TOL PIENAAR SE MAGTIGE BAKENBOEK OOR WILDTUIN

Hier onder is my resensie. op versoek van Beeld, van Tol Pienaar en span se magtige bakenboek oor die geskiedenis van die Laeveld en die ontstaan van die Krugerwildtuin, Neem uit die verlede (Protea, 2007).Die resensie het helaas ook verlore geraak.

Die ensiklopediese boek beslaan 767 groot bladsye plus vyf los kaarte. Al was ek 15 jaar jonger, moes ek lees, hoor, om daardie resensie betyds te kon lewer!

SOOS SPORE BY ‘N WATERGAT

Soos die see van spore by ‘n watergat in die Krugerwildtuin lê die voetspore in hierdie boek van mense wat ‘n wilde landstreek – nie om dowe neute nie nog tot 1930 bekend as die “witman se graf” – kom tem het.

Die San, magshonger swart “koloniste”, die Voortrekkers van die roemryke Trichardt-era, voorposmense soos die Portugees João Albasini, ontdekkingsreisigers, sendelinge, goudhonger fortuinsoekers, transportryers, beroepsjagters, wildstropers, smokkelaars, Crooks Corner se alle soorte swartskape – almal duik op, doer van die Steentydperk af. Dan, na ‘n jammerlike “eeu van uitdelging”, oplaas ook die heldegalery van stoere Wildtuin-pioniere wat Paul Kruger se grootse ideaal moes vergestalt.

Ons leer ken in-diepte natuurbewaarders soos die fanatiese James Stevenson-Hamilton – die nimlike Skukuza (die “een wat skoon vee”) – wat bestem was om so ‘n reuse-rol te speel; Harry Wolhuter, legendariese oorwinnaar oor ‘n leeu in ‘n kaalhand-geveg, en sy seun, Henry; Lou Steyn, wat sy hand in ‘n gewonde leeu bo-op hom se bek gedruk het om sy tong vas te gryp, Bert Tomlinson wat nooit weer ‘n leeu vir ‘n bondel hout sou aansien nie….

Om al hierdie diverse voetspore – van deurlugtiges tot ongures – uit ‘n romantiese waas te ontrafel en in ‘n sober historiese konteks te verpak, is die enorme taak wat Tol Pienaar en sy span aangedurf het. Die resultaat is ‘n boek van ensiklopediese omvang, heerlik leesbaar, keurig versorg en beslis ‘n baken in die stelselmatige oopskryf van ‘n stuk van die aangrypendste Suid-Afrikaanse geskiedenis.

Ervare reisigers dons nie sommer net met dwase moed in nie. Hulle weet: hoe grondiger die huiswerk, des te vrugbaarder die reis. ‘n Vinnige oriëntasie het my bv. die kans gebied om twee keer stil te staan by J.B. de Vaal se ontroerende klein kamee oor Dina Fourie – ‘n verhaal van ‘n vrou van staal se leeuemoed en die opperste trou van haar swart Samaritaan, Makakikiaan, indoena van Chabana, in ontberinge wat die hart vasgryp (p.206). Dit was die moeite werd.

Ook aan die sjarmante fotoskat uit ‘n Wildtuin van weleer kon ek my in dié voorlopige vingeroefening al verkneukel: dowwerige tweespoor-paadjies, eenvoudige rondaweltjies in uiters basiese kampe, ponte oor riviere, piekniekplekke in die bos… Ons het weliswaar die gerief; ons voorgeslagte het die romantiek gehad (vergelyk die jong manne wat by Onder-Sabie in die rivier was en skeer op p. 603)! En – wrintiewaar! – kyk daardie kansvatters op die dakke van hul tjorries (p. 574). Hulle kyk leeus in die 1930’s.

Op p. 541 skryf Pienaar: “So is die goeie aarde wat vandag die Krugerwildtuin is …. met bloed gedoop.” Dit is ‘n sleutelsin in dié meesleurende boek. Baie het immers in die Wildtuin hul bloed vir ‘n ideaal gestort. Nog meer het op ander altare hul lewens opgeoffer vir hul ideaal van ‘n beter, toegankliker Laeveld vir hulleself en hul nasate.

Impi’s se bloedige kampanjes; veldslae van die Anglo-Boereoorlog; die gevreesde malaria; leeus, luiperds, olifante, seekoeie, buffels, krokodille en slange; hongersnood, watergebrek, hitteslag, brande en vloede; moord en doodslag – niks kon hierdie opmars na ‘n nuwe beskawing stuit nie. Die nasate kan hul safarihoede in dankbaarheid hoog lig vir daardie vasbyters, soos Pienaar-hulle dit so waardig doen.

‘n Nuwe dimensie in dié gedugte boek is hoe ingedelf word in die verre verlede toe die Laeveld (nog) woes en leeg was (hoofstuk 1, p.11.) Die San-faktor kry uitgebreide erkenning en rotsskilderkuns word omvattend gekarteer. Historiese integriteit word verder gedien deurdat swart veldwagters van formaat verdiende eer kry. Een is Mankoti Nkuna wat hom 36 jaar na die Wolhuter-insident ook alleen in ‘n leeu vasloop. ‘n Feitlik identiese sage speel hom af. Mankoti was minder gelukkig as sy eertydse baas. Sy eie pa het die volgende dag sy lyk gekry.

Partikuliere uitdagings en verwikkelings vir die Wildtuin na die koms van demokrasie is vlugtig bygewerk. ‘n Mens wonder egter: moes die boek nie tog – al was dit net met ‘n ekstra voorwoord – t.w.v. nog groter eietydse relevansie sterker by die eise van natuurbewaring in die 21ste eeu aansluiting gesoek het nie?

Foto’s sorg vir ‘n sterk visuele element. Die Singapoerse kleudrukwerk is egter wisselvallig en party foto’s is eenvoudig te klein. ‘n “Unieke natuurtoneel” (p. 529) kan nie tot een kolom gereduseer word nie. Meer dierefoto’s soos op p. 687 (swartwitpense) en p. 569 (wildbeeste en sebras) sou ‘n aanwins gewees het. Die dramatiese omslagfoto is kennelik op die buitengewoon historiese waarde beoordeel (kyk p. 635). Ongelukkig ly die impak met vergroting skade.

Die boek volg kort op die hakke van Salomon Joubert se prag-trilogie, The Kruger National Park – A History, wat spesifiek op natuurbewaring gefokus is. Neem uit die verlede en die Joubert-boeke vul mekaar aan. Saam vorm hulle ‘n onvergeetlike herdenking van die eerste eeu plus tien van hierdie “ryke natuurerfenis wat ons nie van ons voorvaders geërf het nie, maar van ons kinders geleen het!” (p.610).

SALOMON JOUBERT SE WILDTUINBOEKE – VERLORE RESENSIE

Grootse boeke oor die grote Krugerwildtuin – dit is Salomon Joubert se ensiklopediese trilogie oor die Kruger-wildtuin, “The Kruger National Park – A History” beslis.  In my boekery is hierdie liefdestaak van die waardevolste skatte; Africana van die eerste water.

Joubert se boekestel is in 2007 deur ‘n klein uitgewery, High Branching, in deftige hardeband met goue beslag gepubliseer.  ‘n Bygewerkte tweede uitgawe het op 3 Maart 2013 sy buiging gemaak, die keer in sagteband. Dit was my uitnemende voorreg om hierdie boeke van nasionale betekenis by die verskyning van die tweede uitgawe vir die Afrikaanse dagblaaie te resenseer. Ek was werklik verheug oor die geleentheid.

Tot my teleurstelling het digitale weergawe van die resensie verlore geraak.  By die skakel http://www.beeld.com/Boeke/OnlangsVerskyn/Grootse-werke-oor-grote-Kruger-20130303 waar dit destyds te vinde was, kry ‘n mens net die onheilspellende boodskap dat “this site can’t be reached”. Ek herhaal dit graag hier, soos dit in my boek Laatoes – kykweer van ‘n kanniedood-koerantman (Naledi, 2017  ) verskyn:

Soos die Sabie, Krokodil, Olifants of Luvuvhu in vloed, só vloei die nostalgie breed en onstuitbaar wanneer ’n wildtuinliefhebber in Salomon Joubert se pragtrilogie The Kruger National Park – A History verdiep raak.

Salige episodes spoel soos dryfhout verby in die vloedwater van eie herinneringe; beelde word opgetower van kampvuurtjies in ’n gesellige kring, koolstowe met reuseketels kookwater en gloeiende hardekoolstompe waar jy met langsteelgrawe kole kon skep.

Die romantiek van vanmelee word met sjarmante foto’s uit argiewe en private versamelings verbeeld. In primitiewe rondawels was daar nog kamerpotte onder die bed. Riviere is per pont oorgesteek.

Die reuse-arbeid van dié “Mnr. Wildtuin” in sy era as parkhoof (1987-94) is verstommend. Op vele en verre spore word teruggeloop – soos die duisternis spore elke oggend in riviersand. Die register omvat oneindig baie brandhout vir die onthou.

Die ensiklopediese boekestel behels derduisende feite oor alles onder die Kruger-son; van diere tot strukture. Vra sowat enige vraag oor die geskiedenis tot 1994; die antwoord is in hierdie plus-minus 1 500 bladsye se boeiende teks, kaarte, tabelle en grafieke, wil ek waagJoubert het in 1981 van sy mentor, Tol Pienaar, opdrag gekry om ’n omvattende toekomsplan vir die park saam te stel. Dit word ’n meesleurende liefdestaak. Al die navorsingsresultate, nadenke, kundigheid en kreatiwiteit wat ingestort is, vind in sy boeke neerslag, ook in heelwat voorheen ongepubliseerde stof. Prof. Fritz Eloff, vorige baas van die Parkeraad (nou Sanparke), het dit as Joubert se uitmuntendste bydrae tot natuurbewaring beskou: ’n gewigtige pluimpie.

Die skrywer het daarna nie agteroor gaan sit soos van ’n gewone sterfling verwag sou kon word nie. Dadelik het hy dieper begin dolwe, varser feite versamel, insigte verbreed en die ryke oes aan illustrasies uitgebou. Die resultaat is hierdie hersiene uitgawe wat, soos hy dit beskeie stel, die geleentheid gebied het om ’n “paar regstellings te maak, asook hier en daar nuwe inligting en illustrasies by te voeg”.

Die kollektiewe Kruger-dinamiek lewe op die omslae, nou sagteband. Ai, daardie swartwitpense op Volume I darem – die bladsye wemel van sulke natuurlike, onopgesmukte wildtuintonele.

History is die fassinerende verhaal van dié kroonjuweel se verrysenis. Met passie, visie, idealisme en ferm bestuur is die Kruger-wildtuin van ’n nederige begin, soms sukkelende, soms met vaartversnellings, soms deur turbulensies, uitgebou tot ’n park wat in omvang, verskeidenheid en karakter uniek ter wêreld is.

’n Chronologiese safari neem die leser deur vyf tydvakke met ’n verskeidenheid kulture, style, voorkeure en filosofieë. Veranderende beleide, byvoorbeeld oor kunsmatige watergate, beheerde brande en die uitdunning van olifante, kom aan die bod. Strydpunte word openhartig uitgelig.Die pioniers wat Paul Kruger se ideaal moes vergestalt, is prominent: die legendes, karakters en helde (ook anti-helde). In ’n uitgebreide galery maak onbekendes soos Boorman Bosch (die boorman Pieter Bosch) en hoofman Chocwane (Tshokwane) hul buiging.

Die ware hartklop is die ryke natuurlewe: die olifante, leeus en luiperds; die bobbejane en vlakvarke; die kremetarte, maroelas en mopanies; die gompoue, arende en bromvoëls; die krokodille en adders.

Die fokus is, tereg, sterk op hierdie magnete wat derduisende besoekers uit elke windrigting telkens teruglok.

’n Glimlagbrokkie uit ’n ou brosjure is dié wenk: Moenie vir leeus skrik nie. Hulle staar eintlik na julle motors, vreemde goed wat hulle stom verbaas. Hul neuse vertel dit is nie lekker kos nie en stink na petrol!

Niks aan die Kruger is klein nie. Ook niks aan Salomon Joubert se boeke nie. Dis grootse werke oor ’n grootse plek waarvoor die geskiedenis die outeur sal eer. ’n Ruiker tarentaalvere vir die klein uitgewery High Branching.

  • Uit die pen van Joubert se mentor, Tol Pienaar, het ook twee gedugte Wildtuinboeke verskyn, Neem uit die Verlede (Protea Boekhuis, 2007) en ‘n selfpublikasie in 2010,   Goue jare – die verhaal van die nasionale Krugerwildtuin (1947 tot 1991).  Pienaar se boeke en die Joubert-boeke vul mekaar aan. Saam vorm hulle ’n onvergeetlike herdenking van die eerste eeu plus tien van hierdie “ryke natuurerfenis wat ons nie van ons voorvaders geërf het nie, maar van ons kinders geleen het!” Eersgenoemde is ook deur my geresenseer. Daaroor skryf ek in ‘n volgende blog.