SOLIED SOOS GRANIET

Sarel Venter (70) met sy “koerant” waarin jy alles vir soet-(verjaardag)-koek kon opeet!

More uit ‘n bibber-Bloem

Toe Oom Blackie Swart 80 word, het die SAUK ‘n verslaggeefstertjie na De Aap gestuur. “Hoe voel u nou op 80?” wou die blonde dingetjie weet. “Baie sterker as 80 jaar gelede,” was sy spitsvondige antwoord.

Dié storie het ek gisteraand by die viering van my kollega Sarel Venter se 70ste in ‘n bitterkoue Bloemfontein vertel om die punt te maak dat iemand van 80 – des te meer iemand van 70 – in die algemeen gesproke, veel meer mens as iemand van 0! Sy glipsies is ook minder katastrofies, tensy dit glipsies van dieselfde aard as ‘n baba s’n is!

Tog is 70 klaarblyklik die een of ander grens wat jy oorsteek. Die oomblik dat jy 70 word, raak jy die teiken van grapjastery oor oud word, waarvan die neerbuigende hovaardigheid van sommige ‘n nogal irriterende element is. Party windbolle glo 70 beteken jy is versukkeld, finish en klaar. Wel, Sarel is allesbehalwe versukkeld op 70. Hy is nog die man wat hy altyd was, iemand na wie op 70 opgesien, watwou van bejammer word.

In my heildronk het ek ook ‘n storie vertel oor my oud-onderwyser Johan Theodorus Claassen wat een van die slotte was in Avril Malan se seëvierende Springbokspan in die Britse eiland in 1960. Vir hom het die afrigter, Boy Louw, op daardie toer gesê: “Clasie, as jy in die span is, voel ons veilig. Daar is vastigheid.”

Dit is ‘n pluimpie wat Sarel ook deur en deur verdien, het ek die teenwoordige vriende meegedeel. Waar Sarel Venter in die span is, was nog altyd vastigheid; daar is dit solied soos graniet; dinge sal nie sommer net lostorring nie. Jy voel altyd veilig in die wete dat hy is waar hy is.

Soliede Sarel, wou ek hom noem omdat dit so mooi allitereer. Maar dit laat nie aan Sarel reg geskied nie. Rotsvaste Sarel pas beter.

In sy hoofartikelkommentaar as assistent- en adjunk-redakteur was sy oop kop en stewige hand ‘n kernelement. Sarel kon ‘n beginselstandpunt waterdig stel en helder formuleer. Oor kerklike sake was hy ‘n top-kommentator in die Afrikaanse joernalistiek. Veral een hoofartikel uit die tsoenamitye van die 80’s onthou ek goed. Dit was oor die getuienis van die sogenaamde Silverton-193, ‘n klompie reaksionêre NG-leraars, ná ‘n saamtrek in Silverton om mekaar teen die “liberaliste”, ook in die media, op te klits. Dié hoofartikel (natuurlik anoniem uit Sarel se pen) is deur Die Ligdraer, mondstuk van die destydse N.G. Sendingkerk, in geheel opgeneem “omdat dit getuig van besondere insig en groot betekenis het vir kerklike verhoudinge.”

Sarel was inderdaad as meningsvormer ‘n pilaar in ‘n dekade van Afrikaner-verwarring en -verskeurdheid. Ongelukkig kry sulke bydraes van formaat deesdae skaars erkenning. Hierdie hulde tel ongelukkig nie meer so vreeslik nie. Ek is ook ‘n “has-been”. Ek bied dit nogtans met ‘n lekker hart aan. (HvD)

TIETIEMAN TOT VANDAG TOE


More uit Melkbos

Ek vra my vrou, Tokkie, onlangs hoeveel maande, weke, dae en ure is in 70 jaar – die geseënde ouderdom wat ek op 3 Januarie bereik het. Sy antwoord: “Ek weet net dis ‘n helse lot”.

‘n ‘Helse lot’ – dit slaan die spyker op die kop. In 70 jaar is, om presies te wees, 840 maande, 3,653 weke, 25,567 dae en 613,617 uur.

Dis hoe lank my lewensreis duur, van Babanango tot Melkbos, soos in die opdrag voorin van my boekie “In Kamera” (Protea, 2003) gemeld word. In daardie opdrag staan naamlik: “Die lewe was vir my goed. Op die pad van Babanango tot Melkbosstrand het baie mense waarde toegevoeg.”

En hoe bevoorreg was ek nie dat van elke stilhouplekkie langs daardie pad iemand verlede Saterdag, 8 Januarie, by my verjaardagviering by die Dale’s Black Angus-restaurant in Milnerton teenwoordig was. Dale is my buurman op Melkbosstrand – hy het self ook waarde toegevoeg met sy lekker kos, as ek dit self mag sê.

Uit die Babanangodae was ekself ongelukkig die enigste. Pa Seun is in 1946 al dood – hy was net 35 – en Ma Baby in 1993 op 73. Pa Seun sou op Dinsdag 4 Januarie 100 jaar oud gewees het. Maar hy is bloedjonk graf toe in die kaalhaaie Kimberley nadat sy enigste seun se kroepborsie die gesin van die plaas Middelin in die tuinprovinsie, Natal, na die dorre klimaat gedwing het.

Ma Baby, onthou ek soos gister in haar rouklere op haar trapfiets sentrale toe. Dit is waar sy na Pa se dood gaan werk het. Sy is later, in 1950, met Pa Malan getroud. Hy is in 1988 dood. Hulle lê saam begrawe in Pretoria-Oos-begraafplaas in Garsfontein.

Ook Bongile wat my Zoeloe geleer het en hoe om poetoepap in ‘n gemoedelike kringetjie met die hand uit ‘n driepootpot te eet, is dood. Bongile was lief vir die tradisionele drag van die Zoeloes, ‘n kort rompie van veelkleurige kraletjies – seker een van die redes waarom ek ‘n tietieman is tot vandag toe.

Oor die ander eras, en die verteenwoordigers uit daardie eras by my 70-fees, gaan ek in die volgende dae vertel. Hou dus dop, of hou verby na gelang van persoonlike voorkeur. (HvD)

Volgende: Die Diamantstad, Kimberley