SCOOP VAN NIGGIEMOORDE: PAD NA DIE VOORBLAD
Mar 25, 2025 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog
Aan een ontslape kollega het ek toenemend gedink terwyl die promosie van die nuwe Kyktnet-TV-reeks oor die raaiselagtige niggiemoorde van 1966 op Odendaalsrus stoom opgetel het.
Chris (Molie) Moolman (foto), destyds Goudveldse verteenwoordiger van Die Volksblad, sou beslis die reeks met ‘n arendsoog gevolg het. Die storie oor die moorde was destyds sy scoop.
Wanneer die reeks “Niggies” vanaand afskop, sal die kranige oud-redakteur van Rapport en Oosterlig, oud-assistent-redakteur van Die Volksblad en Die Burger en Londense verteenwoordiger van die koerante van die Nasionale Pers in die 70’s egter nie een van die kykers wees nie. Hy is reeds in Oktober 2020 op 79-jarige leeftyd heen.
Ek was hoofsubredakteur van Die Volksblad toe die 12-jarige Petro Nel en Issy Fourie se lykies destyds in ‘n verlate gebou op Odendaalsrus gekry is. Hulle het spoorloos verdwyn nadat hulle by die munisipale swembad gaan lyf natmaak het. Albei was verkrag en wreed vermoor.
Molie het die storie op sy gewone oggendrondes by die speurhoof in Welkom opgetel, Binne ‘n uur was ‘n deeglike verslag op die nuusredakteur, Oom Gert Terblanche, se lessenaar. Ek was gewaarsku om op die voorblad voorsiening te maak.
Soos die grusame moorde oor die weerlose meisies skokgolwe deur die gemeenskap gestuur het, was dit ook by koerant iets groots. Die Goudveldse oplaag is verdubbel. Bestuurder-redakteur Hugo Dreyer het in een van sy seldsame besoeke skielik langs my lessenaar opgedoem om ‘n onnodige opdrag in een woord oor te dra: Baniertjie. ‘n Banier sou die storie inderdaad wees – dws onder ‘n opskrif wat oor die hele blad strek.
Die etiket “niggie-moorde” is daardie dag aan ons subtafel gebore. By geleentheid is dit ook die “murasiemoorde”genoem, Die gebou waar hul lykies gekry is, was maar bouvallig.
Hope berigte het oor die moorde verskyn. Vir 18 jaar is egter geen leidraad gevind nie. Uiteindelik, in 1984 – 19 jaar later – het een van die die verkragters ‘n selmaat in die tronk in sy vertroue geneem. Johan Theron en Diederick Steenkamp verskyn toe op 27 Maart 1984 op aanklagte van moord en verkragting in die hof op Odendaalsrus.
Weer was ek by die hantering betrokke. Ek was toe redakteur. Die opdrag oor aanbieding onder ‘n banier het die keer van my na hoofsubredakteur Nols Nieman gekom.
Theron het skuld beken op die verkragting van een van die niggies, maar het gesê dat hy hulle nie vermoor het nie. Steenkamp het ‘n alibi gehad en is later vrygespreek.
Theron se ouer broer, Barend, was die eintlike belhamel agter die treurspel. Hy was ‘n man met ‘n reuse- selfbeeldprobleem. Sy een hand was gebreklik en hy het dit altyd met ‘n kous bedek. Almal was bang vir dié gewelddadige bullebak wat drank en dagga misbruik het.
Hy was egter reeds oorlede. In 1976 het hy uit die derde verdieping van die Cecil Hotel in Bloemfontein gespring, kop eerste. Hy het seker gedink hy vat sy geheim saam graf toe. Toe nie.