FEESTE-INNIE-BOS

Velle-seremonei: TvD en seuns

Velle-seremonie: TvD en seuns

Oupa78

Oupa78

Fees-inie-bos noem Nelspruit sy jaarlikse kunstekarnaval.’n Fees-innie-bos soos min was ons somervakansie van 2018/2019.

Op 30 Desember was Brent en Marisa 18 jaar getroud; op 31 Desember ek en Tokkie 52 jaar (70 jaar se versamelde huweliksoet  en –suur binne 48 uur by Tarlehoet gevier); op 3 Januarie was die uwe 78.  Die tradisionele groot feesdae Kersfees en Nuwejaar tussenin het nie vergete gebly nie.

Vonkelwyn is telkens geskink. Feestelike etes het ingesluit ‘n Groot Ontbyt by die Protea, Kerskalkoen in die Weber, dik gebraaide kruisskyf op Tarlehoet se stoep, ‘n koue-vleis-buffet (die seuns is vrye teuels gegee met die opdis van die keurige middagmaal) , kaasborde en wat nog.

Thomas, Jacob en Christopher se kreatwiteit met tafeltemas was weer eens onbeperk.   Eetgerei met sebra- en luiperdmotiewe kersies, ystervarkpenne, spesiale servette, ysterpotjies – waar alles uitgegrawe is, weet ek nie.  ‘n Fees van liggies is gereeld opgtower: in die lapa, op die stoep, rondom en in die swembad. (‘n Fotoblog van hul tafels verskyn later.)

Met Oupa se 78ste is die oggend ‘n tradisie voortgesit wat met sy 21ste langer as ‘n halfeeu gelede in Welkom begin is. ‘n Omelet is bedien met 78 daarop in Bovril geskryf.  Die aand was op sy plek aan tafel ’n sewe en ‘n agt van hartens, Christopher (‘n vreetkaart-kampioen) se idee.

Die natuur het vir twee buitengewone  feeste gesorg met heerlike reën wat twee maal  in digte gordyne neergegiet het: onderskeidelik 17 in ‘n vroegoggend-storm en’n  deurdringende 64 mm deur die nag. Vir die storm het ons en die seuns om 0400 op die stoep versamel, koffie gedrink en ons aan die tipiese Laeveldse natuurskouspel van blitse verwonder. Dit is sulke meesleurende oomblikke wat jou die swaarkry in die somerhitte laat vergeet.

Kalkoen in Weber: Brent en seuns

Kalkoen in Weber: Brent en seuns

Dan het die magdom paddas luidrugtig gekwaak en die kinders uitgelate in die reën in die swembad baljaar.  Een met ‘n diep stem is Petrus Padda gedoop. ‘n Ander koer (pirr)  soos ons nog nooit ‘n padda hoor koer het nie. Dalk ‘n immigrant uit Mosambiek?

Die koeligheid weens die reën was ‘n heerlike  lafenis te midde van versengende hitte met die kwik wat verby 40 grade klim.  (Thomas se humoristiese paddastories was ewe verfrissend. )

 

“Seremonies” het ingesluit die ooprol van twee wildebees- en ‘n paar springbokvelle wat met die komplimente van Brent uit die jagveld kom. Tokkie het vir die rooi linte gesorg en die kameras het elke aspek van die plegtighede verewig.

Sabiepark is vanjaar 40 jaar oud.  Na die insigte van hierdie Sabiepark-veteraan verdien die bereiking van hierdie baken ‘n eie fees. As Sabiepark se owerhede en magte dan traag is, sal ons maar ons eie interne fesie moet reël. Ons weet immers hoe!

 

(Die eerste van vier blogs oor ons somervakansie in Sabiepark.)

SOMER, SON EN …SWEMBADJIE

IMG_6795

Somer en son en saffier vir my! So dig die slampamperman C. Louis Leipoldt. Wel, vir ons was die somervakansie in Sabiepark somer, son en swembadjie. Vele sorgvrye swem-sessies in die bos is agter ons blaaie.

Vreemde sameloop. Gaan kyk in ‘n Afrikaanse woordeboek onder die letter “s”. Jy sal plus-minus alles daar raakloop wat ons somervakansie gedenkwaardig gemaak het: veel meer as net die sonskyn en swembadjie.

‘n Sakspinnekop het Migael op die knie gebyt (‘n vorige blog).

‘n Slange-onderonsie vlakby die stoep het ons lank vermaak (‘n vorige blog).

Die skuimnespaddas was weer bedrywig op die stoep en het hul gebruiklike wit liefdesnessie (soos skeerskuim) by die watergat gespin.

Op die S4 het ons die eerste keer in helder daglig twee sivette gesien.

Sebras (en wildebeeste) het ons laaste middag verhelder met ‘n lang besoek teenaan die huis en by die watergat.

Uit hierdie alliterasiepatroon is die njalas (bul, ooi en kleinding) wat hulle op 154 kom tuis maak het.  ‘n Wonderlike gesig – hoop net nie hulle verdryf die bosbokkies nie.

Tietietyd!

Tietietyd!

Dié was van die konstantste besoekers, soos die getroue nagapies.  By die piekniekplek het die kragmeting tussen twee bloedjong bosbokrammetjies boeiend verloop.

Die agt kameelperde het ons meer as een keer amper omsingel.

Hiënas , bloukuifloeries, visarende, bosveldvisvangers en ‘n laat piet-my-vrou het gereeld geroep. Hiënas het ons net twee of drie keer keer gesien en bloukuifloeries ook minder gereeld as tevore. ‘n Gekroonde neushoring by Tarlehoet, ‘n indrukwekkende saalbek by die piekniekplek en talle ralreiers by Lake Panic het ruim kompenseer.

In die wildtuin (waar ons nie dikwels gekom het nie) het die leeus en luiperds laaggelê.

Die reën was minder as waarop ons gehoop het – 8mm die eerste nag en daarna ‘n mm hier en ‘n mm daar. Die aand nadat ons weg is, het dit gestort – 22 mm.

Ons het darem nie net warm sonskyndae beleef nie.  Minstens vyf of ses van ons 20 dae was bewolk en selfs koel.  Een middag is ek met ‘n windbreker aan piekniekplek toe. Ongehoord!

Johan het ‘n kanaal oopgewikkel om goeie knoppiesdoring-braaihout by die kruiwavrag te koop – ook (vir diegene met ‘n biersmaak) kontakte opgebou met ‘n sjebien op pad na Mkuhlu.  Hy het ‘n toestel laat sweis om die swembadseil vinnig op en af te rol. Baie gerieflik.

Die Honda het ongelukkig taamlik geld gesluk: nuwe verkoeler, nuwe bande, nuwe agterlig (ná ‘n stampie teen ‘n boom). Die huis se gaspype word alles met voorgeskrewe koperpypies vervang en ‘n spesiale gashok word gebou om aan nuwe vereistes te voldoen.

Aan die positiewe kant: Tokkie se sonkrag-lanterns en ander liggies lyk feestelik, spaar lampolie, is windbestand en sorg vir minder moeite.

Op 8 Maart is ons weer daar om ons verbintenis van 20 jaar te vier.