Sep 21, 2022 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Drie Suid-Afrikaanse staatspresidente het in jul jong dae die joernalistieke waters beproef: CR Swart en PW Botha by Die Volksblad en Marais Viljoen, by Die Transvaler. Amper was dit vier. TE Dönges (Die Burger) is tot die amp gekies, maar kon dit weens siekte nie opneem nie. Dit het die deur oopgemaak vir die Vrystaatse boer, Jim Fouché.
Swart was in 1936 twee maande lank waarnemende redakteur van Die Volksblad. Van 1927/28 tot 1933 het hy ‘n weeklikse politieke rubriek onder die skuilnaam “Rondloper” behartig. PW Botha het in die middel 30’s as vryskut politieke vergaderings vir die koerant gedek.
Viljoen was vertaler en verslaggewer by Die Transvaler. Dönges was assistent-redakteur van Die Burger en betrokke by die NP-blad The South African Nation.
Twee premiers, DF Malan en HF Verwoerd, was onderskeidelik die eerste redakteurs by Die Burger (van 1915 tot 1924) en Die Transvaler (1937 tot 1948).
Dr. EG Jansen, voorlaaste goewerneur-generaal van die Unie van Suid-Afrika, was in 1919/20 nege maande lank redakteur van Die Nataller.
Sir De Villiers Graaff, leier van die Verenigde Party, was aanvanklik ‘n rukkie lank joernalis by The Friend en dr. AP Treurnicht, leier van die Konserwatiewe Party, was redakteur van Hoofstad. Helen Zillie was in ‘n later era leier van die Demokratiese Alliansie.
Politieke swaargewigte soos dr. AJR van Rhijn en dr. Otto du Plessis, Kaaplandse Administrateur, het ook Die Volksblad se gange bewandel. Van Rhijn was ‘n marathonskof van 23 jaar lank redakteur.
Senatore was CJ Langenhoven ( Het Zuid-Westen en Die Burger) en AM van Schoor ( Die Vaderland).
Ander mediamense wat politici geword het: Hennie Smit (Die Burger), Sporie van Rensburg (Die Transvaler), Gert Terblanche (Die Volksblad), Frik van Deventer (Die Volksblad, Dene Smuts (Fair Lady), Piet Coetzer (Die Transvaler) en Chris Rencken (SAUK). Die lysie is waarskynlik onvolledig.
In ambassadeurgeledere was o.a. AJR van Rhyn (Die Volksblad), Conrad Sidego (Rapport en Die Burger), Gert Terblanche (Die Volksblad) en Leo Rautenbach (Die Burger). Tertius Myburgh (Sunday Times) is aangestel as ambassadeur in Washington, Hy is egter dood voordat hy die pos kon opneem.
Ongetwyfeld die koerantman wat die skielikste in die politiek beland het, ws Clarence Henney. Een oomblik was hy nog ‘n taamlik junior Ekstra-verslaggewer by Die Volksblad (Ekstra was die naam van die uitgawe gerig op bruinmense), die volgende was hy ‘n LUK (lid van die Vrystaatse Uitvoerende Komitee) – ‘n politieke swaargewig. Dit was ‘n regstreekse uitvloeisel van die totstandkoming van die driekamer-parlement.
Tot sy eer het hy sy ampsBenz self bestuur; wou nie n bestuurder hê nie.
Hy wou nie gesalueer word as hy by die hekke van die HF Verwoerdgebou inry nie. Het ook nie in n LUK-huis gaan bly nie, maar steeds in Heidedal waar hy sy skemahuis laat aanbou het. Hy was n nederige mens.
Mar 26, 2011 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Melkbos
“I am satisfied that all politicians were meant to be journalists and all journalists meant to be politicians.” Hierdie uitspraak word aan ene Owen Arthur toegedig – vermoedelik ‘n vorige premier van Barbados, tensy ek sleg ge-Google het.
Sy stelling klink ietwat rof. Ek kan aan verskeie joernaliste dink wat nie as politici sou deug nie, en sommer baie meer politici wat nie as joernaliste sou regkom nie. Oor die redes wei ek liewer nie uit nie. Hoekom sal ek nou daaroor rusies uitlok?
Oor iemand wat in albei kampe was, het ek enkele dae gelede geblog. Hy was pres. C.R. Swart, wat van die laat 20’s tot in die 30’s ‘n ridder van die tikmasjien was – in ‘n stadium twee maande lank waarnemende redakteur van Die Volksblad.
Rêrige Afrikaanse redakteurs wat tot die kabinetsbanke gevorder het, was die eerste ministers D.F. Malan en H.F. Verwoerd, asook dr. A.J.R. (Albertus) van Rijn en dr. Andries Treurnicht, wat leier van die Konserwatiewe Party geword het. Malan was Die Burger se redakteur, Verwoerd Die Transvaler s’n, Van Rijn Die Volksblad s’n en Treurnicht Hoofstad s’n. (Die Burger se A.L.. Geyer het ambassadeur in Londen geword.)
Verwoerd het die ongelukkige “roem” as redakteur verwerf dat hy sy koerant die koningsbesoek in 1947 laat ignoreer het. Slegs die strate wat gesluit sou word vir die koninklike optog deur Johannesburg is vermeld. Goeie aarde, doktor!
Van Rijn se lessenaar het later ook my lessenaar geword. Ek het sy begrafnis in Bloemfontrein bygewoon. Die arme dominee het daardie middag kleigetrap. Hy het aanhoudend na die oorledene verwys as Gerhard van Rijn, die naam van sy oudste seun. Gerhard van Rijn, wat regter-president van Noord-Kaapland was, het in die familiebanke al hoe rooier in die gesig geword.
P.W. Botha wat premier en staatspresident geword het, het ‘n kort loopbaan by Die Volksblad gehad. Ook in pres. Marais Viljoen se are het joernalistieke bloed gevloei. Hy was onder Verwoerd by Die Transvaler.
Ander ministers wat via koerante in die politiek gekom het, sluit in Blaar Coetzee, Hennie Smit en Marais Steyn, wat sir Div se regterhand in die Verenigde Party was voordat hy oorgestap het.
A.M. van Schoor van Die Vaderland (vertaler van o.m. Tarzanboeke) het senator geword (as ek reg onthou). Gert Terblanche van Die Volksblad was senator, LV en ambassadeur. Abraham Jonker, pa van Ingrid, en Frik van Deventer was LV’s.
Meer resent, was Piet Coetzer (pêl van wyle Fanus Rautenbach en politieke beriggewer van Die Transvaler, LV. Dene Smuts, LV, was redaktrise by Fair Lady (‘n publikasie van Naspers).
My lysie is net van Afrikaanstaliges. Ek aanvaar dit is onvolledig. Aan ‘n poging om die politici te lys wat uit die Engelse pers kom, waag ek my liewer nie. Ek sal ongetwyfeld misvat. Drie name duik egter dadelik op.
Die bekendste van die dag is natuurlik Helen Zille, kranige DA-leier wat so mooi Afrikaans praat (Rand Daily Mail). René de Villiers, redakteur van The Star, was ook in die parlement. Tertius Myburgh van die Sunday Times – ‘n portuur vir wie ek baie tyd gehad het – is uit die bloute as ambassadeur in Washington aangestel. Hy is aan kanker oorlede voordat hy sy edele kon word.
Die loopbaan van P.W. by Die Volksblad beskryf hyself as as “baie kort en baie opwindend”.
Opwindend? Wel, in die politieke hoogsomer van 1935/36 toe die stryd tussen Malaniete en Smelters oral laat oorgekook het, het hy verslag gedoen oor ‘n onstuimige tussenverkiesing in Frankfort en onder meer op 17 Februarie 1936 vir ‘n hoofberig gesorg met die volgende stapel opskrifte: Vroue moet met stoelpote orde herstel op Villiers/Smelters se aanslag op verhoog dadelik gestuit/Skokkende wanordelikhede/Oorweldigende Nasionale gevoel, moedige vroue-optrede ontketen.
Baie kort? ‘n Persoonlike grappie tussen hom en wyle Oom Skakel Kriek, wat in daardie tyd nuusredakteur by Die Volksblad was (later o.m. redakteur van Landbouweekblad) was dat laasgenoemde die latere premier en president gou-gou sou aangeraai het om liewer ‘n ander loopbaan te volg.
In my boekie Flaters en Kraters het ek die grappie genoem, met die doel dat dit as humoristies opgeneem moet word. Botha het dit as “vernederend” ervaar en my kop in ‘n telefoonoproep uit George behoorlik gewas.
Later het hyself tog in ‘n koerantonderhoud gespot hy was nie juis ‘n joernalistieke ster nie – “toe word ek maar ‘n politikussie”. Van Deventer is egter nooit vergewe nie. Ces’t la vie! (HvD)