Oct 4, 2016 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Nooit gedink as ek kaartjies vir ‘n familiebyeenkoms begin pos dat een gerig sal wees aan Rolene Strauss (Roelien, soos ek haar geken het) nie. Natuurlik sal ouma Elsie van Bloemfontein ook genooi word. Oupa Johann is ongelukkig al geruime tyd langboompies toe.
Die verrassende nuus van bloedverwantskap met die pragtige jong vrou kom uit die deskundigste bron moontlik: die staamboom-towenaar Theo Verwey wat lyne kan trek doer uit Koning Dawid se dae uit (ja waarlik, dis waarheen my eie paadjie terugloop). . Daar is nie ‘n Springbokrugbyspeler nie, of Theo kan vir jou sy stamboom woerts-warts op die tafel sit.
Gereeld kom daar sulke verrassings van Theo. Soos gister se nuus oor die familieband met die vorige Mej. Wêreld. Pa Hennie het as’t ware voor ons grootgeword in Bloemfontein, want sy ouers, Johann en Elsie, was jarelange bure oorkant die straat. Ons het oor en weer gekuier, onbewus van die raakpunte in ons onderskeie stambome. Dalk ook maar goed so.
Wat my beter laat voel dat Johann ‘n verre neef is, is ‘n toneeltjie wat hom op ‘n keer in ons kombuis in Genl. Van Schoorstraat afgespeel het. Johann het nie ‘n geleentheid laat verbygaan nie om my in kleur en geur daarvan te vertel.
Tokkie het flou voor die stoof neergesyg. Die verskrikte kinders het gan hulp soek. Naaste voordeur was die van die Strausse, en Johann – ‘n akademikus – was gelukkig tuis. Hy het, soos dit ‘n goeie buurman. betaam, geen oomblik geaarsel nie. Toe Tokkie se oë oopfladder, was dit in buurman Johann se arms.
Gister se geselse rondom die Rolene-konneskei het ook ander familie aan die lig gebring vir wie ek graag kaartjies sal pos: die voorste skrywer Etienne van Heerden, gerekende jonger koerantekollega Tim du Plessis, asook die Springbokslot Moaner van Heerden en sy seun, Wickus, ook ‘n rugbyspeler van formaat.
Wonder, nes Tim, waar die gemeenskaplike geen vandaan kom wat ons twee plus-minus op dieselfde paadjie by die koerante laat beland het.
In my geval moet ons die liefde vir skryf dalk by A.G. Visser gaan soek. ‘n Spesiale dankie, Theo, vir die onthulling van daardie verwantskap. Via oupa Hercules Visser en ma, Maria Petronella (Baby) Visser het hopelik iets van die “Sanger van die Suikerbosrand” se liefde vir woorde aan my afgesmeer.
Oor dié verbintenis loop die uwe buitengewoon breëbors. Op skool het hy hom verbeel hy is ‘n A.G. Visser Merk II. Hope gediggies oor die liefde, die natuur en so het uit my skoolpen gevloei. Die jaarblad was vol daarvan.
Een begin so: Vanaand is ‘n aand van verlange / dit spreek uit die andwind se lied / dit spreek uit ‘n wolklose hemel / waar ‘n eensame ster nog verskiet ….
Vir die res, is ek bevrees, sal julle tantieme moet betaal!
Dec 15, 2014 | Hennie van Deventer se Blog

Rolene Strauss, HvD en Gina Marie Tolleson en die gewraakte opskrif oor Anneline Kriel.
Middag uit Melkbos
‘n Vaderlike gevoel (wel, eerder grootvaderlik, om eerlik te wees) wel by my op by die kroning van die skone Rolene Strauss, mediese student by Kovsies, as Mej. Wêreld.
Met die pragtige meisiekind het die Van Deventers via haar oupa Johann en ouma Elsie Strauss ‘n jarelange buurmanskaplike band.
Johann (let op die dubbel-n – hy is baie gesteld daarop) en Elsie was ons bure oorkant die straat in die dekade 80 in Dan Pienaar, Bloemfontein. Kan getuig haar stamboom is piekfyn.
Oupa Johann was professor in sosiologie aan Kovsies – ‘n kritiese koerantleser met wie ek meermale in debat was, veral oor die politiek van die dag. Hy had destyds die gewoonte om by elke besoek sy besoekersboek onder jou neus te druk. My en Tokkie se name moet dikwels daarin pryk – veral Tokkie s’n. Sy en die liewe Elsie, ‘n nooi Avis uit Suidwes (nou Namibie), het nogal heelwat oor en weer gekuier.
Johan is later na die Technikon OVS (nou die Sentrale Universiteit van Tegnologie). HY en Elsie woon al jare in die aftree-oord Noorderbloem in Bloemfontein. Met sy gesondheid gaan dit nie so klopdisselboom nie.
Rolene se pa, Hennie, het as’ t ware voor ons grootgeword. Oulike seun gewees, hoofseun van Sentraal en glibberige eerstespan-senter. Hennie is dokter op Volksrust, waar hy begin praktiseer het nadat hy by Kovsies klaar geswot het.
‘n Jonger broer, Retief, is ook ‘n dokter – narkotiseur, om die waarheid te se. Retief is aktief op een van daardie uitreikskepe wat om die wêreld vaar en ‘n helpende hand uitsteek na mense in nood.
Suster, Anize (self ‘n mooie meisiekind) is getroud met Bertie Koetsier, ‘n senior bestuurder in die verpakkingsbedryf. Sy was my kinders se portuur.
Wonder of buurman Johann nog sal onthou hoe my vrou een oggend in sy arms wakker geword het. Darem nadat sy in die kombuis flou geval het. Buurman se hulp is ontbied omdat die uwe, soos amper altyd, op kantoor was besig om koerant uit te gee.
Pen maar hierdie herinneringe hier neer – my geheue is ook nie meer altyd wat dit moet wees nie. Maar ek onthou darem twee Mej. Wêreld-ervarings uit my jonger dae heel goed.
Die eerste was met die ongekunstelde Tukkie-student Anneline Kriel van Witbank wat 40 jaar gelede skielik in die warrelwind-wêreld van ‘n internasionale skoonheid gedompel is. In die proses het sy haar blonde koppie ‘n keer of wat gestamp – soos toe die spierpaleis Roy Hilligenn (amper verspreek ek my) haar sonder ‘n draad klere afgeneem het. Die skokfoto was op die voorblad van die Sunday Times.
In 1978 het ek haar daarna uitgevra in ‘n uitvoerige onderhoud vir die rubriek Onder Vier Oë in Beeld (wat deur die uwe begin is). Sy was toe 22 – ‘n veel ryper en wyser skoonheid. In die onderhoud het sy verkeerde vriende die skuld vir onplesierighede soos daardie gewraakte foto gegee. Sy het die kabaretster Richard Loring by die naam genoem en prontuit verklaar hy het haar misbruik om sy eie loopbaan te bevorder.
Die opskrif by die rubriek was: Verkeerde vriende het Anneline verlei. Die vet was in die vuur. Loring wou al stomende hof toe. Maar daarvan het niks gekom nie. My simpatie, tot vandag toe, is by Anneline – nie net omdat sy so waaragtig mooi was/is nie.
In 1991 het my pad weer met ‘n Mej. Wereld s’n gekruis. Gina Marie Tolleson van South Carolina wat die kroon in 1990 gedra het, het saam met Julia Morley (gisteraand ook weer ‘n sleutelfiguur) Bloemfontein besoek. Rolprentbaas Boet Troskie het vir hulle ‘n dinee in sy herewoning Eden in Millie Krauselaan aangebied. Die uwe was seremoniemeester, aitsa.
In my album van daardie jare het ek ‘n foto van haar wat oor my troon. Benewens haar fiere gestalte val die lae hals van haar swart rok op. Het ook ‘n reklamefoto van haar met haar kroon op. Daarop het sy geskryf: To the master of ceremonies, Gina.
Dis 25 jaar later. Niemand vra my meer om seremoniemeester te wees nie. En sy? Wonder of sy nog as Mej. Wêreld van 1990 onthou word. Hoe sou Gina nou lyk en sou sy nog sulke lae halse kan dra?