OM ‘n NAAM TE NOEM OF NIE

In Die Burger, op Netwerk24 en ander media in die formele sektor lees ons ‘n naamlose 18-jarige is 25 jaar tronk toe gestuur vir die moord op die skoolmeisie Deveney Nel (16) in die Overberg.
Sy naamloosheid is te wyte aan die feit dat hy minderjarig was toe hy haar vermoor het en ingevolge die Kinderwet as minderjarige vervolg is.
Op sosiale media word sy naam egter links en regs genoem. Selfs ‘n foto word gepubliseer. Die meeste mense steur hulle nie op Facebook of Instagram aan die Kinderwet nie. Voorspelbaar gaan geeneen ook oor oortreding vervolg word nie, want wie gaan die skuldiges opspoor? Waar begin jy toeslaan?
Toenemend kom dit voor dat formele media se monde deur wetgewing gesnoer word terwyl gebruikers van sosiale media straffeloos hul eie kop volg. Toe die vermoorde ds. Liezel de Jager se man, Werner, byvoorbeeld destyds as verdagte in hegtenis geneem is, het die hele land dit geraai of danksy die sosiale media vinnig geweet. In die formele media is sy naam meesal verleë verswyg. Hy was net “’n man”.
‘n Interessante uitsondering was die Sondagblad Rapport wat toe nog in koerantformaat verskyn het. Hy het pront die verdagte se identiteit openbaar. Wat my betref, was Rapport se waagstuk geregverdig. Tegnies het die koerant wel die wet oortree, maar dit was groot nuus wat elders sonder voorbehoud uitgeblaker is. En per slot van sake: Watter skade het hy daardeur aangerig?
Voorts het die koerant ‘n belangrike punt bewys: Dat jy nie in ‘n saak met soveel nuuswaarde ‘n stel wette kan hê wat net vir een seksie van die media geld en ‘n ander stel – of geen wette – vir ‘n ander seksie nie. Dit het Rapport gedoen sonder om selfs net ‘n skrobbering van ‘n vies landdros uit te lok.
Klaarblyklik het in die mediareg ‘n kopkrap-situasie ontstaan wat veral waar die Kinderwet ter sprake is, lastige dorings het. Dat wetgewers en wetstoepassers hier met ‘n neteligheid te doen kry waarvoor hulle nie maar net anderpad kan kyk nie, is egter gewis. Anders kom chaos.