Dec 18, 2024 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
‘n Sleg ding het Johan Viljoen op sy eerste besoek aan Nuweland oorgekom.
Johan, my niggie Elise se man, wat hierdie week kort na haar in Pretoria oorlede is, kon van daardie ontnugtering altyd met groot smaak vertel as jy hom uitvra.
Die onugtering was nie op die veld nie. Trouens, sy geliefde Rooibontes van Transvaal het daardie dag ‘n taamlik seldsame sege oor die Streeptruie van die WP behaal. Maar desondanks was sy beker bitter.
Die Viljoens het vir ‘n paar jaar van Pretoria Kaap toe geskuif. Dit was in die 70’s of 80’s. Hulle koop ‘n huis in Kommandeurstraat, Welgemoed, naby die hoek met Kommissarisstraat. Hy gaan maak kennis met die eienaar van die winkel op die hoek – wat nou ‘n Pick ‘n Pay is – en gou gesels hulle lekker rugby.
Johan spreek die wens uit om die Saterdag die Rooibontes op Nuweland te sien speel en die eienaar bied gul aan: Kom saam met ons. Hy en sy vriende het ‘n ekstra kaartjie en ‘n gaatjie in die voertuig.
Als verloop gesellig en aangenaam totdat die Rooibontes die voortou neem. Hoe meer Johan opspring en juig, des te stuurser raak sy gashere. Rustyd gaan loop hulle ‘n draai. En hulle kom nie terug nie.
Toe die eindfluitjie blaas weet Johan nie herwaarts of derwaarts nie. Hy val in by ‘n klompie wat skynbaar doelgerig iewers heen op pad is. Daardie “iewers” is toe die Foresters Arms Pub (ook bekend as Forries).
Dis al goed donker toe die telefoon lui en Elise in Welgemoed die smeekstemmetjie hoor: Jy sal my moet kom haal.
Eers weier sy volstrek. Watter kant is Nuweland? En die hotel met daardie snaakse naam? Hoe ry ‘n mens in hierdie wildvreemde plek? Hy kan dit mos nie van haar verwag nie.
Maar sy penarie sink in. Daar sit die arme man sonder geld by ‘n vreemde hotel in ‘n vreemde stad. Hy is verslae en verlore. En hy is immers haar eggenoot.
Toe gaan soek sy Nuweland. Dis laat toe sy na verkeerd ry hier en verkeerd ry daar uiteindelik by die hotel stop waar ‘n paar barmhartige Samaritane intussen vir die eensame Rooibont-ondersteuner ‘n dop of twee gekoop het.
Trouens, hy kuier toe al so lekker dat hy half vies is toe hy die bekende gesig by die kroeg se deur gewaar. Maar daar kry hulle tog toe koers huis toe, sy opnuut verdwaal en onseker en hy van geen hulp nie; babbel net oor die goeie rugby wat hy gesien het.
Teen middernag was hulle tuis in Welgemoed. Die surigheid het effens langer geneem om te wyk.
NASKRIF: Elise (82) is verlede Dinsdag taamlik skielik by haar huis in Pretoria oorlede. ‘n Erg verswakte Johan (87) het ses dae later gevolg.
May 30, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

Naand uit Melkbos
My ontslape kollega en vriend Alf Ries het graag gespog dat hy op Nuweland ‘n kniebesering opgedoen het. Hy het inderdaad. Ná die eindfluitjie van die een of ander W.P.-wedstryd is hy en Ebbe Dommisse, as ek reg onthou, sommer kortpad oor die veld op pad motor toe. Toe val Alf oor ‘n vlagpaal of ‘n ding.
Hy moes van die veld gedra word en was geruime tyd in die hospitaal. (Dit was die keer toe hy op TV in sy rooi pajamas, tot P.W. Botha se gramskap, Kabinetsveranderinge redelik korrek voorspel het. P.W. het net gesnork: “Wat moet die mense dink as ‘n man in ‘n rooi pajamas uit ‘n hospitaalbed my Kabinet aankondig?”)
Dit daar gelaat. Hierdie storie haak eintlik aan by my eie seer knie, nie Alf syne nie. Myne het ongelukkig nie só ‘n romantiese oorsprong soos ‘n struikeling op een van Suid-Afrika se beroemdste rugbyvelde nie. Die pyn kom uit die heup, is gediagnoseer.
Maar die diagnose is gedoen by die Sportinstituut by Nuweland, waar ek toe ietwat vroeg opdaag, en om tyd te verwyl by die Rugbymuseum inloer – my eerste keer. Die fopfoto hierby van die uwe by John Smit en Pieter de Villiers is die bewys. Tokkie het dit met die selfoon geneem. Die uwe is die gryskop in die middel, vir diegene wat nie weet nie en dit moeilik vind om uit te werk.
In die museum is werklik baadjies, truie, foto’s, bekers, balle en wat nog wat kosbare rugbyherinneringe ontsluit.
Oor drie dinge wil ek vriendelik my stem dik maak in die hoop dat dit iewers by iemand uitkom wat iets daaraan kan doen. Ons nasionale spel verdien darem nie sulke afskeepbehandeling soos wat ek hier wil rapporteer nie.
Vir eers kort die bekers Brasso en ‘n fris arm met ‘n lappie. Die goed is regtig lelik aangeslaan. Dit wek die indruk van verwaarlosing.
Ten tweede is belangrike inligting by sekere uitstallings op stukke papier wat aan die kante opkrul en skeurtjies vertoon. Ai, laminering sal baie help.
En derde het ek die knoppie gedruk om oor die ouderwetse radio na die stukkie Gerhard Viviers-kommentaar te luister toe hy op Loftus in ‘n toets teen die All Blacks só Ge-“Syddie, Syddie, Syddie” het. Nomis het onderskep en hoekvlag toe laat vat.
Ek kry toe nie Gerhard en “Syddie” nie, maar kommentaar (kan nie onthou deur wie nie) toe Frik du Preez die dag ge-“drop”, ge-“place” en ge-“score het” – uit eie reg ‘n stukkie rugby-Africana, maar nie waarna ek op daardie oomblik wou luister nie.
Ek dag toe ek het die verkeerde knoppie gedruk en maak seker dat ek die tweede keer nie weer fout maak nie. Wraggies, toe’s dit weer die Frik-storie.
Is die “Syddie”-stukkie daar of is dit nie daar nie? Weet iemand? Hoe ook al, as dit is, is dit by die verkeerde knoppie. Is dit so moeilik om jou hand op sulke dinge te hou, selfs in die Suid-Afrika van 2011? (HvD)