Jun 25, 2025 | Hennie van Deventer se Blog, Vars Blog

Spanfoto by ‘n Nieman-piekniek. Dick Foxton kniel regs voor.
Vir Dick Foxton het ek seker in 30 jaar nie gesien nie – dalk langer. Die nuus van sy dood (op Netwerk24) het tog ‘n uitroep uitgelok, asof die periode wat ons paaie uiteengeloop het, veel korter was.
Enersyds was die verbasing groot oor die mededeling dat hy al jare die nimlike Thuli Madonsela se lewensmaat en verloofde was. Andersyds was hy die soort mens wat jy nie lig vergeet nie: hartlik, joviaal, borrelend vrolik, lief vir kameraadskaplike kuiers. ‘n Bon vivant in die ware sin van die woord.
My ervaring van Dick, 82-jarige voorloper in die openbare skakelwese, spruit uit ‘n deurlugtige koerante-aangeleentheid wat ongelukkig doodgeloop het: die jaarlikse Nieman-“piekniek” wat in die jare 70 en 80 ‘n feestelikheid soos min was.
Nieman slaan op die Nieman-genootskap aan die Harvard-universiteit in Amerika. Die piekniekgangers was oud-Niemangenote – joernaliste wat die voorreg gehad het om ‘n sabbatsjaar aan Harvard in Cambridge, Massachusetts te gaan deurbring. Ons was gaste van wyle Aubrey Sussens, baas van die skakelfirma Group Editors. Hy het jare vir die reis- en verblyfkoste van die vreemde byeenkomste gesorg. Sussens was die eerste Suid-Afrikaanse Nieman Fellow in 1961. Hy is in November 2002 ná ‘n lang siekte oorlede.

Dick Foxton
Sy status in Nieman-geledere was die van ‘n sort “Godfather”. Sy woord was wet, en hy kon na ons pieknieks nooi wie hy wil, ook van buite die Niemanstal. So het Dick Foxton op die toneel gekom; ook Otto Krause. Omdat Aubrey van hul geselskap gehou het, het hy hulle vir die kuiers met die status van ere-Niemans beklee.
Dick Foxton het op sy beurt graag Niemans na sy eie geleenthede in Johannesburg genooi. ‘n Wedersydse band was gesmee.
Met hoeveel plesier dink ek nie terug aan daardie tye nie. Ons eerste klompie Nieman Fellows uit Suid-Afrika was soos ‘n hegte klub. Al was ons politiek uiteenlopend, was ons sosiaal nogal geheg aan mekaar.
Elke jaar het ons reünies gehou (die sogenaamde “pieknieks”) op plekke soos Chobe in Botswana, die Swaziland Spa , die Wild Coast Casino en die Mmabatho Sun. Hoogtepunt was ‘n swartdas-dinee.
Onder die ouer garde van hierdie nie-amptelike Wie’s Wie van die media is koerantbaas Ton Vosloo en ‘n galery senior redakteurs soos Tertius Myburgh, Allister Sparks, Michael Green Salie de Swardt, Harald Pakendorf, Percy Qoboza, Andrew Drysdale, Aggrey Klaaste en Alf Ries.
Onder die latere generasie Niemans is Zwelakhe Sisulu, gewese direkteur-generaal van die SABC, Mathathta Tsedu, Barney Mthombothi, Tim du Plessis, Barbara Folscher, Moeletsi Mbeki, Thabo Mbeki se broer, en Johanna van Eeden.
Die Byl het ook al sterk in die bos gekap. Van die bekendes van daardie era wat nie meer met ons is nie, is buiten Sussens (en nou ook Foxton): Tertius Myburgh, Percy Qboza, Michael Green, Allister Sparks, Louis Louw, Salie de Swardt, Alf Ries, John Ryan, Andrew Drysdale, Stewart Carlyle, Ted Doman en Dennis Pather.
Sy jarelange verbintenis gee aan Suid-Afrika die onderskeiding dat hy naas die gasheerland verreweg die meeste Niemans opgelewer het. Ná Sussens volg die grootste denkbare verskeidenheid in die Suid-Afrikaanse joernalistiek: Afrikaners (hoewel later al hoe minder), Engelssprekendes, swartmense, bruinmense, Asiërs; mans en vroue; Nasionaliste en ANC’s — ‘n moderne Babel van botsende politieke oortuigings, verskillende waardestelsels en later al hoe driftiger meningsverskille.
In 2016 was Johanna van Eeden van Netwerk24 die laaste Suid-Afrikaner wat die kosbare voorreg gesmaak het voordat die historiese verbintenis deur ‘n misleide nuwe kurator afgekap is. Watter pynlike verlies.
My eie wonderlike Niemanjaar was 1977, amper 50 jaar gelede. Ek onthou dit soos gister.
Oct 18, 2016 | Vars Blog

Die TV-onderhoud waarvoor die uwe met ‘n lang slap Cadillac kom haal is.
Percy Qoboza en Tehobo (Tsietsi) Mashinini sal vir altyd in hierdie Afrikaanse koerantmens se geheue afgeëts bly. Ek het 40 jaar gelede net na die Soweto-opstande in 1976 op die Harvard-kampus met die twee te doen gekry, en kan na al die jare nie help om te glimlag by die aanhoor van hul name nie.
Qoboza was in die jare 70 redakteur van die invloedryke swart koerant The World wat in ‘n sekere sin vir die wêreld-media die kernbron van geloofwaardige nuus oor die uitbarsting van swart woede in 1976 was. Hy was die gesig van The World (die koerant is later, in Oktober 1977, deur die Regering gesluit en sy redakteur ses maande lank sonder verhoor aangehou). Die heelwat jonger Mashinini was op sy beurt ‘n prominente studenteleier. Hy kan, met goeie reg, een van die die gesigte van die destydse aktivisme genoem word.
Albei die here het in die nagloed van Soweto Amerika besoek om gretige gehore eerstehands oor die stormagtige gebeurde hier te lande in te lig. Hul reise het hulle na die Harvard-kampus gebring waar die uwe juis toe op ‘n joernalistieke sabbatsjaar as Nieman Fellow was. Onvermydelik het die uiteenlopende Suid-Afrikaners se paaie in die vreemde gekruis, nie sonder beroering nie.
Qoboza het, ongelooflik soos dit klink, van die wit Suid-Afrikaner ‘n bondgenoot kom maak in ‘n skema wat die onbegrypende Niemangenote siedend van verontwaardiging gelaat het. My en Mashinini se ontmoeting was aan die ander kant ver van gemoedelik. Dit was my beurt om verontwaardig te wees.
Qoboza was my onmiddellike voorganger as Suid-Afrikaanse Nieman. Op Harvard het hy in die politieke klimaat van die tyd in sy jaar ‘n gedugte reputasie as vyand van die apartheidsregering verwerf. Nie verrassend nie, het die stof in Soweto skaars gaan lê voordat hy weer na Amerika genooi is. Hy sou as held van die “struggle” ook die opgewonde Nieman-klas van 1976/77 ontmoet en toespreek. Qoboza sou soos die Verlore Seun ontvang word. Die gemeste kalf is geslag.

Percy Qoboza
Die aand voor die groot okkasie is daar ‘n kloppie aan die voordeur van 6 Crimson Court by 375 Harvard Street, die donker baksteen-woonstelgebou waar die Qobozas die vorige jaar in dieselfde beskeie kelderwoonstelletjie gewoon het. Die gas uit Suid-Afrika meld hom aan met ‘n verrassende wellewendheid en ‘n bottel Oude Meester in die hand. Hy kom net respekte aan sy opvolger betoon en sommer kyk of ons nog die tafeltjie het wat hy in die gang vir die karig gemeubileerde woonstelletjie geskaai het terwyl niksvermoedende Amerikaners besig was om in of uit te trek. (Die tafel was toe wel nog veilig op sy plek.)
Nou-ja, brandewyn het nie brieke nie! Die bottel sak vinnig en ons gesels land en sand, onder meer in bewoë eensgesindheid oor die wonderlike ontwikkeling dat wit en swart nou in ons gemeenskaplike vaderland saam sokker speel. Laterig kondig Qoboza aan ek moet hom Logan-lughawe toe vat; hy wil die laataand-pendelvlug Washington toe haal.
“Sê net weer!”
Ja, asseblief, antwoord Percy; hy is vir more se smartlike gehaaihoe van die spul Ooskus-liberaliste net mooi niks lus nie. Ek praat mooi. Soebat amper. Benadruk hoe almal reikhalsend na sy koms uitsien. Hoe kan hy dan nou net nie opdaag nie? Maar Qoboza hou voet by stuk. Wel, die man is my gas, en ek vat hom later, soos hy versoek het, met my Toyota-stasiewa Logan toe – nogal ‘n yslike ent.
Die volgende dag bly ek liewer ver weg van die Nieman-hoofkwartier in Trowbridge Street af. In ‘n stadium lui my telefoon in Crimson Court. Of ek dalk weet waar Percy hom bevind; hy’s darem al baie laat. Dit word toe my taak om die sprakelose Niemans haarfyn oor die vorige aand se verloop in te lig – natuurlik met die klem op my ongeslaagde pogings om my mede-Suid-Afrikaner oor sy afspraak van besluit te laat verander.
Ek het nie gese van die ‘Ooskus-liberaliste’ nie. Ons is almal per slot van rekening Fellows. En ek en Qoboza Suid-Afrikaners.
Lank daarna wou my twee swart Amerikaanse mede-Niemans, Jack White en Barbara Reynolds, albei goeie vriende, nog nie glo wat gebeur het nie. Hennie en Percy en ‘n bottel Oude Meester? Kan nie wees nie.

Tsietsi Mashinini
Vroeg in 1977 daag Mashinini in Boston op. Hy word genooi om op die plaaslike TV-oggendprogram, die Today Show, te verskyn, en die aanbieder. John Willis, klop by die Niemankantoor aan aan vir die naam van ‘n wit Suid-Afrikaner om die program te “balanseer”. Die kurator, Jim Thomson, beveel “Hennie vên Dievender” aan. Daar was nie juis ‘n ander kandidaat nie!
Nee, ekskuus, gooi ek wal, ek kan regtig nie. . Ek praat daardie aand by die Council on Foreign Relations, in Portland, Maine oor die onderwerp: “Some misconceptions about South Africa.” Maar dan is jy juis goed voorberei, kap Thomson terug. Ek laat my maar ompraat, bespreek plek op ‘n later Greyhound-bus en ry die oggend na die buurdorp Watertown waar die TV-ateljees is.
By die ateljees wag en wag ek. Lank gebeur niks. Ná twee koppies koffie Americano kom verduidelik die verleë regisseur daar is ‘n “hiccup”; die jong gas weier om saam met ‘n Afrikaner in dieselfde program op te tree. Ná al die moeite en verdriet! Ek protesteer, maar vergeefs. Einde ten laaste is ek vort, taamlik verontwaardig en ontnugter oor die beroemde Amerikaanse regverdigheidsbeginsel waarvolgens almal die kans moet kry om gehoor te word.
Thomson was tot in sy siel liberaal en had vir die Suid-Afrikaanse bedeling van destyds min tyd. Toe hy egter hoor van die behandeling wat sy man te beurt geval het, is hy ewe verontwaardig as wat ek was. Hy bel dadelik die TV-stasie en sê reguit: So laat ek nie met ‘n Nieman Fellow mors nie! Geen van sy Fellows sal ooit weer aan enige van die stasie se programme deelneem nie, tensy Mister “Vên Dievender” sy kans kry.
Die uiteinde is toe ruim geleentheid om in ‘n volgende program my prate te praat. ‘n Cadillac-limousien word selfs gestuur om my by die huis te kom haal – tot verwondering van twee Suid-Afrikaanse kindertjies wat die status-simbool grootoog betrag.
‘n Bewys van hoe ‘n onvoorpelbare land Amerika is (was?), daag ‘n paar dae later met die pos ‘n koevert uit Manchester, New Hampshire, op. Binne is ‘n brief van William Loeb, uitgewer van die Manchester Union Leader, en een van Amerika se bekendste konserwatiewe denkers van doerie tyd. “Mooi so,” laat weet hy. En gee toe sommer ook raad hoe om my saak in die vervolg nog oortuigender te stel.
In Mei 1989 is in Cambridge ‘n groot Nieman-reünie gehou. Nieman Fellows het uit die uithoeke van Amerika en van elke vasteland na hierdie verre alma mater gestroom vir ‘n glansryke vyftigste verjaardagfees wat oor drie dae gestrek het. By hierdie geleentheid het ek Jim Thomson weer gesien. Hy was nie in ‘n goeie toestand nie. Waarskynlik van te veel Jack Daniels. Toe ek vir hom sê sulke lojaliteit vergeet ek nimmer, het sy oë opgehelder. In Augustus 2002 is hy aan ‘n hartaanval oorlede.
(Percy Qoboza en Tsietsi Mashinini is albei ook al oorlede: Qoboza in 1988 op sy 50ste verjaardag ná ‘n massiewe hartaanval en Mashinini in 1990 in Conakry, Guineë, in geheimsinnige omstandighede. Sommige glo hy is vermoor. Ander bespiegel dit was Vigs. Sy oorblyfsels is na Suid-Afrika gebring en rus in die reuse-Avalonbegraafplaas by Soweto. Op sy gedenkteken is die woorde “Black power” gegraveer. )
Oct 27, 2015 | Hennie van Deventer se Blog


Middag uit Melkbos
Op 74 klink dit ietwat verspot, maar laat ek maar bely dat my betrokkenheid by sogenaamde Nieman-konferensies enkele dekades gelede nogal entoesiasties was: hetsy by wyse van slimpraatjies of die uitbundige klink van glasies op alles en nog wat.
Deelnemers was die groepie SA joernaliste wat so bevoorreg was om as Nieman Fellows vir ‘n sabbatsjaar na Harvard in die VSA te gaan. My eie was in 1976/77. Ek was SA Nieman Fellow nommer 18. Die tradisie het in 1960 begin. Verlede jaar was Johanna van Eeden daar. Vanjaar word SA egter oorgeslaan. Hoop maar dis nie die einde van ‘n era nie.
In die groep was in my tyd al (en is deesdae des te meer) die grootste denkbare verskeidenheid in die Suid-Afrikaanse joernalistiek verteenwoordig – ‘n moderne Babel van botsende politieke oortuigings, verskillende waardestelsels en soms driftige meningsverskil. Die gemeenskaplike koord was/is ons sentimentele herinneringe aan ons Harvard-ervaring.
Daardie herinneringe het ons in die jare 80 tradisioneel elke jaar op ‘n wegbreeknaweek in die boendoes gaan opskerp. Die hoogtepunt was ‘n formele dinee – ons almal in aandpakke uitgeklits. Van die kraakwit hemde het die volgende oggend “onverklaarbaar” wynspatsels vertoon. In vino veritas. Ander vreemde dinge het ook gebeur waaroor ek diplomaties ‘n sluier trek.
Hoe ook al, een van ons kuierplekke was die Wild Coast Sun. Toe ek nou in Oktober aan die Suidkus kom, kon dit nie hoër of laer nie. Ek moes Wild Coast Sun toe om op die ou spore te gaan loop en in stilligheid te gaan peins oor jare en dinge wat, helaas, lank-lank verlede tyd is.
Op die foto’s is die uwe en wyle Tertius Myvburgh in ons aandpakke vroeg in die 80’s en die uwe , kierie in die hand, voor die kenmerkende struktuur van die flambojante casino-hotel met nou die dag se herbesoek 30 jaar later.
Mar 26, 2013 | Hennie van Deventer se Blog

Aitsa! Painter en die uwe uitgevat in hul Harvard-baadjies – Melkbos, 1997
Middag uit Melkbos
Koerantmense dra die etiket dat hulle sinies is, soos prokureurs die etiket dra dat hulle skelm is. Ek betwis sulke veralgemenings. Jy kry joernaliste en prokureurs van die alleredelste inbors. Ek was dan self ‘n joernalis!
Laat my egter maar erken: Jy kry wel siniese koerantmense – soos skelm prokureurs. Vra my na een wat in my oë as sinies kwalifiseer, duik die naam John Painter heel eerste op. Dié Amerikaanse kollega kan nogal ongevoelig wees, ook bytend spottend, meedoënloos neerhalend en selfs brutaal. Idealisme is nie juis sy sterkpunt nie.
Ek slyp nie byltjies nie. Ek en Painter is ‘n soort “odd couple” sedert ons Niemanjaar aan Harvard in 1976/77. Hy het al vir my op Melkbos kom kuier en ‘n pad deur my rooiwyn gedrink. Hy het my en Tokkie al herhaaldelik genooi om die plesiere (hedonisties plesiere?) van sy “hot tub” in Portland te kom geniet.
Die nimlike Painter – eintlik John Painter junior (junior is ‘n titel waarvoor Amerikaners nogal lief is) – het pas in Portland, Oregon, aan die Amerikaanse weskus, sy memoires te boek gestel. Die titel het my nogal laat glimlag – dis tipies van die man. Dis ook kos vir diegene wat graag die s-woord t.o.v. koerantmense inpan. Die titel is: If your mother says she loves you, check it out!
Ek dink ek weet wat hy bedoel: dat ‘n koerantman wat sy sout werd is, nie sommer alles vir soetkoek moet opeet nie. Maak dubbel, dubbel seker jy word nie om die bos gelei nie! Maar om juis moederliefde in hierdie konteks by te sleep, laat hom bepaald klink soos iemand wat vir sentiment en soetsappigheid geen tyd het nie. In daardie opsig is dit nogal onthullend en nie onjuis nie.
Ek het al voorheen John Painter in ‘n stukkie hier en ‘n stukkie daar vermeld. Wil vandag weer by die ou maaifoedie ‘n draai maak, en weet dat hy uit sy keel sou lag as hy sy maat van Melkbos se herinneringe sou kon lees en verstaan.
Painter is ‘n man met ‘n slap arm weens ‘n ongeluk met ‘n renmotor, ‘n dawerende lag diep uit die keel en ‘n tong soos ‘n rasper. Het hom in die middel van 1976 in Cambridge leer ken.Soweto was daardie tyd in vlamme en ek het soms maar taamlik verstote gevoel. Painter was die een wat, ondanks sy eie politieke oortuiginge, nogal mededoë met die vermaledyde Afrikaner-nasionalis openbaar het.
Hy het hard probeer om my te oortuig dat ek vir my eie veiligheid en dié van my gesin na Oregon moet emigreer. Hy kon taamlik brutaal demonstreer hoe “hulle” my keel in Suid-Afrika gaan oopsny!
In November het die eerste sneeu geval. Komende van Oregon was dit vir hom omtrent so vreemd as vir die Suid-Afrikaner. Vir my was dit ‘n vreemde nuwe wonderwêreld. Maar hy was altyd vies was as dit begin sneeu. Hy kon daardie “white shit”, soos hy dit disrespekvol genoem het, nie op sy kop verdra nie!
Ek en Tokkie is een aand saam met Painter en Annie (sy tweede vrou van drie) na die Bostonse akwarium vir ‘n onthaal. Die Bloody Marys het gevloei. Huis-toe-gaan-tyd was Painter baie spraaksaam. Toe hy wegtrek met sy Ford Thunderbird hoor ons net doef-doef-doef. Dit blyk toe hy het links gedraai pleks van regs. Ons was besig om trappie vir trappie in ‘n buitelug-amfiteater na die opelug-robbepoel benede te ry. Dit was ‘n gesukkel om die Thunderbird teen die steilte terug te stoot straat toe.
Hoe dit gekom het, kan ek nie meer onthou nie, maar hy het ons daardie aand vertel van ‘n belangrike lewensles wat hy by sy pa geleer het. Painter senior het vir Painter junior vermaan: Ek kan jou nie dwing om te doen wat ek vir jou sê nie. Ek kan jou egter baie spyt maak dat jy nie geluister het nie.
Twintig jaar later het hy hy my aan sy pa se woorde herinner toe juis tydens sy en Susan se besoek aan die Kaap die storm om Naspers-betrokkenheid by die Waarheids- en Versoeningskommissie losbars. Painter het my aangemoedig om vir die 127 jongeliede wat WVK toe is om hulle van apartheid los te maak, sy vader se vermaning te herhaal: Dat ek hulle spyt kan maak as hulle nie wil luister nie. Vir my verduidelikings oor hoe politiek sensitief die saak is, had hy min begrip. “Bullshit,” het hy my verweer afgemaak.
Hy het my ook die raad gegee om “swift, brutal and without mercy” op die dissidente toe te slaan.
“Swift, brutal and without mercy.” So het hy vir Susan en sy verleë SA gashere een middag uit die wynkelders van Boschendal gelei toe die sommelier nie die wyn kon lewer wat hy, ná ‘n uitvoerige studie van die onderwerp, die graagste wou proe nie. Ek sien hom nog toe hy eenvoudig begin uitstap en vir ons met sy gesonde arm wink: “C’mon guys, let’s go.”
Snaaks, hoe meer ek van John onthou, des te minder verras sy boek se titel my!
(hvd)
Oct 3, 2011 | Hennie van Deventer se Blog

Veertien jaar later is 40 persent dood.
More uit Melkbos
Dis puur en simpel ‘n nare gewoonte om op ou foto’s te tel hoeveel gesigte al weg is langboompies toe.
Op 70-jarige leeftyd raak die kappery in jou bos bepaald onheilspellend. Moenie na jou eie baba- en kleuterforo’s begin kyk nie – dan skrik jy oor hoe allenig jy op hierdie aarde oorgebly het!
Selfs van my matriekklas, die kalwers van 1957 by Potch-Volkies, is seker al goed ‘n kwart van die 81 reeds oorlede. Veral na 2007 toe ons goue jubileum gevier het, is die ou bome vinnig omgedop.
Om die een of ander rede ag ek dit my somber plig om as ‘n soort nie-amptelike scriba my klasmaats oor nuwe sterfgevalle ingelig te hou. Op dié manier is selfs ‘n premature doodsberig oor ‘n meisie in ons klas, later die vrou van ‘n LV, al van my rekenaar af na vele ander skerms versprei.
Toe dit blyk dat my bron ietwat oorhaastig en dus onbetroubaar was, was ek natuurlik verleë, maar darem ook dankbaar dat dit een tydgenoot minder is voor wie se naam ‘n kruisie moet kom.
Hoekom dié onderwerp? Om die waarheid te sê omdat ek myself nie kon keer om te begin tel nie op die foto van die Suid-Afrikaanse Niemans wat in 1998 by Harvard die Goue 50 van die Nieman Foundation in Cambridge, Massachusetts, gaan vier het. Daardie foto was op 1 Oktober op my blog by die storie oor Zwelakhe Sisulu – een van ons.
Van die veertien op daardie foto (nommer 15 is ‘n Amerikaanse polisieman) is werklik ook al ‘n derde heen. Die vyf oorledenes is Aubrey Sussens, Tertius Myburgh, Louis Louw, Alf Ries, en Obed Kunene. Die prentjie is eintlik nog leliker. Van die eerste 25 Niemans (van 1961 af tot 1983 – enkele jare was daar meer as een) is 11 se kersvlammetjies al geblus.
Dit is natuurlik bogenoemde vyf plus Lewis Nkosi, Robert Steyn, Nat Nakasa, Percy Qoboza, Donald Woods, Aggrey Klaaste en Ameen Akhalwaya. Dit maak sommer ‘n diep snit in die hegte groepie wat in die goeie ou dae altyd elke jaar, danksy die gasvryheid van ons sogenaamde “Godfather”, Aubrey Sussens, in ‘n casino in ‘n buurstaat gaan “konferensie hou” het
Vandag se foto is geneem by die feesdinee die aand van 5 Mei 1998 in Harvard se enorme Memorial Hall. Die gesigte behoort aan die vyf Naspersers wat, danksy die direksie se vrygewigheid, destyds die verrigtinge saam met hul gades kon bywoon – ‘n fees.
Van die tien mense op die foto is vier oorlede: Alf Ries en sy eerste vrou, Maggie, Ton Vosloo se eerste vrou, Lorna, en Louis Louw van Die Burger. Veertig persent. Maar dat die syfer nie hoër is nie, is dalk eerder iets om oor dankbaar te wees.
Ek gee gewoonlik vir my vrou, Tokkie, ‘n eerste loertjie in ‘n nuwe blog. Met hierdie een gaan ek dit nie doen nie. Sy sal ongetwyfeld daardie onmiskenbare misnoegde trek op haar gesig kry as sy nie hou van wat ek doen nie, en ek weet sy hou niks van hierdie morbiede gewoonte nie.
Maar nou het ek my optelsommetjies gedoen en nou weet ek. Nou’t ek weer rus vir ‘n rukkie. Rus julle ook in vrede, kollegas – vir altyd. (HvD) .