Feb 24, 2025 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Ollie op dreef op ‘n afskeid vir joernalis Aat Kaptein (regs). Kyk uit vir ‘n jong Bart Zaaiman.
‘n Keer is prima ballerina Margot Fonteyn ná ‘n opvoering in die Bloemfonteinse stadsaal onder blomme toegegooi. ‘n Kort eenreëlkop (opskrif) is vir ‘n voorblad-stoepberig vereis. Ollie se skepping: “‘n Blom-Fonteyn”.(‘n Stoep was die storie onderaan die blad.)
Niemand het ‘n beter kop gehad as die woordsmid sonder weerga as dit kom by die die skryf van kort, kernagtige en gevatte koppe nie … of, soos ‘n ander kollega dit gestel het, sonder veel kopkrap kon hy skitterende koppe skryf.
Ollie was ook die koerant se eie “kabaretster”, die siel van afskeide en diverse okkasies met gevatte rympies en liedjies wat hy spontaan kon optower. Sy “Die siel van die mier is nou hier” het ‘n soort legendestatus by tydgenote verwerf. Toe hy Kaap toe is het hy almal verstom deur sy hele afskeidstoespraak van ‘n rol telekspapier af te sing.

Subkantoor; ek en Ollie op ons poste.
Van die verre herinneringe wat opgediep is by ‘n Volksblad-fees op Melkbos in Desember was van liedjies wat in die aanbreekjare van die 60’s in die subkantoor gebore is. Een waarvoor ek na al die dekades steeds ‘n besonderse affiniteit het, is die Siek-liedjie van Ollie en Paul Marais op die meesleurende wysie van ”Somewhere in France with You” – beginnende by “Her two blue eyes, two blue eyes. keep smiling at me …”
Dis ‘n muishond met ‘n vleiswond / En psigosikose
Dis ‘n bloedhond met ‘n bloedklont / En koronere trombose
Dis ‘n mank skisofreen – met ‘n versteende been / En die oom in die boom het tragoom.
Selfs hierdie toondoof, onmusieklike ou man word beweeg om sy heupe ritmies te swaai. Sing saam – in die stort of waar ookal. Dis net lekker.
Die geboorte van een Ollieliedjie onthou ek of dit gister was. Ek was hoofsubredakteur en was nog op soek na een lekker storie om dit daardie dag ‘n goeie voorblad te maak. Volgende oomblik: hier’s hy. Dis ‘n storie van ‘n aangrypende olifantdrama in die Addopark wat pas per teleks opgedaag het van die destydse susterskoerant in die Baai, Oosterlig.
Sub gou, Ollie, sê ek (wat hoofsub was) vir my regterhand, Lekker storie, sê Ollie toe hy begin lees. Inderdaad. Voorbladstof van die eerste water.

As subs plesierig raak: ek, Paul en Ollie.
Ouma, ‘n gedaan ou olifantkoei in Addo, is deur die leierbul, Hapoor, ‘n genadedood toegedien. Die vorige paar dae was Ouma al slingerend. Genoeg is genoeg, het Hapoor besluit. Agter ‘n bos het hy een van sy lang ivoortande diep in haar hart gedruk. Met haar bloed druppend van die tand, het hy van agter ‘n bos tevoorskyn gekom.
Daarop lei hy die trop na Ouma en rangskik hulle om die karkas. Hy het hulle as ‘t ware uitgedaag om sy daad te bevraagteken. Geeneen het nie. In die stroewe ritueel wat gevolg het, het elkeen aan die karkas geruik en opsygestaan. Haar seun Lanky het alleen oorgebly vir ‘n doodswaak.
Nog dieselfde middag het Ollie oor Hapoor en Ouma ‘n liedjie gemaak: ”Hapoor steek vir Ouma dood, van die wal tot in die sloot ….” In plesierige oomblikke het ons span subs oor ‘n bier (ná werk natuurlik) graag Ollieliedjies soos dié aangehef.
Ollie se skeppende talente het geen einde of ophou geken nie.

Ollie se webblad vir Tokkie60
Hy het hom as ondersoekende joernalis onderskei en het ’n deurslaggewende rol gespeel om die storie van Racheltjie de Beer as ‘n Suid-Afrikaanse variasie van ’n ware Amerikaanse insident te ontmasker.
In sy aftrede het hy ook begin om uitstekende politieke briewe aan koerante te skryf – soms in “immaculate English”.
Toe gade Tokkie 60 geword – ook al amper 20 jaar gelede – het Ollie vir my ‘n stylvolle webblad ontwerp om die mylpaal te vier.
Daar was waarlik net een Ollie – duplisering van sulke enorme kreatiwiteit in een mens is eenvoudig nie moontlik nie.
Jun 5, 2019 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Ollie (links) en HvD (regs) aan Die Volksblad se subtafel in die jare 60 . Wat ‘n staatmaker was hy nie in daardie stoel nie!
O liewe magtig, o allakragtig, die Koning van Kwinkslae is more tagtig! Hartlik geluk, Ollie Olwagen, of Goëthe Olwagen , as ‘n mens nou formeel wil raak.
Olllie bereik more, 6 Junie, die magiese syfer waarvan Die Bybel so ‘n mooi woord spreek as hy die ouderdom onder loep neem.
Ek het Ollie in die 50’s as sub by Die Volksblad leer ken. Hy was verstrooid maar briljant – ‘n kopskrywer (skrywer van opskrifte) soos ek nie weer na hom gesien het nie . Later by Huisgenoot is hy met Naspers se Piet Cillié-prys vir kreatiwiteit vereer. Hy was waarskynlik die kreatiefste Nasperser van sy era en het daardie prys – ook groter erkenning – deur en deur verdien.
‘n Keer by Die Volksblad was op bladsy een vir absoluut net ‘n kort eenreëlkop plek vir ‘n stoepberiggie op die voorblad oor die prima ballerina Margot Fonteyn, wat ná ‘n opvoering onder die blomme toegegooi is. Ollie se skepping: “‘n Blom-Fonteyn”.
Moshe Dayan, die bekende Israelse politikus met ‘n oogklap, was lief vir oudhede. Bo ‘n artikel oor daardie voorliefde in Huisgenoot was Ollie se kop: “Moshe het ‘n oog vir oudhede”. Ene L Otto wen die Lotto. Ollie se kop: “Van K…erkmuis tot L…otto”.
Niemand kon in sy loopbaan by hom kers vashou as dit kom om met woorde te speel nie. Ollie was inderdaad iemand met ‘n kop vir koppe … of, soos ‘n ander kollega dit gestel het, iemand wat sonder veel kopkrap goeie koppe kon skryf. Niemand kan steeds by hom kers vashou as hy op Facebook sy slimmighede uitstort en sy woordvaardigheid vertoon nie
Hy is die vader van Mieliestronk op CD –Rom – die so onontbeerlike hulp met skooltake wat derduidende kinders (en grootmense!) seker al moes geraadpleeg het. Hy is ook die vader van vele blokraaisels wat in SA publikasies verskyn.
Sy jongste missie is om wikipedias van senior oud-kollegas op die internet te plaas. Gaan kyk gerus na Ton Vosloo se wikipedia. Mooier kan daar nie wees nie.
Want daar is net een Ollie Olwagen. Punt.
Nov 29, 2016 | Vars Blog
Die kuns van die kopskrywer (skrywer van opskrifte) is selfs groter as wat dit dalk lyk. Die uitdaging is nie net om ‘n treffende opskrif te skryf nie. Nee, dit moet, kom wat wil, in ‘n bepaalde ruimte inpas.
Sonder om te tegnies te raak: Des te groter die lettertipe en des te minder die kolomme, des te moeiliker word jou taak om in al hoe minder woorde die essensie raak te vat. Dit is die eis wat die bladplanner aan jou stel, en jy moet eenvoudig sien en kom klaar. Dis al.
My briljante oud-kollega Ollie Olwagen herinner n.a.v. my storie in Die Burger en ‘n vorige blog oor gevatte koppe aan ‘n stoepie (berig onder op die blad was ‘n stoepie genoem, nogal verbeeldingryk, dink ek) jare gelede op Die Volksblad se voorblad toe daar absoluut slegs plek was vir ‘n kort eenreëlkop vir prima ballerina Margot Fonteyn, wat ná ‘n opvoering totaal toegegooi was onder die blomme:
Dit was ” ‘n Blom-Fonteyn”.
My vermoede is dat dit ‘n Ollie-kop was. Niemand kon vir hom kers vashou nie. Hy is later by Huisgenoot vereer met die Piet Cillié-prys vir kreatiwiteit – dalk die enigste bekroning in sy soort.
Sou graag ‘n hele lys Ollie-koppe hier wou plaas. Hy is egter maar ‘n beskeie man. Kollega André Brink onthou darem vinnig uit die vuis uit twee:
Ene L. Otto wen die Lotto. Ollie se kop: “Van K…erkmuis tot L…otto”.
Moshe Dayan, bekende Israelse politikus met ‘n oogklap, was lief vir oudhede. Bo ‘n artikel oor daardie voorliefde was Ollie se kop: “Moshe het ‘n oog vir oudhede”.
Ollie was inderdaad iemand met ‘n kop vir koppe … of, soos ‘n ander kollega dit gestel het, iemand wat sonder veel kopkrap goeie koppe kon skryf.
Lesers het lekker saam gesels oor die opskrifte-storie. Isabel Cilliers – oud-joernalis wat ‘n biblioteek-professor geword het – het Saterdag die ene op die voorblad van Die Burger raakgesien: “Swart Vrydag: kopers van hul trollie af”. Ja, dit was netjies, Isabel.
In die tyd dat Doom in Suid-Afrika so in die nuus is, herinner oud-kollega Tom Ferreira my aan die opskrif in ‘n koerant in Engeland nadat ‘n verveelde hondjie in die afwesigheid van die huismense aan Kersgeskenke begin kou het. Een van die geskenke was ‘n spuitkan met ‘n reukweerder. Die einde van die avontuurtjie was ‘n paar vensters wat uitgeblaas is en ‘n bank in vlamme. Die hondjie was ongedeerd.
Die opskrif: “Scooby Doom.”
In die vorige blog gemeld hoe die Engelse taal hom leen tot skitterende opskrifte, soos hierbo. Sonder om ‘n te lang relaas te lewer, gee ek net nog drie voorbeelde van uitmuntendheid.
Toe Michael Foot leier van die Britse Arbeidersparty was, is hy aangewys as voorsitter van ‘n komitee wat oor kernontwapening moes beraadslaag. The Times (‘n ernstige koerant wat nie tyd het vir speletjies nie) kom toe met die onvergeetlike opskrif vorendag: “Foot head arms body”.
Dan was daar ook in die VK die geval waar ‘n aangehoudende in ‘n asiel ‘n skropvrou verkrag en daarna gevlug het. Die pittige (stouterige, as u so verkies) opskrif in die koerant was “Nuts screw washers and bolts.”
Die agterblad behoort tradisioneel aan Sport. Kom ons eindig met ‘n sportkop, met die komplimente van Johannes Wessels, outeur van die berugte “Moedertie Rusland wydsbeen oor die Horing van Afrika”. Hy vertel die dag nadat die All Black Jonah Lomu die drieë teen Wallis ingeryg het, was die opskrif van ‘n Walliese koerant bo sy rugbyverslag: “Jonah devours Wales”.
Saterdag kon dit gewees het: Wales devour frail antelopes!
Nov 3, 2012 | Hennie van Deventer se Blog
More uit Mellkbos
Racheltjie Beer se heldedaad in die hartjie van die winter in die barre sneeulandskap aan die voet die Drakensberg is, volgens oorlewering, iewers in die 1840′s verrig. In 1920 – ‘n ronde 80 jaar later – raak dit die eerste keer opgeteken danksy Eugene N. Marais, ‘n digter-dromer, romansier, woordkunstenaar, kenner van bobbejane en miere, wonderwerker …. noem hierdie begaafde man wat jy wil. Maar ‘n historikus is hy nie.
Dis ‘n genade dat die Trek enkele jare tevore – ook die oortog van die Voortrekkers met hul kakebeenwaens, Afrikanerosse en (kaalvoet?) vroue van durf oor die nimlike Drakensberg – nie dekades lê en stof vergaar het nie. Hoe bloedarmoedig sou die Afrikanergeskiedenis dan nie gewees het en hoe jammerlik dun Gustav Preller-hulle se vroeë Suid-Afrikaanse geskiedenisboeke nie.
Ollie Olwagen het in vanoggend se BY in sy brief, ”Rachel de Beer is bloot ‘n afspieëling van Hazel Miner”, waarskynlik ‘n paar hardnekkige vasskoppers stof tot nadenke gegee. Verre sy dit van die uwe om verdere sout in hul wonde te vryf. Die gedagte kom egter maar net by my op:
By koerante word soms met verfrissende selfspot opgemerk: Moenie dat die feite ‘n goeie storie bederf nie. Dit is nogal onthullend hoeveel briefskrywers die laaste paar weke dieselfde volhardende geringskatting vir feite openbaar het as wat kritici soms aan joernaliste toedig. Hou ons nie maar almal van ‘n goeie storie nie?
(hvd)