Sep 13, 2025 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Hier’s ons weer, hier’s ons weer, met ons blaar-lus voor jul deur …
Noem Tarlehoet nou die Sabiepark Spur of iets dergeliks, maar gister ag is die sewe kameelperde toe jou werklik die soveelste keer terug vir ‘n langdurige kuier. Vyfde of sesde keer in vier dae.
Dit volg op ‘n uur uur van betowering die vorige dag teenaan Tarlehoet se voorstoep – sewe kameelperde teenaan die lapa se hortjies en ‘n tienstuks sebras langs die swembadjie en by die watergat.
Die kameelperde kom nou die afgelope vier of vyf dae gereeld. Die eerste groen blaartjies van die gewone pendorings, rooiboswilge, rosyntjiebosse en andere trek hulle soos magnete telkens terug. Daardie keer was egter die eerste keer dat sewe op ‘n slag opdaag vir ‘n laat ontbyt soos min. Veral die Bosveld-katjiepiering was
‘n trekpleister.
Hoeveel foto’s het ek geneem voordat die battery die gees gaf? Maklik 50. Tokkie was self bedrywig met haar iPhone. My stukkie spyt is dat ek nie ‘n foto het van al sewe die kameelperde of die kameelperde en sebras saam nie. Tokkie het egter ‘n video van laasgenoemde.
So begeesterd was ons oor die kameelperde dat die sebras hard moes proes om ons aandag te trek. Toe ons opkyk, gewaar ons oor die swembad se rand die gestreepte lywe by die drinkgat.
Ook hulle vertoef rustig en verlustig hulle aan die voortou van die wintergras se lentekleed. Vir ‘n uur beleef ons toe die “ou Sabiepark” toe die mense en huise nog minder was (die huise ook aansienlik kleiner) en die wild meer.
Gister was die kameelperde hier vir middagete. Selle bome kry die grootste aftrek: die Bosveldse katjiepiering, die gewone pendoring en die rooiboswilg . Hierdie keer ook ‘n kierieklapper en – kan dit wees – ‘n blinkblaar-wag-‘n-bietjie met sy krom haak-en-steek-dorings wat jou soos ‘n buffel kan gaffel?
Jy hoor hoe daardie enorme lippe met behae die blare stroop, jy sien hoe die takke in slierte uit die gulsige monde hang. Die langnekke loop van boom tot boom: die donker patriarg voor in die tou en die jongetjie half versigtig ‘n entjie weg. Hulle maak kaal waar hulle kom.
Jy voel bevoorreg oor sulke intensiewe kameelperd-aandag, maar te veel van ‘n goeie ding raak mos later ‘n kwade ding. Gaan hier blare oorbly?
Weer eens was die sewe net nooit naby genoeg aan mekaar om hulle op een foto te kry nie. Maar ek het probeer hier van die stoep af – ook Tokkie (ja, dis sy daardie met haar iPhone.)
Die blommetjie is die katjiepiering s’n – “the one that got away”.
Naskrif: Vanoggend het die sebras weer kom water drink. Altyd ‘n mooi gesig as hulle so simmetries die koppe kaat sak.
Aug 31, 2021 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Knus teen die koue.
Op die granokoppie Mathekenyani, 10 kilometer suid van Skukuza op die H1-1, gebeure vele dinge. Leeus en luiperds loop hier. Soms ‘n energieke olifant. Mense raak in stringe hier verloof, hulle trou selfs. Ander kom strooi die assies van ‘n geliefde. Intieme kerk- en ander byeenkomste vind plaas. Dis ook ‘n voortreflike plek vir ‘n skemer-geselligheid.
So omring deur die wydse Krugerwildtuin ver benede is die sonsondergang ‘n strelende prentjie. Met die komplimente van die gasvrye Jimmy en Lida Pressly van Skukuza kon die Van Deventers, asook Corrrie en Corrie du Plessis van Potchefstroom – die een is Corrie-Adam en die ander Corrie-Eva – ‘n geluksalige uurtjie of twee op die yslike rotsplaat deurbring met ‘n eet- en ‘n drinkdingetjie in die hand.
Later het die kundige Jimmy vir ons die sterre identifiseer: van die prominente Aandster tot Scorpio. Op pad huis toe in die donkerte kon ek en Tokkie van harte met mekaar saamstem: ‘n Goeie tyd saam met goeie vriende op ‘n goeie plek is goud werd.
Met renosters wat weens stropery en hervestiging in ‘n groot gebied van die Krugerwildtuin bitter skaars geraak het, word die Vyf Grotes deesdae nie sommer in ‘n japtrap afgetik nie. Ek en Tokkie is al vyf weke in Sabiepark en het die vakansie al iets soos tien Wildtuinbesoeke agter die rug. Leeus baie gesien, ook olifante en buffels. Luiperds nie soveel nie maar tog wel. Renosters? Niks. Toe skielik, op pad huis toe ná die kuiertjie op die koppie (‘n seldsame nagrit vir ons): Stadig stap in die donker pad, hier kom ‘n renosterma en haar kalf van voor in die teerpad aangedrentel; ongestoord of elke geknor van ‘n voertuig-enjin nie vir hulle potensiële onheil inhou nie.
Hulle poseer as ‘t ware vir foto’s. Dankie, julle. Sou maar sleg gewees het om in die Kaap aan die kleinkinders te gaan rapporteer dat ons in die Vyf Grotes-mekka was sonder om die Vyf Grotes almal te sien.
Tot die galery van sneeufoto’s van oraloor op allerlei webblaaie kan ek uit Sabiepark natuurlik geen bydrae lewer nie. Dit het hier nie gesneeu nie en slegs ‘n paar druppels het geval. Maar dit was deksels koel, hoor. Hier is my weerfoto: twee sebras wat Sondag skuiling soek teen die snerpende winterwindjie in ‘n knus hoekie by Tarlehoet. Toe ons omstreeks een-uur by die huis kom (wasdag gewees), het die twee hulle stewig ingeplant op die Honda se staanplek, en was hulle erg ongretig om die “verowerde gebied” prys te gee. Taamlike oortuiging geverg. Sulke merries!
Die stoelkussings op die vloer is nie vir hul gerief nie. Dis deur die wind daar gedeponeer
Ek raai die koue is nou verby. Lente is in die lug. Oral slaan groen blaartjies uit. Die sambokpeule staan geel in die blom of spog reeds met ‘n groen blaredos. ‘n Vreugde by Tarlehoet is die pienk impalaletjies.
Wild bly skaars maar voëls is aktief. Een oggend was daar tegelyk ‘n spookvoël, swarthelms, withelms, ‘n speg en kakelaars. Hope sysies kom drink.
‘n Kommer is of die teenwoordigheid van ‘n likkewaan op die stoep en ‘n gegor-gor in/op die dak verwant is.
Die “hoofstraat” van die Wildtuin, die Skukuza-Onder-Sabie-pad, bly maar die vrugbaarste. Ons het drie ritte daarop onderneem – twee keer na Nkuhlu insake buffelspasteie – en al drie keer leeus gekry, ook hope olifante, buffels, kameelperde, koedoes, ens. Luilekker is leeulekker. ‘n Maanhaar en ses wyfies het hulle o.m. langs die uitgestrek vir ‘n la-a-a-a-ng middagslapie. (OOr die buffelspasteie. Hulle is baie lekker en kos R45 elk. ‘n Mens kan hulle ook gevries koop. Reël met Natie.)
Naskrif: Presies 20 jaar gelede het 12 Probuslede en hul gades van Melkbos, 2 000 km ver, oorgekom vir ‘n braai. ‘n Hele konvooi het opgeruk. By die Gariepdam en Badplaas is langs die pad oorgeslaap. Daardie aand is op tipiese Bosveld-manier behoorlik vleis gebraai. Agter die huis was ’n ramkatvuur vir die skaaptjops en die wors (en die stywe pap in ’n swart driepootpot). Voor was ’n nog ysliker een vir kuier. ’n Vrag hardekool, rooiboswilg en sekelbos is in vlamme op. Genoeg vir ’n maand se gewone kampvure. Maar ’n bobaas-Bosveldfees was dit bepaald.
“Watter wonderlike gawes kom nie uit U vaderhand nie?” kon ek dankbaar bid toe ek onder die sterre die seën vra. Die volgende oggend is hulle vort Wildtuin toe. Weens stertftes en verhuisings is van daardie 12 net twee nog lede van die klub: Henri van Biljon en Frans Ellis
Nov 2, 2013 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Melkbos
Op grond van ‘n advertensie in Die Burger is ons gistermiddag van Melkbos oor Tygervallei toe om die animasiefliek Khumba in Afrikaans te gaan kyk.
Ons het ons kleinkinders in Welgemoed opgelaai en ons kaartjies gekoop nadat ons ook op die bord by Ster-Kinkekor seker gemaak het die 17:15 -vertoning is wel in Afrikaans.
Wat was ons verbasing toe Khumba in Cine10 begin rol – die sebratjies (en ander diere) het net Engels gepraat, party nogal met ‘n sterk Amerikaanse aksent. .
Agterna het ek by die bestuurder gekla. Ons het ver gery en duur betaal vir kaartjies – R265 vir ons spannetjie – weens ‘n misleidende, inkorrekte advertensie en misleidende, inkorrekte inligting op die bord by die kaartjieskantoor.
Sy het ons ervaring as “horrible” beskryf maar tog haar skouers opgetrek. Geen sprake van kompensasie nie, jammer, al stem sy saam ons het nie gekry waarvoor ons betaal het nie.
Ons fout, volgens haar, was dat dat ons nie opgestaan het en uitgestap het nie. Maar as ons uitgestap het, wat dan? Moes ons doodeenvoudig die teleurgestelde kinders by die huis gaan aflaai en terruggery het Melkbos toe – al die moeite, koste, tyd en energie dus maar op ons maag skryf en met ons hemp doodvee?
Ten tweede, as ons uitgestap het,sou ons en ons kleinkinders nooit saam by enige Khumba uitgekom het nie, wat nog van by die Afrikaanse een. Ek sou nie weer daarvoor van Melkbos af ry nie. Die kinders se program is boonop te vol.
Ten derde, as ons uitgestap het en kompensasie is steeds geweier, wat dan? Dan het ons R265 plus al die ander koste (petrol, springmielies en wat nog) in die water gegooi.
Klaarblyklik was die vertoning van Khumba in Engels om 17:15 ‘n ligte mistykie. Iemand het ‘n verkeerde knoppie gedruk. Ster-Kinekor het geen poging aangewend om die fout te verduidelik nie.
Is dit maar net nog ‘n geval van minagting vir Afrikaans en Afrikaanssprekendes? Moet ons maar sluk en stilbly?
Ek is beswaard, en ek dring aan op ten minste ‘n verskoning vir sulke onbeholpenheid. Of ‘n bewys dat ek weens ‘n eie misgissing met my spannetjie in ‘n verkeerde Cine sit en kyk het. Dan is ek die een wat om verskoning moet vra.
(hvd)