KAMPUSLEWE 2: MODDERBADDENS EN SO

Modderbad, 1958

Ontgroening was in my Tukkiedae nog springlewendig. Eerstejaars (ienks) is oral behoorlik gedril. Daar was modderbaddens, die pil (deurdrenk met bitter duiwelsdrek), nagligte (as jy waag om oor die tou te trap), gatpaarties, p-paarties en wat nog.
Ons ienks van Kollegetehuis moes tot vervelens voor die eetsaal in gelid aantree. Wyle Coen Dreyer, latere Springbok-gholfspeler, moes dan die bevel roep: “Haai-tjokkelorum, haasbek-patrollum, maak gereed om te storm, regs vorm.” Soos ‘n peloton kadette het ons netjies posisie ingeneem en vir verdere opdragte gewag.
Nog ‘n verspotte versie uit daardie tyd steek by my vas:

Raid, 1959

Soos klokslag het ‘n senior met ‘n sigaret wat uit sy mondhoeke hang – verreweg die meeste mans het gerook – voor jou kom staan en vir jou ‘n dosie vuurhoutjies aangegee. Jy moes ‘n vuurhoutjie vat en plegtig so aanspreek: “Donderbalkie, bron van lig; enigste hoop in Donker Afrika.” Dan moes jy die vuurhoutjie trek met die opdrag: “Brand bliksem, brand!” Daarna: “Suig asseblief, meneer, suig!”

Die jaarlikse ienksport was ‘n vername okkasie. Aan elke koshuis is ‘n kleur toegeken. Vir sy sonde is Kollege se kleur die een jaar pienk. Vir die hoogtepunt van die byeenkoms, die huiskomitee se aflosnommer, kry die manne toe ‘n ingewing. Hulle verskyn op die baan in sulke enorme pienk bloemers wat by ‘n afslagwinkel aangeskaf is – en hulle wen ver. My val die eer te beurt om met ‘n wapperende bloemer die lint te breek, die tweede jaar
in ‘n ry. Die eerste egter in ‘n gewone wit rugbybroek.
Noodsaaklike kennis wat vroeg in jou eerste jaar aangeleer is, was van die sogenaamde “broek-raid”. Vir die jonger geslag: twee groepe manne (gewoonlik van verskillende koshuise) pak mekaar in die middel van die nag en trek mekaar se broeke uit – ná ‘n woeste gespook, geknoop en geruk-en-pluk. ‘n Man moes net keer vir skade. Agterna was die foto’s van ondernemende amateur-fotograwe glo buitengewoon gewild in vrouekoshuise, waar met grote konsentrasie gesigte en ander verskuilde eienskappe met mekaar verbind is.
In 1957 kla ‘n ienk by sy ma dat die nagtelike konsternasie sy studies belemmer. Die ma kla by die huisvader. Hy dra haar beswaardheid aan die huiskomitee oor. Al die ienks word toe op parade laat staan en moet soos een die broeke laat sak sodat die seniors hulle kan deurkyk. Die teorie was naamlik: as iemand oor raids kla, skort iets in sy broek.

Ienk Koornhof sluk die pil, 1962.

Ja, n Ienk kon maar weet: vir ‘n jaar lank is hy ‘n lyfeiene vir ‘n veeleisende senior (hoeveel honderde sokkies het ek nie gewas nie!), Hy sou ‘n paar keer moes inpak en “trek” (met al sy klere, al sy boeke, al sy koffers). Hy sou moet “more meneer, middag meneer, naand meneer, reg meneer, goed meneer” tot by die ontheffing as die jakarandas kort voor die eksamen begin blom.
Die tyd het aangebreek vir die modderbad en die pil. Op daardie welaangename dag het die geel knopie met die K (vir Kollege) finaal gewaai – een wat terwyl dit nog op die bors vertoon is, nogal vir komieklike situasies kon sorg. Byvoorbeeld wanneer Kollege en Asterhof ‘n “inter-sleep” het en die ienks dan so man-aster-man-aster langs mekaar sit: “K, A, K, A, K, A …!”
‘n Jaar van groot nederigheid was dit. Maar as dit verby was, het jy behoort. Jy het soos vir ‘n dierbare nooi lief geword vir ‘n plek van baksteen en beton, ondanks sy dun klapperhaarmatrassies, tekort aan warm water, middelmatige kos en die kwaaiste seniors op die kampus. Jou hart was in jou borskas soos ‘n uitgeswelde adamsvy, omdat jy geweet het jy is getoets en is nie te lig bevind nie.