NOG 10 GOEIE JARE

Op ‘n tyd het ek en Tokkie groot vreugde daaraan gehad om vir mense na aan ons eie geskepte CD’s vir Kersfees te skenk met temas soos die liefde, tuine, voëls, reise op ver paaie, vroue, Kersfees, ens.
Ons twee het die snitte saam uitgesoek. Die knap Hildegard Martin van Melkbos het vir die res gesorg. Van ons vriende luister nou nog en laat weet getrou hoe hulle die musiek geniet. In 2016 het ons die praktyk ná 10 jaar gestaak.
In daardie jaar het ons drie bakens bereik: my 75ste, Tokkie se 70ste en ons 50ste troudag. Die tema van ons laaste CD was om klaarblyklike redes: afskeid. Die titel was een woord: Dankie.
Nou het 10 jaar verloop. Tien jaar! Vanjaar, 2026, bereik ons weer drie bakens: my 85ste, Tokkie se 80ste, ons 60ste. Eerste van die drie breek sommer more al aan, die laaste is 363 dae ver.
In die dekade het dinge nie stilgestaan nie. Buiten die veroudering in eie geledere bied die aktiwiteite van die Byl onder vriende nogal stof tot nadenke. Van die 100 gaste wat in ‘n tent op ons gras op Melkbos 2016 se bakens gevier het, is 28 al oorlede: amper 30 persent. Van die 72 wat oorbly, is ver van gesond.
Al is ek self deur ‘n operasie of twee en al loop Tokkie nou met ‘n hart-pasaangeër, al beweeg ek ook al hoe moeisamer met my onontbeerlike kierie, het ons steeds rede om oorvloedig dankbaar te wees.
Op die vooraand van bereiking van more (3 Januarie) se eerste baken van die nuwe bakenjaar se drie betuig ek graag ons dankbaarheid vir vele seëninge in presies dieselde woorde as in die binneblad-teks van ons 2016-CD; ek voeg net telkens die woordjie “steeds” by:
Ons het (steeds) heerlike herinneringe aan goeie, geseënde en gelukkige lewens.
Kosbare verbintenisse verryk (steeds) elke dag ons aardse bestaan.
Ons is (steeds) diep dankbaar vir milde genadegawes – totaal onverdiend.
Ons gemoedere is (steeds) gevul met vrede, nostalgie en ‘n tikkie bewoëndheid. Ons kyk (steeds) vorentoe in biddende afhanklikheid.
Op hierdie CD – die tiende en laaste uit ons stal – is ‘n seleksie hartsliedere. Ons strewe was om met woord en melodie ons wye spektrum van emosies te verklank.
Daarmee sê ons (steeds) vir een en almal: Dankie.

UIT ‘N SOET FONTEINTJIE

‘n Stukkie van ons “tent van samekoms”, ‘n stukkie van Dale se huis en ‘n stukkie van Tafelberg.

Fonteintjie, uit jou drink die Van Deventers (en hul nasate) graag oor en oor; jou water is soet.  My verwysing is  na buurman Dale Schreuder se restaurant(-e).

In 2011 is my 70ste by sy Black Angus-restaurant in die Paddocks-sentrum in MIlnerton gevier.  In 2016 het ons op ons gras voor Penguin Place 11 tent opgeslaan vir ‘n driebakenfees: my 75ste, Tokkie se 70ste en ons twee se  goue bruilof. Dale het uit die Black Angus se kombuis die spyseniering gedoen.  Sy en Iris se huis langsaan was ‘n uitstekende “bedieningspunt”.

Vandag, 11 Oktober 2021, vier skoonseun, Brent Claassens, sy 50ste. Hy en Marisa begin ‘n rukkie gelede uitkyk vir ‘n plek om ‘n paar vriende te onthaal.  Hulle hoor net goeie dinge van die nuwe bistro Harvest Culture Eaterie in die Tygerbergse Waterfront.

Op ‘n verkenningstog dag sy sy herken die blok van ‘n man wat daar sit. Sy stap nader … dis Dale. Lang storie kort: Dis waar Brent se 50ste gevier gaan word. Die ou-ou verbintenis duur voort. ‘n Nuwe skakel word in die ketting gevoeg.

Marisa se storie jaag my na ou foto-albums toe.

Dale en Koos in 2011.

In 2011  het 130 vriende uit amper al die fases in ons lewe  – onder andere skoolmaats, studentemaats en  kollegas – binne en buite Dale se restaurant aangesit. Die kos was voortreflik. Dit was almal eens.

Een ongeluk: ek en Dale is daardie dag  – 11 Januarie 2011 – blykbaar nooit saam afgeneem nie. Ek het wel ‘n foto van Dale en Koos Myburgh, die twee stewigste manne teenwoordig! (My verjaardag is 3 Januarie.)

‘n Ander skok: hoeveel van die gaste reeds heen is.  Ek roep Tokkie en wys vir haar en ons kyk kopskuddend na hoe die “landskap” in ‘n enkele dekade verander het. Selfs egpare is eenvoudig net weg.

By die tentfees op 26 Maart 2016 is ‘n foto wel geneem waarop ek en Dale pryk saam met sy vrou, Iris, Tokkie en vriendin Hildegard Martin wat die kaartjies, spyskaarte en wat als ontwerp het.  Ongelukkig het die lig sleg geval.  Nietemin.

Iris, Dale, HvD, Tokkie en Hildegard Martin in 2016. 

Van die 100 gaste in ons “tent van samekoms” (Johan van Wyk se betiteling) is ook al ‘n aardige klompie heen, verklap die foto’s van die okkasie. Soos gras is ons dae …

Met Dale se restaurant het ek al tevore kennis gemaak: in die laat 90’s.  Danie Grundlingh van Bloubergstrand (later Melkbos) het my genooi om “die beste steak in die Kaap” te kom proe.  Hy het my beduie na ‘n restaurant in Boubergweg met die naam Dale’s Place.

Die Van Deventers en die Schreuders is van 2004 af bure. Trap nie mekaar se dumpels deur nie maar ons weet wat ons aan mekaar het. Een ding weet ek vir seker: Die Claassense en hul gaste gaan op die hande gedra word en heerlik eet. Dis Dale Schreuder se mantra.