VOLTOOIDE SIMFONIE-A

Oor die Van Deventers se sentimentele band met die MSC Sinfonia wil ek ‘n uitgebreider en korrekter weergawe as die vorige plaas.

Vir eers het my rekenkunde my in die steek gelaat. Daar was vier vaarte met die Sinfonia, nie drie nie. (Met die Opera was daar twee en met die Musica, die Queen Mary II, die Oceanos – wat aan die Wildekus ’n watergraf gevind het – die Constellation en die Pendennis Castle een elk )

Ten tweede het ek nagelaat om ‘n belangrike gesinsaspek uit te lig: dat ek en Tokkie op die Sinfonia gevaar het saam met albei vertakkings, die Claassensgesin van Welgemoed en die Van Deventers van George.

Op die Sinfonia se eerste vaart in SA waters in November 2009 was ons en ons eerste kleinkinders, die tweeling Jacob en Thomas Claassens, van die eerste passasiers wat in Kaapstad aan boord gegaan het. Hulle was toe vier. Die vaart na Durban was ‘n fees. Ek het toe reeds geskryf: “Die driemanskap Jacob, Thomas en die Sinfonia was ‘n wenkombinasie, Dit het ons elke oomblik laat voel dat die ondermaanse ‘n salige plek is om te vertoef ”.

In 2014 was ons saam met die hele Claassensgesin aan boord op wat toe ná vyf seisoene en 150 vaarte die laaste siens van die geliefde skip in SA waters sou wees. Ons wou ordentlik van die skip afskeid neem. Ons jongste kleinseun, Christopher, was in die kajuit saam met oupa en ouma op ‘n sogenaamde vaart na nérens (wat ek, terloops, nie aanbeveel vir mense wat rustigheid soek nie). Toe ons voet op vaste bodem sit, het ons ‘n groot banier aan die loopplank bemerk:”Goodbye Cape Town”. Die skip is daarna na Palermo waar ‘n nuwe middelstuk ingevoeg is. Volgens MSC sou dit voortaan op ander roetes aangewend word.

Die “nuwe” Sinfonia het egter, verrassend, weer na Suid-Afrika gekom. In April 2017 was my en Tokkie se eerste afspraak met “ons skip” in sy nuwe groter en deftiger gedaante. Balkonkajuite is o.m. bygevoeg. Die vaart was na Walvisbaai. Dit het sommer ‘n laat viering van ons goue bruilof op 31 Desember 2016 geword, en MSC het ‘n komplimentêre bottel Moët et Chandon vir die doel geskenk.

Pas was ons vierde en laaste vaart – weer na Walvisbaai. Dit was ons eerste kennismaking met ‘n balkonkajuit, wat net ‘n vreugde is. Ai, as die ou man net nie so oud was nie … Johan en Mariza van Deventer was hierdie keer saam. Vaar op die Sinfonia het daarmee ‘n familieding geword. Die simfonie van die Sinfonia in die lewe van die Van Deventers was voltooi.

Nou is dit waarlik ‘n “Time to say goodbye” soos Andrea Bocelli en Sarah Brightman so gevoelvol gesing het elke keer as ons uit ‘n hawe vaar.

Naskrif: Een foto is erg oorbelig, ek weet. Dit is egter die enigste foto van my en Tokkie en die Sinfonia saam.

 

EINDE VAN ‘N GROOT BEDERF

Om ons swanesang ter see en eerste ervarings op ‘n vaart in een asem te noem, klink na ‘n contradiction in termino. Dit is egter nie.
Op ons vaart na Walvisbaai op die Sinfonia was die digte mis vir ons inderdaad nuut. Nooit voorheen op enige vaart is twee nagte lank deur sulke digte mis moes beur nie. Sig feitlik nul. Die bas skeepshoring het op die minuut uit ‘n growwe, diep keel waarskuwings uitgeblêr: Pas op voor, hier kom ‘n lummel met 11 dekke en plek vir meer as 2 000 passasiers. Vergeet van slaap in sulke omstandighede. Nessum dorma!
Terug in die Kaap Vrydagoggend was die mis so dig dat die hawe gesluit moes word. Twee uur lank moes die passasiers soos uile op ‘n kluit sit en wag om aan wal te gaan.
Nog ‘n eerste was ‘n skip met soveel ruimte om te beweeg. Met net 800 passasiers aan boord was selfs die hysbakke stil. Dikwels was jy die enigste gebruiker. By die buffet-tafels op dek 11 was die gewone gedrang vreemd afwesig. Aandetes was nie in die gewone twee sessies nie. Enige tyd tussen 18:30 en 20:30 kon jy gaan aansit.
Op die Sinfonia se eerste vaart in SA waters in November 2009 was ons en ons eerste kleinkinders, die tweeling Jacob en Thomas Claassens, van die eerste passasiers wat in Kaapstad aan boord gegaan het. Hulle was toe vier. In 20014 was ons op wat toe die laaste vaart van die skip, in SA waters sou wees weer aan boord om afskeid te neem.
Maar die Sinfonia het weer na Suid-Afrika gekom: ‘n groter en luukser skip nadat ‘n nuwe middelstuk – ook met heerlike balkonkajuite – ingevoeg is. Vir ons was die vaart in balkonkajuit 9175 na Walvisbaai dus ‘n tweede afskeid van die sierlike skip. Maar nou was dit waarlik ‘n “Time to say goodbye” soos Andrea Bocelli en Sarah Brightman so gevoelvol gesing het elke keer as ons uit ‘n hawe vaar.
Elke ding het sy tyd en plek, soos die Prediker ons leer. Vir my en Tokkie was vaar ‘n vreugde en is talryke herinnerings oor dekades versamel – ook op vaarte na Sydney en Venesië en deur die Suezkanaal op skepe soos die ou Pendennis Castle, die Constellation, die Oceanos, die Queen Mary II – wat ‘n wonderlike skip! – die Sinfonia, die Opera en die Musica. Die drie vaarte op die Sinfonia was die meeste op een skip. Op die Opera was ons twee keer, die ander net een keer elk.
Vir al die skepe, bestaande en nie meer bestaande, hul kapteins en hul diensvaardige bemannings sê ons: Arrivederci en baie dankie vir die groot bederf.
Foto’s: Ons laaste vaart. Saam met ons is ons kinders Johan en Mariza van George.

ONVOLTOOIDE SIMFONIE

Vir die MSC Sinfonia het die Van Deventers nou al drie keer gegroet.  Dat ‘n vierde groetslag dalk kan voorlê, was ‘n vergesogte gedagte. Onverwags het so ‘n moontlikheid egter nou opgeduik.  Ons het nie te lank gewik en geweeg nie.

Pas het die bevestiging van ons bespreking gekom: Wanneer die sierlike wit skip op 16 Januarie 2023 na Walvisbaai seil, sal ek en Tokkie op die dek wees – mits die kragte hou natuurlik.

Die eerste kennismaking was amper 13 jaar gelede, op 20 November 2009, op die Sinfonia se eerste vaart in Suid-Afrikaanse waters.  Ek, Tokkie en die tweeling-kleinseuns, Jacob en Thomas Claassens (toe vyf), was van die eerste  passasiers wat in Kaapstad aan boord gegaan het vir die “nooiensvaart” na Durban (Foto).

In vyf seisoene en 150 vaarte vaarte het die skip diep in die harte van Suid-Afrikaners gekruip.  Maar in 2014 is afskeid geneem om in Palermo herbou te word. ‘n Nuwe middelstuk is ingevoeg.  Die laaste Suid-Afrikaanse vaart – ‘n “vaart na nêrens” –  sou op 15 Maart uit Kaapstad vertrek.

Om die Sinfonia op sy heel eerste vaart hier “welkom te heet” en op die laaste “tot siens te sê”  het ‘n historiese dimensie uitgestraal wat vir my aanloklik was.  Boonop was 15 Maart 2014 Tokkie se 68ste verjaardag. Omdat dit in ’n naweek sou val, kon Jacob en Thomas (toe al amper 10) op ’n reünietog saam. Christopher (5) sou sy boot-vuurdoop kry. Die ouers, Brent en Marisa, was vuur en vlam om saam te kom.

Ouma se 68ste verjaardag sou dus ’n lekker familiefees word: ’n geskenk van groot waarde vir haar om so tussen geliefdes op die oop see die dag te kan gedenk. (Foto).  Ons het nie geweifel nie.

Toe ons die Maandag voet aan wal sit, het ons die groot banier teen die kant van die loopplank bemerk: “Goodbye, Cape Town”. Uit die draradio’tjie van ’n hawebeampte het ’n trefferliedjie uit die jare 50 opgeklink: Arrivederci, Roma …It’s time for us to part. Dit was asof die speel daarvan juis op daardie oomblik so gechoreografeer was vir ’n sentimentele herinnering.

Vir my en Tokkie was dit ’n voorreg om saam met ons oudste twee kleinkinders op die eerste vaart van die Sinfonia uit Kaapstad te wees. Nou was ons weer bevoorreg om saam met die volledige Claassens-gesin die laaste mee te maak. Ons Sinfonia-simfonie was daarmee voltooi – of so het ons gedink.

Die middag het ons van ons stoep op Melkbos af die see dopgehou. Op die horison het ons ’n stippel gewaar wat al hoe groter word. Net verby Robbeneiland het ons besef: dis die Sinfonia op pad Palermo toe. Soos die seuns vroeër op die skip, kon Oupa nie verhelp nie om die hand te lig in ’n laaste tot-siens-saluut.

Salute, Sinfonia, het ek geprewel.  Arrivederci. Vaar voorspoedig, liewe skip.

In April 2019 is ek en Tokkie op die MSC Musica na Venesië.  Nostalgie het hoog geloop toe die Musica met sy aankoms in die kleurryke hawe Split reg voor die  vergrote Sinfonia  vasmeer; wat ‘n verrassing. Sinfonia-veterane op die Musica het ver teruggedink en goeie tye herroep.

Van die huidige Musica-bemanning het met breë glimlagte na die dek gestroom om hul “ou skip” van hul nuwe een af te groet. Een gryse kêrel  in uniform was ’n kelner op daardie vaart. Dalk was hy nog die ondeunde een wat die seuns so met slaptjips en roomys bederf het!

Die volgende oggend het die Sinfonia eerste gevaar. Ek en Tokkie het op die dek staan en kyk  hoe die ou kameraad al hoe kleiner word. My kamera het aanhoudend geklik. Dit sou sekerlik die laaste sien wees … (Foto)

Maar nou-ja, nou kom die Sinfonia terug vir ‘n nuwe Suid-Afrikaanse seisoen.  Toe ek die advertensie sien, was die koeël deur die kerk. Ons deposito is betaal. Ons kajuit is op dek nege in die  nuwe stuk wat in Palermo ingesweis is.  Die keer vaar ons ander kinders, Johan en Mariza van Deventer van George, saam.  Ons sien reikhalsend uit.

Ons Sinfonia-simfonie gaan voort.

STORMS TER SEE

id=”attachment_4948″ align=”alignleft” width=”300″]Johan en Marisa by die Constellation wat sware storms moes trotseer.

Johan en Marisa by die Constellation wat in 1985 sware storms moes trotseer.
Middag uit Melkbos

In 1958, my eerste jaar op Tukkies, was ‘n liedjie oor ‘n droomboot wat nooit gevaar het nie, nogal gewild.

Op die koshuispiekniek moes Kollege se eerstejaars die seniors en hul meisies langs die kampvuur vermaak. Ek en Giel de Swardt en ‘n paar ander het “The ship that never sailed” gevoelvol voorgedra. Met sware emosie in my stem het ek die woorde gespreek: “I built a dreamboat to sail the seas with you on my side when it sailed …” Dan het Giel en die ander manne in die agtergrond harmonieus saamgeneurie.

Mooi, man, mooi. En baie romanties.

Nou het my eie “dreamboat” nie uit die hawe gekom nie. MSC het die vaart met die Sinfonia van more tot Vrydag gekanselleer. Die skip is in die Baai vasgekeer waarheen dit uitgewyk het nadat dit geweldige, onvoorsiene storms ter see op die vaart van Durban af moes trotseer.

Natuurlik het jy uitgesien. Wou graag die nuwe. groter Sinfonia (met die ingesweisde middelstuk) eerstehands ervaar. Daarom is jy teleurgesteld. Maar veiligheid kom eerste. Dus, ons stel maar uit tot Januarie 2017. Dan vier ons maar my 76ste op die Sinfonia se dek pleks van Tokkie se 70ste nou.

Ewenwel, die Sinfonia se teëspoed herinner my aan ‘n vaart met die Griekse lynboot die Constellation in 1985 na Mauritius. Maar die see was rof, hoor. Ons is amper 12 uur laat uit Durban weg. Die oggend om 04:00. Toe vorder ons weens die reuse-deinings boonop teen ‘n slakkegang.

In ‘n stadium is gevrees die beurende, krakende boot sal sommer nog voor Mauritius al in die oop see n U-draai moet maak en terugkeer.

Darem nie, maar uiteindelik was ons minder as 24 uur op Mauritius. ‘n Gedaan Vauxhall-taxi moes sy ry ken om by al die plekke uit te kom waar ons wou draai: Port Louis se mark, die Pamplemousses-tuine, Trou Aux Biches se akwarium, Le Touessrok en die eilandjie Ile Aux Cerfs waar die danseressies en die inhibisielose kollega tuis sou voel.
Ons was net betyds vir die Constellation se vertrek op sy terugwaartse vaart met ‘n harde fluit en onaardse rammeling in sy enjinkamer.

Die ou vaartuig is ook al lank skrootwerf toe. Daardie reis het ongetwyfeld sy bydrae gelewer om die metaal te vermoei.

Uitgevat vir die kapteinsete.

Uitgevat vir die kapteinsete.

Ons wellewende kelner se naam was Sotiris, onthou ek. Tot vandag bly dit my by hoe hy tot diep in die nag skottels vol Griekse kos bly aandra het. Vir die kapteinsete was die voorgeskrewe drag “black tie”, d.w.s. aandpak. ‘n Ander aand was daar ‘n kostuumbal.

‘n Skerpsinnige politikus uit die vorige bedeling het op ‘n manier te wete gekom dat die boonste dek die plek is waar die slanke danseressies tussen hul nagtelike kabaretvertonings bedags die son opsoek. Toe maak hy dit ook sy gereelde bestemming.

‘n Boeiende roetine het hom amper elke uur op die uur afgespeel. Eers rys Mnr. Politikus waardig uit sy dekstoel. Hy staan nonchalant so ‘n bietjie rond. Hy kyk in alle rigtings. Daarna stap hy doelgerig na die trappies. Vir die volgende 20 minute of wat was hy dan afwesig.

Nou-ja, ‘n mens van vlees en bloed kan jou nuuskierigheid ook net so lank in bedwang hou. Teen die vierde, vyfde keer is hierdie waarnemer hopelik onopsigtelik agterna. Vir sy persoonlike moeite en opoffering kry hy toe nie net ‘n onbelemmerde blik op die gemelde dames se onbedekte wilgerlatylywe nie, maar ook op die veel indrukwekkender proporsies van ‘n fris vroulike kollega van die tydskrifte-afdeling wat, skynbaar onbewus van die turende medepassasier se identiteit, al hoe meer uit haar dop kruip. Ook vir haar was die bodek die aangewese uithangplek vir haar daaglikse dosis sonaanbidding.

‘n Nare herinnering is van die uwe se duim wat in ‘n sware kolos van ‘n buitedeur se pad gekom het. Met die baftablou nael en ‘n kloppende pyn is ek na die skeepsdokter wat tot my ontnugtering wou weet of ek nie vir hom ‘n skuifspeld het nie. Sy behandeling sou wees om die skuifspeld warm te maak en dan ‘n gaatjie in die nael te druk vir die bloed om te ontsnap, het hy my meegedeel. Dit het my terstond laat besluit die pyn is nie regtig so erg nie.

Tokkie verbind die ongeluk by die deur nou nog met die gereelde uitstappies na die bodek. Hoe sy daardie vurk by die hef kry, weet ek nie. Dis sommer pure moedswilligheid, vermoed ek. (hvd)

SKIP MIDDELDEUR GESAAG

sinfonia1

Die inlasstuk wag kant en klaar.

sinfonia2

Die Sinfonia word in twee gesaag.

sinfonia3

Die sweisers kan maar kom!

Middag uit Melkbos

‘n Ingenieurs-mirakel. Die massiewe werk wat op die oomblik in Parlermo, Italië, aan die gewilde vakansieskip die MSC Sinfonia verrig word, is niks minder nie. Die asem van hierdie skeepsentoesias en bewonderaar van die Sinfonia (uitspraak Sin-fo-nié-a) is weggeslaan.

Die ou Sinfonia was groot. Was in 2009 met sy 1 500 passasiers en 720 bemanningslede die grootste passasierskip wat in daardie stadium nog ‘n Suid-Afrikaanse hawe aangedoen het. (Queen Mary 2 en ander reuse het later gekom). MSC het egter besluit hy moet nog groter.

Toe saag Italiaanse skeepsingenieurs die ou skip, al 11 verdiepings, eenvoudig middeldeur en las ‘n splinternuwe stuk in. Die nuwe stuk is 24 meter lank en huisves 193 nuwe kajuite, sitkamers, speelplekke en wat nog. Dit het kant en klaar lê en wag As’t ware oornag is alles vasgesweis en geseël. Die Sinfonia in sy nuwe gedaante was seevaardig

Die herboude Sinfonia se “nooiensvaart” is op 25 Maart na Genoa en daarvandaan na Ajaccio, Barcelona and Marseilles. Die skip kom op 19 November in Suid-Afrika aan vir die 2015-16-seisoen. Dit vervang die Opera as “Suid-Afrika se skip”.

‘n “Renaissance”, noem MSC die reuse-opgradering van sy voorste passasierskepe teen ‘n koele E300 miljoen. ‘n “Renaissance” is dit voorwaar. Die Sinfonia is nie net langer en groter nie, maar ook ‘n deurgaans weelderiger drywende hotel as die een waarop tienduisende Suid-Afrikaners al om ons kuste gevaar het. Ook die Van Deventers van Melkbosstrand.

Met al die Sinfonia se glansende marmer, gloeiende okkerneuthout en spieëls genoeg vir die troonkamer van ‘n praalvors se paleis het ons kennis gemaak op sy se heel eerste Suid-Afrikaanse vaart van 10 tot 13 November 2009 van Kaapstad na Durban. Ons en ons tweeling-kleinkinders, Jacob en Thomas Claassens.

Ons vier was ook op die laaste vaart van die oue in SA waters op 14 en 15 Maart 2014 – ‘n sogenaamde vaart “na nêrens” rondom Tokkie se verjaardag. Hierdie keer was die hele Claassensgesin saam, ook pa Brent, ma Marisa en kleinboet Christopher.

Oupa Hennie is gek na vaar. Dit was ‘n heerlikheid om op die stylvolle Sinfonia elke hoekie te verken – restaurante soos die klassieke Il Galeone, Il Covo en informele La Terrazza op die agterstewe met die verkwikkende seesproei in jou neus; om elke aand die fyn can-can-danseressies met hul swierige pluime en passies in Teatro San Carlo te waardeer, en om bedags die ry verloklike swembaddens en borrelbaddens asook die rye en rye diepseeblou dekstoele, uitgepak in foutlose simmetrie, op dek 11 te geniet.

Sal dit iemand verras dat die uwe sommer dadelik weer plek bespreek het? Ja, Johan van Wyk was nie verkeerd nie: As jy eers gestaan, lê, proe het, raak jy meer erg. Die VanD’s klim op 25 April 2016 in Kaapstad op die nuwe Sinfonia vir ‘n vaart na Walvisbaai. Ons kajuit is nommer 8196. Wie vaar saam?

Maar eers gaan ons op MSC Opera oor twee maande Europa toe. Ons vertrek op 28 Maart. Die droomroete sluit in St. Helena; die sonnige Lanzarote op die Kanariese Eilande; die prentjiemooi Spaanse stad Cadiz; die kleurryke Valletta, hoofstad van Malta; die Griekse eiland Corfu met sy pastelkleurige huise en oulike systraatjies; Dubrovik, idilliese Mediterreense juweel, en uiteindelik romantiese Venesie met sy kanale, brue en gondels, manjifieke kunswerke en unieke argitektuur.

In Palermo wag die ingenieurs egter al op die Opera. Hy is volgende op die MSC se lys van vernuwing. ‘n Span kundiges is al lank kliphard aan’t werk aan planne om die Opera, nes die Sinfonia, op ‘n verbeeldingryke skaal te verbreek en verbou. Op Melkbos wag ek in spanning op die resultaat.

Klink ek dalk te veel soos n verkoopman as ek oor skepe en skeepsdinge so opgewonde raak? Dan haas ek my om lesers te verseker dat ek geen sent afslag gekry het om te help “bemark” nie – net vier blikkies Coke vir ons en ons kleinkinders, Jacob en Thomas, op ‘n warm, windlose middag op dek 11 het oupa R150 armer gemaak.

En dit was in 2009. Wonder hoeveel ek nou vir my Coke (en dalk ‘n ietsie sterkers) gaan opdok. Maar ek doen dit met ‘n lekker hart. Oumense moet hulleself ook ‘n bietjie bederf. (hvd)