RIDDERS VAN DIE MIELIEBLAAR

Volkies se eie span ridders.

Elke Saterdagaand om agtuur het dit uit die Bloemfonteinse ateljee van die SAUK bra valserig opgeklink: “Ons is die ridders van die Mielieblaar, die wêreld woes, leeg en naar sal ons hervorm; met ‘n towerslag die leed verban en die traan versag.”

Daarna was Oom Mêrten, Doorsie en trawante – afwisselende karakters soos Oom Gabriël (dalk Gawerjal of Gabrilêl), Hennerik en Paal – ‘n halfuur lank diepsinnig aan die woord om “oplossings” te vind vir kwellinge wat die volksgemoed beroer. Altesaam 600 episodes op agtereenvolgende Saterdagaande in die jare 50 het luisteraars voor die radio vasgenael laat sit om die ridders van die klub se pittige wyshede aan te hoor.

Die Mielieblaarklub van AM Burger was ‘n moet-luister-program en die uitdrukking “vir ‘n elk, ‘n iedere en ‘n inkilte” het deel van die spreektaal geword. Die skrywer, Burger, en veral die twee sentrale karakters, die kwasterige Oom Mêrten met sy ryk basstem (pure outydse dominee) en die stamelende, senuagtige Doorsie, was huishoudelike name.  Al drie was Bloemfonteiners. Oom Mêrten en Doorsie was albei onderwysers in Afrikaans – die een aan die Greykollege en die ander aan die Hoërskool Sentraal.

AM (Apie) Burger self was ‘n dosent aan die Strijdom-opleidingskollege vir swart onderwysers, ten suide van Bloemfontein. Die kollege is bedryf deur die Vrystaatse NG Kerk, wat ook sendingstasies in Noord-Rhodesiê en Njassaland onderhou het (die huidige Malawi). Apie was getroud met die aktrise Anna Richter Visser, bekend om haar gevleuelde bril. Hy word onthou as ‘n “vriendelike oom”, maar nie altyd so stiptelik met sy tekste nie.

Die “ridders” moes soms self inspring en woorde opmaak wanneer Burger se teks nie opgedaag het nie of onvolledig was. Dinge was so informeel dat Burger een keer gesorg het dat Oom Mêrten groete stuur vir ‘n kollega in die sendingveld in die destydse Noord-Rhodesië. Die uitdrukking “vir ‘n elk, ‘n iedere en ‘n inkilte” was syne.

Die rol van die kwasterige Oom Mêrtin is vertolk deur Jaap Rousseau, kleurryke veteraan-onderwyser aan die Grey-kollege in Bloemfontein vir amper 40 jaar, van 1926 tot 1965. Hy het Afrikaans en Latyn gegee, rugby en atletiek afgerig (met sy “plankie” altyd byderhand) en was lank huisvader van Leith-huis. Met sy DKW-motortjie, bokbaard, pyp en pet, asook sy grys sokkies en sandale as klasdrag was hy ‘n geliefde stukkie Grey-tradisie.

Doorsie, JJ van Rensburg, was Afrikaans-onderwyser op Sentraal in Bloemfontein. Voorheen was hy lid van die Hanekom Toneelskool met rolle in sowat 15 produksies in Bloemfontein tussen 1930 tot 1934.  Doorsie se stem het glo glad nie die seunsagtige stemmetjieklank gehad wanneer hy voor ‘n klas staan nie,  en het verklap hoe ‘n goeie toneelspeler hy was.

Oom Gabriël, Gawerjal of Gabrilêl was ‘n taamlik gereelde ridder.  Maar wie het die rol vertolk? Dit lyk na ‘n vergete stukkie SAUK-geskiedenis.  Ook oor ander randfigure soos Paal en ‘n vlugtige vroulike lid ontbreek inligting.

Ekself was ‘n gereelde luisteraar na die program en het graag, waar moontik, aan die wyse lippe van die vier volksredders gehang. Op my voorstel is in 1957 uit ons matriekklas van Volkies (die Hoër Volkskool, Potchefstroom) ‘n kloon gebore. Die rolverdeling was soos volg: Oom Mêrtin (Carel Weeber), Oom Gawerjal (Koos van Niekerk), Doorsie (Willem Hartzenberg) en Hennerik (die uwe).

Die viermanskap se funksie was om op debatsaande op gewigtige skoolsake te fokus.  Een so ‘n saak was ‘n strategiese nuwe spreilig wat klaarblyklik as ‘n anti-vrylig moes dien om verliefde paartjies te beteuel.   Op 28 September 2002 is ‘n matriekreünie ná 45 jaar op Potchefstroom gehou. Een van die soeweniers van daardie verhewe geleentheid is ‘n foto van Oom Mêrtin, Oom Gawerjal,  Doorsie en Hennerik, ietwat voller van postuur, blesser, gryser – seker ook ‘n kerfie wyser!  – besig net ‘n kamma-program.

NASKRIF:  In die Wikipedia op Google van dr. OPM Burgers, een van die eerste heeltydse omroepers van die SAUK,  word beweer dat hy die skrywer van en ook ‘n deelnemer aan die program was. Dit is nie korrek nie. Die skrywer was beslis AM Burger. Die baanbreker-omroeper Olivier Burgers was egter uit eie reg ‘n radioman wat in die beginjare van radio in Suid-Afrika ‘n betekenisvolle bydrae gelewer het. In sy latere loopbaan was hy Wes-Kaapse streekbestuurder van die SAUK. Hy was ‘n geleerde wat ’n doktorsgraad aan die Universiteit van Leiden in Nederland verwerf het met ’n proefskrif oor C Louis Leipold, asook ‘n kenner van Langenhoven, skrywer, akteur, resensent en beoordelaar by drama-  en kunswedstryde. Hy tree onder meer op in ‘n Afrikaanse opvoering van Hamlet van William Shakespeare in 1947.  Die radiorubriek Knap u Engels op is jare lank deur hom aangebied.   Hy was, les bes, die broer van Frederik Burgers, akteur en komediant, wat vele rolprente saam met sanger-komediant  Al Debbo gemaak het.