GLASIE WAT GOU LEEG RAAK

In 1980 keer ek uit die Rand terug Bloemfontein toe, waar – tot my meerderwaardige onbehae –  laatoes steeds koning kraai. Jy moet omtrent ‘n perd opsaal om die “uitheemse” Bellingham Premier Grand Cru in die hande te kry. Kollegas skinder oor al die Beeld-invloede op hul nuwe redakteur, hoor ek.

In ‘n ambisieuse oomblik trek ek die stoute skoene aan om by Ritsema de la Bat van die KWV vir redakteurs ‘n lansie vir KWV-kwotas te breek, gesien die vername gaste wat hulle soms moet onthaal.  Sy instemming ontsluit  ‘n baken-verskuiwende kennismaking met ‘n besonderse produkreeks.

So kom daardie wyn van statuur Roodeberg in my lewe, ook ‘n verfrissende Chenin Blanc en Riesling en ‘n reeks sjerries wat veral Sondae voor middagete lank ‘n verleiding is. Die fondament word gelê om vir ‘n aangename kuierwyn tot vandag toe niks verder as KWV se Sauvignon Blanc te soek nie.

Uit Roodeberg vind ek heelwat vreugde , maar beleef  ek ook ‘n ongeval wat die hart versuur.  ‘n Kosbare kis van die statussimbool moet saam Kaap toe as geskenk vir politieke beriggewer Al Ries vir ‘n reeks scoops soos min. Op die lughawe JBM Hertzog verloor ek op ‘n skuinste beheer oor die lughawe-trollie; net glasskerwe en dammetjies rooiwyn waar jy kyk!

As ek gedink het ‘n skip se wynlys of die KWV-pryslys is indrukwekkend, wag in 1992  ‘n nuwe openbaring. In die jaar word ek ‘n Kapenaar en word ek met verdrag ingelei in die wondere van Naspers se omvangryke wynkelder waarvan connoiseur Andrew Marais, skakelhoof, die sleutels dra.  Om landgoedere en oesjare spesifieke te prober uitsonder, sou wees om struikeling uit te nooi. Ek vermy liewer daardie waagstuk.

In die verbyry het ek op eie stoom Nuy se Sauvignon Blanc-vonkelwyn ontdek. Op elke feestelike okkasie in ons geledere klap ‘n Nuy-prop.  Deur ‘n Melkbosse vriend met hoë konneksies kom Perdeberg in my lewe.  Toe ons in 2016 my 75ste, Tokkie se 70ste en ons 50ste troudag vier, is  Perdeberg se Soft Smooth Red en Chenin Blanc op die tafels in die tent wat op Melkbos vir die driebaken-okkasie opgeslaan is.

‘n Vreugde van die salige aftreejare, nou al 25, is ‘n skemerwyntjie op ‘n bankie langs die see met ‘n Privaat-plaatjie teen die rug en met ‘n uitsig op Tafelberg en Robbeneiland. ‘n Durende probleem is een wat ek reeds drie dekades gelede aan wynmaker Beyers Truter bely het op sy vraag hoe die Kaap die Vrystaatse inkommer geval.

In alle eerlikheid hef ek toe ‘n loflied aan aan wyn, maar meld tog ook ‘n kwelling: dat ek sukkel om ‘n glasie so lank te laat hou soos ek Kapenaars sien doen. Het hy vir my raad en dalk ‘n resep?

Alte seker, kom die antwoord.  Die resep is doodeenvoudig; jy kan dit in een woord opsom.

En daardie woord?

Selfbeheersing, sê hy skalks.

Selfbeheersing nè: die vind ek, helaas,  steeds maar taamlik ontwykend!

(Slot)