PIEKNIEK OP NUWEJAAR

Piekniek by Pretoria se Fonteine was nogal ‘n Nuwejaarsaktiwiteit wat jare her groot aftrek gekry het. Families (bedoelende families, nie gesinne nie) het vroeg op Nuwejaarsoggende voltallig daarheen opgeruk met hul komberse, waatlemoene, polonie en gemmerbier vir ‘n dag se ontspanning saam met broers, susters swaers, skoonsusters en elkeen se kinders .

Ma, Baby, was ‘n nooi Visser van Jacobsdal met drie susters, Antie Dinah, Antie Minnie en Antie Susie. Met hul onderskeie eggenote, Tony, Martiens, Willie en Danie, en kinders, Hennie – dis nou ekke – Christo en Cules, Lina, Elsa en Ria, Ben en Elise, Bertus, Susanette en Visser was die Visserclan en hul aanhangsels nogal ‘n gedugte span wat ‘n fris oppervlak Fonteine-grond beslaan het.
My storie handel nie oor die pieknieks self nie – daarvan het ek bra vae rekolleksies – maar met ‘n komplikasie wat een betrokke Nuwejaar in die 50’s konsternasie, verontwaardiging, verwyte, verleentheid, trane en ook heelparty onderdrukte lagbuie veroorsaak het.
Dit was die dae van die uitskop- onderrrokke met vele lae wat ‘n meisiekind se romp soos ‘n kerkklok om haar onderste stellasie laat uitdy het. Elise en Susanette – amper ewe oud – was in die tienerstadium wanneer in-die-mode-wees een van die grootste behoeftes en prioriteite van menswees is.
Neefs Bertus (later predikant op Reivilo) en Ben was weer in die motorfiets-stadium. Albei het verkies om met hul ysterperde piekniek toe op te ruk.
Elize kondig uit die bloute aan aan sy ry saam met neef Bertus as sy passasier. Antie Minnie gooi wal. Elize laat haar egter nie van haar avontuurlike voorneme afsien nie. Maar o wee, toe Bertus wegtrek, pluk die agterwiel van sy BSA op die een of ander onverklaarbare manier gulsig die onderrok in, laag vir laag.
Uiteindelik: Daar staan Elize in haar skamele onderklere, stomend van ontsteltenis, ook skaamkwaad oor haar koppigheid. Sy moes haastig ander klere gaan aantrek. Bertus moes op sy beurt die jaartse materiaal uit die wiel ryg. Wat ‘n gesukkel!
Die hele dag was daarna maar maar vir sommige ‘n surigheid. Vir ander was die toneeltjie weer heel vermaaklik. Hulle kon nie ophou om agterlangs te giggel nie.

REGTE KAR VIR ‘N PIEKNIEK

1-kar1 My briefie oor my Sabiepark-Honda in vanoggend se Motors-bylae in Die Burger word hier herhaal.  Sou darem uiters dislojaal gewees het aan die Honda as sy trotse baas nie sy stem laat hoor het nie.
Geagte Redakteur
‘n “Netjiese truuk” in die nuwe Mini Countryman is ‘n piekniek-geriefie (tafel of stoel)  in die laairuim, lees ek in Motors (Donderdag, 27 Oktober.  Terstond trek my hart met ‘n punt na my Honda in die bos: ‘n silwer 1999-model CR-V wat op pad is na 250 000 km – nietemin steeds mooi en rats soos ‘n splinternuwe.    ‘n Baanbrekerkar gewees daardie; sy tyd vooruit in vele opsigte.  
Amper 20 jaar gelede kon die Honda al met dieselfde  “netjiese truuk” spog.  Jammer om Mini se seepbel te prik maar die Countrryman is dus ietwat mosterd na die maal.
Soos die  Countryman s’n,  is die Honda se laairuim die produk van dinkwerk.  Grootste bate is piekniektafel – in die vorm van die metaalplaat wat die opening vir die noodwiel  bedek,. Die noodwiel sit parmantig buite.  Wat ‘n heerlike geheime wegsteekplekkie skep dit nie!
Die Honda spog ook met iets anders:  ‘n netjiese houer vir twee bottels wyn in die agterste luikflap met bandjies om die bottels vas te woel.  Baie bedagsaam. Jy sou dit kon aanwend as ‘n klein kluis. Niemand gaan raai om agter daardie flappie iets waardevol te gaan soek nie.
Die CR-V spog met nog meer bruikbare hokkies  van verskillende formate, maar dis nie my storie nie.  Dis oor daai tafel dat ek iets op die hart het.  Myne is beslis nie nie net daar as ‘n funksionele noodaaklikheid of vir die mooigeid nie. By pieknieks is hy sy gewig in goud werd.  Die ware Jakob om kos,  drank, borde en nog wat op uit te pak.  Ontdek gashere skielik ontdek hul pakplek is te min vir al die spys en drank, dan  lig hierdie ou eenvoudig nonsjalant die luikdeur . Siedaar nog ‘n tafel. Lekker liggewig, stewig en netjies.  Jy moet hul dankbaarheid beleef.
My Hondatafel moes o.m. al dien as rekenaartafel in die veld.  Jy vou hom in ‘n japtrap oop., Baie geriefliker om jou drarekenaar op jou skoot  te balanseer.  Tokkie, my vrou,  het my een dag so by my tafel afgeneem, die ene konsentrasie voor die dtarekenaar. Verduiwels of ek daardie foto kan kry.  ‘n Veelsydige kerel dus; weet net nie hoe gemaklik jy gaan sit as jy ‘n stoel van hom wil maak nie. 
Maar die stomme Honda! Skaars ‘n jaar of wat later los die besluitnemers in Japan onverklaarbaar hierdie wenresep soos ‘n warm patat.  Toe ek weer ‘n CR-V koop, is hy minus die piekniektafel, minus die wyn-wegsteekplek en met die noodwiel verbeeldingloos terug op sy ortodokse plek. Nuttige laaispasie is daarmee heen.   Nou kom die Mini Countryman na ‘n lang vakuum weer met die “netjiese truuk”.  Eienaars van nuwer CR-V’s kners op hul tande en ons generasie is opnuut in ons skik met wat ons het.
Hennie van Deventer
Melkbosstrand  
Naskrif:  Die foto van die laairuim by my brief kom nie van my af nie. Dis nie die Honda daai nie!,