MET SPIOENBAAS IN DIE BRANDERS

Dat spioenbaas Niël Barnard op Gansbaai – Gansbaai! – te ruste gaan, wek herinneringe aan my eerste besoek aan daardie wyke.
In Januarie 1983 bring die nuwe besturende direkteur van Naspers, Ton Vosloo, sy vier koeranteredakteurs en die politieke redakteur van die groep ‘n naweek op Franskraal deur.
Die redakteurs is Wiets Beukes (Die Burger), Willem Wepener (Beeld), Hennie van Deventer (Die Volksblad) en Chris Moolman (Oosterlig). Die politieke redakteur is Alf Ries, alombekend as doyen van die persgalery van die Volksraad. Beukes en Ries is mede- eienaars van ‘n strandhuis teenaan die see en hulle is die gashere.
Vrydagaand word vis gebraai en heelwat wyn gebruik. Vroegoggend die Saterdag soek die spannetjie met seer harte na die verfrissing van branders en koue seewater.
Hulle verkas na Uilenskraalmond. Die meeste van die manne stroop hul hemde, duik in die branders, plas en jil.
Meteens kom ‘n ander gedaante uit die branders te voorskyn met water wat uit sy hare drup. Dit groet oor en weer. Later stap die Naspersmanne en die onbekende nuweling gesels-gesels uit die branders. Op die strand gryp elkeen sy handdoek om af te droog, maar die gesels duur voort. Lyk soos ‘n lang agenda …
Wie die onbekende nuweling was? Niemand minder nie as die nimlike Niël Barnard, wat kort tevore deur P.W. Botha met die hand uitgesoek en by Kovsies gaan haal is om die Nasionale Intelligensiediens te lei.
Daardie oggend het Alf Ries foto’s geneem soos die een hierbo: Moolman, Wepener, Vosloo, Van Deventer, Beukes in hul baaiklere. Hoekom Barnard nie saam met ons afgeneem is nie, kan ek nie onthou nie. Dalk wou hy nie. So ‘n foto sou verleentheid kon wek, het hy dalk geredeneer: NI se topman met die leiergroep van die Afrikaanse koerante op ‘n verlate strand op ‘n Saterdagoggend!
Daardie verleentheidspotensiaal is ook deur ons persmanne later besef. Ons het oor ‘n bier of twee om die vuur daaroor saamgelag, en in ons verbeelding die foto plus prominente berig oor ons “secret meeting” op die “Sunday Times” se voorblad gesien.
Die ontmoeting was inderdaad absoluut ongeskeduleer. Die Barnards het toe al n vakansiehuis by Gansbaai gehad – dalk die een waarin hy tot die einde gewoon het. Ons het bloot op dieselfde tyd op dieselfde dag op dieselfde strand behoefte aan son en seewater op ons lywe gehad.
Gehreime ontmoetings met Barnard was daar later tog wel. Die ene by Vosloo se destydse woning in Wynberg met die interessante naam “Spyglass Hill” het ek elders vermeld.
Ebbe Dommisse het toe al by Die Burger by Wiets Beukes oorgeneem, as ek reg onthou. Daardie dag het ons by ‘n vuurtjie groot dinge gesels, soos oor die gesukkel om Suid-Afrika op die pad van groter geregtigheid vir almal te kry. Barnard het ons ingelig oor klandestiene inisiatiewe rondom Nelson Mandela.
Hy was toe nog nie kwaad vir die pers nie

HERINNERINGE AAN WYLE NIËL BARNARD

Niël Barnard, hoof van nasionale inteligensie in die kritieke dekade 80, was nie lief vir die pers nie. Lees maar sy boek!
Tog het hy Die Volksblad ‘n wonderlike wereldscoop besorg, en in die algemeen met persmense ‘n hartlike persoonlike verhouding gehandhaaf.
Die 75-jarige Barnard is pas op Gansbaai aan kanker oorlede.
Die scoop waarna ek verwys, is met die foto’s van die eerste ontmoeting tussen PW Botha en Nelson Mandela in Tuynhuis.
Die foto’s is deur PW se private sekretaris, Ters Ehlers met ‘n gewone mik-en-drukkie geneem. Dit het lank in ‘n laai stof vergaar. Toe vertel Niel my van die bestaan daarvan. Natuurlik kon die koerantman geen rus of duurte kry nie. Ten einde laaste oortuig ek vir Botha en via Kobie Coetsee ook vir Mandela in die gevangenis.
Die res van die land se koerante was maar afgehaal toe die Vrystaatse dagblad in die kleine Bloemfontein hulle scoop dat hulle stilstaan.
Barnard was altyd openhartig met ons redakteurs van die Nasionale Pers. Ek onthou spesifiek ‘n middagbraai by Ton Vosloo se huis in Wynberg met die naam Spy Glass Hill. Onder ander Ebbe Dommisse en Alf Ries was ook teenwoordig. Barnard het ons ingelig dat hy bekommerd is oor Mandela se gesondheid. Die man se enkels swel kwaai. Dit was twee dekades voor sy dood!
Ek onthou ook ‘n onderhoud met Barnard in sy kantoor in Pretoria waarin hy my waardevolle agtergrond-materiaal oor Mandela verskaf het. Op grond daarvan het ek ‘n ingeligte Willem-rubriek kon skryf en ook ‘n hoofartikel waarin geskimp is dat dit tyd is om Mandela vry te laat. Dit was nog voor Willem Wepener se oproep in Beeld wat oor die aardbol weerklink het.
Barnard en politieke beriggewer Alf Ries was as’t ware boesemvriende. Hulle het op dieselfde dag verjaar en het dit meermale saamgevier. ‘n Keer het Barnard Ries vir middagete na sy kantoor genooi. Kelners dra toe op skinkborde bedek met ronde blink deksels die gereg in: kreefsterte. Ries was allergies vir kreef. Eers weifel hy, maar toe besluit hy tog om Barnard in te lig.
Geen probleem nie, antwoord Barnard. Hy tel die telefoon op. Na ‘n lang ruk kom die plaasvervangende maal: hamburgers!
‘n Laaste persoonlike herinnering is van pogings om my in die jare 90 vir ‘n pos by die Departement van Inligting te werf. Die laaste gesprek hieroor was in Barnard se kantoor in Pretoria saam met Roelf Meyer. Gelukkig het Ton Vosloo ‘n stokkie daarvoor gesteek. So ‘n loopbaansprong sou nie vir die kanniedood-koerantman gedeug het nie. Barnard was egter vieserig.
Met sy dood betuig ek graag my persoonlike respek en waardering vir die man Niel Barnard wat as jong hoogleraar in staatkunde by die Vrystaatse Universiteit deur Botha raakgesien is en met die groot verantwoordelikheid van die land se veiligheid beklee is. In die uitvering van sy gedugte taak het hy ook internasionale respek verwerf.
Al het Niel nie van die pers gehou nie, was hy ‘n gewaardeerde vriend.
Foto: Die scoopfoto. Barnard staan in die middel.

SPIOENE EN ANDER GEHEIME

More uit Melkbos

In Januarie 1983 verskyn die nuwe besturende direkteur van Naspers, Ton Vosloo, sy vier koeranteredakteurs en die politieke redakteur van die groep een oggend geheimsinnig op Uilenskraalmond se strand by Franskraal. Die redakteurs is Wiets Beukes (Die Burger), Willem Wepener (Beeld), Hennie van Deventer (Die Volksblad) en Chris Moolman (Oosterlig). Die politieke redakteur is Alf Ries, alombekend as doyen van die persgalery van die Volksraad.

Die meeste van die manne stroop hul hemde, duik in die branders, plas en jil. ‘n Ander gedaante kom meteens met water wat uit sy hare drup uit die branders te voorskyn. Dit groet oor en weer. Later stap die Naspersmanne en die onbekende nuweling gesels-gesels uit die branders. Op die strand gryp elkeen sy handdoek om af te droog, maar die gesels duur voort. Lyk soos ‘n lang agenda …

Het ek gepraat van ‘n “onbekende”? Wel, dis nie heeltemal waar nie. Onbekend was Niel Barnard, Suid-Afrika se jong spioenbaas allesbehalwe. Al was die skemerwêreld van die Groter Politiek sy werkterrein, is sy aanstelling wyd uitgebasuin – hoogleraar in staatsleer (meen ek) wat deur P.W. Botha met die hand uitgesoek en by Kovsies gaan haal is om die Nasionale Intelligensiediens te lei – iets wat hy lank en met onderskeiding gedoen het.

Daardie oggend het Alf Ries foto’s geneem soos die een hierbo: Moolman, Wepener, Vosloo, Van Deventer, Beukes in hul baaiklere. Hoekom Niel nie saam met ons afgeneem is nie, kan ek nie onthou nie. Dalk wou hy nie. So ‘n foto sou verleentheid kon wek, het hy dalk geredeneer: NI se topman met die leiergroep van die Afrikaanse koerante op ‘n verlate strand op ‘n Saterdagoggend!

Daardie verleentheidspotensiaal is ook deur ons persmanne later besef. Ons het oor ‘n bier of twee om die vleisbraaivuur by Wiets en Alf se vakansiehuis (waar ons sommer die naweek na die Parlementsopening kom lekker kuier het) daaroor saamgelag, en in ons verbeelding die foto plus prominente berig oor ons “secret meeting” op die “Sunday Times” se voorblad gesien.

Die ontmoeting met Niel was inderdaad absoluut ongeskeduleer. Die Barnards het in daardie stadium ‘n vakansiehuis naby Gansbaai gehad – het dit dalk nog. Ons het bloot op dieselfde tyd op dieselfde dag op dieselfde strand behoefte aan son en seewater op ons lywe gehad.

Geen geheim aan daardie ontmoeting nie, ongelukkig.vir diegene wat my kom vra het n.a.v my Ton-en-FW-blog: “Vertel ons nog ‘n paar geheimpies toe!”

“Geheime” ontmoetings met Niel Barnard was daar later tog wel. Ek onthou ene by Ton se destydse woning in Wynberg met die interessante naam “Spyglass Hill”. Ebbe Dommisse het toe al by Die Burger by Wiets Beukes oorgeneem, as ek reg onthou. Daardie dag het ons by ‘n vuurtjie groot dinge gesels, soos oor die gesukkel om Suid-Afrika op die pad van groter geregtigheid vir almal te kry. Niel het ons ingelig oor klandestiene inisiatiewe rondom Nelson Mandela, en nog die vrees uitgespreek dat die man se enkels so dik gewel is; hy vrees hy kan in die tronk iets oorkom! Dit was 20 jaar gelede.

Dalk tog wel ook ‘n “geheimpie” wat ek kan uitlap, is die doen en late een aand in die eerste “Beeld”-jare in Johannesburg waar Ton toe redakteur en ek nuusredakteur was. Ons het daardie tyd soms gevoel of ons dag en nag werk – maar het darem nie elke dag en nag net gewerk nie. Ons kon ook partytjie hou vir die eerste span.

Die moeder van alle partytjies van “Beeld” se eerste jare het in die raadsaal begin as ‘n taamlik stigtelike prysoorhandiging vir ‘n rugbyraai-kompetisie. Alles was redelik vroeg agter die rug toe Ton sy sekretaresse, Gerda Pienaar, aansê om so twintig plekke te bespreek by Norman’s Grill, ‘n eetplek suid van die spoorlyn bekend om sy voortreflike kreef.

Feitlik die hele hoofredaksie — Ton, ek, Salie de Swardt en Twakkies Laubscher — asook senior redaksielede soos David Moolman en Piet Gouws, ‘n paar rugbyspelers (onder wie die Springbokstut Daan du Plessis) en die twee sekretaresses, Gerda Pienaar en Ina le Roux, het gaan aansit.

Daarna het ons gaan “koffie” drink by Ina se woonstel in Bedfordview, waar dit laat begin word het. Van die manne het toe al gesukkel om hul motors in die donker op te spoor, maar nog was het einde niet. Ons het na Salie se huis in Fairlands vertak. Die kopseer was na ‘n dag of so vergete, maar die ramifikasies tuis het nog lank voortgewoed..

Ai, goeie ou dae! Moet Ton tog aan sulke insidente herinner as ek hom Saterdag bel om vir hom op sy 75ste geluk te wens. (hvd)