GEAGTE MENEER EK …
Redakteurs vang soms koddige goed aan. Van die koddigste in Suid-Afrika waarvan ek tot vandag geweet het (of onthou het), was die hoog aangeskrewe Harvey Tyson van “The Star” se onwilligheid om tussen ‘n Ja-stem en ‘n Nee-stem te kies in die referendum oor die driekamerparlement in 1983. Hy het kiesers aangeraai om liewer buite stemming te bly.Op ‘n kennisgewingbord by die koerant het ‘n ondeunde kollega toe ‘n nota opgesit: “The indecision of the editor is final”.
Tertius Myburgh, redakteur van die “Sunday Times”, wat ‘n sterk Ja-man was, het van die kolskoot te hore gekom en heerlik met sy kollega gespot.
Tot met sy dood het die etiket van “indecision is final” aan Tyson vasgekleef.
Tot vandag toe was dit dalk vir my die koddigste. Toe lees ek in JC Kannemeyer se Langenhoven-biografie, “‘n Lewe” (Tafelberg, 1995) van die kleurryke baanbreker in die stryd vir Afrikaans se brief in sy eie koerant, Het Zuid-Westen op Oudsthoorn. Hy was redakteur van 1912 tot 1915. (Het dit gewis voorheen gelees, maar onverklaarbaar vergeet).
Op 19 Januarie 1914 skryf Langehoven in sy eie naam ‘n lang brief wat hy as redakteur in Het Zuid-Westen publiseer. “Dit is moeilik vir ‘n man om ‘n brief aan homself te rig,” so begin hy, “maar ek het nou ‘n meedeling te maak wat niks met mij betrekking als redakteur van hierdie blad te doen het nie; en versoek om dit te plaas alsof dit van enige buite-staande korrespondent kom.”
Die onortodokse “meedeling” kom daarop neer dat die huidige lid van die provinsiale raad nou nie juis waffers is nie en dat hy, die nimlike Langenhoven, nie ongeneë sal wees om hom te vervang nie – as die kiesers so wil. Die geskiedenis is dat Langenhoven eindelik toe onbestrede verkies is.
Die wyse waarop Langenhoven hom as kandidaat verkiesbaar gestel het, was nie alleen “hoogs ongewoon “ nie, maar tot vandag toe “uniek in die politieke geskiedenis van Suid-Afrika,” bevind Kannemeyer.
Mag ek – sonder vrees vir ernstige teenspraak -byvoeg dat dit sekerlik ook tot vandag toe uniek is in die joernalistieke geskiedenis van Suid-Afrika? ‘n Lesersbrief in jou eie koerant, verbeel jou!