SO IS DIT NOU

Johan van Wyk by sy geliefde ou Gold Wing. HY ry nou 'n Triumph.

Johan van Wyk by sy geliefde ou Gold Wing. HY ry nou ‘n Triumph.

In kollega en vriend Johan van Wyk se eerste boek, So was dit, het hy ‘n buiging na die uwe gemaak vir my rol om hom te bly druk om ‘n boek van sy kostelike (en kosbare) skryfsels op die rak te kry.

Ek het inderdaad al van die 1980’s af met hom daaroor gespook. Ek was toe redakteur van Die Volksblad en hy skrywer van die uiters gewilde rubriek Stop van Myne.

Vir my aanmoediging om ‘n nommer twee te lewer, kan ek seker ook ‘n klein bietjie eer opeis.

IN elk geval. In September gebeur dit. Dan kom Johan van Wyk se opvolgbundel op die rak: So is dit nou.

Op Litnet het ek oor die kleurryke karakter Johan van Wyk allerlei anekdotes opgediep. OOr hoe lekker hy en Anneline Kriel gedans het en so.

Ek vertel ook van die dominee wat langs die oop graf staan toe die grond onder sy voete verkrummel. Hy raap hom op en spring sierlik bo-oor die oop graf na terra firma. Dis wat Johan se skryfwerk vir ons oumense is, bevind ek: ‘n stukkie vaste aarde om na te spring as dit voel of die wereld, in sy woorde, elke oggend met ons gatoorkop slaan.

Die skakel ba die Litnetstorie is: http://www.litnet.co.za/so-is-dit-nou-deur-johan-van-wyk-is-op-pad/

Daaroor skryf Litnet se inhoudsredakteur Naomi Meyer: “Terwyl ek dit geplaas het, het ek besef hoeveel emosie agter hierdie skrywe lê en van watter waarde Johan van Wyk se boek en sy volgende boek sal wees.”

 

 

MENTORS EN TORMENTORS

Saam met Johan op die foto’s is Hennie van Deventer, Tobie Wiese, Wiets Beukes en Annie Olivier, uitgewer. Die Volksblad-”veterane” is Wiets, Rina (Koen) van Rensburg, Nancy Oosthuysen en Ben van Rensburg.

More uit Melkbos

Ons sou ‘n skaflike koerantjie kon aanmekaartimmer, die 20-stuks oud-Volksbladders van alle generasies wat Johan van Wyk se debuut-blitsverkoper, “So was dit”, Saterdag formeel te water gelaat het.

Die geleentheid was by die klubhuis van die gholflandgoed Greenway in die Strand, met sy lekker kuierstoep en prag-uitsig op ‘n strepie blou see teen die agtergrond. Jy kon jou verbeel jy is op ‘n skip se dek. Op daardie einste stoep/dek het in heerlike windstil herfsweer ‘n hele feestelikheid hom afgespeel: koue wyn, keurige eethappies en tydoorbruggende samesyn met kollegas wat kuier-kuier rondbeweeg, gretig om met almal ‘n geselsie in te kry.

Die veterane was Wiets Beukes, latere redakteur van Die Burger, en Nancy Oosthuysen. Hulle kom uit die geslag van 50. Wiets was die eerste Volksblad-gesig wat ek gesien het toe ek einde 1958 vir vakansiewerk in Bloemfontein opdaag. Ons het albei in Sewende Laan (regtig) geloseer. Hy het my lief gemaak vir Dvorak se Nuwe Wêreldsimfonie.

Wiets en Johan se Volksblad-kameraderie strek uit die 60′s, toe ook my en Johan se paaie gekruis het. En my en Ben van Rensburg s’n. Ek en Ben was woonstelmaats in La Gratitude in 1965. Hy het my lief gemaak vir portwyn en Edith Piaf. Ook Ben en Rina (Koen) s’e paaie – as kollegas. Amper 50 jaar later het hulle mekaar aansienlik beter leer – as huweliksmaats.

Die kollegiale koppelings was velerlei en pikant. Wiets het byvoorbeeld vir Tobie Wiese, samesteller van die boek, by Die Volksblad aangestel. (Tobie en Johan is, soos sommige weet, biker-bloedbroers, ‘n stukkie kennis wat Wiets Saterdag eers hande-saamslanend te wete gekom het.)

Die Volksblad (nou net Volksblad) het die onderskeiding dat 60 van sy redaksielede iets soos 600 boeke gepubliseer het. Van daardie 60 was minstens ‘n halfdosyn teenwoordig. Onder hulle was Wiets die baanbreker met “En kyk ‘n wit perd” in die 60′s. Daardie boek was waarlik politiek profeties! Die veel bekroonde Deon Meyer (nou ook gedugte fliekmaker) is verreweg die vrugbaarste. In Johan se sleurstroom kom nog ‘n debutant, Rudie van Rensburg met ‘n spanningsroman, “Slagyster”.

Hy sit nogal ‘n soort Volksblad-tradisie voort. Hy volg in die voetspore van voorste spanningskrywers soos die nimlike Deon, asook Chris Karsten en Chris Moolman (wat nie teenwoordig was nie). Weet nie of dit die Volksblad-ervaring is wat hulle in daardie rigting geslyp het nie!

Buiten Ben was ‘n derde Van Rensburg by die okkasie, Philip. Vir hom het ek by Die Volksblad as verslaggewer aanbeveel terwyl ek in die jare 70 by Beeld was. Later, toe ek redakteur was, het ek hom as nuusredakteur aangestel. Hy boer nou in Afrika as advertensie-ghoeroe. Ons is Sabiepark-vriende.

Johan het my in sy toesprakie sy “mentor en tormentor” genoem. Maar vinnig (en tereg) bygevoeg dat hy myne ook was. Wens iemand kon die voortspruitende spontane omhelsing van die twee ou maters afneem. Dit was nogal ‘n dag van “mentors en tormentors”. Toe ek die altyd-glimlaggende Tom Ferreira so aan sy wyntjie sien teug, moes ek ook glimlag. Kon nie help om te onthou nie hoe hy in ‘n kostelike TV-rubriek destyds die arme Edwill van Aarde se siel versondig het. Tom, knap nuusredakteur en top-humorskrywer, moes nooit vir die joernalistiek verlore geraak het nie.

Maar die arme joernalistiek is maar gedurig die slagoffer van pynlike verliese. Soos ook Pieter Cronjé, Kaapstad se “Mnr. Wêreldbeker” van 2010. Pieter was op krukke weens ‘n enkelbesering, maar dis darem nie sokker se skuld nie!

Op die gevaar af dat ek iemand se naam uitlos (op 72 raak die kop soms maar suf) rapporteer ek graag dat die Volksbladspan van Saterdag ook nog ingesluit het: Emile Terblanche, JP Nel, Mariëtte Immelman, Gert Myburgh, Sakkie Malherbe, Jan Bezuidenhout en Nissa Voloo. Toekie Oberholzer was weens bronchitis afwesig. Van hulle is nou nog joernaliste. Verskeie by Landbouweekblad. Mooi so, julle vasbyters!

Johan se ander gaste, familie, vriende, bikermaats en wat nog, het van oral gekom: per vliegtuig, op hul ysterperde, party selfs te voet. Laasgenoemde is diegene wat, soos Johan en Zandra, ‘n Greenway-adres het. Calvinia was, soos te wagte kon wees, goed verteenwoordig. Dan was daar Annie Olivier, die uitgewer – deur Johan op sy sjarmante, romantiese manier Mooi Annie gedoop, en nie onverdiend nie, hoor. Annie het haar ma, Hettie, saamgebring. Ek dag dis haar suster.

Boeke is inderdaad opgeraap soos vars, warm plaasbrood met dik botter en vyjêm by ‘n boerebasaar – die lekkerste jêm. Party “groot kopers” is met stapels daar uit. Skitterende geskenke vir dese en gene! Ek het die beskeie Johan vooraf gewaarsku hy wil te min boeke saambring. Hy was skepties. I have not always been wrong. Gelukkig het hy in ‘n ander opsig tog vir my geluister en ‘n klompie klaar geteken. Anders het sy vingers sweerlik skrywerskramp gekry!

Sowieso: Só was dit dan Saterdag by die buiging van “So was dit”. (hvd)

(HvD se “feesrede” by die okkasie verskyn volledig in die vorige blog.)

SOOS WARM BROOD MET VYEJêM


Johan van Wyk, Hennie van Deventer en Tobie Wiese gister by die formele lansering van Johan se blitsverkoper “So was dit” in die Strand. ‘n 20-stuks Volksbladmense van verskillende generasies was onder die 100 gaste – die oudste Wiets Beukes, wat later redakteur van Die Burger was. Ek moes die woord voer – wat ek graag gedoen het. Hier is my teks – vir diegene wat die tyd, krag en inklinasie het.

TWEE debute geskied vandag hier: JvW ná die pleeg van vyf miljoen joernalistieke woorde (aldus Tobie Wiese, gewoonlik betroubare bron) oplaas as outeur van ‘n boek, en HvD as spreker by die loodsing van ‘n boek van betekenis, boonop ‘n blitsverkoper. Die tradisie is mos dat net hoog aangeskrewe literatore, uitgewers, ander boek-geleerdes (soms ‘n edele of wat) by sulke deurlugtige okkasies slimmighede kwytraak.

Die begrip blitsverkoper is eintlik te konserwatief. Dis ‘n bielieboek. ‘n Onstuitbare stormram soos die Cheetah-stut Coenie Oosthuysen. Dit word opgeraap nes vars, warm plaasbrood en vyejêm by ‘n boerebasaar. (Vyejêm want dit is die lekkerste jêm!)

As ek so oor die gesigte hier heen heen kyk, tref dit my: “So was dit” is boonop waarskynlik die grootste verenigende faktor sedert die Gupta-debakel.

Dit geval my werklik dat ek, sommer net koerantman, die “biezondere” eer te beurt val om hier die wierook te brand. Skrywer en spreker kom ‘n langerige pad saam. ‘n Halfeeu verby. ‘n Veelbewoë halfeeu – veral soms! Jy onthou seker ook hoe die kiaatdeur van die redakteur se kantoor soms in die kosyne gerittel het, Johan?

Desondanks en nieteenstaande: ‘n Feesrede is ver verkieslik bo ‘n lyksrede. Van laasgenoemde het die uwe tot dusver in 2013 ietwat van ‘n oordosis had. Margot Asquith (1864 – 1945) het op haar oudag gekla: “All I have to live on now is macaroni and memorial services.” Vandag is genadiglik geen memorial service nie. Ek sien oral wyn, nie macaroni nie.

Niks saai, vervelig of treurig hier nie. Net plesierigheid. Hoop ek kan plesier toevoeg deur ‘n stukkie te lees uit my eie beskeie debuutboekie, “Scoops en Skandes”, wat in 1993 ook by Tafelberg gepubliseer is. Ek lees uit die hoofstuk “Stop van Syne” – natuurlik n.a.v. die rubriek wat kollega Johan 25 jaar lank by Die Volksblad so weergaloos behartig het.

As iemand meen ek raak te voor op die wa, het ek my verweer gereed. Oor Johan se eerste roemryke era – noem dit kortweg sy humor-era – is dié hoofstuk na my oordeel steeds ‘n geldige bron as jy die fenomeen Johan van Wyk wil probeer ontrafel. (Lees uit “Stop van Syne”.)

In Scoops is ‘n tweede JvW- hoofstuk, “Hef ‘n bedpan”. Toemaar, ek gaan nie daaruit lees nie, al is dit, na my oordeel, nogal orraaiterig.

Weens die historiese belang rapporteer ek darem net, en wel met ‘n sekere mate van pyn en onbehae, hoe ek doer in ’82 rond moes voetwerk doen om ‘n dorre, droë regter’ – baie Ingels – met hoogdrawende argumente te prober oortuig: Om vir ‘n dokter “hef ‘n bedpan” toe te voeg, beteken nie jy stuur hom om te gaan “dinges” nie. Nie noodwendig nie, altans.

My argument was in die volgende trant: Dat “hef ‘n bedpan” in die konteks van Johan se eiesoortige interpolasies (onthou bekendes soos “hef ‘n siegret” en “hef ‘n mietpaai”) nie ongewoon of neerhalend bedoel is nie. ‘n Bedpan was bloot ‘n hospitaal-simbool. Johan kon vir dieselfde prys geskryf het: “Hef ‘n koorspen”. Of: “hef ‘n stetoskoop.”

Huh? Vir sy edele regter Oscar Galgut, voorsitter van die Persraad, was die “Oom” van Stop se humor Grieks, en die jong redakteur se betoog totaal onindrukwekkend. Twee maande later het die geaffronteerde dr. Pauw, in opdrag van die regter, sy apologie gekry, wat hy, by nadenke, dalk tog wel verdien het.

Daardie jare al het kollegas begin praat van ‘n Johan van Wyk-boek. Herman le Roux het gemeen dit sou ‘n “moerse” boek wees. “Moerse” is ‘n geliefkoosde Herman-woord wat hy selfs in ‘n hoofartikel sou wou gebruik as daar nie ‘n redakteursveto was nie.

Ek het so ‘n boek by Tafelberg aanbeveel. Danie van Niekerk was te vinde. Maar iemand moes sif. Johan self was min lus. Wat van sy melkbeeste? Iemand anders het na vore gekom nie. Hoekom nie ek self nie? Het nie juis ‘n waterdigte saak nie. Ek het immers nie melkbeeste gehad nie.

‘n Boek in die 80’s, 90’s sou waarskynlik sterk na die humor-genre oorgehel het. Mettertyd het in Johan se styl van skryf en vertel groter beleënheid ingetree. (“Beleënheid” is, terloops, ‘n woord wat ek neergepen het voordat ek Johan se Skrywersnota gelees het. Daarin lees ek toe hy beskou goeie skryfwerk self ook as ‘n “beleë kuns”, soos – in sy woorde – “goeie wyn en goeie seks, geslyp deur jare se ervaring en ‘n dwingende begeerte na die onbereikbare”.)

Met die groter beleënheid, het die tintelende Van Wyk-humor (stoutheid?) nie verdof nie. ‘n Nuwe dimensie het egter sy skryfwerk verdiep en verryk. Die meer beleë Johan van Wyk is een wat steeds met humor, ja, maar ook met deernis en meesleurende nostalgie allerlei hartsverlanges uitstort.

Ons vind ‘n aansteeklike hunkering na die dae van windpompe en skuurdanse, na Calvinia en die uitgestrekte vlaktes van die Hantam, Aga-stowe, baaisiekels en boorgate … Ek leen van hierdie woorde op die agterplat.

Hierdie “vreemde hunkering” – sy eie beskrywing van sy emosies toe hy sy baba die eerste keer vashou – het hom nog by meer lesers aanklank laat vind. Sy bydraes in Landbouweekblad, Weg en Die Burger word gretig deur ‘n nuwe lojale gevolg verslind. Op Melkbos ruil ons dit onder mekaar uit.

Vroeg in 2011 maak Herman le Roux se indrukwekkende lys van Volksblad-skrywers sy buiging. Hy bevind 60 Volksbladmense het saam 600 boeke geskryf. Van hulle is hier teenwoordig. (Noem Deon Meyer, wat teenwoordig is. Noem ook C.M. van den Heever, Jaap Steyn, Chris Karsten, Dot Serfontein, Wille Martin …….. Verder: Rudie van Rensburg (debuteer binnekort met “Slagyster”). Johan van Wyk se naam skitter in sy afwesigheid.

“Dit is mos absurd,” het ons garde opnuut onder mekaar gesels. Ons het half verleë gevoel dat van ons name op ‘n lys is waar ons “enigmatiese” kollega (ek leen ook hierdie nommerpas-woord op die agterplat) so skreiend kortkom.

Ons het opnuut begin rondkyk na daardie ontwykende “iemand” vir die “jop”. Tobie se naam het sterk opgeduik – ‘n jonger, flukser, skrander oud-kollega (ek wil darem nie sê skranderder nie) met ‘n reputasie van byna oordrewe deeglikheid. Ons het saamgestem: Tobie is die man. ‘n Bonus: Die twee is “biker”-bloedbroers.

In die winter van 2011, as ek reg onthou, het die boek begin spoed optel. Hoera vir Herman se lysie!

Maar jakkals moet ook sy eie stert prys. Nog ‘n skakel in die ketting, so vlei ek graag myself, was toe ek in daardie tyd Johan se roerende Stop oor ‘n plaasbegrafnis raak-Google. Ek het daardie Stop – op bl. 126 van die boek – vir hom gestuur met die vraag: “Onthou jy dit nog?”
Ek het dit onder kollegas rondgeblits – ook vir Tobie. My kommentaar was dat hierdie hartseer-mooi-rubriek in ‘n kompetisie vir sy mooiste skryfwerk voor sal hardloop, met in die pylvak aan sy skouer die stuk oor sy 85-jarige pa se afskeid van sy geboortgerond Dit was in Landbouweekblad en is nou die treffende slothoofstuk op bl. 233.

Herman (of dalk Sarel Venter) onthou toe die elegante Zandra het ‘n plakboek van Stop-juwele gemaak, onder meer van briewe aan sy kinders. “Pappa” gee aan “my liefste Boetie” vaderlike advies: ‘n Deugsame vrou is die sout van die aarde …. “veral as haar pa groot grond sonder Landbankverbande het.” “Liefste Boetie” (Kedousie) is deesdae vlieënier in Hongkong. Sy pa se nuwe bekommernis is dat hy sal vergeet om die Airbus 340 se wiele uit te te laat voordat hy die gevaarte neersit!

“Sussie” word vermaan teen te veel in kuierplekke en op dansbane rinkink, al is “Pappa” nie “danig daarteen nie, want ek het dit self gedoen”. “Sussie” , Anna-Mart, is nou ma van twee op ‘n wynplaas by die Paarl. Die “ietwat onwillige oupa” (sy woorde) bars van die trots, o.m. oor die babakamer wat “soos die opslagplek van die leër se kwartiermeester-generaal lyk”.

‘n Wenk oor die plakboek se bestaan is na Tobie gestuur, wat van toe af maar geduldig moes kennis neem van ‘n duisternis ander wenke, wense en advies – voorskrifte? – oor wat moet in en wat nie. Tydgenote het gunstelinge opgediep en aangestuur. Tobie is met ‘n raamwerk na Tafelberg. “So was dit” was oplaas onstuitbaar op pad – soos die Oranje-Snel op ‘n epiese nagtelike jaagtog deur die Karoo met ‘n John Waynerige treindrywer wat die pap dik aanmaak agter die deadman’s handle. Lees als daarvan op bl. 59.

Van die kantlyn af had ek net ‘n vae idée hoe ontsaglik hard Johan en Tobie gewerk het aan hierdie broodnodige boek waarin soveel liefde gestort is, wat so ‘n groot leemte in Afrikaans vul, en wat soveel vreugde in die harte van soveel van Johan se ou en nuwe “fêns” bring.
‘n Stuk loutere leesplesier. ‘n “Fantastiese, wonderlike boek”, soos Nicol Stassen van Protea Boekhuis dit noem. ‘n “Moerse boek” in Herman le Roux se idioom.

Geluk, Johan, geluk, Tobie (ook vader van die vaardige en waardige Voorwoord), geluk Annie Olivier van Tafelberg. Dis hartskos dié. In die kloeke Tobie se woorde: Dis “onnabootsbaar”. Tobie is eenvoudig te puntenerig om die woord uniek te gebruik.

KRUISBANDE EN KONSERTINA

More uit Melkbos

Die woord “scoop” het in my lewe nogal ‘n rol gespeel. By koerante waar ek betrokke was, is “scoops” ywerig gejaag. Op my eie naam staan ‘n paar lekker “scoops”. In die titel van my eerste boek wat Tafelberg 20 jaar gelede gepubliseer het, kom die woord “scoop” voor: “Scoops en Skandes”.

Vandag spog ek met ‘n boeke-”scoop”. My kollega en vriend Johan van Wyk (afgetree in die Strand) se langverwagte boek is op pad – en ekke, hvd, kan hier vir julle “eksklusief” wys hoe lyk die omslag. Ek beleef dieselfde pure lekkerkry as nog altyd om eerste wees met nuus van betekenis.

Daardie oom met die konsertina, kruisbande en velskoene lyk vir my na ‘n gelukkige keuse vir die gesig van ”So was dit – stories van gister en vandag”. Johan self is, by wyse van spreke, ‘n konsertina-en-kruisbande-en-velskoen-man.

Die nostalgiese hartsverlange waarmee hy kan skryf oor windpompe, skuurdanse, die uitgestrekte vlaktes van die Hantam, Aga-stowe, baaisiekels en boorgate (ek leen hierdie woorde op die agterplat) is meesleurend. Gooi in die tintelende humor in die man, ‘n element van stoutheid en ‘n meesterlike styl van skryf en vertel, en jy hoef nie verder te soek vir die resep wat hom soveel duisende lojale aanhangers oor die jare besorg het nie.

By Die Volksblad (Volksblad) waar hy 25 jaar die rubriek Stop van Myne met sy eie, unieke aanslag behartig het, het dit my altyd beskeie gehou as ek sy statuur in die gemeenskap teen die van dié redakteur opweeg. Die arme redakteur het sleg tweede gekom!

Later het hierdie gesoute joernalis in Landbouweekblad, Weg. By en Die Burger hom in nog meer lesers se harte ingegrawe.

Vreemd genoeg is “So was dit” sy eerste boek. Ek dink die groot rede is dat hy nie kon “bodder” nie. Vanmelee toe ons by DV aan hom oor ‘n boek begin karring het, was sy melkboerdery by Kafferrivier belangriker. Daarna het o.m. sy Honda Goldwing sy tyd in beslag geneem.

Ongelukkig het wonderlike rubrieke wat bundeling verdien het, op daardie manier verlore gegaan. (Hoop maar die plaasbegrafnis en sy pa se afskeid van sy grond duik op in die bladsye van “So was dit”. ) Maar danksy die vasbyt van mense soos Tobie Wiese is die Oom (sy alter-ego destyds in DV) eerlank op die rakke.

Jacolette Kloppers, joernalis, word op die agterplat aangehaal: “‘n Pragtige boek. By tye het ek gelê van die lag, ander kere het die trane gevloei.”

So is dit as ‘n mens Johan van Wyk lees: jy huil en lag. Jy’s nooit verveeld nie.

Op Melkbos kan hierdie ou nie meer wag vir karakters soos Stefaans-sonder-sokkies, die Beenpense van Draaikraal, ant Hettie Poortjies en Gert Kriedoring nie. Enigmaties, noem die uitgewer Tafelberg hulle. Dis waarskynlik ook die beste woord om die outeur mee te beskryf.

Die enigmatiese Johan van Wyk …. Weet nie of die “”Oom” daarvan gaan hou nie – hy gaan nie juis in vir sulke “fensie” beskrywings nie. Hierdie “fên” dink egter dis ‘n kolskoot-etiket.

<Kruger-kosbaarheid

Terwyl by boeke: Dit was vir my ‘n voorreg om Salomon Joubert se enorme liefdestaak, die historiese trilogie oor die Kruger-wildtuin, “The Kruger National Park – A History”, vir die Afrikaanse dagblaaie te kon resenseer. Resensie by: http://www.beeld.com/Boeke/OnlangsVerskyn/Grootse-werke-oor-grote-Kruger-20130303

Grootse werke oor grote Kruger

www.beeld.com

Ek meen die treffende aanbieding van Media24 se boekeredakteur, Jo Prins, het reg laat geskied aan Salomon se gedugte boeke. Ek was werklik ingenome toe by bladsy 9 van Die Burger kom, en is verheug oor die geleentheid om oor sulke boeke van nasionale betekenis ‘n bydrae te kon lewer.

Steeds by boeke: Griffel was die uitgewer van twee van my laaste boeke, “Byl in my Bos” en “Praat-praat in Tamatiestraat”. Albei is mooi uitgegee. Daar het dit opgehou. Oor Marlene Malan se “bloedbad”-berig in Rapport kan hierdie Griffel-outeur helaas maar net byvoeg: Die waarheid oor die Griffel-gruwel is uiteindelik uit.
(hvd)