TWEE ETES, TWEE MANDELAS
Aan die een kant die gulle glimlag, die gemoedelikheid en charisma. Aan die ander kant die kilheid en die skerp tong van kritiek en veroordeling.
Aan die een kant die gulle glimlag, die gemoedelikheid en charisma. Aan die ander kant die kilheid en die skerp tong van kritiek en veroordeling.
‘n Storie in Vrye Weekblad (10/8)) oor ’n pypaansteker uit Noord-Korea laat my terstond in ‘n laai in my kroegie krap. Daaruit grawe ek ‘n groen aansteker met sy eie storie en twee verrassende raakpunte, weliswaar ietwat verroes, maar in goeie werkende orde.Bure en vriende se name in ons nuwe besoekersboek op 3 Januarie 1988. Een van hulle is Johann Strauss, wat die boek as Kersfeesgeskenk vir my en Tokkie gegee het.
More uit Melkbos
Vir Kersfees 1987 het ek by ons buurman Johann Strauss, oupa van Mej. Wereld, Rolene, ‘n besoekersboek present gekry. Johann was self ‘n besoekersboekman sonder weerga. As ‘n buurvrou gaan aanklop om, by wyse van spreke, ‘n koppietjie suiker te leen, moes sy gou eers skryf.
Op Nuwejaarsdag 1 Januarie 1988 het Tokkie se ma, Ouma Marietjie, die eerste mens geword wat in ons boek geskryf het. Haar adres was toe nog Louisehof, Bultfontein. Sy was 74. In 2013 is sy op amper 99 oorlede.
Vandag het ons omgeblaai na die laaste oop blad. Die boek is feitlik op sy einde. Tussen Ouma se eerste inskrywing en die jongste een, deur kollega George Louw – uitgewer, digter, dramaturg – en sy vrou, Dorette, van Bloubergstrand op 19 November 2015 is letterlik honderde der honderde ander name: kollegas, bure, vriende, familie, skool- en studentemaats, gaste by verjaardae en etes, kennisse. Eminentes en minder eminentes, tot uit Amerika.
Hoeveel al lang boompies toe is, wil ek nie eens begin om te bereken nie.
Ons boek is ‘n naslaanwerk. Wil jy weet wie was almal op die uwe se 50ste, draf net vinnig boek toe. As jy vinnig wil seker maak hoe spel die of daardie sy/haar naam, die boek bied die antwoord. Watter jaar was broer Christo hier uit Australië? Binne ‘n japtrap weet jy.
Ongelukkig was die ontvangers nie naastenby so stiptelik met hul present-besoekers soos die gewer met syne nie. Vele name wat daar moet gewees het, ontbreek. Eenvoudig vergeet om die boek uit te haal. Oupa Malan is een wie se naam nie daar is nie. Hy was op Kersfees 1987 die laaste keer by ons in Bloemfontein – toe al terminaal siek. Ouma Malan, my ma, het gelukkig wel later geskryf: eers op 3 Januarie 1991, my 50ste.
Opvallend kom party name nogal dikwels voor, onder andere dié van Johann en Elsie Strauss. Seker maar morele dwang ervaar om elke keer die boek op te diep as hy by die voor- of agterdeur instap! Hy het waarskynlik die eer verdien om eerste te skryf, maar hy moes vir sy kans wag tot 3 Januarie 1988, my verjaardag. Jammer, Johann.
Ander Bloemfonteinse bure soos Chris en Annette van Rensburg, nou van Kleinmond, tel ook onder die gereeldste besoekers. Ons vier geniet ‘n glasie vonkelwyn en kuier nog graag saam. Is juis die naweek weer op pad Kleinmond toe. En studentemaats soos Pierre en Esther le Roux van Mosselbaai. Ek en Pierre –’n storieverteller soos min – ken mekaar van 1959 af. Was onderskeidelik voorsitter en ondervoorsitter van Kollegetehuis se HK in 1962.
In hierdie kategorie is baie name . Kan onmoontlik nie almal noem nie. Maar elke besoek word ten seerste waardeer – des te meer wanneer dit goeie vriende was waarmee lekker om ‘n vuurtjie of langs die lang tafel in die eetkamer gekuier is.
In 1995 het die boek sy huidige Melkbos-adres gekry. Eerste name in die “Melkbos-afdeling” is dié van kollega Salie de Swardt en sy vrou, Lisa. Hulle is nou Stellenbossers maar was toe nog van Oranjezicht. Salie (SSdeS soos ek hom genoem het) was hoof van tydskrifte toe ek hoof van koerante was. Ons was ook in die 70’s by Beeld kollegas en goeie vriende.

Thabo se inskrywing. Let op die adres: Van der Merwestraat, Hillbrow.
Uit die blaaie ons boek skiet een naam na vore: Thabo Mbeki. Hy was op 18 Mei 1995 in Van Schoorstraat, Bloemfontein, ons etegas nadat hy, op my uitnodiging, Bloemfonteinse leiersfigure toegespreek het. Ons het mekaar in Maart 1988 by ‘n konferensie in Londen ontmoet. Vreemd genoeg, het die ANC-voorman en Afrikanerkoerantman van Bloemfontein dadelik ge-kliek. Het nogal goeie vriende geword … vir ‘n ruk.
Die AWB was daardie aand lastig. ‘n Polisie-Saracen het ons na my huis vergesel en op die sypaadjie voor die Strausse geparkeer. Het nogal ‘n opskudding in die buurt veroorsaak, veral by ‘n ander buurman, Wim Brummer, waar ‘n tienerparty in volle gang was. Hulle dag hul harde musiek het die polisie gelok.
Ná die ete het Thabo geskryf: “Very happy to have spent this short time in this happy home. Many thanks.” Vir ‘n latere huishulp in die Kaap, Lidia, wat Vrystaatse wortels en ‘n seun met ANC-konneksies gehad het, was dit te wonderlik vir woorde. Dit het “meneer” sommer ‘n nuwe status in haar oë gegee.
Thabo was verreweg nie ons enigste interessante “gas” met ‘n storie nie. In ‘n volgende blog (dalk blogs) blaai ek verder in die gasteboek rond. (hvd)
Indaba in Parys. Ek en wyle Steve Tswethe in ‘n ornate balsaal.
More uit Melkbos
In die wonderskone Parys aan die Seine lui ‘n kerkklok iewers aanhoudend in ‘n laaste vaarwel aan Danielle Mitterand (87), gewese presidentsvrou. In Suid-Afrika is Afrikaans-aktiviste Breyten Breytenbach en André P. Brink se gesigte op die voorblaaie weens vuurspuwende uitsprake op “Swart Dinsdag” teen die vryheid-skendende ANC-“regime”.
Eienaardig hoe die twee onafhanklike nuusgebeure saamvloei om die uwe se gedagtes 22 jaar tot einde November 1989 terug te lanseer – na ‘n indaba in die Paryse voorstad Marly-le-Roi, aangebied deur madame Mitterand onder die sambreel van haar Frances Liberté-beweging.
Thabo Mbeki en Trevor Manuel was twee van die sowat 25 van die latere ANC-leierskader wat teenwoordig was (‘n hele paar is al oorlede is, o.a. die wellewende Steve Tswethe van wie ek nogal gehou het.)
Die uwe het, ná ‘n nagvlug uit Johannesburg, vreemd en meer as net effens lugtig by die konferensiesaal opgedaag en is ietwat koelerig deur Breyten verwelkom. Ek onthou hy het daardie oggend swart gedra. Dit was egter geen “Swart Dinsdag” nie. Die man was in sy element. Sy swart rolnektrui was eenvoudig net modieus en klaarblyklik eksieperfeksie vir die Franser-as-‘n-Fransman-heer met sy Franse maniertjies en foutlose uitspraak, wat gedurig, soos ‘n skim, aan die gedugte madame Mitterand se sy was.
Konferensiegangers het oudergewoonte woes teen die “apartheidsregime” getier, ook mede-Afrikaanspratendes soos die intense André P. Brink, Max du Preez, Antjie Krog en wyle Chris (“Boetman) Louw, wat in minstens een gerugmakende Monitoronderhoud op die SABC geen geheim gemaak het van sy aversie in my “naiewe” politiek nie!
Vanoggend, 22 jaar later, word Brink oor die ANC se nuwe Inligtingswet soos volg aangehaal: “Bring die piesangs dat die bobbejane kan peusel.” Breytenbach verhef sy stem ewe skerp. Gisteraand betoog Du Preez op TV onder ‘n yslike swart hoed soos ‘n seilskip en verklaar stroef dit gaan nou erger as in die “apartheidstyd”. Hoe meer dinge verander, des te meer bly hulle dieselfde!
Maar terug na 1989. Later kon ek die konferensiegangers se aanvalle nie meer verduur nie. Ek het my hand opgesteek, en myself voorgestel as ‘n Afrikaner-Nasionalis wat De Klerk admireer. “Nee, aarde,” het ek gesê “julle is darem net te negatief.” Ek lig die verbaasde (en skeptiese!) groep toe in dat F.W. de Klerk se hervorminge na my oordeel “geen siniese oefening is om die een of ander strategiese voordeel te behaal nie. Dit het ‘n diep morele oorsprong en spruit uit ‘n toenemende Afrikaner-sensitiwiteit oor basiese regverdigheid. Die hervorminge laat De Klerk en die Afrikaner in die algemeen in hul eie gewetes gemakliker, omdat dit as strewe het om reg en geregtigheid aan een en almal in die land te laat geskied.”
Albie Sachs het later aan ‘n Volksbladman vertel sy redakteur het daardie oggend “man-alleen” gestaan. Dit is presies hoe ek op daardie oomblik gevoel het: man-alleen teen ‘n oormag. Maar Sachs het darem ook my optrede as “moedig” en “klaarblyklik goed ingelig” bestempel. Dankie, regter Sachs!
Die sosiale omgang het gou gemaklik geraak. Selfs vir die “vreemdeling in Jerusalem” uit die Vrystaat (en geswore Nasionalis). Daarvan getuig allerlei foto’s in my album: ek en Thabo in diepe gesprek; ek en wyle Steve omring deur die weelde van ‘n Franse balsaal; ek en Cheryl Carolus saam aan tafel by ‘n middagete; ek en o.a. Pallo Jordan (wat “Jan Pierewiet” so lekker kan sing!) en regter Albie die ene glimlagge op ‘n groepfoto, ek en Frederick Fourie op ‘n aandjie uit in Montmartre.
Buite die konferensiesaal, is hewig gekuier. Mbeki was een oggend te pê om ‘n afspraak in die Franse parlementsgebou na te kom. Die vurige Jay Naidoo moes instaan. Sjoe! Twee Suid-Afrikaners (laat hulle maar naamloos bly) het een laataand die bus terug na Marly-le-Roi verpas. Hulle kom in die vroeë ggendure per taxi aan. “Ry, ou grote, ry direk na Martie van Rooy,” het hulle die Galliese taximan gepor. Hy is direk na die regte bestemming!
‘n Ongemaklikheid was toe ons klomp ná ‘n dag se “beraadslaginge” vir ‘n deftige onthaal by die Franse premierswoning opdaag. ‘n Verpotte mannetjie wag ons by die deur in. Een van die Suid-Afrikaners eien hom as ‘n deurwag en prop sy baadjie in sy hande. Dit was nie die deurwag nie, wel die Franse premier, ontdek ons toe later oor die kaviaar en Dom Perignon!
By een van die vele vyfster-onthale van allerlei Franse kokkedore het ek en Mbeki soos ou vriende gekorswel. Sy chroniese kuggie was opvallend. Ek het my besorgdheid uitgespreek, en hy het gereageer deur terstond sy groen sigaretaansteker met die logo van Umkhonto we Sizwe vir my present te gee. Ek het dit nou nog, en steek my braaivleisvuurtjie daarmee aan die brand.
Max du Preez het gesien hoe die aansteker van eienaar verwissel. Hy het nader gestaan en geskerts hy gaan my by doeane verklap. Ek bring ‘n ontstekingsmeganisme van die ANC die land binne!
Tog snaaks né hoe ‘n relatief onbekende se dood as koppeling kan dien en ‘n mens se herinneringe op ver paaie kan aktiveer. Ai, Martie van Rooy ….
(HvD)