VRYTJIE OP TV: OUPA SE RAAD

Vandag begewe ek my op ‘n terrein waarvan my kennis ‘n ronde nul is. Van sg. werklikheidsreekse op TV is ek geen kyker nie. Soms sien ek egter onvermydelik ‘n reklamegreep raak, soms ‘n toevallige flertsie en soms ‘n storie in ‘n tydskrif of koerant met ‘n prikkelende opskrif.
Elke keer is ek dankbaar dat ek nie die oupa van een van die mooi meisiekinders is wat hulle so as openbare vrymateriaal opdring en dan vir hulle die risiko van verwerping en vernedering (asook openbare snot en trane) op die (lae) hals haal nie.
Hoekom doen julle dit, liewe kinders? As al julle oupas soos hierdie oubaas is, moet dit vir hulle ‘n dolksteek in die hart wees dat kleinkinders vir wie hulle baie lief is, so vrypostig optree, (Ek het eers ‘n ander woord gebruik, maar dit met ‘n sagter een vervang.)
Natuurlik is daar g’n fout met ‘n vryery op sy tyd nie, maar liefs dan – soos in die ou dae – weg van die kollig. In my tyd wou ‘n jonkman liefs ook maar nie weet nie met wie sy nooientjie tevore kafoefel het nie. As sy, soos nou, op TV haar ware en talente in daardie rigting as’t ware voor Jan Rap en sy maat uitgestal het, sou sy gewis ‘n etiket van effens tweedehands om haar nek gekry het.
Nee wat, meisies, hou op met die verspottigheid. Laat die boere, die akteurs en daardie snare maar hul eie geluk loop soek en nie net met ope arms sit en wag dat TV-programmakers vir hulle plesiertjies aandra nie.
Dis nou maar ‘n ouderwetse oupa se raad, maar dink tog maar daaroor na of hy nie ‘n geldige waarskuwing opper wat vir julle seerkry kan spaar nie.

OUPA SE VULLETJIE!

Thomas in sy rugbytrui. Agter is Jacob, die spanfotograaf.

Middag uit Melkbos

Geen oupa het seker al anders na ‘n rugbywedstryd gekyk waarin sy kleinseun speel nie, maar ek glo Thomas was vanoggend die ster van sy onder sewe-span van Welgemoed teen die Laerskool Van Riebeeckstrand hier te lande (op Melkbos).

Thomas het van die” afskop” (wat nie regtig ‘n skop is nie, maar ‘n aangee van die skeidsregter) feitlik dwarsdeur gehardloop. Die laaste verdediger het hom net kort van die doellyn beetgekry. In die volgende klompie sekondes het hy twee laagvatte uitgevoer.

Hy is nog twee keer na sterk lopies deur ‘n desperate laaste verdediger gestuit. ‘n Keer was hy losdeur en het trouens gedruk, maar die skeidsregter het die “Blessies” teruggeroep. Kort daarna het niemand ‘n vinger op hom kon lê nie. Hy het die buitegaping gevat en langs die kantlyn af genael vir die drie van die wedstryd in my boekie.

Welgemoed het vyf keer gaan druk; Van Riebeeckstrand drie keer. (Laasgenoemde se ster was ‘n stewige witkop met nommer elf op sy rug, die jongste seun van Ludi de Jongh van Melkbos. Hy het twee van sy span drieë gedruk. Albei kon dalk ook kwalifiseer as die drie van die wedstryd as jy deur ‘n ander bril na verrigtinge gekyk het, soos waarskynlik die witkoppie se oupa met wie ek plegtig voor die wedstryd ooreengekom het: “Mag die beste span wen”. )

Deesdae in die Super 15 hou hulle mos statistieke van elke speler: hoeveel meters veld hy gewen het met die bal in die hand en met skoppe, hoeveel laagvatte hy uitgevoer het, ens. Thomas se statistieke sou indrukwekkend gewees het, glo ek.

Tweelingbroer Jacob is die amptelike spanfotograaf. Hy is meer ‘n ou vir fietsry en sou nou die dag sy eerste ren gewen het met sy “fiets met ratte” as hy nie te opgewonde geraak het en neergeploeg het nie. Dit het ek op gesag van sy ma, Marisa.

Ons is vanoggend almal al voor 08:00 al veld toe vir die opwarming en so. Ek dag ons sal maklik parkeerplek kry, maar watwou. Toe ons by die skool kom, staan die karre tot doer. Klein seuntjies se rugby is ‘n ernstige saak het ek agtergekom, ook uit die luidkeelse aanmoediging van die kantlyn af.

Klein Christopher (tweejarige kleinboet van Jacob en Thomas) het sy ore toegedruk vir sy ma se kantlyn-krete. Aan die oorkant van die veld was ‘n Melkbosser wat ek ken omdat ek al ‘n skrapie aan my CR-V by sy plek laat verwyder het. Sy entoesiasme en uitgebulderde advies (wat hy met die swaai van sy arms beklemtoon het) kon geen twyfel oor sy lojaliteite by enigiemand laat nie.

Die laaste wat ek uit sy keel gehoor het, was: “Nog net een drie! Nog net een drie!” Maar toe druk nie die tuisspan nie om gelyk te trek nie – toe druk Thomas sy pragdrie om sy span verder te laat wen.

Oupa het nie geraas gemaak of niks langs die veld nie; hom soos ‘n waardige grysaard gedra. Maar ek skryf hierdie blog met voldoening en ‘n genoeglike trots in die hart! (HvD)