HARTKLOP WAT UIT PAS IS
Hoekom nie ten minste PDF’s nie?
Die pleidooi van lesers wat na ‘n koerant-gevoel bly smag – die deurblaai, blad vir blad, op die skerm van ‘n produk met berigte en foto’s tipografies aangebied soos in die gedrukte formaat – maak geensins hond haar-af by Media24 nie.
Die volledige rede vir die koue skouer lees ek nou uit die pen van Henriëtte Loubser, hoofredakteur van Netwerk24, in ‘n enkele paragraaf saamgevat – so klinkklaar gestel dat selfs ‘n koerant-verknogte soos die uwe kan snap hoe die moderne generasie se koppe oor die kwessie werk.
Dit is vir eers nie die manier hoe die meerderheid Media-intekenare hul inhoud lees nie, verduidelik Henriëtte in ‘n insiggewende bydrae in Johannes Froneman se nuwe handboek “Konstruktiewe joernalistiek vir vandag” wat pas by Akademia verskyn het.
Dan voeg sy by: ‘n PDF-koerant verg koste, tyd en kapasiteit. Dit vereis ook dat die redaksie op ‘n sekere manier hul stories aanpak en verpak. “Hulle maak dus nie die volledige digitale kopskuif wat nuwe maniere van dink en doen vereis nie.”
Wat ek lees, verheug my nie, maar ten minste weet ek nou hoekom ek en ander verskene teen die prikkels skop as ons in daardie rigting dink en praat. Ek het nou sommer ook die antwoord op my onlangs versugting dat die verskyning van “Die Papier” in Maart Media24 dalk kan dwing om oor ‘n PDF van “Rapport” te herbesin. Skryf dit op jou maag, Van Deventer!
Mense wat die vurige koerante-debatte gevolg het na die aankondiging dat die gedrukte “Rapport” en “Beeld” ook gaan verdwyn soos o.m. “Volksblad” tevore, sal waarskynlik die buitengewone brief van 14 oud-redakteurs onthou. Dit is op 27 Junie 2024 per e-pos gerig aan Prof Rachel Jafta, voorsitter: Media24-direksie. met ‘n afskrif aan mnr. Ishmet Davidson, destydse uitvoerende hoof, Media24.
Die oud-redakteurs boekstaaf daarin hul teleurstelling en ernstige kommer oor die gevolge van dié “besonder drastiese ingryping”. Hulle verstaan die oorhoofse sakeredes, skryf hulle. Maar hulle lewer ‘n ferm pleidooi vir die behoud van gehalte-joernalistiek in Afrikaans “onder die vaandel van mashoofde wat oor dekades heen bekend en gerespekteer is in die Afrikaanse gemeenskap”. Hulle versoek dan dat al die geraakte titels tog wel op die Netwerk24-platform voortleef in PDF-formaat.
Klaarblyklik was daardie versoek doodgebore en nooit juis ernstig bejeën in die gange van die besluitnemers nie. Ons hartklop was in meer as een opsig uit pas, kollegas!
Johannes se boek oor die moets en moenies van die joernalistiek in die moderne tyd boei hierdie ou veteraan. Ek wil graag nog meer oor hom vertel. Maar later.