Feb 8, 2021 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
As padingenieur het my vriend Arnold de Goede vele paaie in die Krugerwildtuin gebou. In al die jare nooit ‘n leeu gesien nie. Die laaste dag van sy wildtuin-skof laai die ouens hom in ‘n helikopter vir ‘n laaste, desperate soektog. Vuilbaard kruip steeds weg.
Arnold is Donderdag in die aftree-oord Serenitas, Bloemfontein, in sy middel 80’s oorlede. Hy het geruime tyd met sy gesondheid gesukkel. ‘n Paar jaar voor sy dood het Arnold uiteindelik toe sy eerste Wildtuinleeu gesien.
Hy en Grace het vir my en Tokkie in Sabiepark kom kuier. Die Sondagoggend gaan ons kerk toe in Skukuza. Net by die hek ingekom, stop die gids in ‘n groen safarivoertuig ons: “Wil julle leeus sien?”
Gelukkig was ons vroeg. “Graag,” koor ons almal. “Draai net regs hier in die Doispanepad. In die eerste lopie lệ ‘n mooi trop.”
Opgewonde draai ons regs in die rigting van die Phabenihek. By die eerste lopie daar lệ die leeus in die wintersonnetjie en bak. Verrassend min ander voertuie – en dit op hierdie besige toevoerroete – maak dit moontlik om hulle deeglik te bekyk.
Arnold se gelukkige dag. My en Tokkie se gelukkige dag dat ons half instrumenteel kon wees by hierdie baken. Het almal met ‘n lekker harte na ds. Carl Louwrens geluister.
Laaste keer met Arnold gesels op 31 Desember op sy verjaardag. Hy was nie die gewone Arnold de Goede nie. Maar hy het ‘n goeie lewe gehad, hierdie waardige, soliede ou vriend; was, terwyl hy as padingenieur op Lydenburg gestasioneer was, onder meer burgemeester van daardie mooi Laeveldse dorp aan die voet van die Long Tompas.
In Bloemfontein was hy later hoof van die provinsiale paaiedepartement in ‘n tyd dat die paaienetwerk in die Vrystaat op groot skaal opgegradeer is. Het lank in Kmdt. Senekalstraat ‘n blok van ons af gewoon. Ons was saam in die NGK Berg-en-Dal se kerkraad.
Het altyd aan sy lippe gehang as hy vertel van sy avontuurlike skof in die wildtuin: hoe hulle vuurtjies gemaak het en dan agter die rook agter ‘n verre bultjie aan paaie belyn het. Wonder of padingenieurs vandag nog so te werk gaan.
Jun 15, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

More uit ‘n sopnat Melkbos
Wintervakansie, Wildtuintyd! Ja, ons is ook weer op pad.
Vreemdelinge in ons bos-“Jerusalem” raak meermale oorweldig deur al die konfigurasies wat jy in een dag-uitstappie in die Wildtuin kan inbou. Vir eerste besoekers wil ek vandag dieselfde raad gee as vir ons kuiergaste.
Vir hulle is my advies sonder uitsondering: ry die “Goue Driehoek”: Skukuza, Onder-Sabie, Tshokwane, Skukuza, of omgekeerd: Skukuza, Tshokwane, Onder-Sabie, Skukuza. Dit kan sewe vrugbare ure word.
Sommige Wildtuin-liefhebbers het ‘n broertjie dood aan die besige H4-1- teerpad van 44 kilometer tussen Skukuza en Onder-Sabie – jy sien dikwels meer karre as diere, kla hulle. Wild is egter redelik volop. Die lieflike uitsigte op die rivier en die prentjiemooi Sunsetdam met sy voëllewe, net buite die Onder-Sabie-ruskamp, kompenseer vir al die karre.
Jy kan op dié been van die driehoek die bedrywige (soms te bedrywige) Nkuhlu-piekniekplek, of Onder-Sabie self, aandoen vir bene rek en verversings. My keuse is die kafeteria by Onder-Sabie se reuse-houtdek. Dit is, nie om dowe neute nie, ‘n uiters gewilde kuierplek, ook vir buitelanders. Seekoeie is die wêreld vol. Jy kan ook, koue bier in die hand, ‘n groot verskeidenheid ander diere van die dek af sien. Net jammer, Onder-Sabie se restaurantdiens was nog laas berug stadig.
Op die 43 kilometer-lange H-10 tussen Onder-Sabie en Tshokwane is die Nkumbe-uitkykpunt, waar die uitsig van 180 grade ‘n kameelperd onder op die vlaktes van die Laeveld tot ‘n blote stippeltjie reduseer. Hier het ek al klipspringers in die middel van die pad aangetref – hoogs ongewoon. Leeus het besoekers al vinnig in hul motors laat spring. Groot troppe sebras en blouwildebeeste kom voor, veral op die agterpaaie.
Noem jy die naam Tshokwane, ruik verskeie generasies Wildtuingangers die braaivleis of die uie in ‘n roergereg in die gas-ontbytskottel wat jy kan huur. Maar jy hoef nie self kos te maak nie; die personeel braai jaartse worse elke dag. Stop ook vir roomys, tee en skons of ‘n vrugtesappie – of sommer net om jou vere reg te skud vir die res van die rit. Wees gewaarsku: in spitstye gaan dit soms dol. Buite spitstye kan dit verrassend stil wees. In dol en stil tye is blou-apies lastig.
Die 40 kilometer op die H1-2 tussen Tshokwane en Skukuza lewer soms frustrerend min wild op, maar dit het potensieel lonende inzits-paadjies na o.m. Leeupan en die Olifantdrinkgat. By Leeupan het ek al leeus gekry en by die Olifantdrinkgat olifante. By laasgenoemde ook drie jagluiperds waarheen ‘n vriendelike Vrystater ons beduie het.
Talryke ander “goue driehoeke” (of “goue sirkels”, of “goue reghoeke”) is binne maklike bereik van Sabiepark en die Krugerhek. Hier is nog vyf belowende roetes vir ‘n dagreis:
1. Skukuza, Renosterkoppies, Nkuhlu-piekniekplek, Skukuza;
2. Skukuza, Nhlanguleni, Tshokwane, Skukuza;
3. Skukuza, Onder-Sabie, Mlondozidam, Skukuza;
4. Krugerhek, Pretoriuskop, Transportdam, Skukuza;
5. Skukuza, Renosterkoppies, Afsaal, Skukuza;
Onthou, dikwels wag die wonderlikste verrassings waar jy dit die minste verwag. ‘n Mens moet maar net wawyd wakker wees en nooit, nooit jaag nie – dan mis jy maklik die kleiner katte, ratels en steenbokkies … of selfs ‘n uitgegroeide olifant of renoster.
Geniet elke oomblik! (HvD)