BY MY STOEL VERBY

Om jou  toonnaels te laat knip,  is een van daardie sleurwerkies waaraan min mense seker erg het.  Diè roetintakie kan ‘n openbarende studie in geriatriese gedragspatrone word as jy, soos ek, vir daardie doel die plaaslike oord vir bejaardes besoek.

Jy wag jou beurt by die voetdokter op ‘n bamboesstoel in die voorportaal af. Regs van jou is die Alzheimer-vleuel, links woon die ander oumense. Langs jou is die deur na die eetsaal. Aan die arm van ‘n verpleegster in ‘n kraaknetjiese blou uniform, in rolstoele of met looprame daag inwoners wat nie meer so mobiel is nie, vir ontbyt aan groot ronde tafels op.

Van hulle kyk met die verbygaan stip grond toe, ander groet vriendelik of knoop selfs met die vreemdelinge in die voorportaal ‘n geselsie aan. ‘n Skraal man met ‘n groot, ouderwetse bril stap op die blonde vrou af wat langs my in die ry sit en wag.  Sy herinner hom aan iemand. Hy probeer vir haar verduidelik maar dit kom bra skeef en krom uit sy mond.  Sy kommentaartjie klink amper onvleiend. Sy glimlag net ongemaklik.

Hy kom staan voor my en kyk my vierkant in die oë. “Lekker,” sệ hy. “Lekker,” antwoord ek. Toe stap hy doelgerig af op die eetsaal van waar ‘n geroesemoes van hoofsaaklik vrouestemme opklink.  Jy hoor ook slaapsale en kamer radio’s speel.  Die volume is hoog gestel, seker om beter te kan hoor.  Uit die sitkamer klink die temalied van ‘n laataand-TV-sepie wat ter wille van vroegslapers soggens herhaal word.

Dit tref hoe inwoners, hoofsaaklik pasiënte uit die Alzheimervleuel, graag aan iemand raak; aan die elmboë of skouers van die kantoordames, verpleegsters of mede-pasiënte. Dit is asof ‘n vlugtige aanraking  rustigheid, vrede en kalmte bring.

Op pad terug na haar kamer ná ete kom ‘n grys dame aan die arm van ‘n verpleegster verby.  ‘n Glimlag (van “herkenning?) verhelder die gelaat.  Woerts kielie sy my eers aan die linker- en toe aan die regterknie. My beurt om ongemaklik te glimlag. Nietemin, dadelik ontstaan tussen die twee wildvreemdes ‘n band.

Voor die hoofdeur by die ingang is tralies. Die deur bly gesluit. Jy moet ‘n knoppie druk as jy wil in. Die ontvangs moet weer ‘n knoppie druk om jou uit te laat.  Terwyl ek sit en wag – net 15 minute of so – stap twee inwoners kort ná mekaar na die deur en tuur geruime tyd deur die tralies na buite.

Die oord lệ op ‘n hoogtetjie.  Deur die hekke sien jy ‘n strepie see, ‘n blerts spierwit wolke en, oorheersend, die helderblou laatsomerlug van ‘n sjampanjedag in die Kaap.  Sou daar ‘n smagting in die binneste heers  om weer deel van die lewe daarbuite te wees?

Een van die twee gaan staan later voor ‘n groot muurspieël.  Hy kyk lank en deurdringend na die beeld wat dit na hom terugkaats. Oor sy gewaarwordinge kan ek maar net wonder. ‘n Mens is mos maar geneig om te romantiseer.

Van hoe bevoorreg jy jouself moet ag om na die naelknip-prosedure in jou motor te klim en volkome onafhanklik van ander mense weg te ry, raak jy opnuut intens bewus.  Jy is verreweg nie dankbaar genoeg nie, betig jy jouself.  Sodra jy weer onvergenoegd en morrig wil raak, laat net jou toonnaels knip, boeta! Dit is die boodskap vanoggend.

Dan druk die matrone die klokkie en maak haar gedugte verskyning by die voordeur.  Ons groet oor en weer. Sy weet van onlangse operasies, verneem na my welstand en merk vriendelik op: “Jy lyk goed”. Hoe troos jy immers  ‘n oumens anders?

Voel goed, antwoord ek. “Maar soos jy ouer word, gee die onderdele mos maar in.”  Dadelik kan ek my tong afbyt oor die simpel, voorspelbare stelling, so sprankelend soos ‘n verwelkte sonneblom.   Asof sy daardie onvermydelike waarheid nie elke liewe dag rondom haar sien en beleef nie.

 

OUERIG EN MOERIG-RIG

More uit Melkbos

Twee “ouerige dames” se gesprek in ’n koffiehuis laat die jonger man aan die tafel langsaan sy ore spits. Een vertel gedoriewaar vir haar metgesel van iets oor Barack Obama wat sy – van alle plekke! – op Facebook gelees het.

Verbeel jou! Dit interesseer die jonger man so dat hy op Facebook daaroor skryf … en by hierdie “ouerige man” lok sy stomme verbasing toe dadelik ’n refleks-respons uit.

Wat beteken “ouerig”, vra ek hom in kommentaar by sy inskrywing. Geen antwoord. Ek kon natuurlik ook gevra om watter aardse rede hy Facebook as die eksklusiewe domein van “jongeriges” beskou. Of hoe hy weet dat daardie twee gespreksgenote “dames” is (nie dalk net vroue nie). Kom ons los daardie aspekte maar eenkant.

Oneksakte beskrywings soos “ouerig” gee my egter ‘n pyn. Wat is “ouerig” inderdaad as van ‘n kind in ‘n kleuterskool tot ‘n grysaard in ‘n eenheid vir verswakte bejaardes “ouerig” kan wees – elkeen se graad van “ouerig”-heid natuurlik bepaal deur sy of haar portuur en deur die oë van die waarnemer.

Omdat daardie Facebook-gebruiker nie sy ouderdom bygevoeg het by sy inskrywing nie, weet lesers nie of sy “ouerige dames” 40 is of 50 of 60 of 70 nie. Is die feit dat hulle oor Facebook gesels dus niks vreemd nie, bietjie vreemd of uitermate vreemd?

Vir dieselfde prys: wat is ‘n “goeierige” rugbyspeler? Een wat vir sy klub se eerste span uitdraf of die vierde span? En ‘n “vinnigrige” vleuel? Is dit ‘n Bryan Habana, of is hy plein vinnig, kort en klaar?

Sulke woorde wat op “rig”” eindig, het seker ‘n naam. Moet die een of ander taalverskynsel wees, nogal meer eie aan ons eie taal, Afrikaans, as byvoorbeeld aan Engels, meen ek. In elk geval, ek dink nie ons taal sal armer wees daarsonder nie.

Ewe seer kan ons gerus maar ophou om mekaar sulke etiketjies om die nek te hang, soos veral die jonger garde graag doen. Toe ek nog net-net oor die 40 was, het ek ‘n keer amper van my lessenaarstoel geval toe ‘n verslaggewer van Die Volksblad waag dat ‘n 50-jarige ‘n “bejaarde” is wat iets oorgekom het. Dit was ekstreem. Maar die meeste koerante val maar rond met die gebruik (of misbruik) van woorde soos middeljarig, bejaard, oud, ens.

In dieselfde asem: wanneer word jy ‘n “oom” of ‘n “tannie”? Tokkie is al deur ‘n jong ouerpaar in ‘n hospitaalsaal “tannie” genoem voordat sy 30 was en rêrig ‘n mini kon dra sodat dit ‘n eer vir die mini is.

Hierdie “ouerige” ou raak stadigaan “moerig-rig”!
(hvd)

SNUIF, PROES, HOES!

More uit Melkbos

SnuiF, proes, hoes; snuif, proes, hoes – dis die storie van die vroegsomer hier op Melkbos. Iets misterieus is in die lug wat die kanale aantas – veral van diegene wat al op verjaardae twee koeke nodig het om al die kersies te akkommodeer.

In my boekie “Tamatiestraat” is ‘n hoofstuk “Brille en pille tot krom en dom”. Een fase in die verouderingsproses noem ek daarin die fase van “dop en verstop”: twee glase rooiwyn en die neusj is bhot-toe van die sjinus!

Aitiesjoe! Ken ek hom nie. Maar nie al die snuiwers en proesers is sulke lojale wyn-verbruikers soos die uwe nie. alk ‘n groter gemeenskaplikheid is die stygende jare, soos weerspieël in die gryse hare en ‘n sekere onegaligheid van beweging.

Ook uit die hoofstuk “Brille en pille” kom oor die rol van die ouderdom die volgende versie:

Ja, elke denkbare kanaal
– van nasaal tot urinaal –
Is verstop of skeef of krom,
dis die kruis van ouderdom!

Die agteruitgang wat saam met veroudering kom, pak toenemend ons oumense se lugweë, lyk dit. Juis aan’t filosofere oor hierdie toedrag van sake kry ek van Henri van Biljon die volgende relevante e-pos:

“Ai, die ou hoesie in die kerk Op ‘n plattelandse dorp waar die inwoners hoofsaaklik ouer mense is wat oorwegend Afrikaans magtig is, is verkoue een wintermaand erg in die omloop, en die predikant naderhand al taamlik omgekrap deur die hoesbuie in die kerk. Dit trek sy aandag af.

“Hy bespreek toe die probleem met sy koster, wat Engelssprekend is… seker die enigste op die dorp. Die koster gaan koop ‘n groot bottel hoesstroop by die apteek .

“Die volgende Sondag is die koster oorgehaal. Sodra iemand hoes,
staan hy op, gaan voer die hoesende lidmaat ‘n lepel hoesstroop en
fluister iets in sy oor.

“Die aldus aangespreekte staan op en stap uit. So hou dit
aan en die kerk is later byna leeg. Na die diens vra die dominee vir die
koster wat hy dan vir die mense gesê het dat hy later vir ‘n byna leë kerk moes preek.

“Nee sê die koster, ek het net vir hulle gesê, ‘For cough!’. (HvD)