WET VAN TRANSVAAL!

Piet Botes van Paul Roux

More uit Melkbos

Die belofte was om na die ernstigheid van die “langboompie”-blog en die mymeringe oor die Byl se bedrywighede in ons bos – in ons ry in die bos, verbeter sommige – vandag “iets vroliker” hier neer te pen. Maar soos die lappie nou maar rafel, ontbreek die stemming vir die pleeg van ‘n vrolikheidjie vanoggend, ondanks ‘n helder blou lug, die gemoedelike geluid van brekende branders en Desmond Tutu se woedende irritasie met die Zuma-regime, waarmee hier in Penguin Place 11 van harte simpatie bestaan.

Omtrent die snaaksste van die afgelope 24 uur vir hierdie geboeide waarnemer van mense en dinge op hierdie ondermaanse is die stommiteit van daardie slim Regeringswoordvoerder wat verontwaardig op TV volhou ‘n visum is nie vir die Dalai Lama geweier nie, dis nog onder oorweging; dit is dus die geestelike wat die appelkar omgesmyt het om sommer net sy reis af te gelas.

Op deeske aarde! Hoe moes die arme oubaas betyds hier kom vir sy Nobelgenoot se verjaardag-fees? Al is die Dalai Lama in die oë van die Chinese ‘n duiwel, reis hy darem nie, soos ‘n hipermoderne heks of ‘n ding, op ‘n turbo-besemstok wat die ruim teen ‘n asmrowende snelheid vinniger as lig deurklief nie!

Maar ek het mos al klaar oor die visumdebakel keel skoongemaak. Soek ‘n ander onderwerp, HvD!

Nou maar goed. Dalk is dit nou die aangewese tydstip om ‘n storie hier te vertel wat ek op my reis deur die Vrystaat in die winter by Tokkie se neef Piet Botes op Paul Roux verneem het. Piet is ‘n man van vele stories, die meeste met ‘n ruim knypie speserytjies opgedis.

Hierdie ene is van ‘n ryk Vrystaatse boer – naam nogal hoogs bekend in die geledere van die beestelers – wat een aand na ‘n lang, gesellige kuier en vele lafenisse vir die keel deur die drang gepak word om onmiddellik water af te slaan. Die straat is stil en in ‘n donker kolletjie- na sy oordeel – maak hy sy plassie.

Maar dit was nie donker genoeg nie. Een van die dorp se enkele polisievangwaens kom om die hoek gesny en betrap die boer “red-handed” soos die Engelse sê – met die getuienis in die hand as ‘t ware. Dadelik word hy gegooi met al die wette wat deur so ‘n skandaligheid oortree word en al die boetes en dinge wat op die skuldige wag.

Hy kry op die daad ‘n boete van R50 (goeie ou dae toe R50 nog R50 was) weens openbare onsedelikheid.

Volgende dag is hy by die hof se toonbankie met die bekende halfmaan-venster waar agter ‘n klerk die kontant van dese en gene insamel wat met die gereg in botsing gekom het. Onse boer oorhandig sy boetepapier en R100. Die R50 kleingeld wys hy hoflik van die hand.

Krisis! In geen handboek van pennelekker-edikte word vir oorbetaling van ‘n boete voorsiening gemaak nie. Die boer hou voet by stuk. Hy wil R100 betaal. Hoër gesag word ingeroep. Dié verduidelik ook hoflik maar ferm aan die onwrikbare boer sy boete is R50; daarom mag hy net R50 betaal en basta.

Wat sou die rede vir die ekstra R50 wees tensy die boer ‘n onheilige geheime agenda het, bv. omkopery, behoede dit! ”Nee,” volhard die boer, hy’t g’n geheime agenda nie. Hy wil ook niemand omkoop nie. Hy voel net in alle billikheid behoort hy R100 te betaal, nie R50 nie.”

Toe al goed moedeloos, probeer die verwarde amptenaar vir laas: “Maar, hoekom dan, meneer?”

“Omdat ek, wat julle nie weet nie, nie net in die straat ge-piepie het nie. Ek het gep..p ook!” (HvD)

MAAGDE, WYSE MANNE EN PIEPIEBREEK

More uit Melkbos

Net maagde sal weet hoe waar dit is.

Ek het nogal geglimlag toe ek ‘n keer in ‘n gemeentekoerantjie lees van die klein meisietjie, moeg gerepeteer aan ‘n Kersspel. Sy kla toe by haar ma: “Mamma, dis harde werk om ‘n maagd te wees.”

Ons leef in die seisoen van Kersspelle – ook die ou heel kleintjies neem ywerig deel.

Uit George rapporteer ons skoondogter, Mariza, van die meisietjie wat in een so ‘n spel die rol van herbergier vertolk het.

In n stadium verloor sy volledig belangstelling in die doen en late op die verhoog, storm eenkant toe, sprei haar hande wanhopig omhoog en roep pleitend: “Mamma, ek wil piepie.”

Die juffrou probeer paai, maar die kind bly haar behoefte uitkreet.

Mamma het amper agter in die saaltjie gesit. Sy storm vorentoe, gryp die knypende “herbergier” en verdwyn met haar in die arms by ‘n sydeur uit.

Na n paar minute keer hulle terug, glimlag van verligting op die “herbergier” se gesiggie.

Die Kersspel het intussen tot stilstand gekom vir die piepie-breek. Sy val egter dadelik weer in, en alles gaan voort asof daar geen onderbreking was nie.

Maar as n mens wil piepie wil jy piepie – herbergier of wie ookal!

Naskrif: Vaagweg onthou ek iets van ‘n ander Kersspelstorie waarin die geografiese verskil tussen die Bybelse Betlehem en die Vrystaatse Bethlehem (met ‘n h) ter sprake gekom het. Kom ons maak dit ‘n sproetgesig-seuntjie hierdie keer, wat toe vol selfvertroue verklaar: die ware Kersgebeurde het hulle in die ander Betlehem afgespeel omdat hulle in die Vrystatse Bethlehem nie drie wyse manne kon kry nie! (HvD)