SPRANKELENDSTE SONJA

So is die rubriek aangebied, met my en Sonja se foto’s; hare darem groter as myne.

Nou moet ek versigtig trap, ek weet, maar ek wil tog waag om dit op skrif te stel: dat Sonja Herholdt die borrelendste, opgewekste, sprankelendste en ongekunsteldste mens is met wie ek ooit ‘n onderhoud gevoer het.

Sonja word vandag in “Die Burger” se lekker rubriek ”50 Jaar gelede” vermeld vir die Sarie wat sy in 1975 – toe ‘n bloedjong Oos-Randse onderwyseres  – met haar eerste treffer “Ek verlang na jou” verwerf het. Die weghol-sukses van die lied het die einde van haar onderwysloopbaan beteken, en sy het een van die voorste Afrikaanse sangers van ligte liedjies geword met ‘n loopbaan vol hoogtepunte. Dink maar aan “Jantjie”.

Ek het vir die “Beeld”-rubriek “Onder Vier Oë” met Sonja gaan gesels – vernaamlik oor haar sangloopbaan. Die gesprek het wye draaie geloop,  tot by haar hare, haar klerekas, haar liefdeslewe, sommer baie ander dinge . Oor elke onderwerp het sy openhartig en entoesiastiers geborrel.

Kroeskop-krullebol: drie dae trane gestort hieroor.

Oor die hare het sy vertel hoe sy drie dae lank gehuil het nadat ‘n haarkapster dit tot ‘n krullebol-kroesies konfoes het.  Lank was dit ‘n hele petalje (tot twee ure soms) om voor elke vertoning die hare reg te dokter sodat Sonja soos die ou Sonja lyk: die vars plaasmeisiebeeld waarop sy gesteld was.

Ook met haar klere was daar ‘n beeldprobleem. Ontwerpers wou haar na haar sin te sexy laat lyk. Sy het soberder, sagte vloeiende lyne verkies.

Met “Ek verlang na jou” het sy kennis gemaak by ‘n groepie studente wat dit op ‘n KJV-kamp gesing het.  Dit het haar “nou eers vreeslik” laat verlang na haar studentekêrel (en eerste man), FC Hamman, op wie sy baie verlief was.  Hy was toe in die Kalahari besig om aan die rolprent “Sarah” te werk,

Sy gaan sit toe en skryf vir FC ‘n briefie – niks anders nie as net die woorde van die liedjie: “Ek verlang na jou / Na die winde wat sy arms om my vou / So verlang ek as die son en die maan en die wind en die wolke oor my gaan / Verlang jy ook na my? / Daar waar jy nou in die verre lande bly / En verlang jy as die son en die maan en die wind en die wolke oor jou gaan?”

By sy terugkeer het sv die liedjie vir hom gesing. Hy het gedink dit is “baie mooi” en het dit toe vir “Sarah” verwerk. FC se woonstel in Aucklandpark het hulle “onwettig” in ‘n ateljeetjie omgeskep. Die hele plek het hulle met elerdosles uitgeplak. In een muur het hulle ‘n gat geslaan en’n venster ingesit, Daarna het hulle “op vreeslike skuld” hul eie klanktoerustinq gekoop en aan die werk gespring. En daar is die uiteindelike “Ek verlang na jou”, soos ons hom ken, eintlik gebore.

Sober, sag en vloeiend – dis sy, glo Sonja.

Die mense se reaksie op haar debuutlied was net ongelooflik. Van die plaat is 60 000 verkoop.  Toe sy vir die Sarie benoem word, was dit vir haar ‘n yslike verrassing. “Ek het dan net begin sing.” Toe haar naam die aand uitgelees word, was sy so oorstelp dat sy in trane uitgevars het. Maar ‘n naam is gevestig wat 50 jaar later steeds wyd bekend is. Nou ook op my blog.

Oor baie ander dinge het ek en Sonja gesels.  Uiteindelik in twee onderhoude oor twee dae. Dit was ’n uitvoerige rubriek. Net een ding wil ek egter nog graag noem: van die plesier wat sy geput het uit hope briefies van jong bewonderaars oor watter inspirasie sy vir hulle was.  Die een briefie wat haar behoorlik laat borrel het, was van die premier, John Vorster, en sy vrou, Tini.  Hulle het haar bedank dat sy vir hul kleindogter Martelize Kolver ‘n inspirasie was.

Martelize Kolver?  Ja, die einste wat ons later oor die radio, die  verhoog en die TV-skerm leer ken het as ‘n ster uit eie reg. Ek wonder of sy van oupa en ouma se briefie weet.