Apr 28, 2025 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Hier dan: Hamlet met die prins(e). Die uwe en ouma Tokkie saam met Thomas (links) en Jacob . Agter ons is Simonsberg. Kyk hoe trots is ons twee oues! Op die onderste foto is ons saam met die hele Claassens-span: ook Brent, Marisa en Christopher. Vir die boonste foto dank ons Chrstopher en vir die onderste Danielle Claassen (sonder die s).

Lustig is das studenteleben, faria, faria, ho. So het ons 60 jaar gelede in Kollegetehuis op Tukkies gesing. Lustiger kan die studenteleben beswaarlik wees as by Saterdagaand se sprankelende 21-fees van kleinseuns Jacob en Thomas Claassens by die boetiek-wynlandgoed Alluvia op Helshoogte, Stellenbosch. ‘n Fees was dit van heerlike wyn en pizza (Italiaanse styl), kameraderie, vrolikheid, pret, welsprekendheid, pittigheid en wat nog, Oupa en ouma Hennie en Tokkie was bevoorregte toeskouers/deelnemers. Uiters genotvolle aand gewees. Het ons self sommer weer jonk laat voel.

In daardie kleurryke 21 word die storie van kleinseuns Jacob en Thomas se Claassens se grootword vertel. Dit is die etiket op die agterkant van die magnumbottels rooiwyn wat hul oom en tannie Johan en Mariza van Deventer en neef Migael vir hul 21ste van Oudtshoorn af Kaap toe laat koerier het. Ek tel sowat 30 foto’tjies in die ontwerp deur Hilde. Op die voorkant van die magnums / magnumme / magni is etikette met die twee se name en foto’s. Hulle glimlag breed oor hierdie spesiale geskenk.
OM VIER KEER MONDIG TE RAAK
Dit tref skielik dat ons kleinseuns Jacob en Thomas Claasens 21 word in die jaar dat my 84ste gevier is – vier 21’s as’t ware. Kyk ek terug op elk van die kwarte en op die geheel van 84 is dit met enorme dankbaarheid.
Nie as ‘n soort bloudruk of model vir enigiemand nie – net vir interessantheid – het ek die vernaamste bakens in elkeen van my vier skofte probeer identifiseer.
Dit bewys een ding onteenseglik: dat altyd nuwe dinge met ‘n mens gebeur – tot op jou oudag.
Natuurlik neem elke mens sy lewe sy eie verloop. Nie almal se bakens sal ooreenstem nie – party s’n sal selfs ingrypend verskil. Een beleef meer voorspoed en ‘n ander minder. Niemand se lewe gaan staan egter stil terwyl hy / sy nog lewe nie. Dinge bly egter gebeur.
So lyk my eie prentjie vir my:
Eerste 21 (1941 tot 1962): Skool (Volkies op Potchefstroom) en universiteit (Tukkies). Sport: Rugby, krieket en atletiek. Eerste motor: gebruikte 1953-model Peugeot 203.
Tweede 21 (1962 tot 1983): Begin loopbaan, trou, laat bou ons eerste huis in Bloemfontein, word pa, woon ses jaar in Johannesburg (Beeld), geniet rusjaar in Amerika en word redakteur (Die Volksblad) – my groot ambisie.
Derde 21 (1983 tot 2004): Kom Kaap toe as uitvoerende hoof: koerante, publiseer eerste boeke, tree af, word Melkbosser en Sabieparker (baie lief vir albei). Verruil laaste van drie Mercedesse vir die Honda.
Vierde 21 (2004 – 2025): Word vier kleinkinders ryker, onderneem ’n stuk of 12 bootvaarte, skryf dosyne briewe aan koerante en my laaste klompie boeke, waaronder die allerlaaste, Water wat verby is, einde 2024.
Onder die bakens in die vierde skof wat vir my – en vanselfsprekend eweseer vir Tokkie – uitstaan, is die geboorte van die eerste kleinkinders, en toe boonop ‘n tweeling. Die vreugde wat hulle twee in ons lewens gebring het, is werklik ‘n hoogtepunt vir ons albei.
Apr 26, 2025 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Die storie van 21 wonderlike jare word hier in een (saamgestelde) foto vertel. Ons oudste kleinkinders, die tweeling, Jacob en Thomas Claassens vier vandag, Saterdag 26 April, hul mondigwording.
Op die foto bo regs is hulle op hul eerste besoek by die naambord van Tarlehoet, ons geliefde boshuis in Sabiepark, Mpumalanga. Hulle was toe skaars ‘n jaar oud. Pappa en mamma was darem toe nog by. Onder regs is hulle al opgeskote seuns. Dit was al hul soveelste alleenkuier. Links is verlede jaar se foto. Hulle is hier al 20. (In die middel is kleinboet – kleinboet! – Christopher). Die eerste keer toe Jacob en Thomas alleen saam met ons bos toe is, was hulle driejarige pokkeltjies. Dit was die begin van ‘n onvergeetlike tradisie.
As ek en Tokkie vandag ons gedagtes laat gaan oor die vreugdes van die 21 jaar staan die naam van Sabiepark sentraal. Daar aan die Sabierivier, knus by die Krugerhek van die wildtuin, het ons en die seuns van ons heerlikste tye saam deurgebring.
Hoeveel vakansies altesaam? Het nie getel nie. Kom ons hou dit maar by 20, maar dit was meer. Dankie, jong manne, vir hoe julle ons harte daar oor al die jare verbly het.
Foto 2 is van die voorblad van ‘n informele boekie oor ons eerste nege boskuiers. Die 143 A4-bladsye is ‘n kroniek van die lief en leed van elke kuier, kompleet met ‘n klomp foto’s.
Die boek handel primêr oor die kinders se inwyding in die bos-kultuur. Dit is sekondêr ‘n kleinkind-storie – Oupa Hennie en Ouma Tokkie se inwyding in die oupa- en ouma-kultuur.
Die “kampvuurtjies” en “karnallies” in die titel spreek seker vir sigself. Hier is die verklaring vir die “k..k.. karnivore”:
Ons het aanvanklik vir die vyf of ses weke van ‘n vakansie ‘n enkelbedjie uit die buitekamer ingedra, styf teenaan die dubbelbed gestoot, en soos sardientjies langs mekaar geslaap. Die twee seuntjies het elke aand posisies geruil. Toe hulle ses was, het hulle die betrokke aand hul gewone gebedjies gebid en toe aangekondig dat hulle nog wil bid. In die “nog bid” val die klem, soos dit hoort, op hul eie grootste belewenisse en voorkeure.
Ouma het die gebedjie so opgeteken: “Dankie, liewe Jesus, vir al die diertjies wat ons hier in Sabiepark kon sien. Dankie vir die bome en dierespore. Dankie vir die aandstêr en die volmaan. Dankie, liewe Jesus, vir die … Ouma, wat is die naam nou weer wat met ‘n k begin? …. k..k.. karnivore! Dankie vir al die karnivore. Dankie dat die sebras hier op ons erf kom slaap het. Dankie vir al die poef wat hier in Sabiepark is. Dat ons sebrapoef kon optel en op Ouma se appelblaar kon gooi dat hy nou so mooi kan groei. Dankie vir al die voëls wat ons leer ken het. Amen.”
Oupa en Ouma Hennie en Tokkie het vandag ook ‘n gebedjie. Ons betuig aan die Here ons tienvoudige dank vir twee sulke jong sierade. Ons kyk terug en ons is verheug oor al die heerlike saamkuiers, al hul prestasies aan vele fronte en sommer hul besonderse menswees in die algemeen wat ons trots en gelukkig maak. Ons kyk vorentoe met afwagting en vertroue en ons bid dat die meetsnoere vorentoe steeds vir hulle op lieflike plekke sal bly val. Amen.
Jul 15, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Van 2005 af word ‘n spanfoto van die kleinkinders by die naambord van Tarlehoet geneem: eers van net die tweeling Jacob en Thomas en daarna met kleinboet Christopher by.
In die 25 jaar van ons verbintenis met Sabiepark het die naambord drie keer
verander. Eerste eie bord was van swarthout, gemaak deur Dick Turpin van Melkbos, die tweede was ‘n variasie op dieselfde tema weens verwering en die derde, die huidige, is uit hardekool. Dit kom van Lukas van der Merwe, ‘n oud-Sabieparker. Al drie pryk op van die tradisionele foto’s.
Dit is nogal ‘n aardigheid om deur die Sabiepark-albums te blaai en aan die hand van hierdie foto’s te herleef hoe die drie manne hul babaskoene ontgroei en al hoe verder agtergelaat het. Elke foto in die galery lewer sy eie wonderlike herinneringe van boskuiers sonder weerga op.
Vandag is twee trotse eerstejaar-Maties en een in graad agt aan die Hoërskool Stellenberg in Bellville/Durbanville. Die jongste is langer as sy oupa. Hy is ‘n rugbyspeler en houtkapper van formaat.
Die gesin Claassens is vanoggend huis toe n twee bedrywige weke met groot vure, wildritte, lang stoepkuiers en tegniese ondersteuning vir oupa en ouma aan verskeie fronte. Ek verwys o.m. na opgraderings en geduldige onderrig in die jongste tegnologie van die digitale era.
Dit was hartseer om die bussie tienuur met hulle te sien wegry lughawe toe. Dit sal vreemd wees om vanaand weer self ‘n vuurtjie te bou en aan te steek. Oorheerend is egter ‘n gevoel van dankbaarheid vir die spesiale bydrae tot ons viering van ‘n kwarteeu-verbintenis met ons geliefde bosplekkie.
Ons hoop maar daar sal vorentoe weer sulke kuiers wees.

Op die foto’s hierby is ‘n saamgestelde een van voriges by die naambord en drie van 2023: een van die drie alleen, een saam met oupa en ouma en een van ons al sewe saam. Vir laasgenoemde is ‘n vroulike stapper in Wildevylaan aangetree.
Dit is seker nie nodig om aan te dui wie Brent en Marisa, hul ouers, is en wie ek en Tokkie nie. Kyk maar na die hare, om van oupa se immer-teenwoordige kierie nie te praat nie.
Apr 28, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Stellenbosch die roep my en ek moet gaan. Vreemde woorde uit die mond van ‘’n geswore Tukkie?
Nou-ja, dis darem nie heeltemal waar nie. Nie Stellenbosch wat geroep het nie, maar die Matie-kleinseuns, Jacob en Thomas, se 19de verjaardag.
Ek en Tokkie is op geleide toere deur hul koshuise, Eendrag en Helshoogte. Sy het onder meer kennis gemaak met naamgenoot Tokkie, laasgenoemde se gelukbringer-hoender. Oupa moes erken dat die koshuiskultuur – veral die respek vir tradisie – hom imponeer. En wil jy glo: in Eendrag se binnehof staan twee groot jakarandas wat wil begin blom!

Moet ook erken dat Stellenbosch se Victoriastraat met sy erewag van akkerbome in hersfkleed ‘n skouspel is, die US met sierlike geboue kan spog en die skolebuurt langs die Eersterivier buitengewoon indrukwekkend is. Moet goed vir die siel wees om aan Gimmies, Bloemhof of Rhenish skool te gaan.
Dan die Fat Butcher in Van Riebeeckstraat – ‘n -biefrestaurant soos ek laas in Boston en Cambridge in Massachustts mee kennis gemaak het. Voortreflik verby met ‘n wonderlike atmosfeer. Net twee dinge: jy moet lank vooruit bespreek en nie sensitief wees vir pryse nie! (Gelukkig was skoonseun, Brent, die gasheer.)

Die mooi foto van die gesin Claassens is deur my in ons hoekie in die Fat Butcher geneem. Links sit kleinboet Christopher (14). Voor hom is sy melktert-nagereg nadat hy ‘n steak van 600 gram weggesit het. Die man is ‘n kranige flank.
Dat Jacob nou kitaar speel, was ‘n verrassing. Dis aan sy kamermaat te danke. Wat die foto saam met sy ouma, volgens sy ma, Marisa, des te meer merkwaardig maak, is die twee bossiekoppe so saam. Moet iets in die gene wees. Hulle glimlag ook ewe breed. Ouma was boonop in haar jeug ook ‘n musiekmens met ritse diplomas vir klavier
Jul 15, 2017 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Braai vir oulaas.
Wederom, wederom -so groet ons vrolik by die tyd van kom; maar dan kom weer die tyd van gaan, blink in die oog ‘n hartseeertraan; ja, kom en gaan en kom en gaan, so rol ‘n mense se lewe aan …
Die Claassense is vanoggend om 06:OO hier weg na ‘n heuglike twee weke. Gisteraand is vir oulaas by Tarlehoet groot vuurgemaak vir ‘n goed gesinchroniseerde driestasie-braai: Jacob by die tjops. Thomas by die brood en Christopher by die wors.
Afskeid beteken ook tyd vir die “amptelike foto” by Tarlehoet se naambord, vars vernis deur die vlytige seuns. Om te dink toe hulle die eerste keer in Sabiepark gekom het (in doeke nog) het die naambord hulle verdwerg. Nou is Thomas langer as ouma!

By die vuur wou Marisa by elkeen weet: Wat was die aller-hoogtepunt en die een ding van die vakansie wat jy nooit weer wil beleef nie.
Die gesellig saamkuier om ‘n kampvuur het in die eerste kategorie sterk steun geniet – ook Brent se eerste blik op swartwitpense in die wildtuin, die besoek van ‘n leeu in Sabiepark en die herbesoek aan Napi, danksy die Presslys van Skukuza.
Wat nie so lekker was nie, was die groot skrik met die opwagting van ‘n Mosambioekse spoegkobta by die vuur ‘n paar aande tevore. Liewer nie weer nie!
Wat vir Oupa ‘n gedenkwaardigheid van die vakansie was, was om die seuns se groei in kundigheid, vernuf en selfvertroue waar te neem: hoe hulle die voortou neem met die vuurmakery (die hout vlieg nogal!), braaiery, ens. Elkeen het sy eie verantwoordelikhede. Jacob hanteer bv. die nagkamera. Daarop was party oggende niks. Twee keer is wel hiënas gekiek en ‘n paar keer dors bokkies wat nader staan watergat toe. Jacob adviseer Oupa ook oor tegnologie.
Ook lekker gewees om te sien hoe heg die bosbroederskap met Sabiepark se personeel voortleef. Patson Nommer Een (Christopher) en Patson Nommer Twee (die regte Patson) bly ‘n gedugte span. Christopher is slegs oortuig dat dit beter is om huis toe te gaan as om in Sabiepark agter te bly en vir almal takies te help verrig met die argument dat hy dan graad twee sal moet herhaal.
Wat in die Amarok saam Kaap toe is, is lang stapstokke wat glad geskuur, kreatief uitgekerf en met toue versier is. Natuurlik ook die herinnering aan sowat die 20ste besoek van die13-jarige tweeling (volgens Thomas se sorgsame rekords) en die dosyn of wat van Christopher(8).
Onthou om die krane in die Kaap toe te hou, julle!