ODE AAN DIE ROLPERS

My geliefde koerant, Die Volksblad, se verdwyning uit die hoofstroom van gedrukte koerante was vir my vanjaar ‘n diepe hartseersaak. In my verjaardagboekie “Koerant” / 80 wei ek daaroor uit. In Volksblad vandag verskyn my “Ode aan die rolpers”, wat ‘n hoofstuk in daardie boek is.   

Oor ‘n rolpers kan ‘n woordkunstenaar ‘n gedig skryf. Oor hoe massief hy is, hoe verbysterend vinnig hy loop, hoe hoor en sien vergaan terwyl hy dreunende die duisende klaar koerante in ‘n kits netjies voor jou uitspoeg.

By Volksblad was ons bevoorreg om fabriek en redaksie onder een dak te hê. By koerante soos Die Burger en Beeld is hulle in geboue ver van mekaar. Die afronding van ons produk kon ek en ander redaksielede dus telkemale in verwondering aanskou.

Ons het die indrukwekkende Goss-pers ook graag vir gaste gaan wys. Om hul meevoering te beleef as die koerante so snel en kant en klaar van die pers kom, was deel van die bekoring. Om vir hulle ‘n kraakvars koerant in die hand te stop, was soos om ‘n kleuter te bederf.

Ek het self graag die koerant by spesiale geleenthede onder die by die rolpers gaan inwag. Te veel keer om op te noem.

Telkens is ek opnuut getref deur die gladde sinchronisasie van tegniek, konkas vol ink, yslike rolle papier en vakmanskap. Ek het stil staan en luister na die egalige musiek van ‘n rolpers op volle vaart, en my aan die skouspel vergaap: die gevlegde papier wat in ingewikkelde patrone seepglad hul bane deur die ingewande van die metaalreus vind om wonderbaarlik koerant te word.

Wanneer jy die koerant oopvou, die verslawende aroma van die drukkersink nog skerp in jou neusgate, is elke berig, elke foto en elke advertensie presies op die regte plek. Die kleure is perfek ingestel. Die koerant is gereed vir die lesers wat wag.

Opwindende dae was daar gelukkig te veel om op te noem. Dalk die opwindendste dag – beslis die dag met die meeste toeskouers op elke moontlike staanplek in die drukkery – was die verskyning van die eerste volkleurkoerant – op 24 Maart 1983 met die inwyding van die nuwe Goss. Soos die koms van ‘n nuwe baba was dit. Hoe trots en ingenome was ons Volksbladders nie.

Ons profetiese opskrif daardie dag was: “Swart verpleegsters in wit hospitale”. Nie almal was ingenome met die vooruitsig nie! Ook nie met die keuse van hoofberig nie. Dit is op my rekening, en soos Winston Churchill mag ek seker maar sê: “I have not always been wrong.”

Nog ‘n dag vir die geskiedenisboek was 4 Maart 1991. Ons koerant het die dag van gleuwe verwissel. Hy het, soos sy susters, ‘n oggendkoerant geword. Ek het ‘n foto waar ek, Philip van Rensburg, nuusredakteur, en Nols Nieman, hoofsub-redakteur, gretig die eerste oggend-Volksblad by die rolpers opraap. Ou Nols – ‘n ware pionier met elke modernisering – is helaas jonk dood.

Sal ek die dag vergeet toe ek en Naas du Preez, nuusredakteur, by die rolpers afgeneem is – tamaai breëbors oor ons “wêreld-scoop”: “Zola bly”? Ons had die eksklusiewe mededeling in haar eie handskrif. Maar toe ons ons oë uitvee, hôl sy al weer in Londen. La donna e mobilè…

My hele eerste skof van 20 jaar in Bloemfontein en ‘n hele paar jaar van die tweede skof was die settery net onder die redaksie: ‘n see van yslike linotipe-setmasjiene met hul onophoudelike klik-klik-klik-geluid. Dit was soos die setters die berigte wat op die boonste verdieping op tikmasjiene geskep is met vuurwarm lood in kolomwydte stafies herskep. Wanneer jy by die voordeur instap, was die besige settery jou eerste visuele indruk.

Opskrifte is uit ‘n kas vol verskillende letters van elke grootte in stawe gepak en in loodvorm gegiet. Vir werklik groot stories – soos die moord op dr. Hendrik Verwoerd op 6 September 1966 – is houtletters gebruik – die heel grootste in ons besit. “Dr. Verwoerd vermoor” was die reuse-banier.

Dan moet die drukkersduiwel net nie met die naam kom lol nie. Opskrifte is in spesiale vormpies uitgepak. Soms is dit agterstevoor gedoen. Wat op aarde beteken “Erg skitter Dicky Brob”? Ruil die twee stukke lood om. A-a-a, “Dicky Broberg (bekende atleet) skitter”!

Saam met die berigte is die opskrifte op die sogenaamde “steen” – ‘n soliede sementblad – volgens die subredakteur se bladplanne ingepak. By die vernaamste laaste bladsye het subs bygestaan om hier en daar te verstel. By die voorblad was dit die hoofsub se taak. Ek het die takie in my hoofsubdae baie geniet, buiten die dag toe my trui in ‘n roller beland wat dit toe halfpad van my lyf af in ‘n drom swart ink intrek. Dit was permanent onbruikbaar.

Wanneer die blad van die steen af gaan, was hy uit die redaksie se hande. Nadat dit geproeflees is (‘n span spesiale proeflesers met arendsoë) is dit na die stereo-afdeling. Hier is eers ‘n karton-flong of -matrys van die blad gemaak. Die matrys/flong wat hittebestand was, is in ‘n silindervormige gietmasjien geplaas. Gesmelte lood is dan daarop gegiet. By ‘n sogenaamde “router” is die silindriese lood-“bladsy” wat so gemaak is, se hoër oppervlakke weggesny voordat dit rolpers toe gaan.

Ai, waar is daardie dae en daardie wonderlike tegniese kollegas? Baie is natuurlik lank voor die papierkoerant op 7 Augustus langboompies toe is, al lank vooruit. Die laaste ongetwyfeld TD (Oom Pottie) Potgieter op ouderdom 93 op 18 Mei. Hy het in 1945 as setter by Die Volksblad begin.

Die nag van 6 Augustus toe die gedenkuitgawe – die laaste breëbladuitgawe – gedruk is, het die enigste twee van die ou garde wat nog oor is, Mossie Mostert en André van der Nest, die Goss gaan beman. Albei is nou in bestuursposte by Novus Print, maar het as vakleerlinge by die rolpers begin toe dit nog deel van Volksblad as filiaal was. Sou meer as ‘n pennie vir hul gedagtes betaal het!

ODE AAN MY PLEK

Middag uit Melkbos

Vir my bome (vorige blog) sal ‘n koper diep in sy sak moet grawe as hy Tarlehoet syne wil maak. Nie dat ek wil verkoop nie. Ek wil nie dieselfde fout maak as die Klerksdorper wat jare gelede in ‘n impulsiewe oomblik ‘n goeie aanbod aanvaar het nie. Toe hy na ‘n nag se wroeg sy heiligdom vir dubbel die prys wil terugkoop, loop hy hom in ‘n onwillige nuwe eienaar vas.

Natuurlik is in Sabiepark groot, swierige en duur huise waarteen die Van Deventers se boshuis maar beskeie opweeg. Vir ons is Wildevy 154 egter doodreg. Die huis is, wat ons betref, presies groot genoeg en sy boskarakter is nogal besonders. Die nuwe Harveyteëldak lyk spiekeries.

Sy sebravelle, skilderye en hope wildfoto’s teen die mure dra tot ons plek se boskarakter by. Ook sy rottang- en onopgesmukte dennehoutmeubels. Die bome (en wild) wat by elke sonnige venster inloer, voltooi die prentjie. Die laaste Sondagmiddag toe ons na kerk in Skukuza en ‘n rit al langs die rivier langs Onder-Sabie toe by die huis kom, was dit juis weer sulke tyd: ses sebras agter teenaan die huis, drie kameelperde langs die motorpad. Ons kon hulle deur die eetkamer- en die sitkamer se syvenster dophou.

Outydse waaiers wat uit die dak hang, skep ‘n koloniale atmosfeer, en is natuurlik goud werd wanneer die kwik in die hartjie van die somer op galop raak.

Tarlehoet se afgesonderdheid is ‘n waardevolle skepper van rustigheid en vrede. Die straat, Wildevy, is ver, meer as 100 meter soos die boskraai vlieg. Die kronkelpaadjie na die huis tussen die erewag van bome en struike deur is – hang af hoe groot jou treë is – tussen 110 en 120 meter. In die somer steek die loof elke teken van die buurmanne se tuistes deeglik weg.

Die ruigheid van die area is blykbaar vir die luiperd aantreklik. Jy kry sy spore op die sagte van van die motorpad. Hy’t al op die stoep geslaap – soos ‘n bouspan tot hul skok moes agterkom. Die skugter bosbok wei sommer maklik ‘n uur lank rustig reg rondom die huis. Dan klik die kamera aaneen!

Saans as ek my eie vuurtjie aansteek, is dit absoluut net ek en my vuurtjie. “My vuurtjie en ek is op wag, my vuurtjie en ek alleen…” Die vlammetjies van geen anderman se vuurtjie lek voor my oë nie.

Maar ons is darem nie te ver om die Sabierivier se gedruis oor die bed van rotse op pad na die Kruger-wildtuin en Mosambiek toe 24 uur per dag te hoor nie. Dit is ons agtergrondmusiek, waarteen die roep van die visarend en ‘n koor van voëlgeluide sielsverheffend opklink.

Ook die gedurige geproes van seekoeie in die rivier, en die trompetter van uitgelate olifante op die oewers bereik gemaklik ons ore.

Ons hektaar-erf het ‘n straatfront van 120 meter, wat ongewoon breed is, selfs vir Sabiepark. Buiten sy bome-rykdom en genoeg veld vir die wild om te kom wei spog die erf met ‘n eie bekie wat na goeie reën lustig kabbel onder laagwaterbruggie van klippe in Wildevy deur.

Tarlehoet het ‘n ruim kuierstoep onder ‘n hoë grasgewelf. Dit is waar die bosnagape en die nagapies aand vir aand hul vertonings kom lewer. Die nagapies het twee geweefde grasnessies hoog teen die muur, maar selfs met daardie voorsprong moet hulle roer om voor die gulsige bosnagape op die “piesangtafel” te kom. Die ruime beskikbaarheid van soethappies het ‘n hele gesin van laasgenoemde blykbaar na ‘n boom naby die voorstoep laat verhuis. Dis skaars donker, dan sit hulle afwagtend in die groot maroela of hoor jy hul voetstappe ongeduldig heen en weer op die dak.

Die toegekampte braailapa is vier trappies ondertoe van die stoep af. Vir ‘n middagbraai is dit ideaal, met uitgestrekte skaduwees waarvoor die maroela, jakkalsbessie en die naaste knoppiesdoring sorg. Van jou braaier het jy ‘n onbelemmerde uitsig op die watergat waar wild van tyd tot tyd hul dors kom les of – soos die hiënas en vlakvarke – sommer in hul drinkwater kom mors!

Agter, aan die noordekant, is ‘n tweede lapa, ook met ‘n paaltjieheining vir veiligheid na donker – knusser en meer beskut as die voorste, groter ene; aangenaam wanneer die windjie die aand koelerig raak, wat inderdaad ook soms gebeur. Die ligging teenaan die kombuis is bevorderlik vir gesellige kuiertjies tussen kosbereider en braaier.

Die swembadjie – nie veel groter nie maar aansienlik dieper as die sogenaamde “splash pools” wat taamlik algemeen raak in Sabiepark – is ‘n somer-saligheid enige tyd van die dag en nag. Net jammer die bobbejane begin ontdek hoe verkwikkend ‘n vinnige induik kan wees. Daarom hou ons die seiltjie deesdae maar lossies op.

Tarlehoet is presies een kilometer van piekniekplek – ‘n lekker stappie vir ‘n lid van die kieriebrigade. Al gaan dit rus-rus, ek kom daar. Boonop is Wildevy ‘n skilderagtige boom-omsoomde straat met ‘n skotige driffie waar enige verrassing kan skuil. Ons het al in die skemer ‘n luiperd daar gekry, maar darem jare gelede!

Vergewe die ontboeseming. Na die ode aan my bome het die lus my beetgepak vir ‘n tweede, algemene ode aan my plek – ter bevrediging van ‘n opwellende nostalgie saam met die jare wat drafstap, maar darem ook vir kennisname van eiendomsagente en voornemende kopers:
Moenie Tarlehoet se waarde onderskat nie! (HvD)