KOEKSISTER: SOET EN SUUR

Die tradisionele koeksister – daai gevlegde soetigheidjie wat só welaangenaam die smaakkliere van soettande kan kielie – is g’n hierjy-ding in die Afrikaanse leefwêreld nie.
As jy vir koeksister ‘n lofsang wil aanhef, sal jy dit met die gelui van kerkklokke en jubelende orreltone kan opluister. Hoeveel gemeentes se susters het nie met eindelose bakke koeksisters kerktorings en orrelgalerye of noodsaaklike opknappings aan kerkgeboue gefinansier nie?
Watter basaar, boerebasaar, kerkbasaar, skoolbasaar, is werklik basaar as ‘n lang tafel ontbreek waar jy in die tou kan gaan inval vir hierdie verleidelike, bros versnapering wat so drup van die stroop en wat kraak as mens dit byt voordat jy by die salige, sagte binnekant kom.
In hoeveel kombuise kom die baksels koeksister nie al van vroegdag uit die oond om die plate tuisnywerhede oral in die land se koeksister-rakke vol te hou en is die ekstra inkomste wat dit inbring nie noodsaaklik om ‘n kind deur skool of universiteit te help nie?
‘n Monument vir die koeksister (foto) toring al jare lank twee meter hoog in Orania langs die dorpswembad. Dit is die breinkind van die uitsonderlike Afrikanergebied se Kaalvoetvrou-organisasie wat sy naam kry uit die beroemde woorde van Susanna Smit dat sy liewer kaalvoet oor die Drakensberg sal loop as om onder Britse juk te staan.
Orania se koeksistermonument is as tong-in-die-kies projek begin, maar het tog ʼn baie ernstige boodskap. Die monument is nie net vir die soethappie wat so eie aan die Afrikaner is self nie, maar ook ʼn verering van die Afrikanervrou en die geld wat deur die jare vir die bou van kerke , outehuise, skole en wat nog met die bak van koeksisters ingesamel is.
Ook oor Orania se regte egte koeksisters, word ook hoog opgegee. Orania se koeksisters is glo groter en brosser en soeter as enige ander koeksisters wat ‘n mens enige ander plek kry. So hoor ek maar.
Praat jy oor koeksisters moet jy een fout vermy: om die oorspronklike Afrikaanse koeksister (foto) en die Maleise koesister te verwar. Die gevlegte koeksister word van ’n stywe deeg gemaak wat in olie gebak word en dan in yskoue stroop gegooi word. Die koesister daarenteen is ‘n spesiale ovaalvormige oliebol. Dit word ook in olie gebak, maar dan in warm stroop gegooi voordar dit met klapper bestrooi word. Dit kan met allerlei speserye opgekikker word en is baie donkerder as die koeksister.
Hoe ook al, as ‘n gasvrou koekisters of koesisters voorsit, beteken dit om bederf te word. Nie dat dit altyd ‘n seker resep vir ‘n vlot gesprek is nie. In een nogal vername geval het die koeksister, helaas, nie sy ding gedoen nie. Dit was in die dae van die WVK. FW de Klerk, nuwe president, is na sy voorganger, PW Botha, in die Wildernis oor die moontlikheid om hom by die voorlegging van die Nasionale Party te betrek. Daarvan wou Botha niks weet nie. HY wou wel iets bespreek: De Klerk se lidmaatskap van, soos hy dit genoem het, die “Nuwe Wêreldorde”.
Sy beskuldiging was dat Pik Botha lid van ‘n bose komplot is en dat De Klerk hom toegelaat het om hom te manipuleer om ook deel daarvan te word, skryf De Klerk in sy biografie. In die verband het Botha (PW) verwys na De Klerk se besoek aan die VSA en die gesamentlike perskonferensie met pres, George Bush in die Withuis se roostuin. Volgens hom was Bush ‘n leidende figuur in die Nuwe Werêldorde en het hy De Klerk ingebind. Botha het daarop sy besoeker toe met “aggressiewe vrae” begin bestook.
De Klerk het hom vervies, die aantyging verwerp en verklaar dat hy nie gekom het om beledig te word nie. Hy voel dat hy sleg behandel is.
Skieilik het Botha se houding verander. Hy het afgehaal gelyk en sê toe dat dit onregverdig is om van swak behandeling te praat, want sy vrou het dan koffie en koeksisters voorgesit. Hy het byna van sy “stoel afgeval”, skryf De Klerk.
HY het opgestaan en gesê hy moet nou gaan. Botha het sy vrou geroep en weer gesê: “Mamma, mnr. De Klerk sê ons het hom sleg behandel, en ons het hom nogal koffie en koeksisters gegee.”
De Klerk meld nie of dit lekker koeksisters was nie, maar ek glo darem so, al het nie een van die twee presidente soet herinneringe aan die gesprek oorgehou nie..

GOODBYE, JOOST!

‘n Lewendige gesprek is op my Facebookblad aan die gang oor die bloedmin Afrikaans by Joost van der Westhuizen se begrafnisdiens – of liewer “memorial ceremony” –  op Loftus.

Die aanleiding was die opmerking:  “Miskien is dit net nodig om party mense daaraan te herinner dat Joost Afrikaans was, en – wil ek waag om te beweer – waarskynlik ook 75% of meer van die mense wat na Loftus gekom het om die laaste eer te bewys.”  ‘n Deelnemer aan die gesprek het my beskuldig: “Jy is nou net onnodig moeilik”. ‘n (Jonger) vriend van my het hom dadelik daarby geskaar: “Wragtag, ek  kon dit nie beter gestel het nie.”

Albei daardie saamgeselsers is, terloops, Van Rensburgs!  My antwoord was: “Oor my taal is ek onbeskaamd moeilik.”

Heelwat steun is darem ook uitgespreek vir die waarneming dat  Afrikaans afgeskeep is,  tot uit Hong Kong deur ‘n Suid-Afrikaner wat al jare daar woon en met ‘n Chinese vrou getroud is.  Die verdelingslyne tussen ondersteuners en kritici loop plek-plek nogal vreemd.

Vir die doeleindes van die blog bepaal ek my hier net by die kritiek.  Die kern van die standpunte/ verskonings van die kritici is die volgende:

  • Joost was ‘n “internasionale legende” met bewonderaars oral in die wêreld;
  • Britse en Australiese gaste was op Loftus teenwoordig;
  • Dit was ook ‘n “amptelike staatsbyeenkoms” met “amptelike eerbewys”;
  • Dit was ‘n “amptelike provinsiale huldeblyk” – die vriende en familie het reeds ‘n eie troosdiens gehou;
  • Die meeste van die mense wat aan hom hulde gebring het, was nie Afrikaans nie;
  • Die familie se eie pastoor was ene Neville wat ook maar net in Engels gepraat het;
  • Dis seker die TV regte wat so bepaal het vir internasionale uitsendings;
  • Suid-Afrika is ‘n “inklusiewe land”;
  • Joost het die wêreld vol gereis en sy steun is nie tot Pretoria-Wes of Orania beperk nie.

Die geldigheid van verskeie van die opmerkings kan nie ontken word nie.  Dit sou mos gek gewees het om te verwag mnr. Billy Beaumont moet sy hulde deels in Afrikaans betuig!

My opinie is elk geval nie dat die “amptelikheid” van die geleentheid, die omvang van die heldeverering vir Joost of die teenwoordigheid van internasionale gaste in die wind geslaan moes gewees het nie.  Maar werklik so oorheersend Engels?

‘n Mens kan maar net hardop wonder wat die geval sou wees as Joost ‘n Fransman sou gewees het en die “amptelike” diens in Parys in die Stadion d’ France gehou is. Sou al die Franse ter wille van die gaste net Engels gepraat het? Nie soos ek hulle ken nie.

Kan ons nie dit liewer ons uitgangspunt maak om hoflik en bedagsaam teenoor ons gaste en buitelandse bewonderaars te wees maar terselfdertyd ook die behoeftes en verwagtinge van die plaaslike (Afrikaanse) ondersteunersbasis in aanmerking te neem nie?

In die Afrikaanse pers word berig ‘n gejuig het van die paviljoen opgegaan toe Francois Pienaar in Afrikaans verklaar het: “Joost was ‘n Bul, ‘n onverskrokke Blou Bul.” Sou die spontane gejuig dieselfde gewees het as hy in Engels sou gese het: “Joost was a Bull, a fearless Blue Bull”?  Dalk wel. Ek twyfel.  Na my oordeel was in die toejuiging ook ‘n duidelike taalboodskap.

Op die argument dat dit ‘n “amptelike staatsgeleentheid” en “amptelike provinsiale huldeblyk” was,  is die weervraag: Is die staat en die provinsie Gauteng dan eentalig Engels?

Wat die buitelandse gaste betref: sou hulle nie volledig begryp het as aan hulle verduidelik is dat ‘n deel van die diens ter wille van sy herkoms en die karakter van Blou Bul-land in Afrikaans behoort te wees nie?  Of sou die trots op en sensitiwiteit teenoor die eie hulle aanstoot gegee het?  Dit sou my verbaas het.

As die opdrag van Supersport2 of wie ook al dan was dat alles moet Engels wees, waarom het Francois Pienaar (en glo ook Amor Vittone)  kans gesien om ook Afrikaans te praat?  Natuurlik omdat die behoefte in hul eie hart was en hulle (korrek) die behoefte in ander harte raakgesien het, glo ek.

Windskewe argumente wat ‘n mens die meeste laat rooi sien, is  oor  Suid-Afrika as “ïnklusiewe land”, asook “Pretoria-Wes en Orania”.

Volgens die sensus van 2011 is isiZulu die moedertaal van 22.7% van SA se bevolking, gevolg deur isiXhosa op 16%, Afrikaans op 13.5%, Engels op 9,6%, Setswana op 8% en Sesotho op 7.6%.

Op grond waarvan beteken “ïnklusief” in daardie heer se oë dan die uitsluiting van Afrikaans? Hoe “inklusief” is die land  dan?

Ten slotte: die verwysing na Pretoria-Wes en Orania is in dieselfde klas die etikettering van Afrikaans voorheen as “kombuistaal”.  Dis beledigend en weerspieëlend van ‘n taalsnobisme wat, helaas, lewendiger is as wat baie mense dink.  Jammer, ek vir een weier botweg om voor sulke “superieure” Engels-aanbidders kniebuigings te doen.

Diesulkes verdien nie eens die hoflikheid en bedagsaamheid wat ek op Facebook en hierbo teenoor gaste en ‘n internasionale gehoor bepleit het nie.