: Herinner oor tjeks. ‘n Roetineberig was om mense daaraan te herinner dat die jaartal aangeskuif het.
Vergeet jy dit op jou tjek, het jy vir jouself ‘n bose boel sonde gesoek. So ‘n tjek is summier afgekeur. Dit was nie die papier werd waarop dit geskryf is nie.
Tjeks bestaan natuurlik lankal nie meer nie. Maar wie van die ouer garde het nie ‘n keer of wat – dalk meer keer – die sware ontnugtering beleef van ‘n tjek wat geweier word nie? “VNT” is daarop geskryf: “Verwys na trekker”. Ons het sommer gepraat van ‘n tjek wat gehop het.
En nie almal wat vir hul geld gewag het, was ewe geduldig met jou ekskuse en verduidelikings oor nou “ligte mistykie”nie.
Die keer toe ek dit self oorgekom het, onthou ek met ‘n brandpyn in my buikholte. Dit was jare na my nuusredakteurskap. Trouens, ek was al afgetree. Ludie de Jongh van Melkbos het aan my huis bouwerk verrig en is weekliks per tjek vir sy dienste vergoed.
Toe kom hy – in Januarie 1999, as ek reg onthou – een oggend skoorvoetend hier aan met die slegte nuus. Absa weier my tjek.
Ek was woedend. Wat my nog ‘n paar kerwe kwater gemaak het, is dat kollega Piet Theron van Die Volksblad en sy vrou, Petro, op besoek was. Hulle kon nie juis anders as om agter te kom hoe die wind waai nie. Bittere verleentheid!
My rekening was by die Heerengracht-tak in die stad. Die bestuurder was die bedaarde Jurie Blom. Ek skree bra onbeskof in sy oor dat ek dadelik my rekening sluit. Absa sien my nie weer nie.
Later dring dit deur die arme Jurie en sy tak is onskuldig. Tjeks word sentraal hanteer deur mense vir wie jy net ‘n rekeningnommer is, nie ‘n gesig nie.
Nog later word die rede vir die weiering bepaal. Die uwe het vergeet om die jaartal met die jaarwisseling aan te pas. Sy tjek is dus reeds ‘n jaar oud.
Jammer, Ludie. Jammer, Jurie. Jammer, Piet en Petro, dat ek my so sleg gedra het.
Jare later loop ek en Jurie mekaar op die dek van ‘n vakansieskip raak. Hy stel my aan mev. Blom voor en verneem na my gesondheid. Toe, met ‘n skewe glimlaggie: “Is mnr. Van Deventer nog so kwaai?”