LENTE, HERFS – EEN MOOIER AS ANDER

Die skoonheid van die Amerikaanse herfs – die “Fall” – word hierdie tyd van die jaar elke dag op Facebook besing en met skildergatige landskapfoto’s’ bevestig.

Herfs in New England
My eie ervaring van die skone seisoen kom uit die herfs van 1976 in New England aan die ooskus. Gister vang ‘n pragfoto uit die Shenadoah-park in Virginia egter my oog (hooffoto links). Dis ewe verruklik.
Die Shenandoahpark onthou ek vir sy lente. Ons was bevoorreg om in die lente van 1995 per motor van New Orleans via Florida Boston toe te ry. Die blommeprag van die manjifieke dogwood (hooffoto regs) was oral, veral in Noord-Carolina en Virginia, waar dit die nasionale blom is, Atlanta waar hulle ‘n reuse-dogwoodfees hou, en in die wonderskone nasionale Shenandoah-park.
Die sogenaamde Skyline Drive van 105 myl (nie kilometer nie) deur die park Washington toe was ‘n prentjie. Die snelheidsgrens is 35 m.p.u. Omring deur soveel natjuurskoon voel jy nooit om die versneller dieper in te trap nie.
Ek kon nie die versoeking weerstaan om elke af en toe te stop om my vrou saam met die bloeisels af gte neem nie: ‘n karnallie tussen die kornoelies.
Terloops, ek verstaan nie mooi of kornoelie die regte vertaling van dogwood is nie. Is dit ‘n spesifieke dogwoord of die versamelnaam vir alle dogwoods? Dalk kan ‘n plantkundige help.
Washington DC self is natuurlik kersiebloeisel-wêreld – daar is in Maart ‘n “cherry blossom festival”. Kan ook nie woorde kry om hierdie historiese stad in sy lentekleed te beskryf nie.
Die fees vier, interessant genoeg, die geskenk van 3 000 Japanse kersiebome aan Amerika in 1912. Op sy beurt het Amerika toe in 1915 ‘n ewe getal Amerikaanse dogwoords aan Japan present gegee.
Moet erken, ek onderskei moeilik tussen die bloeisels, veral op ‘n afstand. Dis seker maar uit pure domheid.