SOMMER NET ‘N SONDAG

Wees gewaarsku dat hierdie storie sommige kan verveel. Alledaagshede kom voor soos ‘n oorstroomde wasbak, gestorte wyn en ‘n kierie wat op ‘n ongemaklike plek beland.

Daar is darem ook seekoeie, koedoes, waterbokke en ‘n luiperd betrokke wat aan die gegewe kleur gee.

Dis sommer net ‘n  storie oor ‘n Sondagmiddag in Sabiepark.

As dit ‘n spanningsverhaal was. sou dit so kon begin het: ‘n Kreet klink uit die badkamer op (kies self ‘n byvoeglike naamwoord). Die kreet het gekom van gade Tokkie. Dit was een van ontnugtering en frustrasie.

Die wasbak se kraan het sterk bly drup (verdagte die uwe) en die uitvloeipyp was deur die prop geblokkeer. Die vloer was ‘n see, die matjies druipnat en die onderste blad van die wasbakkassie besig om vinnig toiingrig te raak.

Mev. Van D moes dadelik ingryp en al kruipende omvattend opruim terwyl die verdagte staan en wonder hoe om vir sy skuldgevoelens te kompenseer.

Die blink idee skiet hom te binne van ‘n rustige glasie wyn by die piekniekplek – altyd ‘n kalmerende invloed op ‘n versteurde gemoed.

Tokkie sien dadelik uit die uitkykplek ‘n klomp seekoeie wat lui in die water skommel en ‘n troppie waterbokke op die oorkantste oewer.. My oog val op ‘n paar koedoes.

Algou is harmonie herstel.

Ek sit die wynsak op ‘n bankie neer om die toneeltjie in te drink. Ongelukkig skeef.  Volgende oomblik vorm op die houtvloer onder die bank ‘n poeletjie: die wyn. Die pop was nie deeglik teruggesit nie. Alles het uitgeloop.

Moedeloos oor die pynlike verlies, sak ek op die bank agteroor en probeer om die beskuldigende blik van my gade te vermy. Volgende oomblik hoor ons: kadoef. Dis my kierie – die ene van Transvaalse kiaat met die spoggerige vlakvarktand wat wyle Jan Scholtz vir my gemaak het. Het dit ietwat te agtelosig neergesit en daar gly dit uit die uitkykplek oor die elektriese heining tot op ‘n klipwering in gevaargebied waar die spore van luiperds en slange duidelik in die omringende sand te bespeur is.

Al genade is dat ek Craigen Ncube by die hek gaan roep en hom mooi vra om die waardevolle kierie te gaan herwin. Op pad na sy kantoortjie by die hek skuur ek by ‘n mede-Sabieparker verby. Het julle die luiperd gesien, verneem hy, en verduidelik waar die dier agter die gras verdwyn het. Dis waar die koedoes nou rustig wei.

Craigen onderneem die herwinning van die kierie. Net toe roep iemand: luiperd! Daar’s hy, roep Tokkie opgewonde. Maar ek sien niks – net oewerbos, die Sabierivier en die koedoes.

Daar’s hy weer, roep Tokkie. Sy beduie na ‘n groot wit klip ooswaarts naby die Krugerhek van die wildtuin. Jou wrintie, toe hy regs swenk bos toe, vang ook my oog beweging. Vir ‘n oomblik sien ek die pragdier in sy volle glorie. Al die pyn is skielik vergete.

Ons kan terugkeer huis toe waar die badkamer droog is en gelukkig nog koue wyn in die yskas wag – boonop met die baie spesiale lekker gevoel wat Sabieparkers ervaar as hul luiperds of leeus by die piekniekplek gewaar het.

Nog ‘n Sondagmiddag langs die Sabierivier eindig met die son wat die westerkim helderrooi laat gloei.

Ekskuus as my storie te doodgewoon is. Daar gebeur nou maar een maal nie altyd opspraakwekkende dinge om oor verslag te doen nie. Veral nie op Sondagmiddae nie.

VERRASSINGS WAT WAG BY DIE KRUGERBRUG

Die kleurekontras tussen die houtskool van ’n olifant se enorme lyf, die wit van sy tande, die blou van water, asook die verskillende skakerings groen van gras en allerlei riviergewasse sorg altyd vir ‘n treffende natuurprentjie.  Jy kan net die kamera mik en die knoppie druk.

Hierdie foto van daardie aard is vanoggend by die hoogwaterbrug oor die Sabierivier by die Krugerhek van die wildtuin geneem. Drie olifante het vlak langs die brug se relings gawe fotogeleenthede geskep – ook vir selfies.

Die drie olifante – nadat die gewoonlik volop spesie ons tot dusver hierdie wintervakansie ontwyk het – onderstreep my gereelde raad aan kuiergaste in Sabiepark: As jy gelukkig is, kan jou wildtuin-ervaring begin voordat jy die Krugerhek binnery.

Ja-nee, dis raadsaam om stadig en rondkyk-rondkyk te ry sodra jy die hoogwaterbrug oor die Sabie bereik. Party mense jaag blindelings oor die brug hek toe. Hulle besef seker nie wat hulle alles kan miskyk nie.

Teeltroppe olifante kom gereeld hierlangs in die Sabie voor. Dit is ‘n “uithangplek” waar die grootvoete graag hul slurpe laat sak.  Besoekers het al hope olifante buite die hek afgeneem. Selfs teenaan, en in skynbare “gesprek” met, die forse granietbeeld van Pres. Paul Kruger.  Twee keer het olifante ons ingewag langs die groot bord wat lui: “Welcome to the Kruger National Park”. Dit was asof hulle gekontrakteer is vir reklamefoto’s vir Sanparke. Wonder wat sou ‘n olifant se tarief per uur wees! Gelukkig was my kamera albei kere byderhand.

Soms dam die motors op die Krugerbrug op soos op ‘n Saterdagoggend by ‘n stedelike sakesentrum. Skares mense hang oor die relings. Kameras flits.

Allerlei ander verrassings is moontlik, byvoorbeeld ‘n klompie bemodderde buffels, ‘n verdwaalde renoster (dalk nie meer nie) of selfs ‘n leeu of luiperd – ‘n gelukkie wat ons een Sondagoggend op pad Skukuzakerk toe oorgekom het.   Amper was ons nie betyds vir die laaste gelui nie.

 

 

 

IN MEMORIAM

1-IMG_7168

‘n Stroomversnelling in die Sabierivier vlakvoor die middelste van Sabiepark se drie uitkykpunte by die piekniekplek sorg vir ‘n konstante gedruis – soete watermusiek wat tot op ons stoep by Tarlehoet in Wildevy die oor streel.

Die water wat voor jou oë skielik lewe kry en skuimende wit tussen die klippers koers kry Skukuza se kant toe, wek ook mymeringe.
Vanoggend sit ek daar en mymer oor lewe en dood. Die lang lys afgestorwene Sabieparkers in die vorige boekj.aar bly maal in my gedagtes.

Die lys van tien name is die langste in die 20 jaar dat ek Sabiepark se jaarvergaderings bywoon. Dit sluit bekende mense in soos regter-president Frikkie Eloff (erf 362) en sy vrou, Wanda, wat ‘n maand uitmekaar oorlede is.

Twee van die oorledenes, Anne Weiland (erf 42) en Connie Openshaw (erf 92), niggie van Flip en Linda Nel van Kaapstad, was kuiergaste by ons plek, Tarlehoet.
Die ander ses was Wessel Germishuysen (erf 289), Benno de Klerk (erf 133), Hannetjie Lourens (erf 52), Christo Makaal (erf 85), Dave Barnett (erf 217) en Willem Badenhorst (erf 132).

Ek dink daaraan dat elkeen van hulle, soos ek, op hierdie bankie gesit het, bekoor deur grootse toneel voor hulle, en intens bewus van die watergeruis – des te harder soos die vlak van die rivier ná reën in die berge by Sabie styg.

Daardie geruis sal die tien nie weer hoor nie. Maar die Sabie sal steeds bly vloei: steeds jaar in en jaar uit voor die piekniekplek verbykom in ‘n kalm stroom lewegewende water wat ineens opbreek in ‘n tiental klaterende versnellings.

‘n Mens dink aan onsekerhede soos hoe lank nog vir jou oor is. Jy dink ook aan sekerhede soos die lewe wat tot aan die einde van die aarde sal bly voortgaan en die simbole daarvan – soos die Sabierivier aan jou voete.

OLIFANTE ONBEPERK

More uit Sabiepark

‘n Effense lugtigheid sal my seker verskoon word toe ek vir oulaas die Honda se neus op die S3-rivierpad inswaai vir ‘n Hazyview-besoek. Die vorige twee dae was by Sabiepark se piekniekplek skouspelagtige olifant-tonele: ‘n teeltrop van 40 – waaronder ‘n menigte kleintjies – was in, langs en oor die Sabie, dan hierdie kant, dan daardie kant. Die vorige aand is olifant-teenwoordigheid in niemandsland aan die duskant van die rivier tot laat luidkeels verkondig.

Ek het nie vergeet hoe ek in Junie my op die Onder Sabie-teerpad in ‘n trop aanmarsjerende olifante vasgery het nie. Dit was keel-toetrek-oomblikke. Op die smaller, stiller, beboster S3 kon-gondpad so iets baie erger wees.

Moes immers al voorheen daar ver ente agteruit ry of die versneller wegtrap dat die gruis spat, maar dan was dit telkens darem net een ou bul se moedswilligheid.

Op pad terug kry ons die groot trop toe wel. Gelukkig egter geen bedreigende situasie nie. Die meeste is op ‘n fluks drafstap voor ons verby oor die pad rivier toe. In die tru-spieëltjie kon ek sien ook agter ons is ‘n paar oor die pad.

In ons boshuis Tarlehoet is vele herinneringe aan olifant-ervarings. Teen die mure hang minstens vier groot prenterame met foto’s. In die boekrak is, buiten my Mayafudiboeke, ook ‘n bundeltjie oor ons eerste dekade in Sabiepark, wat in 2007 ten einde geloop het. Die titel is “Olifante Onbeperk”.

“Olifante Onbeperk” inderdaad.

Nooit, nooit in al die jare is ‘n vakansie dermate deur olifante oorheers soos hierdie nege weke in die winter van 2013 nie. In “Solly se boekie” by die ingang van die piekniekplek – Solly is die opsigter daar – was in hierdie tyd 15 inskrywings van 10 olifante of meer. Lyk soos die telkaart van ‘n stewige kolfbeurt: 40, 40, 30, 20 ….
En nie almal teken hul waarnemings getrou aan nie.

Onder die olifant-toeskouers was Frank en Wendy, twee Australiërs wat in Sabiepark gekuier het – tog nie “Australianers nie, asseblief! – en ‘n Britse vrou wat net die vorige nag uit Londen ingevlieg het. Daardie selfde middag word haar droom toe bewaarheid om olifante in lewende lywe te sien.

Frank en Wendy gaan nog wyd reis in Suid-Afrika, onder meer ook na die Addo-olifantpark. Ek kon hulle been trek dat hulle besmoontlik in Addo minder olifante gaan sien as in Sabiepark. Hoop darem nie so nie, maar ‘n trop van 40 sien ‘n mens nie elke dag nie … nêrens nie.
Nie net die olifant-verkeer hierdie vakansie was uitsonderlik druk nie. Minstens ses buffeltroppe van 100 of meer het kom water drink. Gistermiddag het sowat 200 (party Sabieparkers meen 300) lank in en langs die Sabierivier gekuier. Indrukwekkend.

Twee renosters het, aldus “Solly se boek”, kom water drink. Die Van D’s het dit nie gesien nie.

Die ou groot luiperd, die “Baas”, is verskeie kere gesien; een keer toe hy ‘n impala plat trek. Ook vir hom het ons telkens misgeloop. Een keer net-net maar wel tog. Ons soek nog ‘n luiperd in die volgende paar dae, anders gaan ons huis toe sonder die Vyf Grotes op ons kerfstok! Die kleinkinders sal dit kwalik glo.

Oor die “Baas” is die nuus dat hy in die Wildtuin verdoof is toe hy ‘n wyfie se prooi probeer vaslê. Sy nekband is verwyder omdat die sender nie meer sy doel gedien het nie. Diegene wat gevrees het dat die band ongemaklik styf begin raak het, kan dus weer asem haal.

En leeus? Elders ‘n paar raakgeloop ja, maar weet nie van enige besoeke hierdie vakansie aan die piekniekplek nie, hoewel leeus twee aande taamlik naby gebrul het as ek my nie misgis het nie.
(hvd)

OM STIL TE SIT EN TE ERVAAR

Middag uit Melkbos

Oor “Duisend dae in die Sabie” het Vrydag ‘n “gulle”* resensie in “Die Laevelder” verskyn. Die resensent is Marius Bakkes, ‘n media-raadgewer en redakteur van reis- en toerisme-tydskrif in die Laeveld, en bestempel homself o.m,. as “bymekaarmaker van alles wat oor die Laeveld geskryf word.”

Bakkes skryf:

“Oud-koerantman Hennie van Deventer se “Duisend dae langs die Sabie” is ‘n hedendaagse werfjoernaal wat veral tot baie in die Laeveld sal spreek. Dis die aantekeninge en kant-aantekeninge van etlike jare se gereelde verblyf by sy vakansiehuis in Sabiepark.

“Hierdie is ‘n uitsoek- private ontwikkeling op die walle van die Sabierivier digby die Krugerhek. Talle bekende Suid-Afrikaners en wildliefhebbers het oor die jare daar vakansieplekke en woonhuise gehad. Ek dink aan Mimi Coertse en die sakeman Werner Ackerman. Die bekende Afrika-wildlewe-kinematograaf David Hughes en sy fotograafvrou het op ‘n stadium permanent hier op Sabiepark gewoon. Oor hulle het ek weer ‘n SAUK-televisiedokumentêr kom maak na die bekendstelling van Hughes se suksesvolle National Geographic-produksie “The last feast of the crocodiles”. Die bekende argitek, kunstenaar en bewaringskundige, Hannes Meiring wat onlangs dood is en sy vrou, die joernalis Martie Retief het my en ‘n paar vriende een slag die eksklusiwiteit van Sabiepark laat beleef. Hannes en Martie het hulle lieflike Afrika-huis hier op die rivierwal vir ‘n naweek tot ons beskikking gestel nadat hulle weer op ‘n keer my wegbreekhuisie op Rhodes in die suidelike Drakensberge besoek het.

“Van Deventer was onder meer redakteur van Volksblad in Bloemfontein. Hy het as uitvoerende hoof van koerante by Naspers afgetree. Sy vol lewe as persbaas het hom egter nie verhoed om talle publikasies, meestal herinneringskrifte en vertellings die lig te laat sien nie. Duisend dae langs die Sabie is die jongste en handel oor die ervarings wat van Deventer en sy mense oor die jare hier beleef het. Die van Deventers wissel woonplekke met ‘n aftree-strandhuis by Melkbosstrand af.

“Hier op Sabiepark is hy en sy vrou Tokkie fyn waarnemers. Synde oorkant die rivier van die Krugerwildtuin bly Sabiepark met sy woonhuise verskuil van mekaar tussen die bosse die ideale plek op die wildbedrywighede te bestudeer en van naby te beskou. Dikwels is dit sommer van die stoep af, en dis dit wat van Deventer hier raakvat.

“Sy poging is ‘n goeie voorbeeld vir enigeen van ons wat graag veldnotas maak. Hy dra sy belewenis gul oor en maak mens lus om net weer iewers in ‘n ruskamp of reservaat te wees – stil te sit en te ervaar.

“Vir my as bymekaarmaker van alles wat oor die Laeveld geskryf word, is dit ook ‘n belangrike publikasie. Dit is nog ‘n ervaring aangeteken en ‘n tydgees vasgevang. Dikwels is dit daardie enkele eenvoudige herinneringskrif bedoel net vir familie wat die geheim van mens en plek soos dit eens op ‘n tyd was die beste ontsluit. Hier is dit ‘n deurwinterde Afrikaanse joernalis aan die woord.

“ ‘Duisend dae langs die Sabie’ is te kry by die Park Shop-winkels in die wildtuin. Dis ook beskikbaar by Protea Boekehuis in die Tarentaalsentrum in Nelspruit. “
*Ek leen die woordjie “gul” by die resensent, wat bevind dat die skrywer sy belewenis “gul” oordra en ‘n mens “lus maak om weer iewers in ‘n ruskamp of reservaat te wees – stil te sit en te ervaar”. Die opskrif is: “’n Unieke werfjoernaal”. (HvD)