OM TE SLAAP BY DAISY SE BYTPLEK
Ligging is een van die redes waarom ‘n reis op ‘n bepaalde plek onderbreek word. So slaap ek en gade, Tokkie, nou die nag op Richmond om geen ander rede nie as dat die plek is waar dit is: as jy die pad tussen Kaapstad en Johannesburg in terme van ‘n mens se lyf sou beskryf, plus-minus in die omgewing van die naeltjie.
Dat ons oor die ligging gegrinnik het terwyl ons op die stoep van ‘n gastehuis ‘n skemer-wyntjie geniet, het te make met ‘n storie van ‘n hond – ‘n Engelse bulhond, Daisy – wat ‘n mooi jong vrou in Kaaptad gebyt het.
Die storie kom oorspronklik van ‘n vriendin van Tokkie, Una Beukman, Dis n storie wat ‘n man maar versigtig moet oorvertel, want die plek waar Daisy haar tande ingeslaan het, is bra sensitief.
‘n Skerpsinnige regsman, wyle adv. Kosie Olivier, ‘n vorige buurman, het daardie problem oorbrug deur die plek in die hof haar Richmond te noem. Die agtergrond van die 1989-hofsaak kry ek ná speurwerk van sy seun, Johan, boer van Victoria-Wes. Dit is opgeteken in die humorboekie “Corresponding met die “law” deur oud-landdros Wessel Marais.
Die feite is korliks dat die eiser en die verweerder in dieselfde luukse-woonstelgebou in Clifton gewoon het. ‘n Hartlike verhouding het later versuur. Op ‘n dag los Daisy, hond van die verweerder, ‘n onwelkome visitekaartjie direk voor die deur van die eiser in die woonstel onder haar dakwoonstel.
Die dame stoom verergd boontoe en eis dat die gemors dadelik opgeruim word. Ná ‘n halfuur lê die steen des aanstoots egter steeds onaangeraak voor haar deur. Sy stoom nog meer verwoed as tevore weer boontoe en pluk ‘n kombers van Daisy se rustende ounooi af.
Daisy wat rustig voor die katel le en snork het, word gewek en gryp, erg gesteurd deur die onvriendelike daad, die aggressor met haar slagtande reg van voor op daardie strategiese sagte pekkie.
Buiten dat dit vrek seer was en sy mediese behandeling vir die beskadigde sagte weefsel moes ontvang, was seks haar geruime tyd “nie beskore nie,” soos die landdros dit galant stel. Sy maak toe ‘n siviele saak – en verloor dit in die Kaapse siviele hof.
Dit blyk skadevergoeding wat deur ‘n troeteldier veroorsaak is, kan net in bepaalde omstandighede van jou verhaal word deur die actio de pauperie. Die verweerder sal aanspreeklik wees vir skadevergoeding indien die klaer suksesvol kan bewys dat: hy/sy die eienaar van die dier was ten tye van die besering; die dier ‘n huisdier is; die dier strydig strydig met die natuurlike aard van ‘n huisdier opgetree het (die naturem sui generis); en die dier se optrede die klaer skade veroorsaak het.
Die landdros in hierdie geval het bevind dat Daisy maar net opgetree het soos wat ‘n mens verwag Engelse bulhonde in sulke uittartende omstandighede sal optree – dws naturem sui generis. Daar trek die veronregte dame se saak toe by die venster uit – ‘n klassieke geval van sout in die wonde vryf, as jy my vra.
Die landdros spreek in sy boek sy verwondering uit dat die bulhond haar plat snoet juis daar so diep kon inslaan om soveel skade te veroorsaak. Op my beurt wonder ek, as dit nie buite orde is nie, hoe lank dit geduur het voordat die beskadigde pad deur Richmond weer oop was vir verkeer!
(Ek het die storie voorheen op Facebook gedeel, en dit het heelwat reaksie uitgelok, veral ander moontlike plekname vir die bytplek, soos Noupoort, en ‘n paar ander wat ter wille van sensitiewe lesers liefs verswyg word.)