ALMAL SE BEN

Middag uit Melkbos

Almal het Ben Smith as Ben geken. Sy seuns, Brent en Bryan, het hom Ben genoem. Sy skoondogter, Michelle, het hom Ben genoem. Sy geliefde kleinkinders, Teegan en Kyle, het hom Ben genoem. Die huishulp, Maggie, het hom Ben genoem. Letterlik almal het hom Ben genoem.

Dit sluit ook die leerskare bankamptenare in wat hy by die bankvakbond Sasbo gedien het. Ben het die land platgery om kontak te hou – twee miljoen myl, het hy bereken. Later het hy hoofsekretaris geword. Dit was goue jare vir Sasbo en vir Ben. Hy was een van die gelukkige mense wat geensins gewyfel het nie: As hy weer sou kon kies, wou hy geen ander loopbaan hê nie.

Vrydagmiddag word Ben se roudiens in die St. Stithianskapel in Sandton (Kyle se skool) gehou. Hy wat sy lewe lank ‘n hartlyer was – rumatiekkoors gehad op skool, Boys’ High in Kimberley – is dood toe sy longe op 76 finaal ingegee het. Kleindogter Teegan, ‘n kampioen- redenaar, voer die woord. Ek glo sy sal haar oupa Ben in haar huldiging ook net Ben noem, soos altyd.

Of ek teenwoordig sal kan wees, is in hierdie stadium nog onseker. ‘n Bose klomp verwikkelinge speel op die besluit in. As dinge uitwerk, sal ek graag wou. Ben was nie net my neef nie, maar ná my pa, Seun, se dood in 1946 toe ek 5 was, meer ‘n soort ouboet. Ons het as seuntjies saam vlieërs – “diamonds” en “swallows” – gevlieg op Kimberley se mynhope. Van toe af het ons paaie oor 67 jaar min of meer saamgeloop.

Op een van my en Tokkie se laaste besoeke aan Ben en Hannetjie in Kelland, Randburg, het Ben opgemerk dat ek en hy nooit vasgesit het nie. Ons het werklik nooit nie, hoewel ons sterk menings oor verskeie sake teenoor mekaar uitgespreek het. Ek vermoed ons het liewer soms diplomaties geswyg as om mekaar uit te lok!

Oor Ben kan ek die jongdae-herinneringe inryg. ‘n Herinnering, wat ek op my 70ste opgediep het, is hoe ons een aand in die Velskoen-inry ‘n oulike Rietfonteinse buurmeisie, Heather, “gedeel” het. Voor pouse het sy en Ben agter in die motor gesit. Ná pouse het hy ewe ridderlik (en met goedgunstige instemming van die nooi uit ‘n kloosterskool) met sy jonger neef plekke geruil. Ek onthou ook ‘n partytjie by een van Ben se vriende. Ons is met sy eerste motor, ‘n Opel Kapitan, daarheen. Ek en ander studentemaats het weens pure stuitigheid op die dak van die Opel gery.

Later het almal besadiger geraak. Ben het nie net in Sasbokringe groot respek verwerf nie, maar ook as mens in ‘n wye vriendekring. Almal het hom geëer as Ben die staatmaker; man met ‘n hart van goud en hande wat vir niks verkeerd staan nie, lewensbly, gasvry, mededeelsaam en opreg begaan oor sy naastes – ook intens betrokke by sy kinders en kleinkinders.

Ek en Tokkie was lief vir Ben. Ons is diep dankbaar oor alles wat Ben en Hannetjie – ‘n tuinmaker soos min wie se stukkie Eden in Kelland al op TV en in hoeveel tydskrifte was – oor die jare vir ons gedoen het. Het selfs hul huis ‘n maand lank vir ons (plus twee kleinerige kinders) oopgegooi toe ons in 1974 as vreemdelinge aan die Rand aangekom het. In hul harte was ‘n oorvloed aan omgee en gasvryheid.

Aan die einde van een kuiertjie het ek in hul gasteboek geskryf: “Jukskeiweg 8 is die regte adres vir gasvryheid sonder grense. Dit is die verkeerde adres as jy wil gewig verloor.”

Maar by daardie huis het jy verskeie dinge in oorvloed gekry. Teen die mure hang minstens 100 oorspronklike skilderye – plek-plek tot drie diep. In die manjifieke tuin is ‘n oorvloed aan skaars bome, struike en plante (soos broodbome). In die visdam swem hope reuse-koivisse. (In Ben se kas was selfs ‘n oorvloed aan onderbroeke: 45 in drie netjiese rye. Dit was letterlik “vir Afrika”, want Ben, wat Afrika in sy jonger jare platgery het met sy Sani en spesiaal geboude sleepwa, wou nie onderbroeke was as hy op safari is nie!)

Hy en Hannetjie het in Januarie 2011 vir oulaas ‘n week lank by ons gekuier. Toe ek hulle op die lughawe gaan aflaai, was ons nog nie uitgesels nie. Die foto is op ons stoep geneem – met sonsondergang. By Ben is my Tokkie en sy Hannetjie.

Ben het, tot my lewenslange dankbaarheid, op daardie besoek raak gediagnoseer wat die oorsaak is van die alewige, raaiselagtige gerammel van ons stoepdak elke keer sodra die Suidoos lostrek. Hy het dadelik ‘n stukkie plank by die hardewarewinkel gaan kry (presies die regte lengte en breedte) en dit op presies die regte plek met die hamer ingekap. Die dak is stil.

Ben het geglo ‘n Boer maak ‘n plan – hoewel sy kaste vol gereedskap later jare grootliks moes terugstaan vir die rekenaar, wat hy tot op die einde entoesiasties en met verrassende kundigheid omvattend benut het.

Nou is dit tyd vir tot siens, ou neef! ‘n Belangrike skakel met die verlede is uitgeruk. Maar jou einde het gekom soos jy dit gewens het: in jou slaap. Die lyding was genadiglik nie te lank uitgerek nie. Daaroor is ons dankbaar. Rus in vrede.

Naskrif: Oor name: Skoondogter Michelle kon dit nooit oor die hart kry om Hannetjie Hannetjie te noem nie. Sy het vasgesteek by “Mrs Smith”. Omdat dit darem nie sou deug as die kleinkinders hul ouma “Granny Smith” noem nie, het sy “Apples” geword. Dié storie het ek al vertel. Maar ek vertel dit graag weer, want Ben en “Apples” is twee erename, ook in ons boekie, vir twee wellewende mense vir wie baie ander mense om goeie redes baie tyd gehad het.
(hvd)

BEN EN APPLES

Op Melkbos se stoep: HvD, Ben en Hannetjie

Middag uit Melkbos

Die uitdrukking “vir Afrika” om oorvloed te beskryf, is vir my ietwat vreemd, want al oorvloed wat Afrika werklik ken, is oorvloed aan mense (en armoede en versukkeldheid).

By my neef Ben Smith en sy vrou, Hannetjie, in Jukskeiweg, Kelland, Randburg, kry jy meer as een ding in oorvloed. Teen hul mure hang minstens 100 oorspronklike skilderye – plek-plek tot drie diep. In die manjifieke tuin (al gewys op TV en in tydskrifte) is ‘n oorvloed aan skaars bome, struike en plante (soos broodbome). In die visdam swem hope reuse-koivisse. In hul harte is ‘n oorvloed aan omgee en gasvryheid.

In Ben se kas is ‘n oorvloed wat letterlik “vir Afrika” is. In drie netjiese rye lê 45 onderbroeke . Dit is “vir Afrika”, want Ben, wat Afrika in sy jonger jare platgery het met sy Sani en spesiaal geboude sleepwa, wou nie onderbroeke was as hy op safari is nie!

Aan die einde van ons Sabiepark-vakansie het ek en Tokkie drie dae by die Smiths gekuier. Voor ons vertrek het ek in hul gasteboek geskryf: “Jukskeiweg 8 is die regte adres vir gasvryheid sonder grense. Dit is die verkeerde adres as jy wil gewig verloor.”

Ja, Hannetjie is nie net ‘n voorslag-tuinier wat pryse inpalm en as ‘n soort Moeder Owerste vir die Soweto-tuinbouklub praktiese uitreik beoefen nie – sy is ook kosmaker by uitnemendheid. Sy toor met hoender! Haar wenresepte swerf die wêreld vol.

Oor Ben en Hannetjie sal ek maklik te lank skryf, want ek en Tokkie is aan hulle baie verskuldig – het o.m. een keer ‘n maand lank met kinders en al by hulle ingetrek toe ons aan die Rand moes nesskrop in 1974. Daardie twee huiwer ook nie om op die vliegtuig Kaap toe te klim vir troues, verjaardae en sulke spesiale dae by die Van Deventers nie.

Toe hulle hier was vir my 70ste het Ben, tot my lewenslange dankbaarheid, raak gediagnoseer wat die oorsaak is van die alewige, raaiselagtige gerammel van ons stoepdak elke keer sodra die Suidoos lostrek. Hy het dadelik ‘n stukkie plank by die hardewarewinkel gaan kry (presies die regte lengte en breedte) en dit op presies die regte plek met die hamer ingekap. Die dak is stil.

Ben se hande staan vir niks verkeerd nie. Hy glo ‘n Boer maak ‘n plan – hoewel sy kaste vol gereedskap nou grootliks moet terugstaan vir die rekenaar, wat hy op 76 entoesiasties en met verrassende kundigheid omvattend benut. Sy versameling foto’s (nooi geweet Mr. Bean het so ‘n wulpse dogter dogter nie!), video’s, slimstories en wat nog op sy hardeskyf is om jou hande oor saam te slaan. Hy weet presies waar om wat te soek.

Nou in Johannesburg het Ben opgemerk dat ek en hy nog nooit vasgesit het nie. Ons het werklik nooit nie, vandat ons as seuntjies saam vlieërs – “diamonds” en “swallows” – gevlieg het op Kimberley se mynhope. Ook nie toe ek jare later, in Pretoria, met sy motorfiets in Pretoria neergeploeg het nie. Ons sit nou op ons oudag nie nog nie vas nie, hoewel ons albei sterk menings oor verskeie sake het. Ek vermoed ons swyg liewer soms diplomaties as om mekaar uit te lok!

Oor Ben kan ek die jongdae-herinneringe inryg. ‘n Herinnering, wat ek op my 70ste opgediep het, is hoe ons een aand in die Velskoen-inry ‘n oulike Rietfonteinse buurmeisie, Heather, “gedeel” het. Voor pouse het sy en Ben agter in die motor gesit. Ná pouse het hy ewe ridderlik (en met goedgunstige instemming van die nooi uit ‘n kloosterskool) met sy jonger neef plekke geruil.

Ek onthou ook ‘n partytjie by een van Ben se vriende. Ons is met sy sy eerste motor, ‘n Opel Kapitan, daarheen. Ek en ander studentemaats het weens pure stuitigheid op die dak van die Opel gery.

Almal ken Ben as Ben. Sy seuns, Brent en Brian, noem hom Ben. Sy skoondogter, Michelle, noem hom Ben. Sy kleinkinders, Teegan en Kyle, noem hom Ben. Die huishulp, Maggie, noem hom Ben. Letterlik almal noem hom Ben.

Dit sluit ook die leerskare bankamptenare in wat hy by die bankvakbond Sasbo gedien het. Ben het die land platgery om kontak te hou – twee miljoen myl, het hy bereken. Later het hy hoofsekretaris geword. Dit was goue jare vir Sasbo en vir Ben. Hy is een van die gelukkige mense wat geensins twyfel nie: As hy weer kan kies, wil hy geen ander loopbaan hê nie.

Oor name: Die Smiths se skoondogter, Michelle, kon dit nooit oor die hart kry om Hannetjie Hannetjie te noem nie. Sy het vasgesteek by “Mrs Smith”. Omdat dit darem nie sou deug as die kleinkinders hul ouma “Granny Smith” noem nie, het sy “Apples” geword.

Dié storie het ek al vertel. Maar ek vertel dit graag weer, want Ben en “Apples” is twee erename, ook in ons boekie, vir twee wellewende mense vir wie baie ander mense om goeie redes baie tyd het! (HvD)