May 5, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
In 1988 met die Riaan Eksteen-debakel by die SAUK is ek uit meer as een oord vertroulik ingelig dat ek ‘n kandidaat vir die direkteur-generaalskap is. PW Botha wou my glo in daardie pos hê. Koerante (o.a. eers Max du Preez se Vrye Weekblad en toe ook die Sunday Times, nogal op sy voorblad) ) het bespiegel die SAUK se nuwe baas gaan uit Bloemfontein kom.
Ek was toe 47 en reeds amper agt jaar in die redakteurstoel van Die Volksblad. Laat my maar bely dat my ego nie verhewe was bo vatbaarheid vir streling nie. Was nie onaangenaam vir die in-murg-en-been-koerantman om self die onderwerp van koerantstories te word nie. Die Sunday Times, onthou ek, het my op ‘n Saterdag by my huis in die woonbuurt Dan Pienaar gebel om kommentaar. Ek het dit geniet om in my beste Engels jakkalsdraaie te gooi: “Nee, ek het nog geen formele werksaanbod ontvang nie. Ja, ek sal dit oorweeg, maar ek is gelukkig as koerantredakteur en sal nie goedsmoeds so ‘n sprong waag nie.”
Een middag het ek en my vrou, Tokkie, op besoek aan die Rand in my nuwe donkergrys Mercedes 230E – ‘n 1988-model met die registrasienommer OB 7725 – om en om die Uitsaaisentrum in Aucklandpark gery – dis ‘n enorme plek. My keel wou-wou toetrek by die gedagte dat ek oor daardie omvangryke koninkryk die septer sou moes swaai
De M-Net-era was in die weer. Toenadering tussen die Nasionale Pers en die SAUK op daardie tydstip sou nie vir die Pers ongeleë wees nie. Met die goedkeurende medewete van Ton Vosloo is ek na Pretoria om by sy huis in Pretoria-Oos ‘n vertroulike onderhoud met die voorsitter van die SAUK, Brand Fourie, direkteur-generaal van buitelandse sake, te gaan voer.
Dit was lannk voor die era van GPS, Google Maps en sulke nuttige hulpmiddels en die Vrystater het reddeloos tussen die Garsfonteins, Faerie Glens, Waterkloofs, Menloparks en Lynnwood Rifs met hul herehuise verdwaal. Toe ek – heelwat laat vir die afspraak –by die Fouriewoning opdaag, was ek taamlik ontsenu en gespanne.
Aan Fourie se sy was ‘n mede-raadslid, JA (Koos) van Zyl, oud-kapelaan-generaal van die SA Weermag. Fourie het die sessie gelei en Van Zyl het net af en toe instemmend sy kop geknik. Die onderhoud was geen triomf vir die kandidaat vir die hoë pos nie. Op ‘n vraag oor die toekoms van die SAUK-nuuskantoor het ek, na ek later verneem het, my voet in ‘n ding gesit deur onwyslik te volhard dat ek Sakkie Burger met die taak sou toevertrou. My vriend Sakkie, ‘n senior in die nuusafdeling, was toe erg omstrede, veral by PW Botha! Was glo te danig met die KP in ‘n TV-onderhoud.
Miskien was Fourie en Van Zyl nie oortuig dat ek nie in die doolgange van Uitsaaisentrum sou verdwaal soos ek in Pretoria-Oos verdwaal het nie, maar die aanbod het nooit gekom nie. Wynand Harmse is intern tot die direkteur-generaalskap bevorder. Ook maar goed so. Ek dink ek sou maar gesukkel het.
Van Deventer is wel – ná die eerste raadsvergadering met Harmse in die stoel – die pos van nuushoof aangebied. Weer met Ton Vosloo se medewete is ek vir ‘n tweede onderhoud – hierdie keer openlik in Aucklandpark.
Die onderhoud was ten minste nie vervelig nie. Die groot vraag: Het die hoof van die nuus die finale seggenskap oor wat uitgesaai word of nie? Hieroor wou ek absolute duidelikheid hê. Die antwoord was nee, daardie diskresie berus by die direkteur-generaal. Met ander woorde, het ek teruggekap, as dié hom laat manipuleer, is die arme nuushoof aan wie ook al uitgelewer.
My ferme afwysing van so ‘n hiërargie is met verbasing begroet – asook my mededeling dat die Nasionale Pers se redakteurs wel daardie soort outonomie geniet waarop ek aandring.
“Bedoel jy Ton Vosloo gee nie vir julle opdragte nie?”
“Ja, dit is presies wat ek bedoel.”
Die onderhoud is weer nie met welslae bekroon nie. Later is ek, waarskynlik op aandrang van ‘n vriend, Colin Hickling van Bloemfontein, wat ook ‘n raadslid was, tog genooi om weer te kom praat. Die antwoord was oombliklik: Dankie, maar nee dankie. Liewer nie. Ek was nooit spyt nie.
In 1992 het ek toe wel die redakteursmantel afgewerp toe ek op uitnodiging van Ton Vosloo Kaap toe gekom het in die nuwe pos: uitvoerende hoof van koerante van die Nasionale Pers. Dit is die pos wat ek tot met my aftrede in 1997 beklee het.
Kort ná aanvaarding in 1992 het Roelf Meyer, Minister van Inligting, Vosloo kom besoek. Hy was op soek na ‘n direkteur-generaal vir die departement. Die man wat hy teiken, is Hennie van Deventer. Ek was skepties. Terwyl die bal rondgeskop is, was ek en Meyer een aand saam in die kantoor van Niël Barnard, hoof van nasionale intelligensie, in Pretoria waar hy my probeer oortuig het welke geleentheid tot diens aan volk en vaderland dit behels.
Gelukkig het Vosloo die besluit uit my hande geneem. Hy is jammer, het hy aan Meyer geskryf, maar Van Deventer het pas ‘n nuwe pos in die maatskappy opgeneem, en dit is nie geleë om sy hande los te maak nie. In die lig van latere politieke gebeure was dit ‘n redding. Ek is Vosloo tot vandag toe dankbaar.
Naskrif: Hoekom ek die storie nou vertel? Eenvoudig omdat dit nog nooit volledig vertel is nie, ook nie in my nuwe boek, Elke dag ‘n mooi nooi en ‘n moord – ‘n Joernaal van scoops en skandes, wat oor ‘n week of wat, ook met ‘n hele afdeling vol radiostories, by Naledi verskyn nie. En nog ‘n boek sal daar nie wees nie.
Nov 11, 2022 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Volkies se eie span ridders.
Elke Saterdagaand om agtuur het dit uit die Bloemfonteinse ateljee van die SAUK bra valserig opgeklink: “Ons is die ridders van die Mielieblaar, die wêreld woes, leeg en naar sal ons hervorm; met ‘n towerslag die leed verban en die traan versag.”
Daarna was Oom Mêrten, Doorsie en trawante – afwisselende karakters soos Oom Gabriël (dalk Gawerjal of Gabrilêl), Hennerik en Paal – ‘n halfuur lank diepsinnig aan die woord om “oplossings” te vind vir kwellinge wat die volksgemoed beroer. Altesaam 600 episodes op agtereenvolgende Saterdagaande in die jare 50 het luisteraars voor die radio vasgenael laat sit om die ridders van die klub se pittige wyshede aan te hoor.
Die Mielieblaarklub van AM Burger was ‘n moet-luister-program en die uitdrukking “vir ‘n elk, ‘n iedere en ‘n inkilte” het deel van die spreektaal geword. Die skrywer, Burger, en veral die twee sentrale karakters, die kwasterige Oom Mêrten met sy ryk basstem (pure outydse dominee) en die stamelende, senuagtige Doorsie, was huishoudelike name. Al drie was Bloemfonteiners. Oom Mêrten en Doorsie was albei onderwysers in Afrikaans – die een aan die Greykollege en die ander aan die Hoërskool Sentraal.
AM (Apie) Burger self was ‘n dosent aan die Strijdom-opleidingskollege vir swart onderwysers, ten suide van Bloemfontein. Die kollege is bedryf deur die Vrystaatse NG Kerk, wat ook sendingstasies in Noord-Rhodesiê en Njassaland onderhou het (die huidige Malawi). Apie was getroud met die aktrise Anna Richter Visser, bekend om haar gevleuelde bril. Hy word onthou as ‘n “vriendelike oom”, maar nie altyd so stiptelik met sy tekste nie.
Die “ridders” moes soms self inspring en woorde opmaak wanneer Burger se teks nie opgedaag het nie of onvolledig was. Dinge was so informeel dat Burger een keer gesorg het dat Oom Mêrten groete stuur vir ‘n kollega in die sendingveld in die destydse Noord-Rhodesië. Die uitdrukking “vir ‘n elk, ‘n iedere en ‘n inkilte” was syne.
Die rol van die kwasterige Oom Mêrtin is vertolk deur Jaap Rousseau, kleurryke veteraan-onderwyser aan die Grey-kollege in Bloemfontein vir amper 40 jaar, van 1926 tot 1965. Hy het Afrikaans en Latyn gegee, rugby en atletiek afgerig (met sy “plankie” altyd byderhand) en was lank huisvader van Leith-huis. Met sy DKW-motortjie, bokbaard, pyp en pet, asook sy grys sokkies en sandale as klasdrag was hy ‘n geliefde stukkie Grey-tradisie.
Doorsie, JJ van Rensburg, was Afrikaans-onderwyser op Sentraal in Bloemfontein. Voorheen was hy lid van die Hanekom Toneelskool met rolle in sowat 15 produksies in Bloemfontein tussen 1930 tot 1934. Doorsie se stem het glo glad nie die seunsagtige stemmetjieklank gehad wanneer hy voor ‘n klas staan nie, en het verklap hoe ‘n goeie toneelspeler hy was.
Oom Gabriël, Gawerjal of Gabrilêl was ‘n taamlik gereelde ridder. Maar wie het die rol vertolk? Dit lyk na ‘n vergete stukkie SAUK-geskiedenis. Ook oor ander randfigure soos Paal en ‘n vlugtige vroulike lid ontbreek inligting.
Ekself was ‘n gereelde luisteraar na die program en het graag, waar moontik, aan die wyse lippe van die vier volksredders gehang. Op my voorstel is in 1957 uit ons matriekklas van Volkies (die Hoër Volkskool, Potchefstroom) ‘n kloon gebore. Die rolverdeling was soos volg: Oom Mêrtin (Carel Weeber), Oom Gawerjal (Koos van Niekerk), Doorsie (Willem Hartzenberg) en Hennerik (die uwe).
Die viermanskap se funksie was om op debatsaande op gewigtige skoolsake te fokus. Een so ‘n saak was ‘n strategiese nuwe spreilig wat klaarblyklik as ‘n anti-vrylig moes dien om verliefde paartjies te beteuel. Op 28 September 2002 is ‘n matriekreünie ná 45 jaar op Potchefstroom gehou. Een van die soeweniers van daardie verhewe geleentheid is ‘n foto van Oom Mêrtin, Oom Gawerjal, Doorsie en Hennerik, ietwat voller van postuur, blesser, gryser – seker ook ‘n kerfie wyser! – besig net ‘n kamma-program.
NASKRIF: In die Wikipedia op Google van dr. OPM Burgers, een van die eerste heeltydse omroepers van die SAUK, word beweer dat hy die skrywer van en ook ‘n deelnemer aan die program was. Dit is nie korrek nie. Die skrywer was beslis AM Burger. Die baanbreker-omroeper Olivier Burgers was egter uit eie reg ‘n radioman wat in die beginjare van radio in Suid-Afrika ‘n betekenisvolle bydrae gelewer het. In sy latere loopbaan was hy Wes-Kaapse streekbestuurder van die SAUK. Hy was ‘n geleerde wat ’n doktorsgraad aan die Universiteit van Leiden in Nederland verwerf het met ’n proefskrif oor C Louis Leipold, asook ‘n kenner van Langenhoven, skrywer, akteur, resensent en beoordelaar by drama- en kunswedstryde. Hy tree onder meer op in ‘n Afrikaanse opvoering van Hamlet van William Shakespeare in 1947. Die radiorubriek Knap u Engels op is jare lank deur hom aangebied. Hy was, les bes, die broer van Frederik Burgers, akteur en komediant, wat vele rolprente saam met sanger-komediant Al Debbo gemaak het.
Jan 8, 2022 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Die groteske, verwronge, karikatuur-agtige gesigte van allerlei politci en ander leidsliede waarmee die Zoom-kamera TV-nuuskykers elke dag peper (hoekom dan so?), herinner my aan ‘n TV-nuusprogram wat op Sondagaand 19 Augustus 1990 op SABC uitgesaai is.
Nelson Mandela, vars uit die Victor Verster-gevangenis, was in gesprek met drie joernaliste, Tertius Myburgh van die Sunday Times, Thami Mazwai van die Sowetan en Van Deventer van Die Volksblad.
‘n Komplikasie was dat die ander in ‘n ateljee in Johannesburg was; ek het op my eentjie in Bloemfontein gesit en stip in die oog van ‘n kamera op ‘n driepoot gestaar. ‘n Tweede komplikasie was dat die aanbieder, Clarence Keyter, en die welsprekende Myburgh daardie aand spraaksamer was as ooit. Mazwai kon nog hier en daar ‘n woord inkry; Van Deventer in Bloemfontein is eenvoudig doodgepraat, wat nogal ongewoon is!
Later het die Vrye Weekblad Keyter onder skoot gekry oor die “uiters stief” behandeling wat my te beurt geval het. Charlotte Bauer het in haar TV-rubriek in die Weekend Mail geskryf my “bulk was beamed up from Bloemfontein and projected onto a large screen where it hovered, Oz-like, above chairman Keyter’s head.”
Gelukkig het ek die dag na die opname oorsee vertrek. Ek was verneder genoeg – wie wou nou nog ‘n tweede marteling verduur om na daardie swygende “Oz-like” beeld te sit en kyk!
Me. Bauer het darem ‘n bietjie salf aan die wonde gesmeer: “The most important question of the night was asked by the telvision-image-within-an-image of Van Deventer.” Volgens haar “Mandela had given out all sorts of hopeful messages for the future, but Die Volksblad’s editor was not to be consoled: ‘Mr. Mandela, does the ANC possess the communication channels and the discipline to get all these messages through to the people on the ground?'”
Sy skryf sy kan nie die antwoord onthou nie, omdat die vraag ‘n rilling langs haar ruggraat afgestuur het.
Ek onthou wel hy het bra korte mette van die vragie gemaak: Voldoende kommunikasiekanale en dissipline, ag kom nou, mnr. Van Deventer!
Ek sê maar niks.