WELKOM, WELKOM, NOOI DIE IMPALALELIES

O, om weer in Sabiepark te wees na ‘n jaar se afwesigheid,  elke aand vuurtjie te maak, van die stoep die visarend klokhelder van die rivier se kant te hoor roep en nektar-ekspedisies van ‘n verskeidenheid  gevleueldes by die aalwyne (nog redelik in die blom) op die kamera te probeer vasvang.

Alles is so heerlik bekend en tegelyk nuut: die sebras wat in die watergat kom drink; die nagapies se woerts-wartse elke aand in die verweerde ou pendoring (nog meer verweer as tevore); die vorstelike bloukuifloeries in manjifieke vlug heen en weer tussen die knoppiesdorings, maroelas en die watergat; die sestal njala-ooitjies wat lank rustig om die huis wei; die skugter bosbokkies; die kleinste klein duikertjie.

Vanjaar is hier weer vlakvarke in die park, sommer ‘n stewige span.  Dadelik is hulle van die gereeldste besoekers.  Welkom, julle. Op die pad piekniekplek toe versper kameelperde onversteurbaar die pad in Wildevylaan.  By die piekniekplek mis ons ‘n luiperd twee keer net-net.  Organ wys en beduie.  Vergeefs. Wat is nuut?

Twee hiënas loop rond met strikke om die nek en kla oorverdowend.  ‘n Nagtelike ekspedisie word onderneem om hulle te probeer vang en verdoof met die oog op bevryding.   Om hulle te lok, word ‘n vangs gesimuleer. Die sterwenskrete van ‘n bok oorheers die naggeluide ure aaneen. Dis minder aangenaam.

By die huis, ons Tarlehoet, blom die impalalelies by die voordeur soos nog nooit.  Al is hulle jonk en kleinerig en beskeie teenoor Ou Menere elders, verbly hulle die Van Deventer-hart. Hulle en die aalwyne vorm ons eie “welkom-matjie” by die voordeur.  Kom nader, kom nader, is hul boodskap vir besoekers (selfs ook ‘n windskewe een wat half weggegooi is).

In die kantoor is die vriendelike en behulpsame  Lounette   op haar pos.  ‘n Braaier-teenspoed word vinnig deur Jandré, haar man,  en sy span uitgesorteer.  Maar dit is ‘n storie –‘n mooie – vir later. Hou maar die spasie geduldig dop.

Patson, Lucy en die manne by die hek, Abby, Thopela en Tyler lyk bly om ons oues te sien.  Ook Alfred, Sipho en die vlytige George van Mkuhlu. ‘n man met ‘n plan vir alles. Die gevoel van bly weersiens is wederkerig.

Heerlik was dit om ‘n paar dae met die span Claassens te kuier –  selfs deur die volledige span op die lughawetjie by Skukuza ingewag te word.  Daarna was dit dadelik restaurant toe, want  Marisa het verjaar.  Saans het die vure hoog gebrand.

Aangenaam soos altyd was dit om saam met die borrelende Frances Hoexter ‘n laatmiddag-wyntjie onder ‘n worsboom by die piekniekplek te geniet, ook seer aangenaam om in Jakkalsbessie 132 by ‘n gourmet-ete aan te sit; galante gashere : Mrad (hoogleraar in ekonomie) en Inge Shahia.  Tokkie en Mrad was in 1962 dubbelspel-tennismaats op skool op Bultfontein.

Wie loop ek by die kiosk raak?  Prof. Ronald Dulek van  diep-diep in Amerika wat jare gelede hier huis gekoop het sonder om ooit voorheen ‘n voet hier te sit.  Sy spitsvondige boek oor sy bos –ontdekking (Sitting with elephants) is ‘n gunsteling op my Tarlehoetrak. ‘n Nuwe is op pad, verklap hy – en ek gaan een present kry.  Nie vergeet nie, Robert.

Ek groet vir Claude Martin, Christopher se groot pêl, toe hy 10 jaar gelede as vyfjarige buksie ‘n alleenvakansie saam met oupa en ouma hier kom deurbring het.  Nou toring hy bo ons almal uit en ry vreesloos bergfiets.  Tyd vlieg.

Ek sien ook vir Jannie Mouton en gesels nostalgies oor toeka se dae toe pa, wyle Kapous,  en ma, wyle Leonora, van ons grootste Sabieparkmaats was en ons met die blou Bosbus –kombi Sondae kerk toe is.  Goeie ou dae.

In die lapa is genoeg hout afgelewer.  Dit staan hoog opgestapel. Op 84 wil ek nie meer skrik as iemand nog ‘n hout of twee  op die vuur wil gooi nie.

Die gapende swembad – leeg en droog – laat blyk dat groot verfwerk op pad is.  ‘n Bosvakansie is nie net pret en speel nie.

WOERTS-WARTS IN SABIEPARK

Ruig, ruiger, ruigste. Ons verstom ons aan die omringende blaremure as ons op Tarlehoet se stoep ‘n ietsie geniet. Hemelhoog reik hulle soos wolkekrabbers. ‘n Kameelperd se kop gewaar jy ‘n vlugge oomblik tussen die takke. Dan is hy spoorloos. Die wildebeeste blaas-blaas iewers in ‘n blaretonnel, maar sien is verniet.

Die bloukuifloeries roep elke dag, maar bly onsigbaar; die nagapies is so bederf met die oorvloed kos in die veld dat vir die Van Deventer-tafel neus opgetrek word. Die naguiltjie hoor ons darem elke aand sing – pragtig.

Min wild kenmerk die paar dae in die bos. (Ekskuus Lorinda, maar ek sien ook weer geen duikers nie!)

Die swembad is ‘n lewensredder. Ek en Tokkie is in en uit die water terwyl die kwik in die laat 30’s vasval.

Die stabiele wi-fi danksy Brent se seinversterker is ‘n aanwins.  Reken, nie een keer in die TV-kamer gekom nie.

Onder die minnerige dieregaste was die veldlikkewaan.  Toe ek die knopneus-kalant met die ewe lank lyf en stert en dowwe, swart gevlekte skubbe teen die huis se klinkermuur sien opwoerts, is ek nie met behae vervul nie. Van die varanis albigularis oftewel veldlikkewaan se kirpatse het ek ‘n kaleidoskoop herinneringe, meesal vreugdeloos.
Die ergste was natuurlik toe ene dae lank in die huis gevangene was. Die toneel van wanhopige verwoesting was iets om te aanskou: gordyne wat in repe geskeur is, rame wat van mure af gestamp is, glasware wat onderstebo geloop en gebreek is en die hoop mis wat opgegaar het, het Kapous Mouton beskryf in kragwoorde wat ek nie vermoed het dat hy geken het nie.

Verskeie ander offensiewe om van indringers ontslae te raak, moes al geloods word. ‘n Keer was ‘n hele gesin van vier onder die gras ingewurm. ‘n Vanghok, telkens gelaai met vars gekookte eiers, het na dae van frustrasie beperkte welslae opgelewer.
‘n Keer het Brent een met ’n braaitang beetgekry net toe hy begin dekgras uitwoel.

Een amusante herinnering het ek darem ook. Een middag het dit skielik geklink soos ‘n haelstorm wat die dak (blik op gras) tref. Dis toe ‘n mannetjie en wyfietjie en die storie van die blommetjies en die bytjies. Wat ‘n kawolt. Die stemmige Leonora Mouton het amper van haar stoel geval toe ek haar meedeel: “Ons het vanmiddag seks op die dak gehad”.

Die huidige ou bak ook lekker in die sonnetjie by die agterste braai.  Sy voornemens is klaarblyklik onheilig en onheilspellend. Ons sal die badkamerdeur moet toe hou die volgende paar dae – as hy dalk daarin slaag om finaal deur te breek.
Vermeldenswaardig is dat Caroline Pols terselfdertyd teen bobbejane te velde trek oor die minagtende behandeling wat haar nuwe grasdak van sekelstert-avonturiers te beurt geval het. Die bos het ook maar sy uitdagings.

Koffiekapitaal (met apologie aan Jan Spies) was om op ‘n Saterdagoggend om sesuur op die stoep die eerste koppie boeretroos te geniet terwyl ‘n troppie njalas – imposante bul, twee ooie en ‘n klein-klein lam – in die digte struikgewasse rondom die huis wei. Skielik kom die bul dan in die oopte. En die kamera is binne…. Dis ‘n goeie toets vir iemand se ratsheid op 83.

Die ou groot bosnagaap kom redelik gereeld. Hy maak die tafel skoon. ‘n Honger hiëna sluip hoopvol om die braailapa rond.

Menslike kontak  was beperk tot die Presslys uit Skukuza en die Schmidts van Jakkalsbessie 50, Ernst en Leonie. Met Ernst se pa, Willem, het ek gemeenskaplike Natalse wortels: Vryheid, Dundee, Boshoek, Enyati, Hlobane…

In die lig van die temperature en ander dinge is vir die Presslybesoek ‘n boud vooraf op die Weber gaargemaak vir koue vleis en slaai.  Op die Maniebraaier was tjops vir die aand self.  Dit was die eerste keer dat ek twee braaipunte tegelyk beman   – albei relatief  suksesvol.

GALERY VAN GROOTWORD

Van 2005 af word ‘n spanfoto van die kleinkinders by die naambord van Tarlehoet geneem: eers van net die tweeling Jacob en Thomas en daarna met kleinboet Christopher by.

In die 25 jaar van ons verbintenis met Sabiepark het die naambord drie keer

verander.  Eerste eie bord was van swarthout, gemaak deur Dick Turpin van Melkbos, die tweede was ‘n variasie op dieselfde tema weens verwering en die derde, die huidige, is uit hardekool. Dit kom van Lukas van der Merwe, ‘n oud-Sabieparker.  Al drie pryk op van die  tradisionele foto’s.

Dit is nogal ‘n aardigheid om deur die Sabiepark-albums te blaai en aan die hand van hierdie foto’s te herleef hoe die drie manne hul babaskoene ontgroei en al hoe verder agtergelaat het. Elke foto in die galery lewer sy eie wonderlike herinneringe van boskuiers sonder weerga op.

Vandag is twee trotse eerstejaar-Maties en een in graad agt aan die Hoërskool Stellenberg in Bellville/Durbanville. Die jongste is langer as sy oupa. Hy is ‘n rugbyspeler en houtkapper van formaat.

Die gesin Claassens is vanoggend huis toe n  twee bedrywige weke met groot vure, wildritte, lang stoepkuiers en tegniese ondersteuning vir oupa en ouma aan verskeie fronte. Ek verwys o.m. na opgraderings en geduldige onderrig in die jongste tegnologie van die digitale era.

Dit was hartseer om die bussie tienuur met hulle te sien wegry lughawe toe. Dit sal vreemd wees om vanaand weer self ‘n vuurtjie te bou en aan te steek. Oorheerend is egter ‘n gevoel van dankbaarheid vir die spesiale bydrae tot ons viering van ‘n kwarteeu-verbintenis met ons geliefde bosplekkie.

Ons hoop maar daar sal vorentoe weer sulke kuiers wees.

Op die foto’s  hierby is ‘n saamgestelde een van voriges by die naambord en drie van 2023: een van die drie  alleen,   een saam met oupa en ouma en een van ons al sewe saam. Vir laasgenoemde is ‘n vroulike stapper in Wildevylaan aangetree.

 

Dit is seker nie nodig om aan te dui wie Brent en Marisa, hul ouers, is en wie ek en Tokkie nie. Kyk maar na die hare, om van oupa se immer-teenwoordige kierie nie te praat nie.

 

 

 

KOM VIER SAAM ‘n BOSFEES

Van 5 Maart tot 15 April was ek en Tokkie vyf weke lank by ons Sabieparkse bosplek, Tarlehoet, om ons heuglike verbintenis van 25 jaar saam met van ons bosvriende met vonkelwyn en braaivleis te deel.
Hiermee nou ‘n uitnoding aan een en almal: Kom vier saam fees! Ons bied GRATIS en VERNIET ‘n klein feesbundeltjie aan wat in woord en beeld die plesierigheid – wat Tokkie se 77ste in die swembad en langs die Sabierivier insluit – laat herleef.
Hoe kom julle by die boekie uit? Twee maniere. Een is om De Novoboeke se boekwinkel te besoek by https://denovobooks.co.za/boekwinkel/
Vir haastiges bestaan ‘n direkte skakel na die blaaiboek (flip-boek): https://denovobooks.co.za/flip/Kampvuur/
Klik dan op die afbeelding van die boek se voorblad om die boek gratis aanlyn te lees. Op die taakbalk van die digitale weergawe is ‘n simbooltjie waarmee die pdf-weergawe van die boekie afgelaai en gestoor kan word.
n Vreugde vir die Van Deventers sal wees as almal onder die son wat hierdie uitnodiging lees, die geskenkie / presentjie/ kado’tjie/ sal aanvaar en De Novo se drumpel sal deurtrap. Welkom aan julle almal by Tarlehoet!
De Novo noem dit ‘n onverwagse welkome geskenkie so in die middel van die jaar en ‘n “prettige” boekie. Hoop die vertoon van “prettigheid” deur gryses wat hul bejaarde lywe jonk hou, vind allerwee byval. Laat weet maar as die “dagboek van ‘n bosfees” sommer tydmors is.

SPEURTOG OP SLANG SE SPORE

Hier volg die tweede episode van die slang-sage by Wildevy 154, Sabiepark.

In die episode gesels ons oor die ontdekking van die waarskynlike toegangsroete van die yslike Mosambiekse spoegkobra wat Donderdag die vrede hierlangs so wreed kom versteur het.

Die leidraad is ’n lang slangvel – die langste wat hierdie waarnemer nog aanskou het – aan ’n dakbalk aan die voorkant van die huis, daar by die badkamer van die hoofslapkamer rond. Kon nie meet nie, dis te hoog, maar dis niks korter nie as 1,5 m. Dit sweer ek.

Dis Tokkie die verspieder wat die vel ontdek het op een van haar gewone rondes om die huis waarop sy alles waarneem wat waar te neem is en ook  nog ’n bietjie ekstra.

Die doel vermoed ek is om die uwe uit die hoogte oor sy onoplettendheid te vermaan.  Soos ook in hierdie geval.

“Kom kyk hier.” Dit klink na ’n kwaai weermagoffisier se bevel. Ek gehoorsaam so vining soos die kierie my toelaat. Daar hang die vel toe, wapperend in ’n ligte briesie.  ”Dis syne.’’ Daaroor het ons onmiddellik konsensus,

Geen mens kan tot enige ander gevolgtrekking kom nie: dis onteenseglik ons kobra se vorige bedekking daardie.  (As dit die van ’n ewe lang maat is, is dit onheilspellende nuus, want waar is die maat dan nou?)

Die omgewing waar die vel hang, dui op ’n klaarblyklike kwesbaarheid in ons vesting.  Voorheen is ‘n likkewaangesin daar onder die dak se dekgras in vir ’n ’n uitgebreide besoek totdat die versoeking van ‘n gekookte eier een in ’n lokval gelei het.  Die ander het ons so sit en kyk toe ons hom agter in die Honda laai om vir hom ‘n nuwe adres te gaan soek.  Toe kies hulle ook koers.

Net om die draai van die lang vel hang boonop ’n korter velletjie.  Onse spoegkobra was nie die eerste lid van die spesie slang wat daar kom vel afgooi het nie.

’n Verdere leidraad is ‘n dowwe plofgeluid wat die uwe die vorige dag uit die rigting van die badkamer hoor kom het. ’n Ondersoek ter plaatse het niks opgelewer nie.  Tokkie was skepties. Dat ek in die nanag ook voetspore op die dak gehoor het – seker maar ‘n bosnagaap – het haar vermoede versterk dat ’n ooraktiewe verbeelding ’n rol speel.

Met die ontdekking van die vel het die scenario egter verander. Kon die kobra gewees het, gee sy toe.  Waarskynlik sy vel afgegooi, onder die gras ingekruip en toe sy houvas verloor.  Die donker hoekie langs die toilet lyk na die waarskynlikste landingsplek.

Dit sou ook die verklaring bied vir die resultaatloosheid van my vinnige rondkykery na iets verdags. ‘’Elementary, my dear Watson.’’

Uit die badkamer is hy klaarblyklik toe, deur avontuurlus gedrewe, slaapkamer toe waar ’n ontsnapping deur die skuifdeur gestuit is. Ons het immers self gesien toe hy ‘n keer onverrigter sake teen die gladde ruit probeer opseil. Dalk gefrustreerd deur die versperring was hy klaarblyklik in ‘n minder welwillende luim toe ek hom daar langs die deur raakloop; bak-kop dreigend in my rigting gekeer.

Volgende besoekpunt was onder die dubbelbed. Dis waar die dapper slangvanger Sipho hom met die slangtang  aangekeer het: sissend en kriewelend.