Apr 12, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Twee vorstinne voor ‘n vorstelike berg – ‘n manjifieke toneel. Die manjifieke foto van twee manjifieke skepe – die Queen Mary 2 en die Queen Victoria – voor die manjifieke Tafelberg is geneem deur ‘n manjifieke fotograaf, Gerard van Niekerk.
Van hom het ek tevore verklaar: “Niemand kan ‘n skip soos hy afneem nie.” Vandag se foto bevestig dat ek met daardie uitspraak nie misgetas of oordryf het nie.
Dankie, Gerard, vir die voorreg om die foto op my blog, op my blad en op Nagkantoor te kan plaas, sonder prys en sonder geld.
So ‘n gesig sal Kapenaars nie sommer weer in die Kaapse hawe sien nie: die vlagskip van die Cunard-stal (Mary) en ‘n amper ewe stylvolle kleiner suster. (Victoria). Let op die statige donkerblou rompe en rooi torings.
Die Queen Victoria vaar vandag om 17:30 en die QM2 moremiddag om 18:00 na Lissabon en Southampton.

Die Queens is hier, die Queens is hier! Waterboe spuit ter verwelkoming van die twee vorstelike skepe uit die Cunard-stal. Nog ‘n trefferfoto van Gerard van Niekerk.
Feb 17, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Alle paaie lei na die Royal Court-teater op dekke drie en vier van die Queen Mary 2 wanneer Zelda la Grange die intieme sluier lig oor haar werksverhouding met die Suid-Afrikaanse staatsman-ikoon Nelson Mandela. Haar boek word opgeraap. Sy moet net teken, teken, teken.
In die Clarendon-teater, vlakby die Queen’s Room op dek drie, haal die skilderye oor die Suid-Afrikaanse natuurlewe van Darryn Eggleton maklik R200 000 stuk. Sy lewensgetroue leeus, luiperds, sebras en wat nog verraai waar hy vandaan kom. Hy is in 1981 as ‘n seun van die Krugerwildtuin gebore en het tussen die wilde diere grootgeword.
In die imposante Brittania-eetsaal op dek twee en drie is een aand Weskus-kingklip op die spyskaart; die volgende aand springbok. Laasgenoemde klink veral indrukwekkend in die Engelse kos-idioom: “Roasted cranberry and walnut crusted South African springbok loin”. Die bykosse is William potato, creamed Savoy cabbage, roast thyme carrots en blackberry sauce.
Pure Suid-Afrika, en dit op ‘n skip wat drup van Britse tradisie en styl. Maar so maak hierdie grootste en duurste vlagskip van Cunard telkens ‘n buiging na die gasheerlande wat hy op sy jaarlikse sogenaamde Wêreldtoer besoek. Vanjaar is Port Elizabeth, Kaapstad en Durban in daardie volgorde aangedoen.
Zelda, Darryn en die Suid-Afrikaanse geregte uit die vlekvrye staalkombuis is ook nie al wat aan Suid-Afrika herinner nie.

In die sogenaamde “Ïnsights”- (praatjies deur kenners) hoor die passasiers van olifante, krokodille, die Zoeloekultuur en die Kaapse-Hollandse boukuns op wynplase. Oral maak hulle kennis met Suid-Afrikaanse (en Zimbabwiese) kelners, kamerbedieners en ander lede van die bemanning.
By ‘n middagete ontmoet ek byvoorbeeld vir Michael, ‘n flink, jong Kôsakelner van Brackenfell. Hy en die Melkbosser kliek dadelik en gesels land en sand oor bendegeweld wat van die Kaapse Vlakte na sy tuisomgewing oorspoel. Hy vertel ook hy het die kombuis shakalaka leer maak.
Ons groot SA kontingent wat saam vaar op die nuwe segment van Kaapstad na Mauritius – agt bekoorlike aande op die “hin skeep”, soos ‘n vriend die QM 2 noem – kan bors uitstoot oor ons land. Ongelukkig bestaan ook rede tot verleentheid,
Voor elke Suid-Afrikaanse besoekpunt word passasiers gewaarsku: wees op jul hoede; misdaad is op ‘n ongekende vlak. Wat Durban betref, word – seker gedagtig aan die onlangse uitbarsting van wetteloosheid – selfs die moontlikheid van burgerlike onrus genoem.
In Durban word almal boonop deur die department binnelandse in ‘n lomp operasie van die skip af geboender om op die grond hul paspoorte gestempel te kry. Mense mor oor die ongerief. Die kaptein vra diplomaties om verskoning.
Mense mor ook oor sekere duur uitstappies wat min oplewer, bv. na armoedige “townships”, straatmarkte wat weens beurtkrag skaars aan die gang is, en parke wat vir buitelanders bra doodgewoon is.
Jy neem kennis dat Suid-Afrika nie by die reisplanne vir 2025 se Wêreldvaart ingesluit is nie en dat oor herinsluiting in 2026 nog onsekerheid bestaan. Jy wonder stilletjies watter faktore alles vir die situasie verantwoordelik is.
Jy gun dit vir soveel mede-Suid-Afrikaners as moontlik om die skip te leer ken en al sy wonderlike elemente te geniet. Met die toekoms so in onsekerheid gehul, lyk die onverwagte herbesoek in April weens die Midde-Oosterse krisis al hoe meer na die kans van ‘n leeftyd.
As nog ‘n kajuit beskikbaar is op die vaarte na Lissabon en/of Southampton van 13 tot 28 April, raap dit op. Pryse is onherhaalbaar. Jy sal betower word. Dit kan ek hand en mond belowe
Feb 15, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Ons en ons Fillipynse hoofkelner Petros by ‘n gala-aandete in die Brittania-restaurant.
Dis nie dat die lewe aan land vir hom onsmaaklik is nie. Die lewe ter see is net beter. Ek wil dié woorde van sir Francis Drake so verbuig: Dis nie dat lewe op ander skepe vir my onsmaaklik is nie. Die lewe op die Queen Mary 2 is net beter.
‘n Hardnekkige maaggogga het die lewe vir talle passasiers ‘n dag tot drie lank versuur. Die geluid van toilette wat spoel was in ‘n stadium in ons kontrei op dek 4 soos ‘n simfonie van saam-swaarkry. Selfs dit kon die vreugde van die herbesoek nie demp nie.
Ná die vaart van agt nagte na Mauritius bly die bewondering, lof en respek vir die klassieke skip op dieselfde hoë vlak as met die kennismaking tien jaar gelede op ‘n vaart na Sydney. Die QM 2 is enig. Vir styl, deftigheid, diens en die veelsydige vreugdes van sy aanbod aan die gaste in sy sowat 2 000 “staterooms” gee ek Cunard se weelderige vlagskip so aan volpunte as dêmmit aan vloek is.

Ons goue kentekens.
Oorheersend dalk was die vreugde van hierdie jongste en laaste vaart die hertontdekking van al die goue gunstelingplekke op die 14 dekke: van ons ou kajuit op dek 6 en “ons” glaskas-hysbak na die uitkykplek langs die brug tot al die manjifieke sitkamers, eetkamers, teaters, balsale – ook die reuse-biblioteek en planetarium – wat die QM2 in ‘n klas van haar eie plaas.
Gala-etes van uitvoerige watertand-spyskaarte in die swierige, dubbelvlak Brittania-restaurant, “high teas” in die Queen’s Room, konserte in die Royal Theatre, skemerdrankies in intieme sitkamers of die immer gewilde Golden Lion Pub, rustige rondsit op die netjiese dekstoele met hul geborduurde blou kussings – daarmee het ons ons dae deurgebring.

Die herskepte Carinthia Lounge.
Uit ‘n vol program met “insights” (kennerslesings) oor Mandela, krokodille , argitektuur, duikbote, ‘n verskeidenheid kulture, asook hope musiekuitvoerings – harp, strykers, flamenco-kitaar, klavier – kon ons kies en keur. Opnuut ‘n aardigheid gewees om in een middag in te pas: ‘n konsert deur ‘n flamenco-virtuoos, ‘n strelende harpuitvoering en die energieke snarespel van ‘n trio jong strykers uit Oekraïene.
Wat tegelyk effens treurig en opwindend nuut was, is die herskepping sedert ons vorige reis van ons geliefkoosde rustige Winter Garden met sy voëlgekwetter tot die dinamiese byenes van ‘n Carinthia Lounge waar gedurig dinge soos vasvrakompetisies en klavieruitvoerings aan die gang is. Smaaklike ligte happies word vir ‘n alternatiewe ontbyt of middagete aangebied en die mense staan stroom soontoe.

‘n Kajuit soos 4186.
‘n Ander sterk element van nuutheid is in die kunswerke teen die mure. Die art deco-karakter van die goue era van die 20’s en talle historiese foto’s uit die lewe van die skip en sy passasiers – vele glansrykes! – is grootliks behou. Treffende moderne werke is bygevoeg. Nuwe kleur en ure se kykplesier word so verleen.
Vir my en Tokkie was nie net die tradisionele bottel yskoue Franse vonkelwyn in kajuit – “stateroom”! – 4186 se yskassie uit ‘n persoonlike hoek spesiaal nie, maar ook die oorhandiging van twee diepblou fluweelsakkies met ons goue kenketekens vir die bereiking van senior lidmaatskap van Cunard se gesogte Word Club.
Op die QM2 klink ek graag in my gedagtes weer die glasie komplimentêre sjampanje waarmee die kaptein gaste aan boord verwelkom en beleef ek weer die een goue oomblik op die ander. Daarvan sal ek in die volgende dae (weke?) meer vertel – en wys!
Jan 25, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Langs die koffers op die bed in die spaarkamer word twee hopies klere stadigaan groter. In die een vang buitengewone items vir die uwe die oog: strikdassies, mansjetknopies, swart skoene….. In die ander hopie is vroueklere. Een stuk oorheers: ‘n waterdigte bloedrooi baadjie. Dis die liewe Tokkie s’n.
Die koffers word gepak, want oor ‘n week bestyg die Van Deventers die Queen Mary 2 vir ‘n herontmoeting. Die kennismaking was tien jaar gelede. Ons is in 2014 via Durban. Mauritius, Perth, en Melbourne na Sydney . Die keer klim ons ná ‘n 8-nag-vaart in Mauritius af. Sien nie meer kans om so ver terug te vlieg nie. Dit net terloops.
Op die vorige vaart is Tokkie met die nimlike rooi baadjie oral op die dek afgeneem: by elke tweede reddingsboei en elke moontlike uitkykpunt (Foto regs). Toe al was die baadjie ver van nuut. Trouens, in die 80’s al het sy hom by ons seun, Johan, afgevry.
Van daardie dag af is sy en die rooi baadjie soos ‘n Siamese tweeling. As betroubare reisgenoot lê die staatmaker se spore wyd op hierdie aardbol en sy oseane. Agter hom is nie minder nie as 12 vaarte.
En waar was die baadjie nie al oral nie? Van New York tot Los Angeles in die VSA; van Kobe in Japan tot China se Hong Kong; van Londen tot Jerusalem: van die Oostenrykse Alpe tot Amsterdam … Die lys is lank.
Die baadjie is deur Johan aangeskaf om hom teen wind en weer te beskerm toe hy in die 80’s Die Volksblad” in Bloemfontein afgelewer het. My vrou het ‘n wyd bekende voorkeur vir rooi. Johan se baadjie het uit die staanspoor haar oog gevang. Die stomme kind het later voor sy ma se flikvlooiery geswig.
Daardie dae moes ons dikwels uit Bloemfontein Kaap toe weens werkverpligtinge. Aprilmaande het ons op Buffelsbaai vakansie gehou. Elke keer is die rooi baadjie saam.
In die 90’s het werks- en vakansiereise ons na o.m. Amerika, Europa, Japan en Australië gebring. Weer was die baadjie altyd van die eerste kledingstukke wat ingepak is.
Ná aftrede het reis ‘n voorkeur-tydverdryf beword. Na elke verre hawe is die baadjie saam – ook op ons jongste vaart enkele maande gelede na Walvisbaai (foto links).
Toe ons begin inpak vir die QM 2 waag ek versigtig die vraag of die baadjie die reis meemaak. Simpel vraag. Hoe simpel, kon ek aflei uit die vuil kyk my kant toe. Tokkie het haar baadjie sonder verwyl uit die kas gaan haal en langs die koffer neergesit.
Natuurlik gaan hy saam op sy 13de vaart. En laat net een donder sy neus optrek
Nov 20, 2023 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Kaptein Kevin Osprey op die boeg van sy skip.
“Die Queen is hier! Die Queen is hier!” klink dit uit duisende kele op. Baniere wapper in die wind met die woorde: “Welcome QM2”. In lugballonne en helikopters, op seiljagte en bootjies, te voet op die kaai tot doer in die verte – oral drom entoesiastiese toeskouers saam.
So, onthou ek en Tokkie, die verwelkoming vir die Queen Mary 2 op elke hawe van Kaastad na Sydney – ons onbestrede droomvaart in 2014 van ‘n dosynstuks vaarte sedert 1970. Met sulke aansteeklike bewondering en ontsag word Haar Majesteit telkens in hawens hartlik gegroet. Dit het ons mateloos geïmponeer.
Sommer om die draai, in Februarie, is die Queen weer hier. Sy vaar dieselfde roete as in 2014 op haar Wêreldvaart van 2024, maar met een wonderlike nuwigheid.
Die eerste keer in 25 jaar bied die redery Cunard vir passasiers wat dit verkies, ‘n kort sektor aan, van Kaapstad na Mauritius. Agt dae ter see om te deel in die QM 2 se weelde, styl en skitterende programme sonder die pyn van ‘n eindelose vlug terug. (Ek hou nie van vlieg nie. Raak gou moer gesit. Pes die klein vliegtuig-toiletjies.)
Toe die advertensie op my rekenaar kom, roep ek Tokkie, onmiddelik opgewonde. Is dit nie waaroor ons al amper ‘n dekade lank lugkastele bou en telkens vergeefs oor navraag gedoen het nie: so ‘n nommerpas-herontmoeting met daardie indrukwekkende skip?
Om nou kortpad te vat met my storie: dit het regtig nie te veel inspanning geverg my vrou te oortuig nie, al is ‘n vaart na Walvis in Maart op die MSC Splendida al geruime tyd bespreek. Dus: op 1 Februarie klim ons in Kaapstad weer op die Queen. Tien dae later klim ons in Mauririus af, oornag in ‘n hotel daar en vlieg die volgende dag terug. Net ses uur in die lug.

Ons beskeie nessie.
Kajuit 6005 waarin ons in 2014 was – “stateroom” 6005, verkies die Cunard-mense om hul knusse nessies te noem – is waarskynlik een van die mees beskeie op die weeldeskip. Maar so gelukkig het ons in hom gewoon die 22 dae en nagte tot in Sydney dat ons mooi gepleit het om hom weer te kry. Sal later hoor. Maar alte heerlik sal dit wees om op ons 10-jaar-herdenking van ons kennismaking in 2014 dieselfde roete as destyds na ons eie plekkie te loop.
‘n Bonus is sy gangetjie: een van die kortste, met net 30 kajuite. Baie “eksklusief” het dit vir ons gevoel. ’n Botteltjie Franse sjampanje (Pol Acker se blanc de blancs brut) in ’n silwer-ysemmer het ons met ons aankoms verras. En ‘n boodskap van die kaptein, Kevin Osprey: “We look forward to providing you with happy memories that wil last a lifetime.”

Oor my blogs
Ons was dadelik halsoorkop verlief. So verlief dat ek oor die hele vaart ge-blog het – ‘n eerste in Afrikaans, aldus Cunard. Die blogs is later in my boek Na Verre Hawens (Naledi, 2019 opgeneem.)
Romantiseer ons nie dalk nie en verwag ons nou te veel? Ek glo nie. Geriewe sluit immers in die asemrowende Royal Court-teater met sy topvertonings elke aand; die biblioteek met 10 000 boeke; die elegante Britannia-eetkamer; die enigste drywende planetarium ter wêreld met die duisende sterre aan sy firmament; die ritueel van Engelse middagtee (afternoon tea) in die Queen’s Room, na aanspraak die grootste balsaal ter see. Om verveeld te raak, is total onmoontlik.
Dan ook: vyftien restaurants, vyf swembaddens, balsaal, planetarium, teater, gimnasium, skoonheidsalonne, boetiekwinkels, ’n casino, nagklub en ’n dierehawe wat selfs ’n eie lamppaal en brandkraan het vir bedorwe honde om die been teen te lig!
In 10 jaar het die tyd natuurlik vir ons stilgestaan nie. In my eie geval het ‘n permannte kierie bygekom. Maar die vooruitsig om weer op die Queen te vaar, laat steeds die hart bruise en die oë vonkel, al gaan dit langer vat om op die reuseskip al die lope te loop wat in 2014 vir ons lekker lope was.