OLYFIES, HIER KOM EK – VIA BLOEM!

More uit Melkbos

Met die wondere van die nuwe tegnologie kry ek deesdae in Sabiepark gereeld wenke oor waarnemings van die Groot Vyf in die Krugerwildtuin. Caroline Pols van Heerhugowaard in Nederland, ook ‘n Sabieparker, word op die hoogte gehou op haar Blackberry en “forward” vir ‘n vale. Dankbaar het ek vir haar ná die jongste vakansie laat weet: Dit werk, hoor!

Heerhugowaard, Sabiepark, Kruger-wildtuin – dis ‘n lang, lang ompad, maar nou-ja, ons leef in ‘n nuwe wêreld. Eweneens met so ‘n lang ompad ken ek nou die roete na die Goedgedacht-olyfplaas teen die hange van die Kasteelberg.

Amanda Groenewald van Naln in Bloemfontein het my blog raakgelees oor die spesiale olyfboom wat Ou Mutual op my verjaardag geplant het, en my ingenome versugting om my boom te gaan opsoek – as ek net die presiese ligging kan bepaal.

Bloemfonteinse meisies laat nie gras onder hul voete laat groei nie. Amanda laat weet: “Ek het dadelik op Google gaan kyk of ek die plaas kon opspoor. Kon dit nie via Google.maps kry nie, maar die gewone Google vir soektogte het wonderlike resultate opgelewer. Die plaas is aan die Riebeeckrivier, Malmesbury-distrik (sommer op ons drumpel dus!), geleë. Klik net op die onderstaande skakel vir volledige verwysing (ook in Afrikaans) na die plaas. Dit bevat ook die GPS-koördinate:

http://www.goedgedacht.org.za/index.php?option=com_content&task=view&id=13&Itemid=31

Die plaas se kontakbesonderhede kan hier gevind word: http://www.goedgedacht.org.za/index.php?option=com_contact&Itemid=3.

“Let net op dat die plaas se telefoonlyne gesteel is (die plaas is beslis in die Nuwe Suid-Afrika geleë – ha, ha!). Die plaas kan nou slegs per e-pos of selfoon bereik word.

“Allerlei ander interessanthede is op die plaas se webblad te siene: www.goedgedacht.org.za. Gaan kyk gerus.”

Amanda vestig die aandag daarop dat hulle ook ander projekte het, o.a. “Wonderbags”, wat deur knap naaldwerksters gemaak word. Die “Wonderbag” is ’n ronde, groterige sak, gesny uit twee materiaalsirkels. Die sirkels word gevul met polistireenkorrels en heel bo met ’n toutjie toegetrek. ’n Mens kook eers vir sowat 10 minute jou kos op ’n stoof of vuur en plaas daarna die pot in ’n Wonderbag. Sit die sak se hoed op, trek die toutjie toe en laat staan alles vir so ’n paar uur. Jou kos word in hierdie tyd op ’n baie omgewingsvriendelike wyse gaar sonder enige verdere elektrisiteit, hout, paraffien of wat ook al.

“Die sak is net die ding vir kampeerders, selfs vir reisigers,” meen Amanda. “As ’n mens na ’n lang rit by jou bestemming kom, is jou kos al gaar. Dink net aan ’n Sabiepark-besoek. Na ’n rit deur die wildtuin is almal seker lekker honger. Mev. Van Deventer hoef nie nog in die kombuis rond te spring en vir almal iets te ete te maak nie, want die kos al klaar gaar as julle weer terug is by Wildevylaan.

“Die ‘Wonderbags’ is veral van groot nut vir arm gemeenskappe, wat van vuur en paraffienstofies gebruik maak om kos te maak. Dink net hoeveel bome word in die proses gespaar. ’n Mens kan ook via Goedgedacht se webblad geld aan ’n arm gesin skenk sodat hulle ’n ‘Wonderbag” kan kry.

“Goedgedacht beweer dat as ’n mens hierdie sak drie keer per week gebruik, kan jy sowat 13 kWh per week spaar, òf 1.6 liter paraffien én dat dit slegs 500 g koolstofdioksied per jaar vrystel. Laasgenoemde wil gedoen wees!

“O ja, die pot moet verkieslik van aluminium wees. Geen gietysterpotte en potte met ’n koperboom nie omdat hulle die Wonderbags sal brand. Kyk gerus op hierdie skakel (onderaan is daar ook ’n Afrikaanse brosjure om af te laai):

http://www.goedgedacht.org.za/index.php?option=com_content&task=view&id=54&Itemid=172

“Die plaas het inderdaad wonderlike projekte, nie net olywe nie.”

Dankie, Amanda, die ou gryse staan as ‘t ware voet in die stiebeul Grootgedacht toe. Gaan beslis nie net olywe en olyfolie koop met die Goedgedacht-eitiket op nie, maar bring ook ‘n “Wonderbag” saam tuis toe. Om met minder moeite steeds lekker te eet in die liewe Sabiepark! (HvD)

MY EIE-EIE OLYFBOOM

More uit Melkbos

Hier by die punt van die pyl, op ‘n pragtige ou Kaaps-Hollandse plaas, geleë teen die hange van Kasteelberg, slegs 87 km noordwes van Kaapstad, het Ou Mutual op 3 Januarie vir die uwe ‘n olyfboom geplant ter ere van sy verjaardag.

Die frustrasie: ek weet nie presies waar die plaas Goedgedacht, en derhalwe ook my boom, is nie. Moet naby Riebeeck-Kasteel wees. As ek hoopvol op die skakel “kaart” klik op Ou Mutual se mededeling om die presiese ligging te bepaal, kry ek egter net ‘n herhaling van die foto.

En ek wil ry en gaan kyk. Lyk na ‘n spesiale plek. En moet sommer net ‘n klipgooi van Melkbos wees.

Natuurlik besef ek dis geen unieke eerbetoon wat my skielik hier op die bereiking van my 71ste lewensjaar te beurt geval het nie. Trouens, Ou Mutual plant elke dag van die jaar ‘n boom, wat elkeen van sy kliënte op sy/haar verjaardag verteenwoordig.

Maar, mense, gun dit my nou maar om ingenome met my boom te wees. Soos Ou Mutual dit stel sal my boom, soos al die ander Ou Mutualmense s’n, mettertyd “’n nalatenskap ter ere van my verjaardag” word. Reken, my kleinkinders kan ry en na Oupa se boom gaan kyk. Dan boonop nog vir ‘n goeie saak.

Goedgedacht is nie sommer enige hierjy-plasie nie, maar deesdae ‘n besige gemeenskapsontwikkelingsentrum waar, aldus Ou Mutual, ‘n “doelgerigte poging aangewend word om ‘n wesenlike bydrae te lewer tot die verligting van die ergste probleme waarmee ons almal te kampe het… armoede en klimaatsverandering”.

Goedgedacht was een van die eerste plase wat in 1704 aan die “Vryburgers” toegeken is en is gehul in die geskiedenis van die ou Kaapse Kolonie, lees ek. Ek glo van my stamvaders uit die verre Deventer het in die jare her as Vryburgers ‘n boom of wat daar rond geplant. Tulbagh figureer in die Van Deventer-familiegeskiedenis, as ek dit nie mis het nie.

‘n Trust is in 1993 gestig om op Goedgedacht tot voordeel van die gemeenskap te woeker. Met die stigting van die Trust het die trustees maniere gesoek om die ontwikkelingswerk volhoubaar te maak. Die pragtige ou Kaaps-Hollandse geboue is gerestoureer en in ‘n baie besonderse vergaderplek vir konferensies, werksessies, troues en wegbreeksessies omskep, met slaapplek vir 67 mense.

Terselfdertyd is olyfbome geplant. In die olyfboorde word olywe organies gekweek en hetsy gebottel of tot topgehalte ekstra suiwer olyfolie verwerk, en onder die Goedgedacht-etiket bemark.

Die Trust se filosofie is “om mense te ontwikkel, die gemeenskap te versterk en demokrasie te bevorder”. Dit is strewes waarmee ek my van harte kan vereenselwig.

Koop dus gerus ‘n botteltjie Goedgedacht-olywe of –olyfolie en gedenk aan my, Hennie van Deventer, gebore op 3 Januarie 1941 op Babanango, Noord-Natal, uit een van die Vryburger-families wat mettertyd hul tentpenne in die Kolonie opgetrek en diep-diep die onbekende binneland in koers gekies het.

En laat weet tog maar asseblief vir die ou man waar dit is as een van julle sy olyfboom op “sy plaas” opspoor!

Ns. Die betrokke Ou Mutual-lewenspolis is verpligtend uitgeneem toe ek in 1957 matriek slaag en ‘n Volksblad-beurs verwerf om my op Tukkies as joernalis te gaan bekwaam. Ek dink dit was ‘n polis van een duisend pond – dit was voor die dae van Daan Desimaal. Deesdae is die polisie so R70 000/ R80 000 werd. Ek betaal getrou maandeliks my premie van R3,52 per debietorder.
(HvD)