’n Mooi meisie en ’n moord. Dis die resep vir ’n geslaagde koerant volgens ’n digterlike siening van buite. Boesem vrees in by die lesers, dan koop hulle koerante. Dis ’n poëtiese insig van binne.
My onderwerp is perspoësie. Die twee digters hier bo ter sprake is Dirk Opperman en Pirow Bekker.
Opperman – die stem van buite – het in Joernaal van Jorik soos volg gedig:
Gee ontspanning, hou die massas dop;
gee elke dag ’n mooi nooi en ’n moord,
en stoot die sirkulasiesyfers op.
Pirow Bekker, oudhoofsubredakteur van Volksblad, dig soos volg in “Peins oor die plakkaat”:
Dit bly een maal onfeilbaar: vrees,
Dit laat die mens koerante lees.
Dan egter ná al die pynlike gepeins om ’n goeie plakkaat te kraam, die ontnugterende besef:
Maar die plakkaat se groot ekstase
Kom nooit op afgeleë plase.
In die Afrikaanse perspoësie kom nie net verse oor koerante voor nie, maar ook oor gedigte oor joernaliste. In “Gebed van ’n leerlingjoernalis” – geskryf op versoek en onder die vaderlike oog van Piet Cillié by die stigting van die Universiteit Stellenbosch se Departement Joernalistiek – noem die digter-dominee Izak de Villiers (later redakteur van Rapport) onder meer die volgende smekinge van die aspirante:
Bewaar my van die diens aan die leuen …
Keer my weg van die kortpad, die maklike pad …
Lei my uit die versoekings van sinisme, vooroordeel …
Bo alles: verleen my die genade van te glimlag, vir myself ook
Wanneer ander my feite raakvat soos ek hulle syne …
Laat my nie met baie woorde beduie wat met min te sê is nie
… en dat ek die Bose sal beveg
Deur met die woord te help bou
Aan ’n wêreld waarin geregtigheid woon.
Die vers is seker elders ook gepubliseer. Ek kry dit in “’n Boekie vir Piet”, ’n huldigingsbundel aangebied aan Piet Cillié by die voltooiing van 50 jaar in diens van Nasionale Pers op 1 Desember 1985.
Oor spesifieke joernaliste bestaan gedigte soos “By die dood van ’n joernalis” deur Dirk Opperman (met die dood van sy Franskraalse kuier- en geselsmaat Schalk Pienaar) – wat volledig aangehaal sal moet word om sin te maak. Gaan slaan dit liewer na in Opperman se voorwoord tot Pienaar se outobiografie, Getuie van groot tye.
Met Pienaar se aftrede by Beeld in Januarie 1975 is Opperman gevra om iets oor hom vir die naweekbylaag van Nasionale Pers se dagblaaie, Die Byvoegsel, te skryf. So het hy daarin gedig:
Toe hy byna Die Burger was, het “die luie donner”
Hom glo alte graag op Franskraal afgesonder,
Maar in JB (Johannesburg – HvD) toe hy op sy eie is, verrig
Hy met Die Beeld ons grootste wonder.
Volgens Opperman is die kwatryn “om die een of ander rede nie geplaas nie”. Die redes is vir my taamlik klaarblyklik. Die verwysing na “luie donner” en sy liefde vir Franskraal was immers ’n interne grappie van Piet Cillié. Hy sou nie die gevaar wou geloop het dat iemand dit ernstig opneem nie.
’n Vrolike feesversie is deur “versieman” (sy eie beskrywing) Philip de Vos by die Kaapse viering van Volksblad se-eeufees in 2004 bygedra:
Maar – Volksblad
klim die hoogtes
deur storms en deur droogtes
deur oorloë, griep en Runderpes,
bied hy ’n les vir al die res
en so gaan hy steeds aan en aan
en hoop om lank nog te bestaan!
Die wens vir lank nog te bestaan is helaas nie verwesenlik nie. Die gedrukte koerant het verdwyn. Die blad verskyn nou net in digitale vorm.
Ook oor Volksblad (toe nog Die Volksblad) het ek (wat geen digter is nie) in 1966 met die moord op HF Verwoerd my hand gewaag aan ’n versie wat nog al die jare in ’n lessenaarlaai was:
My hartstog-koerant,
Blad van land en volk,
Bring blitsgou die nuus
Van Tsafendas se dolk,
Geskokte lesers in rou
Ruk, verslae en kwaad,
In hul derduisende op
Na Voortrekkerstraat.
Die verwysing was na die groot skare wat op 6 September 1966 by die koerant se gebou kom saamdrom het om te wag vir ’n spesiale later uitgawe met varser nuus oor die skokkende gebeure.
Vergun my ten slotte nog ’n eie versie oor koerante nav Die Burger se slagspreuk:
Lees die koerant en gesels saam
of weet niks – en kry skaam.