KLINK ‘N CAP CLASSIQUE, OU MAAT!

Middag van hier onder die berg

Lesers van hierdie gereelde episteltjie uit Melkbos, doelbewus of per ongeluk, sal dalk weet dat ‘n heel omvattende versameling afbeeldings van Tafelberg in Van Deventer-besit is. Met onse berg nou in die hoogste gestoeltes, hoog op die lys van die wonderlikste wêreld-wondere, droom ek oor ‘n oornagse toename in waarde van daardie nimlike versameling aan spykers teen die mure.

(Almal droom natuurlik van die een of ander geldelike bonanza. ‘n Ander persoonlike droom is dat die uitsig uit my voortuin op die wonderberg die prys van my en Tokkie se kaia hier in Penguin Place sal opper en opper jaag. Vandag hier meer ter sake is egter die toename in waarde van daardie versameling.)

Mense, ek is so optimisties dat ek dalk meneer Stephan Welz moet oornooi vir ‘n eksklusiewe private beoordeling. Moet onthou om dit in die dagboek aan te teken.

Iets meer oor daardie versameling. Laas het ek gepraat van drie “olies”. Een sou tipeer kon word as die een met die raaisel-boom. Die tweede se kleure-seleksie kan ietwat verwarrend wees vir ‘n te werklikheidsgebonde siel. Die derde, onvermeld in hierdie ruimte tot dusver, is uit die dae her toe Blouberg nog net ‘n bekoorlike stippeltjie was. Konserwatief, selfs volgens my eie standaarde.

Daar is ook twee waterverwe: ‘n groterige wat ongelukkig deur die ongenadige Wetseson ietwat geraps is, en ‘n kleintjie, uit die “ateljee” van vriend en oud-kollega Pierre van Manen. Pierre, weet ek, sou ewe beskeie insluiting van syne bevraagteken. Ek hou egter daarvan. Dit hang geraam in ‘n berg-kompilasie in die ingansportaal, en ek sit dit sommer hierbo ook dat julle kan sien of julle met my saamstem oor die meriete of nie.

Hoe ook al, as die waarde van my belegging in verf en rame skielik dramaties sou vuurpyl, soos ek vuriglik hoop, sou ek ‘n aansienlik minder bekommerde pensioentrekker wees. Laat die markte dan maar bolmakiesie slaan. Laat Malema –menigtes dan maar opruk en opneuk soos hulle lus kry. Teen my mure hang immers dan my en Tokkie se vliegkaartjies Boston toe en dies meer vir repatriasie na die skone Cape Cod, speelplek van die rykes in Massachusetts in New England. Ons vlieg sommer besigheidsklas wat!

Vir wie sou ek dan moet dankie sê? Natuurlik vir almal wat so mooi aangesmeer en gekom het, soos Johan van Wyk sou sê, toe hier kort duskant die stemtellery ‘n bepaalde paniek rondom die welslae van die berg se kandidatuur ontstaan het. Wat ‘n eindpoging sien ons toe nie.

Op RSG hoor ek vaneffe ‘n entoesiastiese bydrae uit Brackenfell oor die laerskool aldaar se patriotiese magsvertoon om hierdie groot vis vir die Moederstad, by wyse van spreke, ingekatrol te kry. Een kannetjie het 4 000 stemme uitgebring, word uit Brackenfell gespog. In ‘n klassie met klas het ‘n hele falanks 1000-talle met stemme glo op die organiseerders gereën.

Hoera dan vir die fladderende vingers en ruim begrotings vir selfoonkoste van my landgenote, oud en jonk. Vanaand klink ek ‘n glasie Cap Classique (nee, nie sommer net my gewone Nuy Sauvignon Blanc teen net oor die R30 per bottel nie!) op die berg, op al sy lojale ondersteuners wat onvermoeid hul Blackberrys, Nokias en so aan laat gons het … en natuuurlik op my nuutgevonde groter finansiele onafhanklikheid – as dit maar sou verwesenlik. (HvD)

NJO-NJO-NJO …. NJO-NJO

More uit Melkbos

Die selfoon kry skielik lewe in my hempsak. Dit bir-bir en tril asof iets dit gebyt het. Dis die aankondiging van ‘n boodskap op die doodgewone, ortodokse manier, soos die Nokia-tjie “uit die boks gekom” het.

Op die skerm word aangedui ek moet 100 skakel, wat ek terstond doen.

Iemand trek los met ‘n monotone njo-njo-njo-gemompel. Al wat ek hoor, is my adres, Penguin Place 11, ‘n tyd wat klink soos 3:15, en ‘n afgerammelde nommer om te skakel waarvan die laaste die syfers in gorrelende onhoorbaarheid verdrink.

‘n Tweede, derde en vierde poging is ewe vrugteloos. Tokkie moet help. Maar die njo-njo-njo en die gorrelgeluid ten slotte slaan haar ewe dronk.

Gelukkig is ons in ‘n groot sakesentrum. My diensverskaffer, MTN. het daarin ‘n dienssentrum met ‘n ry hulpvaardige konsultante agter ‘n lang toonbank. Ek beduie my probleem vir nommer vier. Die jong man glimlag bemoedigend vir die bedremmelde oubasie.

Ek sien hoe sy glimlag verstar toe sy eie ore die werklikheid van die beweerde onontsyferbaarheid tot hom laat deurdring. “Nee, meneer”, hulle het g’n wondermasjien wat sulke koeterwaals kan deurpriem om die ware bedoeling daarvan te ontbloot nie.

Nou loop ek maar die hele dag en wonder, en verknies my daaroor dat dit moontlik ‘n belangrike boodskap kon wees.

Gelukkig is ons 3: 15 (eintlik 15:15) tuis. Ek wag dat die voordeurlokkie lui. “Penguin Place 11, 3: 15 … njo-njo-njo,” sien. Niks gebeur nie.

Ek skakel weer 100. Die geheim bly onontrafel.

Seker die 20ste keer toe ek die Nokia teen my oor druk, luidspreker oopgedraai, hoor ek vaagweg iets van “Armed Response”. ‘n Vermoede vat pos, wat deur ‘n geskribbelde nota’tjie in die posbus bevestig word. Om 09:15 is die alarm ge-aktiveer.

Gelukkig was dit nie ‘n inbraak nie – alles is mooi op hul plek.
Maar ek sou darem graag vroeer wou geweet het – al was dit net om ‘n buurman te bel.

Waarom praat sommige mense op selfone of hul warm aartappels in die kies het? Waarom rammel hulle hul kontaknommers af of hulle mededingers in die een of ander spoed-praattoets is?

Hierdie vrae stel ek beleefd toe ek die sekuriteitsfirma skakel en by ‘n besorgde meisie met ‘n helder stem en verstaanbare aksent uitkom. Dit, meen sy, is so ‘n ernstige saak dat dit by die “management” gerapporteer sal word as ek wil.

Ek wil.

Dit was die laaste hoor van die blik-konfoor. (HvD)