Mar 17, 2022 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Die lotsbepalende referendum van 17 Maart 1992, vandag presies 30 jaar gelede, het begin met ‘n onverwagse aankondiging op die “verkeerdste tyd”. Daar was konsternasie in die NP-koukus en skok in die federale raad. FW de Klerk se skuif is beskou as ‘n enorme waagstuk in die heersende politieke klimaat.
By Die Volksblad was ons self skepties. Hoofredaksielid Jan Scholtz het die reaksie met ’n geliefkoosde uitdrukking opgesom: “Buurman, nou speel FW op Avbob se stoep.”
Waarom dan die swaarmoedigheid? Kort antwoord: die een na die ander bloedneus by die stembus, soos pas in ’n tussenverkiesing in Potchefstroom. In die Vrystaat het Virginia en selfs “veilige” munisipale wyke in Bloemfontein in KP-hande geval. Nasionaliste het grootoog begin bespiegel of meer setels as net Bloemfontein-Noord in ’n algemene verkiesing behou sou kon word. Die aptyt vir hervormingspolitiek was bra eina.
Die groot Ja-oorwinning met ‘n volslae tweederde-meerderheid het egter die stoutste verwagtinge oortref. FW se politieke intuïsie is reg bewys. Sy tydsberekening was skitterend. Vir hom was die referendum ’n persoonlike triomf. Van begin tot einde was hy die oorheersende figuur.
Hy was in persoon hier, daar en oral en het mense met sy sjarme, opregtheid, logika en redenaarsvermoë saam met hom gevat. So is die regse gety nie net gestuit nie, maar omgekeer.
‘n Verbeeldingryke veldtog is gevoer. Nie die gewone stereotipe spyskaart van onpersoonlike formele vergaderings en ellelange toesprake was aan die orde nie – dié was daar ook – maar die klem het op intiemer kontak geval: huisvergaderings, blitsverskynings van FW en sy ministers op straat en in sakesentrums, deur-tot-deur-aksies, multimedia-aanbiedings, musiek, ens.
Die Nee-veldtog daarenteen het maar gesukkel om op dreef te kom. Daar was interne dwarstrekkery oor die fokus, en AWB-belhamels se onordentlike gedrag was vir die beskaafder KP-kern ’n verleentheid en ’n nadeel. Talle lelike insidente en onnodige gewelddadigheid het vervreemding veroorsaak.
Verrassend gou kon ’n positiewe ‘vibe’ aangevoel word. Uit reaksie kon jy optel dat ’n opgewondenheid aan’t opbou was om die ou juk van ’n moreel onregverdigbare en fisiek onvolhoubare bestel af te gooi.
Vir my was die referendum ’n laaste hoera as redakteur en aktiewe joernalis voordat ek Kaap toe is in ‘n bestuurspos. In my laaste verslag aan direksie oor die NP se kreeftegang in die Vrystaat het ek geskryf. “Iets is verkeerd gedoen – hoop tyd bring klarigheid”.
In die konteks was ek dubbel vasbeslote om nie op anti-klimaks my stoel oor te gee en te groet nie. Ek het myself – en my redaksie – met ywer in die veldtog ingewerp. Geen twyfel bestaan nie dat die koerant deurgaans met entoesiasme die Ja-stem bevorder het.
Die Volksblad het inderdaad met sy indringende, ontmaskerende joernalistiek ‘n deurslaggewende rol gespeel om wanvoorstellings en verdagte verkiesingsmetodes aan die kaak stel. Koerante is natuurlik toe nog wyd gelees. Die magtige internet was nog nie met ons nie.
Die vrugte van ywer is gepluk toe die Ja-stem teen die verwagting in in albei Vrystaatse stemdistrikte geseëvier het. In totaal was amper 55% van die stemme in die taai provinsie ten gunste van magsdeling met swartmense in ‘n onderhandelde nuwe grondwet. Veral die gunstige uitslag in die Kroonstad-streek was vir vriend en vyand ‘n verrassing.
In redaksionele kommentaar op 19 Maart – die laaste uit my pen – het Die Volksblad daaroor o.m. die volgende geskryf:
“`Die politieke rehabilitasie van die Oranje-Vrystaat is een van die vreugdevolle subtemas van die Ja-triomf. Wat bereik is, is die resultaat van harde werk, maar klaarblyklik ook van ‘n hartsverandering by Vrystaters. Groter realisme het oor die land se werklikhede posgevat. Andersyds is regse metodes en beleidloosheid, asook die gevare wat blanke hardkoppigheid vir die land en vir hulleself inhou, verwerp.”
Sep 27, 2012 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Melkbos
Ons almal struikel dikwels, sê die Groot Boek. “As iemand nie struikel nie, is hy ‘n volmaakte man.” Nie almal erken egter ewe maklik as hulle gestruikel het nie – of, nog erger, deur hul struikeling ook ander tot struikeling gebring het nie.
Supermarkte stel nogal hul foute reg. Gee die duiwel wat hom toekom. Party gee vir jou ‘n produk absoluut verniet as dit verkeerd gemerk op die rak staan. Ook die vermaledyde koerante is nie onwillig om foute te erken nie, amper op ‘n daaglikse grondslag. Oor simpele foutjies soos ‘n van wat met ‘n “d” gespel is eerder as met ‘n “t, word soms korreksies geëis, en gegee (soms seker ietwat tandeknersend, maar darem).
‘n Mens sou die lysie van boetvaardiges sekerlik kon rek as jy wou. Aan die ander kant is die onboetvaardiges: diegene wat allerlei jakkalsdraaie sal gooi om ten enemale nie op ‘n fout vasgepen te word nie. Hoe ander se intelligensie in die proses gruwelik onderskat word, is soms om die hande van saam te slaan.
Ek weet van ‘n mediese fonds waarvan die lede op die oomblik tussen twee opsies moet stem. Op een plek in die amptelike dokumentasie oor die referendum staan uitdruklik: “Indien u nie stem nie, sal aanvaar word dat u in die huidige mediese skema wil bly.” Op ‘n ander plek word ‘n stemprosedure verduidelik wat ‘n wegblystem tot van nul en gener waarde reduseer.
Sekere mense met sterk gevoelens oor die saak het daardie onderstreepte sinnetjie gelees en nie verder gebodder nie. Hulle was doodgelukkig dat hulle hul doel met ‘n wegblystem kon bereik.
Daardie “ligte mistykie” en die verwarringspotensiaal daarvan is dadelik onder die aandag van die betrokke magte en owerhede gebring. ‘n Lys van misleides is op skrif verskaf. So ‘n slordigheid t.o.v. ‘n sleutelkwessie kan natuurlik die geldigheid van enige stemproses ernstig in die gedrang bring, is aan hulle uitgewys. ‘n Mens sou ‘n onmiddellike regstelling en verskoning verwag.
Maar nee, eers ‘n week later word kennis gegee dat die sperdatum van die referendum met twee weke uitgestel word om lede meer kans te gee om te besin. In die verbygaan word na “skynbare verwarring” verwys. Die aankondiging bevat geen verklaring vir die onaanvaarbare teenstrydigheid in die oorspronklike dokumentasie nie.
Besorgde lede het vergeefs na aanvaarding van aanspreeklikheid of boetedoening vir die misleiding met twee lynreg-teenstrydige mededelings gesoek. Aikona.
So ‘n ontwyking van verantwoordelikheid vind hierdie skepsel hoogs betreurenswaardig. Party mense is “skynbaar” eenvoudig nie in staat om hul onvolmaaktheid in hierdie opsig (volgens die Bybelse woord) ruiterlik te erken nie. Raar maar waar.
(hvd)