WATERGAT LEWE WEER

Middag uit Sabiepark

Tarlehoet se drinkgat in sy nuwe gedaante is ingewy.
Die “nuwe gedaante” is natuurlik te danke/te wyte aan die rondloper-olifantbul wat in April ‘n gat in die bodem van die oue getrap het. Aanvanklik het dit gelyk of die diere draai daarom loop.
Die koedoes was die eerste wat nader gestaan het. Ons was seker hulle het by ons water rug geknak. Die gereeldste besoekers vanouds, die sebras, het weggebly. Belowende sebramis is by die gat gesien, maar geen sebras nie.
Toe was Tokkie gordyne. Toe sy die badkamer s’n ophang, bemerk sy deur die venster gestreepte lywe wat om die water saambondel. Dieselfde aand was daar ‘n herhaling – ongelukkig al net te donker vir ‘n foto.
Ons het al ‘n slag of wat weer die naguiltjie se roep gehoor na lang stilte. Op 4 Julie het Jaco, Lientjie, S.J. en Bernard van Wyk uit Pretoria kom kuier. Met die komplimente van die natuurkenner Jaco kon ons toe die stryd van ‘n mierleeu en ‘n miersoldaat aanskou. Epies.
Ses loeries het hul welkome opwagting in ‘n rooiboswilg gemaak. Twee duikertjies luister skemeraande op. Gebande muishondjies het Tokkie se brekfisworsies op die agterstoep probeer steel.
By die piekniekplek was ‘n historiese eerste twee luiperds wat op die groot rots paar. Luiperdseisoen is weer in volle gang. ‘n Waarskuwing is by die hek opgesit. Luiperds is by huise in Rooibos en Maroela gewaar. Een het glo selfs verby swembad gestap. ‘n Mannetjie het vlugtig by die piekniekplek opgeduik. Ons was op die uitkykdek maar het hom misgekyk! Ilona Fick van 230 het hulle gesien en gehoor.
‘n Leeumannetjie, buffels en olifante is binne ‘n halfuur van 281 (Awie en Sunet Greeff) se stoep gesien. Leeus brul snags vir ‘n val
In die Wiltuin sien ons redelik gereeld renosters. Op ‘n stil rit op die S3 het naby die hek skielik lewe gekom. Dertig olifante het vlakvoor ons die S3 van Sabiepark se kant af oorgesteek.
Solly het ‘n (verrassende) herverskyning by die piekniekplek gemaak – op die oog af heelwat gesonder. (hvd)

SKUKUZA VERLAM

Nogal ‘n bisarre belewenis as Skukuza, slagaar van die Krugerwildtuin, in die hart van die wintervakansie om 14:30 op ‘n weekdag ‘n verlammende kragonderbreking beleef.
Die winkel en poskantoor is stikdonker. In die donker hool van ‘n poskantoor sit die twee toonbankklerke soos spoke agter die toonbank. Selfs nie ‘n kers is in sig nie. Hul hande is afgekap. Kon nie eens aan Tokkie n posseël verkoop nie.
In die winkel is dit sake soos gewoonlik – wel, nie heeltemal nie. Winkelpersoneel vergesel die klante met priemende flitse in die donker gange. Een help Tokkie die piesangrak opspoor en skyn bedagsaam sy flits in haar handsak toe sy in die duisternis sukkel om haar beursie vas te vat.
Uit die waskamer klink vrouestemme in strelende harmonie – dit is die ledige wasservroue wat hulleself in ‘n impromptu-koortjie georganiseer het toe die wasmasjiene en tuimeldroers tot stilstand knars en die strykysters koud word.
By die vulstasie staan al die petrolpompe. Arme drommels wat dringend brandstof nodig het vir die reis verder moet maar wag en hoop ….
In die donker toilette moet jy goed mik.
Deur die ontvangskantoor se vensters val genoeg sonlig sodat ongeduldige toue toeriste wat wag op hul rondawels se sleutels, geholpe kan raak. Maar dit is ‘n harmansdrup-proses, lyk dit, so sonder rekenaars en ander broodnodige tegnologie wat van elektrisiteit afhanklik is.
Arbeid wat sonder ‘n oomblik se verposing voortgaan, is die van die suikerbekkies wat by die ontvangsblok met hul lang snawels die nektar uit die bloedrooi aalwyne in volle blom suig. ‘n Skare fotograwe met lang lense staan gereed vir ‘n prysfoto. Party staan knielend vir die regte oomblik en wag.
Moet darem sê dat karige lig vir die kameragarde geen problem was nie. In die helder sonlig was die aalwyne bloedrooi en die suikerbekkies se kleurryke klede so skitterend as kan kom. (hvd)

HAAS-TIGE HOND

More uit Sabiepark

‘n Hond hardloop vir sy ete; ‘n haas hardloop vir sy lewe. Die waarheid van hierde kwinkslag het ek en Tokkie gister in die Krugerwildtuin die eerste keer met ons eie oe gesien. Naby die Phabenihek het ‘n haas skielik uit die gras gevloog, ‘n draai op die teerpad gegooi en die veld in die hasepad geskies. Op sy hakke was ‘n kwylende wildehond. Die afstand het bly rek …..

Op dieselfde uitstappie ‘n visarend gesien waarvan die jag geslaagder verloop het. Hy is hoog bokant die bome oor ons koppe langs die Sabierivier met ‘n stewige vis in die kloue.

Twee witrenosters het op die Doispanepad bedagsaam uit die bos gestap. Ek meld die “wit” omdat twee swartrenosters die laaste ruk ‘n paar maal by die piekniekplek kom drink het. Ons het hulle nog nie gesien nie. Wel baie olifante gesien en gehoor.

By die huis was die nagapies van die eerste aand aktief. Sebras maal om die huis rond. Het ook al besoek van ‘n kameelperd, koedoes en twee vlakvarke ontvang.

Die nuwe watergatjie lyk goed en lek klaarblyklik nie. Ongelukkig loop die diere nog draaie om die plek. Dalk die kleur van die sement?

Sabiepark is ‘n nuwe klein kameelperdjie ryker. Het hom gister in Apiesdoring afgeneem.

Lyk of die einde van ‘n era by die piekniekplek aanbreek. Sollie is erg siek. Hy is gister huis toe gestuur.

(hvd)