SAL VLIEG HOOG MET FEES DER FEESTE

Kos vir Afrika. Grafiese voortelling in ‘n koerant van alles wat op die spyskaart was.
By sy 90ste verjaardag op 2 Februarie 2024 het die verrinneweerde Suid-Afrikaanse Lugdiens bloedmin om te vier. By sy 50ste in 1984, 40 jaar gelede, was, in skrille kontras, ‘n fees sonder weerga.
Van 2 Februarie, die lugdiens se stigtingsdag in 1934, tot 23 November 1984 is sy “50 goue vlugjare” swierig gedenk. ‘n Historiese gedenkvlug, tienduisende goud- en silwergedenkmunte en medaljes, eerstedagkoeverte, spesiale seëls, dokumentêre rolprente en glanspublikasies propvol foto’s het luister verleen.
Die fees is met ‘n manjifieke galabanket afgerond, Sowat 4 500 gaste is uit elke uithoek ingevlieg vir die partytjie van die dekade in ‘n dubbeldoor–Makroloods op die lughawe Jan Smuts (nou O.R. Tambo). Die Amerikaanse ruimteman Buzz Aldrin, vlieënier van die eerste maanlandingstuig tydens die Apollo 11-ruimtesending, was die eregas.
Vliegtuigentoesiaste was in die wolke oor nog ‘n uitskieter-element: die merkwaardige herskepping van ‘n Junkers-vliegtuig uit die pionierdae wat verlate op ‘n vliegveld in die Britse platteland opgespoor is. ‘n Uitgesoekte span tegnici het die boksvormige veteraan stukkie vir stukkie tot lugwaardigheid herbou.

In die wolke . Lugwaardinne in wasige wit uitrustings het by die banket wolkies uitgebeeld. By hulle is Gert van der Veer, bestuurshoof, en Marie-Hélène Maguire, ‘n senior bestuurder in die skakelafdeling. Foto: Verskaf.
Op 2 Februarie 2024 op sy 90ste bevind die lugdiens hom – of wat van hom oor is – in sakeredding en spartel hy om met ‘n afgetakelde vloot en ruime reddingsboeie van die staat terug in die lug te kom. Die Latynse spreuk sic gloria transit mundi is perfek van toepassing: die ou glorie is droewig daarmee heen.
Reeds in die 70’s het ‘n SAL-span begin prakseer kry om van sy halfeeufees ‘n gedenkwaardige okkasie te maak. Een ideaal was om sy kleurryke geskiedenis te romantiseer. ‘n Duitse Junkers Ju 52/3m – die eerste “moderne” vliegtuig in die SAL–vloot – was in die visier.
‘n Net is uitgegooi, maar ‘n herwinbare Ju 52/3m was ‘n naald in ‘n hooimied. Eindelik is ‘n vervalle CASA 252L, ‘n feitlik identiese weergawe wat op lisensie in Spanje gebou is, opgespoor. Hy is op ‘n skip gelaai Suid-Afrika toe en tegnici het aan die werk gespring om hom te herbou. Die 52/3m is die “Jan van Riebeeck” gedoop en as ZS – AFA geregistreer.

2 Februarie 1984. ‘n Herboude Junkers Ju 52/3m genaamd “Jan van Riebeeck” styg in ‘n rookwolk op vir ‘n simboliese vlug. Foto: Len Preskow.
‘n Simboliese vlug met die “Jan van Riebeeck” sou op 2 Februarie 1984 van Durban na die Randse lughawe by Germiston onderneem word – een van die eerste roetes wat in die 30’s met die Junkers en 17 passasiers aangedurf is. Die Tropiese storm “Demoina” het, helaas ‘n onstuimige stokkie voor die droom gesteek.
Jan Smuts is as alternatief ingespan. Blink gepoets en uitgevat in die kenmerkende oranje, blanje, blou van die ou SAL het die 52/3m op 2 Februarie van die hoofaanloopbaan opgestyg. Om 14:30, presies op skedule, het hy op die Randse lughawe neergestryk.
Van die ou staatmaker met sy drie kragtige Pratt & Whitney-motore het kaptein Flippie Vermeulen van die SAL die gevleuelde woorde kwytgeraak dat sy klank musiek is, sy reuk parfuum en sy beweging pure plesier. Vir die nostalgiese skares was die opstyging, brullend en in ‘n rookwolk, asook die seepgladde landing van ZS – AFA beslis die puurste plesier. “Tante Ju” soos die vliegtuig deernisvol in lugvaartkringe bekend was, is op albei lughawens geesdrigtig toegejuig.
Die gala-banket was op Vrydagaand 23 November – asemrowend in omvang en eksieperfeksie in uitvoering. Jan Smuts se grootste en nuutste loods, ‘n kolossale struktuur van derduisende vierkante meter wat staanplek vir twee Boeing 747’s en ‘n rits kleiner vliegtuie bied, is as onthaal-area ingeruim. ‘n Personeelkorps van 1 000 het gespring om alles te laat vlot.

Manjifieke massa-tablo by Makro.
Gert van der Veer, bestuurshoof wat die aand gasheer was, en Marié-Hélène Maguire, ‘n senior bestuurder in die skakelafdeling wat aan die spits van die reuse-organisasie was, raak nou nog meegevoer as hulle die groot aand in herinnering roep. Albei onthou die harde werk, maar die vreugde van ‘n taak wat met lekkerkry klaar gekry is.
‘n “Lavish bash”, het koerante die banket genoem. Die koste is konserwatief op R650 000 geraam. Vandag klink R650 000 na kleingeld. Omgesit in huidige waardes praat ons van R12 miljoen rand – die prys van ‘n herewoning in ‘n spogbuurt. Die leeue-aandeel het uit die diep sakke van internasionale verskaffers gekom. Boeing van Seattle en Airbus van Frankryk, asook die Amerikaanse enjinbouer Pratt & Whitney, het met graagte opgedok. Die SAL was immers ‘n gesogte voorkeur- kliënt.

Marie-Hélène Maguire – sy raak nou nog meegevoer.
Die gaste, uitgevat in formele aanddrag, kon uit die bladsye van die jongste “Who’s Who” gestap het: kabinetslede, regters, generaals, myn- en nywerheidsbase, top-sakelui, senior amptenare, glansmense reisagente, media …. Koerantredakteurs is gelukkig ook genooi. So het die uwe en sy gade by een van die keurige tafels met spierwit damask, die fynste kristal, silwer en porselein beland, en ‘n ete-ervaring beleef soos geen ander in sy 83 jaar op aarde nie.
‘n Blommeskouspel het gaste verwelkom. Emmersvol koningsproteas uit die Kaap het die onthaal-spelonk opgehelder. ‘n Span lugwaardinne in wasige wit uitrustings het wolkies uitgebeeld. Van ‘n orkesverhoog het die strelende klanke van Mozart en Rachmaninoff aangesweef gekom. ‘n Plaat kunstige beelde uit ys gehou: reuse-visse – vir my gelyk soos dolfyne of tornyne – seeperde en swane het rondgestaan. Gade Tokkie het 24 getel.
Dr. Anton Rupert was die hoofspreker. ‘n Dramatiese hoogtepunt was ‘n manjifieke massatablo van militêre orkeste en SAL-kapteins voor ‘n skitterblink Boeing 747 terwyl Mimi Coertse voorgaan met die sing van “Die Stem”.
Op die spyskaart was ‘n seleksie van seekosse, ‘n rojale vleisverskeidenheid – veral hope wildsvleis (elandfilet, springbok en volstruis) om buitelandse gaste gastronomies te oorrompel – groente en vars vrugte vjr Afrika, kraakvars broodjies uit die oond, en allerlei uitsoek-lekkernye soos ganslewer, eksklusiewe kase, koek, roomys en sjokolades.
Fynproewerwyn vir elke smaak – die beste uit die voorste kelders in die Boland – was volop, en ook vir elke tafel sy toegewysde kelners, ‘n hele garnisoen van weermagrekrute. Jy kon net vra: duur whiskey, brandewyn, jenewer, vodka en rietblits is binne enkele oomblikke rinkelend voor jou neergesit.
‘

Die goue proefmunt ter herdenking van die SAL se halfeeufees. Op die een sy vlieg ‘n Boeing 747 en ‘n de Havilland DH-60 “Gipsy Moth”-dubbelvlerk van links na regs. Op die keersy is die ou vlieënde springbok-embleem en ‘n groot 50. Onder die jaartal 1984 is die munt se inhoud: “FYNGOUD 1 oz. FINE GOLD”.
n Ondernemende koerant – die Sunday Times meen ek – het die skakelmense agterna oor hoeveelhede gaan uitvra – en antwoorde gekry wat die asem wegslaan. Om te begin met die wildsvleis: 1 800 kilogram eland, 1 500 kilogram springbok en 450 kilogram volstruis. Voeg by: 150 kilogram beesfilet, 325 kilogram gebraaide bees, 320 kilogram kalkoen, 120 kilogram skaap en 80 kilogram vark. ‘n Optelsommetjie laat die verstand duisel.
Ander verbluffende syfers: Broodrolletjies: 6 000; roomys en koek: 4 500 porsies. Wyn: 400 kiste; whiskey: 15 kiste; brandwyn, jenewer, vodka en rietblits: 10 kiste elk. Garnale: 150 kilogram; kingklip: 450 kilogram. Groente: 400 kilogram; vars vrugte: 1 200 kilogram. Souse: 50 kilogram; slaaie: 100 kilogram, paté: 175 kilogram, kaas: 150 kilogram. Truffels, paté de foie gras, pralines en sjokolade: 12 000 stukke.
Die lakonieke vraag van my spitsvondige swaer, wyle Fanie van Wyk, toe ons in Bloemfontein tuis kom: “Moes julle jul eie Rennies koop?” Hy kon wel vra.