ANDER OU SE PAJAMAS

Die spreekwoord praat van anderman se skoene waarin jy nie graag sou wou staan nie. Ek het my eie gepatenteerde weergawe. Skoene word met pajamas vervang. Elke dag / hoor / sien ek iets in die media wat my dankbaar stem dat ek nie in die of daardie se nagkabaai wakker geword het nie, maar in my eie geruite broek en groen hempie wat van die een of ander uitverkopingrak kom.
Nou anderdag was dit Kamala Harris se slaapkleertjies wat ek ongraag vir my eie sou wou verruil. Hoe elegant lookal, sou dit kwalik haar droefheid en die pyn kon verdryf van die Troefkaart wat die Amerikaanse kiesers haar so genadeloos gedeel het.
Vandag is dit ene Patrick Kruger, Protea-krieketspeler, se pajamas wat ek vir homself gun. Hy met die diamant-oorkrabbertjie in sy oor en al het hom gisteraand teen Indie (waarskynlik) in Suid-Afrikaanse krieket-annale ingespeel (en hopelik uit die pan uitgespeel).
Sy onderskeiding is dat hy die meeste lopies vir die teenstanders laat lek het (soos hulle nou praat) in die twee bisarre beurte wat hy geboul het – 17,5 per beurt – en die minste lopies vir sy span aangeteken het – een lopie in twee balle. Het iemand al tevore so ‘n mamparra-vertoning in die groen en goud gelewer?
In een van sy rampspoedige bouleurte het Kruger met sy diamantoorkrabbertjie en al daarin geslaag om twee foutballe en drie wydlopers af te stuur. Ek vermoed selfs vir Koekenaap se tweede span sou dit ‘n rekord wees.
Kruger met sy diamant-oorkrabbertjie en al kies nien homself nie. Vir daardie ligte mistykie moet afrigter Rob Walter pa staan. Ai, hoe verlang ek nie na die goeie ou dae nie toe die beste span vir elke wedstryd gekies is: van toetsspanne tot skoolspanne en van rugby tot hokkie.
Met die “bou van diepte” en die skep van “skwads” glip ouens darem deur die net op ‘n manier wat niemand anders weet hoe nie buiten die afrigter wat span kies (of wat voorgese word hoe om die span te kies).
En lojale, patriotiese toeskuers langs die veld of voor die skerm moet maar die skandes blymoedig verduur. Nee, wragtig, so kan dit nie aangaan nie.

‘N LIEDJIE VIR LAURA

Ons wen!Op die treffersparades aan die begin van die 60’s was die tranetrekker “”Tell Laura I Love her” ‘n vuurwarm mededinger. Dit was nommer een in Brittanje, ‘n treffer in 14 lande en het oor sewe miljoen plate verkoop.
Ook ons studentegemeenskap van daardie era was nie ongeroer deur die uitstorting van ewige liefde van ‘n ou net voor sy dood in ’n stampmotorongeluk nie. Die mooi wysie het in ons koppe bly maal.
In Kollegetehuis aan Tukkies was die mooiste weergawe nie die van sangers Ricky Valance of Ray Peterson nie, wel ‘n klaviervariase met allerlei toegevoegde akkoorde deur ‘n Ienk (eerstejaar) op die klavier.
Kollege het op vele terreine presteer – helaas, buiten die kulturele. Ons skryf Ienk Dirk du Toit – ja, die einste latere adjunk-minister van Landbou vir die ANC – toe in vir die Lentedagkonsert, oortuig dat hy met sy “Laura” ‘n medalje of ten minste ‘n sertifikaat vir Kollege gaan verower.
Op die nippertjie trek die bokker egter kop uit op grond van “akademiese druk”. Daar sit ons toe maar weer in die hek op kultuurgebied. Vir ‘n blommerangskikking is ons darem eervol vermeld. Die titel was “’n Druppel bloed op ys”. Dit het bestaan uit ’n wit suikerpotjie met ’n rooi roosblaartjie bo-op.
Hoekom vertel ek die storie? Nie oor Dirk nie, maar oor Laura. Ook nie doerie Laura nie, maar vandag en nou se Laura: Laura Wolvaardt, kaptein van die Proteas.
Die plesier wat sy en haar span in die T20-toernooi aan hierdie oom besorg het, is so massief soos die impak van daardie trefferliedjie in 1960 rond was.
As ek op ’n versoekprogram vir LW ‘n liedjie sou kies, sou dit geen ander een wees as hierdie nie; ook nie Ricky of Ray s’n nie, maar Dirk s’n met elke ekstra akkoord.
Ek het regtig vir die netjiese kind met die flitsende kolf, manjifieke dryfhou deur die dekke en onversadigbare lopiehonger lief geraak soos ‘n pa vir ‘n kind. Ek sou haar ‘n vaderlike drukkie wou gee terwyl Dirk speel en speel.
Nadat die Proteas die Aussies gister so opgefrommel het, is ek nog liewer vir haar wat haar span met onderskeiding en voorbeeld gelei het.
Maar wat van Anneke Bosch? Vir haar sou ek so lank wou druk dat ons moeilikheid sou kry by daardie lughawe in Nieu-Seeland wat lang afskeide nou wil uitroei (njannies). Haar skitterbeurt was ‘n Heinrich Klaasen of David Miller waardig.
Meisiekind, meisiekind, daardie verslaentheid op die Aussieboulers se gesigte as jy hulle so grens toe moker, sal ek nie sommer vergeet nie.
Luister saam na Ray Peterson se “Tell Laura I love her”:
https://www.google.com/search?q=tell+laura+i+love+her&rlz=1C1ONGR_enZA996ZA996&oq=tell+laura+i+love+her&gs_lcrp=EgZjaHJvbWUyBggAEEUYOTIM

KOEBAAI, WREDE WeRELD!

More uit (‘n nat) Melkbos

Saterdag 2 April wanneer die eindstryd om die krieket-wêreldbeker in Indië gespeel word, is die uwe op reis. Die Van D’s is op pad Sabiepark toe. Wil gaan kyk hoe lyk die (duur) nuwe dak.

Wanneer die eerste bal afgestuur word, sal ons op Kulula se vlug MN 112 na O.R. Tambo wees. Met die laaste bal behoort ons so plus-minus by Sabiepark se hek aan te kom (as ek die speeltye reg het).

Dis natuurlik as ons teenspoed vryspring. Veral die stuk pad tussen Hazyview en die Krugerhek is in die beste omstandighede nie ‘n plesier om te ry nie. Op ‘n Saterdag-laatmiddag sal ‘n mens op jou tande moet kners, en wawyd wakker agter die wiel wees.

Hoe ook al, toe ek ontdek watter belangrike krieketdatum 2 April is, was my geldjies vir die kaartjies klaar in Kulula se bankrekening. Vir die datum en tyd van ons vlug was prys deurslaggewend. Ek kon nietemin, soos my Tant Minnie altyd gesê het, my hare uit my kop trek dat ek jou waarlik die eindstryd kon vergeet.

Soos dinge ontwikkel het, hoef ek my nie te lank te verknies het nie. Die Proteas het weer eens soos ‘n vrot vuurhoutjie geknak. Agterna is verskonings vir die stukkende “vuurhoutjies” natuurlik volop. Een bewering is selfs dat dit ons, die Suid-Afrikaanse entoesiaste, is wat die stomme spelers onder te kwaai druk geplaas het. Grappie (LOL)!

Hoe ‘n volwasse man soos Corrie van Zyl sulke kinderagtige bog skaamteloos kan kwytraak, slaan my dronk. Wie het dan vir ons kom wysmaak die span het die ruggraat om bo uit te kom? En is die hele lot nie professionele sportmanne wat uitstekend betaal word nie?

Ek dink die koerante is die klomp (ook Andrew Hudson en sy mede- keurders) te genadig, en laat veral Graeme Smith te maklik wegkom. Sy lafhartige Londense ontvlugting vat die koek – watter prysenswaardige kapteinskap!

Kom ons vergeet tog maar die droewigheid. Die koeël is immers klaar deur die konsistorie. Al het ons teen Nieu-Seeland gewen, sou ons buitendien nie oor die volgende hekkie gekom het nie. Sri Lanka se topkolwers is nie “chokers” nie, en Malinga en Murali slaan jy nie sommer vir sesse nie.

Ekskuus as my luim nie lekker is nie. Ongelukkig is my gemoed ook deur ‘n ander ervaring versuur. Ek was Maandagnag in ‘n slaap-laboratorium om vir slaap-apnee getoets te word. Dit beteken ‘n nag in ‘n eensame hospitaalbedjie met ‘n hol matras en ‘n metaal-raamwerk wat rittel elke slag as jy beweeg; met jou lyf gekoppel aan minstens halfdosyn drade – aan jou neus, nek, bors, been en waar nie nog nie – en met die ongemaklike sogenaamde “bottel” as enigste uitweg as jy in die nag ‘n groot loop opdoen.

Ek het my slaaptoets gedop – nie verrassend nie in sulke nare omstandighede!

Ná die hartverskeurende krieket en die sielsverstorende slaap-toets sien ek reikhalsender as ooit na Sabiepark uit. Weet nog nie of ek uit die bos gaan prober blog nie, maar twyfel. Die selfoon-koppeling is in elk geval soos harmansdrup. En om drie weke lank in onversteurde sielsaligheid sommer net niks te doen, klink, soos ek nou hier sit, ‘n te genoeglike vooruitsig om enige inbreuk daarop eens te oorweeg.

Tot wederom. (HvD)

SKIPSKOP IN NAGPUR

More uit Melkbos

Trapsuutjie-beurte aan die begin van ‘n lopie-jaagtog, warrelwind-beurte aan die einde. Voor die TV-skerm raak die hande klam van sweet wat na paniek ruik, en kou ons ons naels stompies.

Genugtig. Wanneer, soos David Kramer in Skipskop sing, hou hierdie dinge dan op?

Teen Indië was dit end wel, alles wel … maar dit kon totaal anders gewees het as Robbie Peterson nie daardie drie geïnspireerde mokerhoue in die doodsnikke grens toe gejaag het nie

Dan was dit nag in Nagpur en die jubelinge ná die kritieke Wêreldbeker-wedstryd net verslaenheid, verwyte en trane.

Ruikers proteas vir Peterson, asook vir A.B. de Villiers, J.P. Duminy, Faf du Plessis en Johan Botha, vir hul onverskrokke kolfwerk teen ‘n allemintige agterstand.

Vrot tamaties vir die kaptein Graeme Smith vir sy stadige sukkelbeurt, Jacques Kallis vir, nogeens, ‘n demonstrasie van kasuele kan nie-omgee-nie terwyl dringendheid vereis word, en vir Hashim Amla vir oorversigtigheid in omstandighede wat waagmoedigheid verg.

Dis tog nie mortiere wat die Indiese snelboulers op die top-drie afvuur nie, of is dit? As dit is, hoe kry Peterson dit dan reg om in die laaste boulbeurt teen een van die einste “verskrikkings” so los te trek?

As ek ‘n sportskrywer was (een van my gefrustreerde ambisies), sou ek graag vir Smith en die afrigter, Corrie van Zyl, ‘n paar indringende vrae wou vra.

Hoe struktureer hulle ‘n jaagtog as hulle so plus-minus 300 lopies nodig het? Vir hoeveel mik ons span na 10 beurte, vir hoeveel na 20, vir hoeveel na 25?

Hoe hoog mag die vereiste lopietempo maar klim voordat die “topkolwers” hul sterte begin roer?

Watter lopietempo is billik om op die arme drommels ondertoe op die kolflys af te laai om te prober behaal?

Is dit nie ‘n skande nie om wedstryd na wedstryd soveel druk op veral die skitterende A.B. de Villiers te sit? Want Kallis is tog nie minder talentvol nie – wel ouer, luier en klaarblyklik minder avontuurlustig en vol vuur.

Maar vandag se sportskrywers vra mos nie vrae met byt nie. Hulle probeer net slim skryf, veral mooi skryf, en voer die lesers hul eie wyshede, terwyl ons smag na ware insig en voorligting. (HvD)

Naskrif: ‘n Mens kan ook nie jou rug draai nie. Terwyl hierdie blog in reses was, het die temas opgelaai. By almal gaan ek nie uitkom nie, maar oor die verering van Nelson Mandela ná sy dood gaan ek nog skryf. Ook nog ‘n ietsie oor die Woordfees n.a.v. die gesprek met Francois Lötter in die Boektent.