WAG IS VERBY VIR WAG-‘n-BIETJIE

Blinkblaarboom, jou fraaie nooi, jou lentekleed in groen getooi …
Saam met die voorposblare aan rosyntjie- en aartappelbosse , blinkblaar-wag-‘n-bietjies (foto), knoppiesdorings en wat nog hier op Tarlehoet se werf in Sabiepark kom die blye nuus uit die Kaap: Wag-‘n-bietjie (foto) is klaar gedruk. Vandag begin hy sy pad loop. Mooiloop, my boek.
Saam met die opgewondenheid wat elke skrywer seker met die koms van ‘n nuweling ervaar, kom ook die effense teleurstelling dat juis my verkeer tussen die bome in die bos my eie kennismaking met die finale produk noodwendig gaan vertraag. Lesers wat die boek voor my sien, moet tog maar laat weet hoe dit hulle geval. Wat ek kan verklap, is dat Karen Cronje, ontwerper, buitengewone moeite met die uitleg gedoen het. Die Wag-‘n-bietjie-tema loop deur die boek.
In ‘n voorwoord verduidelik ek die rol van Tarlehoet se wag-‘n -bietjies in die keuse van die titel. Hier is nogal ‘n paar van die spoggerige bome met die geniepsige dorings. Dis van daardie dorings wat die subtitel kom: Stories wat gryp. Op die foto versier ‘n onlangse gas, Marlene Duvenage, die robuuste stam van ‘n wag-‘n-bietjie vlak teenaan die stoep.
Wag-‘n-bietjie sal wyd in boekwinkels beskikbaar wees. Dit kan ook bestel word by die uitgewer, Naledi, se doeltreffende aanlynboekwinkel by naledi.co.za of by Tertia Swart (078 648 8616). Die prys is R275 plus R65 koerierskoste om dit by jou voordeur te laat aflewer.Die verskeidenheid in die boek strek van koerante tot die bos – alles dinge wat naby aan die skrywer se hart is.

DIE AANLAND VAN ‘N NUWE BOEK

Hoe lank is die pad nie wat ‘n boek loop vandat jy die eerste woorde neergepen het totdat jy die pakkie van die drukkers af oopskeur, die kraakvars eindproduk in die hand hou, dit oopslaan en stadig deurblaai. Dikwels voel jy of die wag net nooit gaan ophou nie. Maar dan – as dit verby is – is die oomblikke soet.
Die vrug van jou inspanning bied ‘n verruklike vreugde. Daarna breek ‘n nuwe wag aan. Die vrug van jou inspanning en vreugde word nou die bron van jou wonder en hoop. Jy wonder oor lesers se reaksie. Jy hoop die leser sal ook in jou boek vreugde vind soos jy die skrywer.
Lang storie. Eintlik wil ek maar net sê Hier is hy: ‘n hopie van ‘ ‘ –‘n Joernaal van scoops en skandes op my tafel in die woonkamer op Melkbos uitgestal. Binnekort sal “mooi nooi” in die boekwinkels wees.
Bestel hom ook direk by Naledi se aanlynboekwinkel en kry hom by jou voordeur afgelewer sonder ‘n sent ekstra, landwyd. Dis so maklik soos een, twee, drie. Klik net op op https://naledi.co.za/ of skakel Tertia Swart – 078 648 8616

AGTER PAPIERGORDYN

Watter koerantman  het vir PW Botha gese: “U se moer ook “? Watter een het hom, in sy eie woorde, aan PW “afgesmeer”? Wie is met koekies en tee in Libertas onthaal … en toe bars ‘n bom?

Geheimpies soos hierdie word verklap in “Koerantkamerade”, my nuwe boek, wat so saam met die lente sy buiging by Naledi gemaak het.  Ook antwoorde op politieke prikkelvrae soos: Wie het ‘n jong Botha afgeraai om joernalis te probeer word?   Wie het sy kabinetskuiwe tot Botha se gramskap in rooi pajamas uit ‘n hospitaalbed voorspel?

“Koerantkamerade” bied ‘n intieme blik agter die papiergordyn aan die hand van  ʼn 50-stuks gemoedelike en informele “grafskrifte” van  ontslape tydgenote in die perswese. Die galery van pers-persoonlikhede sluit in van die bekendste joernalistieke name van die goue jare van koerante van 1960 tot 2000,  maar ook onbekende agter-die-skerm-mense.   Die hele spektrum word gedek: van koerantverkopers tot korrespondente tot redakteurs en direkteure.

‘n Kernelement is talryke humoristiese anekdotes.  Die sluier word ook gelig oor allerlei intriges in nuuskantore en direksies.

Die boek van 300 bladsye word opgedra aan “almal wat lief is vir koerante en oor die mense agter die papiergordyn wonder.”  Dit bevat ‘n spesiale ekstra fotoseksie van 20 bladsye. Talle van die foto’s is nog nooit tevore gepubliseer nie.

“Koerantkamerade” word gepubliseer in samewerking met Nagkantoor en word ondersteun deur ‘n ruim subsidie van die LW Hiemstratrust. Danksy die subsidie kon die prys tot R220,00 beperk word.

Bestel dit by Tertia Swart-078 648 8616/ tertia@naledi.co.za of naledi.co.za(Naledi se webtuiste).  “Koerantkamerade” sal weldra ook op die rakke van voorste boekwinkels landwyd te koop wees.  Hou dop vir die omslag met die gevoude skippie van koerantpapier wat op die waters dobber.

(Nog enkele vrae oor koerantmense wat in “Koerantkamerade” beantwoord word: Watter bekende koerantman het in Finland hout gekap, in België by ʼn mosterdfabriek en in Duitsland in ʼn psigiatriese inrigting gewerk, en hom in Holland as ʼn buffetsjef  bekwaam? Wie was ‘n  konstabel, wie ‘n meubelmaker en   wie ‘n plattelandse bankklerk?  Hoeveel was predikante? )

 

 

HIER’S HY: MY NUWE BOEK

Loutere vreugde om vanoggend, 3 Januarie 2021, op my 80ste die omslag van “Bure van nature” te wys – my 21ste en seker laaste boek. “Bure” verskyn in Mei by Protea Boekhuis.

Die omslag – voorbladfoto deur die wakker Organ Ongeni van Sabiepark se piekniekplek  – en ‘n lusmakertjie van die  keurige  inhoudontwerp  laat my opgewonde hande vrywe. (Die foto op die agterblad is deur Tokkie van Deventer. Die vuurtjie flikker in ons lapa.)

.

“Bure” is in meer as een opsig ‘n “Buurman van die wildtuin (Tarlehoet, 2004) Merk II” – maar met hope splinternuwe Sabiepark- en wildtuinstories.  Sestien jaar het immers tussenin verloop.

Volgens  die agterblad is my pennevrug  “propvol veldstories  en naelbyt-ontmoetings tussen mens en dier”. Die subtitel is nie verniet nie: “Waar mens en natuur skouers skuur”.

Ek klink graag ‘n glasie “Wild Africa”-likeur op Deborah Steinmair, redakteur, en Hanli Deysel, ontwerper. Die twee kranige dames het uit hul pad gegaan om betyds vir my verjaardag die piekfyn omslag afgerond voor my neer te sit.

Die voorsmaak van hul arbeid laat my tintel van plesier. Watter groter geskenk kan ‘n mens vra – veral op my gryse jare?

LAATOES UIT MELKBOS

My eerste boek. Na 24 jaar kom 'n Laatoes.

My eerste boek. Na 24 jaar kom ‘n Laatoes.

Douvoordag more as die Kaap nog net begin ontwaak, sal ek en Tokkie op pad wees van Melkbos af lughawe toe.  As alles reg verloop, sit ons more-aand by ‘n vuurtjie in Sabiepark. ‘n Vakansie van amper drie maande wag, so plus-minus al ons 50ste vandat Tarlehoet einde 1997 in ons lewens gekom het.

Natuurlik sien ons geweldig uit na die vreugdes van die bos: elke dag se  verrassings rondom die huis; sebras se besoeke aan ons watergat; die sy aan sy leef met die natuur in hierdie repie ongerepte Afrika naas die Krugerhek van die wildtuin en die Sabierivier.  Ons sien uit na die spesiale ervarings wat maar elke keer opduik en elke bosvakansie as ‘t ware definieer.

Tog kom vanjaar ‘n element in die prentjie wat ons vakansie ietwat anders gaan maak.  Die uwe gaan die almanak dophou en selfs die slapies tel. Hy gaan begin haastig raak.

Sê nou weer?  Ja, julle het reg gehoor.  Die haastigheid het darem ‘n goeie verklaring.  Kom September, kom ‘n “laatoesie” van die uwe uit die land – of die wingerd, as jy wil: die uitgewer Naledi publiseer van die 76-jarige ‘n boek wat op hierdie rype ouderdom seker sy laaste sal wees:  Laatoes – kykweer van ‘n kanniedood-koerantman.  Brand ek nie om weer ná ‘n lang onderbreking ‘n boek vars van die pers in my hande te hou nie!

Oor die titel is lank gedink. Laatoes het gewen, en die Woordeboek van die Afrikaanse taal (WAT) se woordomskrywing het sowat die deurslag gegee.  ‘n Laatoes is, volgens die WAT, vereers ‘n oes wat lank op die land staan en laat in die seisoen ingesamel word. Wat seker in hierdie geval met die HvD-oesie gebeur.  ‘n Tweede betekenis is ‘n laatoeswyntjie uit die wynkamer. Hoop maar daar sal lesers wees vir wie Laatoes so ‘n behaaglike leesplesier bring soos ‘n glasie vrugtige laatoes.

Die “kanniedood-koerantman” in die subtitel sal seker nie ‘n verrassing wees vir mense wat Van Deventer ken nie.  Kollegas het my in Bloemfontein ‘n “kompulsiewe” koerantman genoem weens my “passievolle drif”.  Ek glo hulle sal maklik van “kompulsief” tot “kanniedood” kan vorder weens my uithou en aanhou vir soveel jare al.

Op 15 Desember 1997 het ek my kantoordeur in die Perssentrum in Kaapstad finaal agter my toegetrek ná ses jaar weg van skryf. Soos Sabiepark ekstra genot tot my 20 jaar as afgetredene bygedra het – en bootvaarte! – het die terugkeer tot my eerste liefde, skryf, ook elke dag vir my waarde toegevoeg.

Skryf, skryf, skryf nie net in my blogs en op my eie webblaaie nie. Nie net enkele boekies nie. Maar in die drie Afrikaanse dagblaaie en in Rapport, in tydskrifte soos Huisgenoot, Sawubona en By, ook op Litnet, Netwerk24 en sy eie webblaaie.  Uit hierdie laatoes van my is die versameling in die bundel geput.

Van begrafnisse tot feeste;  van herdenkings tot bekendstellings;  van humor tot ernstige besinnings kom in die versameling aan die bod.

Louis Esterhuizen, tekspraktisyn van Stellenbosch, wys daarop dat dit my in my lewe en loopbaan geluk het om paaie te kruis met talle indrukwekkende persoonlikhede binne ons kultuur-historiese landskap.  Oor baie wat ek oor jare heen as vriend, kollega of vertroueling leer ken het;  skryf ek in Laatoes. Mense is die oorheersende tema, dan die koerantwese, die natuur, persoonlike dinge – ook my skool- en studentejare –  kerk en sport.

Geleentheidstukke is uiteenlopend: van die 50ste herdenking van die moord op dr. HF Verwoerd tot die 30ste herdenking van Gerrie Coetzee se verowering van die wêreld-swaargewigbokstitel.  Ek waag my hand selfs aan rugby. Wonder wat my sportskrywer-kollegas daaroor sal sê!

Ten slotte: maak seblief ‘n merkie op die almanak by September en volg  Nataniel se raad een keer: koop tog maar daardie “blerrie boek”!

* Volgende blog kom uit Sabiepark.