Apr 22, 2016 | Hennie van Deventer se Blog

Middag uit Melkbos
Presies 50 jaar gelede, op 22 April 1966, om 14:25 steek die hoofsubredakteur van Die Volksblad ‘n Van Rijntjie op en kondig tevrede vir sy kollegas by die subtafel aan: Slag is gelewer. Kort nog een storie vir ‘n goeie voorblad.
Volgende oomblik: Hier’s hy. Dis ‘n storie van ‘n aangrypende olifantdrama in die Addopark wat pas per teleks opgedaag het. Kom van die destydse susterskoerant in die Baai, Oosterlig.
Sub gou, Ollie, sê ek (wat hoofsub was) vir my regterhand, Ollie Olwagen – die voorslag van ‘n eerste sub aan my regterkant. Lekker storie, sê Ollie toe hy begin lees. Inderdaad. Voorbladstof van die eerste water.
Ouma, ‘n gedaan ou olifantkoei in Addo, is deur die leierbul, Hapoor, ‘n genadedood toegedien. Die vorige paar dae was Ouma al slingerend. Genoeg is genoeg, het Hapoor besluit. Agter ‘n bos het hy een van sy lang ivoortande diep in haar hart gedruk. Met haar bloed druppend van die tand, het hy van agter ‘n bos tevoorskyn gekom.
Daarop lei hy die trop na Ouma en rangskik hulle om die karkas. Hy het hulle as ‘t ware uitgedaag om sy daad te bevraagteken. Geeneen het nie. In die stroewe ritueel wat gevolg het, het elkeen aan die karkas geruik en opsygestaan. Haar seun Lanky het alleen oorgebly vir ‘n doodswaak.
Ollie, ‘n man van vele talente, later ‘n groot gees by Huisgenoot, het oor Hapoor en Ouma ‘n liedjie gemaak: Hapoor steek vir Ouma dood, van die wal tot in die sloot …. In ligsinnige oomblikke het ons span subs oor ‘n bier (ná werk natuurlik) graag Ollieliedjies soos diá aangehef.

HvD, Paul Marais en Ollie sing Ollieliedjjies.
Vanoggend in Die Burger se rubriek “50 jaar gelede” het die Hapoorstorie aan die orde gekom. Dit het my gedagtes op daardie olifantstpore teruggelei.
Die Hapoordam in Addo kry natuurlik sy naam by die legendariese bul wat 24 jaar lank in die Addo-olifantpark geheers en met die Ouma-insident sy naam onuitwisbaar in Addo-folklore ingegrif het. Dit is nou my gunsteling-watergat in Addo, ‘n heerlike olifant-verspiedplek in ‘n park waar die olifante wemel.
Op ons laaste besoek, in 2011, het Tokkie het nie minder nie as veertig Grootvoete by die Hapoordam getel. My Canon het natuurlik oortyd gewerk. Die foto’s hierbo is van groepies wat daar gedrink het. Ek kon net so wel ses of sewe ander foto’s gekies het.
Ironies genoeg, het op Hapoor ‘n minder romantiese dood gewag. Nadat hy uiteindelik deur ‘n jonger kroonprins uit die trop gedryf is, het hy ‘n ruk alleen rondgedwaal – nukkerig en aggressief. Toe hy te avontuurlustig raak en oor ‘n heining klouter, is hy deur ‘n veldwagter doodgeskiet. Sy manjifieke kop hang in die eetkamer by Addo.
Die voortreflike bul was ook die hooffiguur in ‘n kinderboekie, Hapoor en Slurpie, wat mense van die ouer generasie dalk sal onthou. Die boek deur Cecilia Olivier en E. Stoffberg het in 1967 by Vooortrekkerpers verskyn. (hvd)
Nov 17, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

More uit Melkbos
Praat van ‘n ouma wat haar ”moer gestrip” het, en in die verbeelding duik prentjies op van tantes met gevaarlike voorkomste wat woes slaangoed soos knuppels, koekrollers, sambrele met skerp punte en besemstokke swaai, terwyl ‘n stroom onplesierighede deurentyd deur dun lippe gesis word.
Vele variante van moerige oumas kom in my ervaring (as waarnemer sowel, helaas, as slagoffer) voor. Die wapen van botte stilte gekoppel met ‘n verpletterende kyk van afkeuring is, sonder om gesinsgeheime uit te lap, vir my nie vreemd nie.
Sondag in Rapport is ‘n ander vorm van ‘n ouma se gebrek aan ingenomendheid weerspieël. Marie Heese gryp die wapen van die rapier-pen, en klim oor sy uitsprake wat haar nie aanstaan nie, met druppende sarkasme en skaars verborge minagting in onder die jeugdige professor “Peertjie de Vos” van Ikeys, wat sy mond vol het ook oor Afrikaans op Stellenbosch.
“Hoekom moet ek stilbly as ek betig en beledig word deur ‘n akademiese liggewig wat nie eens sy werkwoorde kan regkry as hy beterweterig in Engels probeer skryf nie? (‘Taalbulle’ argues …sic),” stoom sy.
Hoekom inderdaad, ouma Marie! Nee wat, sê die kêreltjie, “tells him his fortune”!
Kwaai oumas kan soms verrassend/ontnugterend kreatief hul wrewel uitleef. Uit Australie, dink ek, kom die storie van die ouma wat ‘n skietding uitgedolwe het en die orgaan van ‘n kleinkind se vryer vol lood gepomp het (lood in sy potlood!). Uit die Wes-Rand is ‘n slag gerapporteer van ‘n ouma wat langs ‘n rugbywedstryd vir kannetjies so gefrustreerd geraak het dat sy toe die fluitjie uit die verpotte skeidsregter se hand pluk en skril in sy oor blaas. Die drommel – “arm man se Bryce Lawrence” as’t ware – is inderhaas met ‘n gebarste oortrom na ‘n oor-, neus- en keelarts gejaag, en die wedstryd is as onvoltooid in die rekordboeke aangeteken.
‘n Inspirerende storie oor ‘n ouma, vol woema het my oud-kollega by Beeld, Piet Muller, ‘n keer in sy rubriek Flitslig in ‘n generasie gelede se Rapport vertel. Ek het hom gegaps vir my destydse boekie met koerantstories, Flaters en Kraters.
Piet het vertel: Die ouma was nooit baie ingenome met die kêrel nie. Sy’t gedink hy is ‘n tang en dat haar kleindogter veel beter verdien.
Toe die dogter op ‘n dag huil-huil by die huis aankom (oor ‘n ietwat roekelose grensverskuiwing in sy inwyding van haar in avontuurlike seks of iets, dink ek) was ouma op die daad die bliksem in.
Sy het op haar Harley-Davidson gespring en brullend na sy huis gejaag. Die vryer het op sy beurt al van ver af die dreigende Harley hoor aankom en, wyslik, onder die bed gaan wegkruip.
Sy huismense wou nog mooipraat, maar die ouma het die voordeur opgeskop, die kerendes uit die pad geveeg en die verskrikte ventjie met die jeukende toerusting onder sy bed opgespoor. Toe pluk sy hom aan sy hakskene uit, dop hom net daar om en gee hom die pak van sy lewe.
Alles natuurlik met gepaste kommentaar in gevatte Afrikaans, deurspek met die soort woorde wat omgekrapte gemeentelede gebruik as dominee nie in die nabyheid nie. Hy sou nie sommer weer te voor op die wa raak voordat Ouma onder die kluite is nie!
Dan het ek ‘n vae rekolleksie van ‘n ouma wat, onder die wanindruk dat haar motortjie in ‘n stedelike parkade gekaap word, die wettige eienaars van ‘n soortgelyke model oorval, vervaard uit hul ryding geboender en skarrelend te voet op die vlug laat slaan het. Ek is die laaste ou wat die vergeledingskapsaiteit van ‘n veronregte ouma sal onderskat, maar dit wil-wil darem vir hierdie ou net-net na ‘n te vergesogte storie klink! (HvD)